Beamptes van ICE Futures Europe, Londen se oliemark, het ’n ondersoek gelas na ’n beweerde skelm handelaar wat 9 miljoen vate gekoop en die olieprys die hoogte laat inskiet het.
Dinsdag se ongemagtigde handel het ruolie-termynkontrakte na oor die $73 per vat laat styg, die hoogste vlak in agt maande.
Oliemakelaar PVM Oil Associates, die slagoffer van die ongemagtigde handel, het Vrydag gesê die senior handelaar Steve Perkins was die skuldige party. Die maatskappy moes noodgedwonge sy posisie afwikkel, wat oliepryse weer skerp laat daal het.