Friday, 10 July 2009

Tesourie stel regulasies vir koöperatiewe banke bekend

Die nasionale tesourie het Donderdag regulasies vir koöperatiewe banke in die staatskoerant aangekondig. Dit is in terme van die Wet op Koöperatiewe Banke gedoen.

Die tesourie sê in ’n verklaring die wet het dit ten doel om toegang tot finansiële dienste te bevorder, veral vir voorheen benadeelde Suid-Afrikaners, deur die vestiging van ’n regulerende raamwerk en die ontwikkeling van instellings vir koöperatiewe banke.

Dit vereis ook dat bestaande finansiële koöperatiewe instellings aan ’n stel voorwaardes moet voldoen om teen 31 Julie as koöperatiewe banke te registreer. Die regulasies skryf ook die soort beleggings voor wat dié banke namens hul lede kan doen.

Olievraag sal in 2010 verbeter

Die Internasionale Energie-Agentskap sê die wêreldvraag na olie sal jaar-op-jaar in 2010 met 1,7%, of 1,4 mijoen vate per dag (vpd), verbeter danksy stygende verbruik in ontluikende ekonomieë.

Dit is die agentskap se eerste vooruitskatting vir 2010. Na raming sal die vraag na olie volgende jaar toeneem tot 85,2 miljoen vpd, van 83,8 miljoen vpd vanjaar.

Die vraag vir die res van 2009 sal basies onveranderd bly – 2,9%, of 2,5 mijoen vpd laer teenoor verlede jaar.

Hupstoot vir bank se SAOG-portefeulje

Die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (OBSA) gaan sy nuwe beleggings in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) oor die volgende vyf jaar met 20% per jaar uitbrei, het die uitvoerende hoof, Pieter de la Rey, vandeesweek gesê.

Volgens De la Rey het die bank R2 miljard aan nuwe beleggings in die SAOG-streek in die huidige finansiële jaar uitbetaal.

Die bank volg ’n vraag-benadering tot belegging in Afrika en fokus op streeksintegrasie en beduidende infrastruktuurontwikkeling.

Die toekomstige beleggings sal in “alle en enige” SAOG-land wees.

Amerikaners koop meeste handwapens

Amerikaners bestee meer aan die koop en verkoop van handvuurwapens as enige ander nasie, het ’n opname aan die lig gebring.

Tussen 2000 en 2006 het die VSA ongeveer 22% van die wêreld se handwapens, ligte vuurwapens en ammunisie ingevoer, en 27% daarvan uitgevoer. Dié $4 biljoen (R32 biljoen) bedryf kan egter “’n kwaai onderskatting” wees.

Volgens die oorsig trek wapenverkope in die VSA voordeel uit die land se regulasies en 'n kultuur van wapenbesit. Die resessie speel ook ’n rol, omdat mense wapens koop om hulle teen misdaad te beskerm.

Rio Tinto 'verbaas' oor omkopery-aantygings

Mynreus Rio Tinto het Vrydag gesê hy is "verbaas en bekommerd" oor bewerings dat vier personeellede wat in China gearresteer is, by omkopery betrokke was.

’n Woordvoerder het gesê die maatskappy is nie bewus van enigiets wat dié aantygings teen Stern Hu, die hoof van die Sjanghai-kantoor, en drie van sy kollegas kon staaf nie.

China sê egter hulle het bewyse dat dié vier beamptes by staalmeulens omgekoop het tydens onlangse samesprekings om die jaarlikse kontrakpryse van ystererts vas te stel.

Transnet voorsitter tree uit

Die Transnet voorsitter, Fred Phaswana, gaan die maatskappy verlaat.

Transnet woordvoerder, John Dludlu, het gesê die voorsitter het lankal te kenne gegee dat hy nie weer beskikbaar sou wees vir herverkiesing nie.

Die maatskappy moet steeds ‘n opvolger aanstel vir die voormalige hoof-uitvoerende beampte, Maria Ramos.

Volvo herroep motors

Die motorvervaardiger, Volvo, herroep ongeveer 8 500 groen motors, hoofsaaklik in Swede weens ‘n probleem met die petrolpomp.

Die Ford-beheerde maatskappy het Donderdag aangekondig dat die Volvo V70 en Volvo S80 modelle van 2008 en 2009 geraak is.

Meeste van die motors is in Swede verkoop en die res in Europa.