Monday, 06 July 2009

G8 kyk na voedselsekerheid

Die Groep van Agt gaan oor die volgende drie jaar meer as $12 miljard vir landbou-ontwikkeling bestem as deel van ’n voedselsekerheidsinisiatief.

Die G8-leiers hou van Woensdag af ’n driedaagse spitsberaad in L'Aquila, Italië. Volgens die Financial Times is hierdie besluit ’n verdere aanduiding van ’n verskuiwing weg van voedselhulp in die rigting van langtermyn-beleggings in landbou in die ontwikkelende wêreld.

Leiers sal onderneem om "die tendens van afnemende amptelike ontwikkelingshulp en nasionale finansiering van landbou om te keer” ten einde toenemende hongersnood in die wêreld teë te werk.