Friday, 10 July 2009

Tesourie stel regulasies vir koöperatiewe banke bekend

Die nasionale tesourie het Donderdag regulasies vir koöperatiewe banke in die staatskoerant aangekondig. Dit is in terme van die Wet op Koöperatiewe Banke gedoen.

Die tesourie sê in ’n verklaring die wet het dit ten doel om toegang tot finansiële dienste te bevorder, veral vir voorheen benadeelde Suid-Afrikaners, deur die vestiging van ’n regulerende raamwerk en die ontwikkeling van instellings vir koöperatiewe banke.

Dit vereis ook dat bestaande finansiële koöperatiewe instellings aan ’n stel voorwaardes moet voldoen om teen 31 Julie as koöperatiewe banke te registreer. Die regulasies skryf ook die soort beleggings voor wat dié banke namens hul lede kan doen.

Olievraag sal in 2010 verbeter

Die Internasionale Energie-Agentskap sê die wêreldvraag na olie sal jaar-op-jaar in 2010 met 1,7%, of 1,4 mijoen vate per dag (vpd), verbeter danksy stygende verbruik in ontluikende ekonomieë.

Dit is die agentskap se eerste vooruitskatting vir 2010. Na raming sal die vraag na olie volgende jaar toeneem tot 85,2 miljoen vpd, van 83,8 miljoen vpd vanjaar.

Die vraag vir die res van 2009 sal basies onveranderd bly – 2,9%, of 2,5 mijoen vpd laer teenoor verlede jaar.

Hupstoot vir bank se SAOG-portefeulje

Die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (OBSA) gaan sy nuwe beleggings in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) oor die volgende vyf jaar met 20% per jaar uitbrei, het die uitvoerende hoof, Pieter de la Rey, vandeesweek gesê.

Volgens De la Rey het die bank R2 miljard aan nuwe beleggings in die SAOG-streek in die huidige finansiële jaar uitbetaal.

Die bank volg ’n vraag-benadering tot belegging in Afrika en fokus op streeksintegrasie en beduidende infrastruktuurontwikkeling.

Die toekomstige beleggings sal in “alle en enige” SAOG-land wees.

Amerikaners koop meeste handwapens

Amerikaners bestee meer aan die koop en verkoop van handvuurwapens as enige ander nasie, het ’n opname aan die lig gebring.

Tussen 2000 en 2006 het die VSA ongeveer 22% van die wêreld se handwapens, ligte vuurwapens en ammunisie ingevoer, en 27% daarvan uitgevoer. Dié $4 biljoen (R32 biljoen) bedryf kan egter “’n kwaai onderskatting” wees.

Volgens die oorsig trek wapenverkope in die VSA voordeel uit die land se regulasies en 'n kultuur van wapenbesit. Die resessie speel ook ’n rol, omdat mense wapens koop om hulle teen misdaad te beskerm.

Rio Tinto 'verbaas' oor omkopery-aantygings

Mynreus Rio Tinto het Vrydag gesê hy is "verbaas en bekommerd" oor bewerings dat vier personeellede wat in China gearresteer is, by omkopery betrokke was.

’n Woordvoerder het gesê die maatskappy is nie bewus van enigiets wat dié aantygings teen Stern Hu, die hoof van die Sjanghai-kantoor, en drie van sy kollegas kon staaf nie.

China sê egter hulle het bewyse dat dié vier beamptes by staalmeulens omgekoop het tydens onlangse samesprekings om die jaarlikse kontrakpryse van ystererts vas te stel.

Transnet voorsitter tree uit

Die Transnet voorsitter, Fred Phaswana, gaan die maatskappy verlaat.

Transnet woordvoerder, John Dludlu, het gesê die voorsitter het lankal te kenne gegee dat hy nie weer beskikbaar sou wees vir herverkiesing nie.

Die maatskappy moet steeds ‘n opvolger aanstel vir die voormalige hoof-uitvoerende beampte, Maria Ramos.

Volvo herroep motors

Die motorvervaardiger, Volvo, herroep ongeveer 8 500 groen motors, hoofsaaklik in Swede weens ‘n probleem met die petrolpomp.

Die Ford-beheerde maatskappy het Donderdag aangekondig dat die Volvo V70 en Volvo S80 modelle van 2008 en 2009 geraak is.

Meeste van die motors is in Swede verkoop en die res in Europa.

Bekende hotel maak toe

Die bekende Waikiki hotel, die Ilikai, gaan toemaak na meer as vyf dekades.

Van Amerikaanse presidente tot Elvis Presley het by die hotel tuisgegaan en dit was Hawaii se eerste weelderige hotel toe dit in die 1970’s oopgemaak het.

Ongeveer 75 voltydse werknemers het hul werk verloor.

Nuwe voorsitter vir Anglo

Anglo American het Vrydag aangekondig dat Sir John Parker aangestel is as die voorsitter van die groep.

Parker is aangestel as ‘n nie-uitvoerende direkteur en sal amptelik in Augustus begin werk.

Hy vervang Sir Mark Moody-Stuart wat uittree na sewe jaar as voorsitter.

Siekte bedreig SA vrugte

Tot R2.1 miljard se vrugte word bedreig nadat ‘n bysiekte uitgebreek het onder die plaaslike byebevolking in Suid-Afrika.

Dit is die eerste keer dat Amerikaanse vuilbroedsiekte (AVB) in Suid-Afrika voorkom en is tot dusver nog net in die Wes-Kaap aangetref.

SA het ongeveer 6.6 miljoen bye, wat gebruik word om sekere vrugtesoorte, soos pruime, appelkose en kersies, te bestuif.

Thursday, 09 July 2009

G8 sal meer moet doen vir aardverwarming

Die Internasionale Energie-agentskap het Donderdag gesê vier keer meer kontant as wat tot dusver beloof is, sal spandeer moet word ten einde effektiwiteit en skoon energie ‘n hupstoot te gee. Die agentskap het egter die G8 se oproep tot aksie, verwelkom. Die agentskap, wat in Parys geleë is, het gesê dit is ‘n stap in die regte rigting, maar dat daar nog baie werk is om te doen.

“Beleggings in effektiwiteit en die ontwikkeling van skoon tegnologieë sal viervoudig moet vermeerder, ten einde die stygende globale termperatuur onder 2 grade Celsius te hou. Dit beteken dat $400 biljoen meer, vir die volgende 20 jaar, benodig word,” het die agentskap se uitvoerende direkteur, Nobuo Tanaka, in ‘n verklaring gesê.

SAB besnoei volume groei mikpunte

Die wêreld se tweede grootste bierbrouery, SAMMiller, het hul bier volume groei mikpunte vir die Europese markte besnoei.

Dit kom weëns die resessie en toenemende versadiging van biermarkte soos Pole.

Die brouery, wat in Londen gebaseer is, is die vervaardiger van Grolsch, Pilsner Urquell, Peroni en Tyksie.

Die jaarlikse volume groei doelstelling gaan met 2 tot 4 persent besnoei word.

Aanvraag na SA-vervaardigde produkte daal steeds

Statistiek SA het Donderdag aangekondig dat vervaardiging in Mei vir die agste agtereenvolgende maand gedaal het.

Vervaardiging het binne ‘n jaar met 17.1 persent gedaal.

Die data toon duidelik aan dat die aanvraag na goedere wat in Suid-Afrika vervaardig word, steeds afneem.

Verbruikers wil bespaar

Volgens ‘n opname wat Donderdag deur MasterCard vrygestel is, beplan 43% van Suid-Afrikaanse verbruikers om minder te spandeer wat die volgende ses maande betref.

Verbruikers beplan ook om meer te spaar.

Slegs 20% het gesê hulle beplan om meer te spandeer.

Konstruksiemaatskappye na arbeidshof

Twee konstruksiemaatskappye, Murray & Roberts en Wilson Bailey Homes Construction, het hul na die arbeidshof gewend in ‘n poging om die huidige stakings by Wêreldbeker-stadions stop te sit.

Die maatskappye het Donderdag ‘n dringende aansoek aan die arbeidshof gelewer ten einde die staking as onwettig te verklaar.

Afskrifte van die aansoek is aan stakers buite die Groenpunt Stadion in Kaapstad uitgedeel.

Konstruksiemaatskappye na arbeidshof

Twee konstruksiemaatskappye, Murray & Roberts en Wilson Bailey Homes Construction, het hul na die arbeidshof gewend in ‘n poging om die huidige stakings by Wêreldbeker-stadions stop te sit.

Die maatskappye het Donderdag ‘n dringende aansoek aan die arbeidshof gelewer ten einde die staking as onwettig te verklaar.

Afskrifte van die aansoek is aan stakers buite die Groenpunt Stadion in Kaapstad uitgedeel.

Stadionstakings gaan voort

Stakings by Wêreldbeker-stadions gaan Donderdag voort terwyl partye regmaak vir nog ‘n rondte onderhandelings.

Die staking sal sy tweede dag binnegaan en werknemers sal glo uithou totdat werkgewers 13% salaraisverhogings aanbied.

Die hoof van die Wêreldbeker se plaaslike organiseringskomitee, Danny Jordaan, het gesê hy is optimisties daaroor dat die staking binnekort verby sal wees en dat die stadions betyds sal klaar wees.

Val in goudvervaardiging

Amptelike syfers, wat deur die regering vrygestel is, wys dat goudvervaardiging afgeneem het in Suid-Afrika.

Die land se goudvervaardiging het met 10.5% geval in terme van volume en in totaal met 14.5% geval in Mei in vergelyking met dieselfde tyd die vorige jaar.

Die vervaardiging van nie-goud minerale het ook geval met sowat 15.1%, het Statistiek Suid Afrika op sy webwerf gesê.

Europese ekonomie geknou

Die Europese ekonomie het gekrimp met ‘n rekord hoeveelheid in die eerste kwartaal soos uitvoere gedaal het en maatskappye uitgawes gesny het om die afname in aanvraag teen te werk.

Die bruto binnelandse produk in die 16-lid Euro-gebied het met 2.5% gekrimp vanaf die vierde kwartaal.

Dit is die grootste afname sedert statistieke vir die eerste keer in 1995 ingewin is.

Banke ondersteun Sappi

Sappi het ‘n ooreenkoms met ‘n banksindikaat getref om lenings te verseker om die maatskappy uit te help in Mei en Desember volgende jaar.

Die maatskappy beplan nuwe kredietfasiliteite om hul huidige sisteem te vervang.

1 400 poste verloor

Die sluiting van die Frame Vertical Pipeline-afdeling gaan beteken dat 1 400 poste verloor sal word, ten spyte van die regering se poging om kennis en werk te behou.

Stuart Queen, die hoof-uitvoerende beampte van Seardel, het gesê die maatskappy het briewe aan 1 200 werknemers gestuur om hulle in kennis te stel van die herstrukturering.

Daar was geen reaksie van die departement van handel en nywerheid wat ‘n week gelede gesê het dat onderhandelinge afgehandel is oor die toekoms van Frame.

Queen het gesê die realiteit was dat die afdelings wat gesluit word, baie verliese gely het en dat dit onprakties sou wees om hulle weer oop te maak.

Wednesday, 08 July 2009

Beter aanbod vir mynwerkers

AngloGold Ashanti, Gold Fields en Rand Uranium het hul loonverhogingsaanbod tot 9% vir intreevlak-werknemers en 8% vir ander werknemers verhoog.

Die Kamer van Mynwese het in ’n verklaring gesê die toename kom bykomend tot ander aanbiedinge met beduidende koste-implikasies, insluitend ’n toename in die minimum toelae vir buiteverblyf tot ’n minimum van R1 300 per maand vir vanjaar en ’n verdere R100 vir 2010.

Harmony God het ’n aparte pakketaanbod aan die unies gemaak, wat ’n bonus gekoppel aan die prestasie van die goudprys insluit.

‘Afrika benodig meer pyplyne’

Afrika se behoefte aan pype om nuwe energieverbindings te bou, sal byne verdubbel, meen Rusland se grootste vervaardiger van staalpype vir dié sektor, TMK.

Die leier in dié toename sal Algerië wees, het Dmitry Chernichenko van TMK by ’n Afrika-energiekonferensie gesê. Hy meen sowat 7 756 km staalpype sal in 2009-2010 gebruik word, in vergelyking met die 3 446 km in 2007-2008.

Chernichenko sê TMK is gretig om sy voetspoor in Afrika te vergroot, wat tans 7% van sy projekte uitmaak.

Jozi goedkoop vir expats

Johannesburg is die goedkoopste stad ter wêreld vir expats, aldus ’n Mercer-peiling.

Die peiling het alle stede met New York verglyk en navorsers het die skerp daling van die rand teen die dollar as rede gegee waarom Johannesburg onderaan die lys is. Skommelinge in geldeenhede het ’n direkte effek op lewenskoste.

Johannesburg vervang Asunción in Paraguay as goedkoopste stad, terwyl Tokio Moskou as duurste stad vir expats vervang.

Vraag na ferrochroom styg

Die vraag na ferrochroom het gestyg, aldus ’n verklaring van Merafe Resources, wat ook gesê het hulle het die produksiekapasiteit by die Xstrata-Merafe samewerkingsooreenkoms met 60% vergroot.

Die liggaam het net 3 van sy 20 ferrochroom-smeltkroese gebruik weens ’n daling in die prys van ferrochroom, maar meer sal nou gebruik word om in die vraag te voorsien.

Konstruksiewerkers staak

Konstruksiewerkers het hul amptelike staking begin, wat werk aan stadions vir die 2010 Wêreldbeker gehalt het.

SA se grootste handelsunie, NUM, sê dié aksie sal voortduur tot werknemers instem tot ’n 13% loonverhoging. Cosatu het sy steun aan die staking gegee. Intussen het aandele in konstruksiefirmas gedaal weens die onsekerheid.

Murray & Roberts Holdings, WBHO en Group Five sal waarskynlik die meeste geraak word.

Hoë lewenskoste in Zim

Lewenskostes is besig om te klim in Zimbabwe, het die Herald Woensdag gerapporteer.

Daar was in Junie ‘n 15% toename in lewenskoste van die vorige maand, na aanleiding van hoër verhuringspryse asook voedselpryse wat gestyg het.

Hoewel daar meer goedere en dienste beskikbaar is in die land as ‘n rukkie gelede, is die pryse buitensporig hoog en kan min mense dit bekostig.

Kopers sukkel om huislenings te kry

Die huisleningsmaatskappy, ooba (voormalig MortgageSA), het aangedui dat daar ‘n klein verhoging in huispryse was vir Junie.

Maar die maatskappy dink nie die 1.2% toename is ‘n teken daarvan dat die mark verbeter nie en skryf dit eerder toe aan ‘n verandering in duurder eiendomme met betrekking tot meer gegoede kopers wat aanpas by strenger bankregulasies.

Ooba het gesê dis duidelik dat kopers wat vir die eerste keer huiskoop, erg ly onder die banke se strenger kredietvoorwaardes en dat dit die huispryse tans raak.

Groot projek vir Waterberg

Die maatskappy Australian Firestone Energy, ‘n JSE-gelyste steenkoolmynmaatskappy, soek tans na steenkool in die Waterberg en beplan om R1.6 miljard te belê in ‘n myn hier, het die hoof-uitvoerende beampte, Garth Higgo, Dinsdag gesê.

Die maatskappy is besig om befondsing te reël.

Die projek sal na verwagting ten minste 18 miljoen ton steekool ‘n jaar oplewer en sal 1 700 poste skep.

Diefstal knou myne

Diefstal van myne, hoofsaaklik van die goudmyne in die Vrystaat rondom Welkom, kos die bedryf sowat R5 miljard ‘n jaar, sê die kamer van mynwese se hoof, Mzolisi Diliza.

Peter Bishop van die spesiale ondersoekeenheid het gesê internasionale sindikate was betrokke by die vervoer van onwettig metale.

Hy het gesê dit word uitgevoer na lande soos Rusland, Kanada en China.

SA wyn word gewild

Daar was laas jaar ‘n toename in aanvraag na Suid-Afrikaanse wyn in die Verenigde Koninkryk, het Wyne van Suid-Afrika (Wosa) gesê.

Wynaanvraag het met sowat 27% gestyg in die jaar tot en met April. Die nuuste verslag wys ook dat Suid-Afrika nou die negende grootste wynvervaardiger ter wêreld is.

Suid-Afrika voer meestal uit na Engeland, Swede en Duitsland.

Tuesday, 07 July 2009

‘Geen genade’ - stadionwerkers

Fifa sê die beplande staking deur duisende werkers sal nie die bou van stadions of ander voorbereidings vir die Sokker-Wêreldbeker affekteer nie. Dit ná werkers ’n verbeterde loonverhoging van 10.4%, vanaf 10%, van die hand gewys het. Hulle eis 13%.

“Werkgewers moenie genade verwag nie, hulle moet 13% gee of ons sal staak tot 2011,” meen die mynwerkersunie, NUM, se Bhekani Ngcobo.

Fifa-president Sepp Blatter het SA 7 uit 20 gegee vir sy gereedheid vir 2010.

Pous vra ware wêreldleier

Pous Benediktus XVI het in ’n brief aan Rooms-Katolieke gevra vir ’n nuwe wêreldliggaam met “tande” om die wêreldwye ekonomie te herstel.

“Daar is ’n sterk nodigheid vir ’n hervorming van die Verenigde Nasies en van ekonomiese instellings en internasionale finansies, sodat die konsep van ’n familie van nasies regte tande kan kry.”

Die brief is bedoel as ’n gids vir Katolieke wêreldwyd.

Staking dalk by Massmart

Massmart hoop om ’n beplande staking te keer ná samesprekings tussen Makro en die unie, Saccawu, tot ’n stilstand gekom het.

Massmart se Brian Leroni sê daar is “prosesse onderweg” tussen die unie en die afdelings-bedingingseenhede. “Ons het R460 aangebied, dis 8.5%, en dis nie aanvaar nie.” Saccawu-woordvoerder Mike Abrahams het bevestig dat die unie mag staak weens lone en werksomstandighede.

Intussen is onderhandelings tussen Saccawu en Game ook gestaak en volgens Leroni is die volgende stap om die Bedingingskommissie te nader.

Motorbedryf vra voorskot

Die motorbedryf het die regering ’n voorskot gevra op die waarde van uitvoerkrediet wat motorvervaardigers verdien het. Johan van Zyl, hoof van Toyota SA, sê dit sal veral die voertuigkomponent se verskaffers met hul kontantvloei help.

Die aansoek is nog onder bespreking en daar moet nog vasgestel word “of dit sal gebeur en of dit moontlik is, al dan nie”.

Van Zyl sê hulle vra dat die regering die invoer-rabatkredietsertifikate wat vervaardigers met hul uitvoerprogramme verdien het, beskikbaar sal stel sodat dit in kontant omgesit kan word.

Ramos vereer

Absa se Maria Ramos is by die African Business Awards 2009 as Uitstaande Sakevrou van die Jaar aangewys.

Die toekennings is in Londen oorhandig en het saamgeval met die G8 Afrika-sakeforum. Absa-groepsvoorsitter Gill Marcus het Ramos as ’n inspirasie en rolmodel bestempel.

UBS deur Bank van Amerika oortref

Die Switserse bank, UBS, is nie meer die wêreld se grootste bestuurder van rykdom nie.

Die Bank van Amerika het bates ter waarde van $1.5 triljoen in hulle afdeling wat weelde bestuur, terwyl UBS se bates $1.39 triljoen werd is.

Die Bank van Amerika het verlede jaar Merril Lynch gekoop.

Weens die swak ekonomiese toestande is daar tans nie veel weelde om te bestuur nie. UBS staar ook etlike ander probleme in die gesig.

Eskom is voorbereid

Eskom het Dinsdag gesê hulle is voorbereid op enige noodgevalle, en indien ‘n opwekker afslaan, sal dit nie as ‘n verrassing kom nie.

Tog sê die maatskappy die land se kragvoorsiening is in orde.

Eskom het skedules vir beurtkrag opgestel en dit op hul webtuiste beskikbaar gestel, maar hulle is blykbaar nie van plan om daarvan gebruik te maak nie, aangesien alle voorsiening alreeds gemaak is.

MTN en Bharti onderhandel steeds

Die Suid-Afrikaanse tele-kommunikasiegroep MTN het Maandag gesê hulle is steeds in gesprek met Bharti Airtel oor ‘n moontlike transaksie.

“Onderhandelinge is steeds aan die gang, so aandeelhouers word aangeraai om met sorg om te gaan, aangesien finale aankondiginge eers later gemaak sal word,” het MTN in ‘n verklaring gesê.

MTN het op 25 Mei aangekondig dat onderhandelinge met Bharti Airtel gaan plaasvind, ten einde ongeveer 36 persent van Bharti se ekonomiese belange te koop, waarvan 25 persent deur MTN besit sal word, en die res direk deur MTN-aandeelhouers besit sal word.

SMME's sukkel steeds

Die klein-, medium- en mikro-ondernemingsektor (SMME's), wat alreeds onder die huidige ekonomiese klimaat sukkel, kan verwag dat die situasie gaan vererger.

Volgens ‘n opname wat deur die Africagrowth Instituut gedoen is, is die vertroue in hierdie sektor het in die tweede kwartaal aansienlik geknou.

SMME’s dra ongeveer 35 persent van die bruto buitelandse produk by, en skep werksgeleenthede vir 3.5 miljoen mense, of 34 persent van formele indiensneming.

Besparing nou noodsaaklik

Die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Besparing, Elias Masilela, het Maandag met die aanvang van Besparingsmaand gesê die huidige ekonomiese klimaat sal die verbruiker leer om die balans tussen verbruik en besparing te vind.

Menige verbruikers sukkel tans om hul skuld af te betaal, en die resessie knou ook die inkomste van die gemiddelde Suid-Afrikaanse huisgesin.

Masilela het egter beklemtoon dat dit juis onder hierdie ekonomiese toestande ‘n goeie idee is om geld te spaar.

Monday, 06 July 2009

Banke 'se balansstate nog nie skoon’

Die hoof van die Internasionale Monetêre Fonds, Dominique Strauss-Kahn, het Maandag gesê daar is nog heelwat werk vir banke om hul balansstate skoon te kry. Hy het bygevoeg dat ekonomiese herstel nie kan plaasvind totdat hierdie proses voltrek is nie.

"Jy sal nooit kan herstel as die banke se balansstate nie skoongemaak word nie. Dis nog nie heeltemal gedoen nie,” het hy by ’n tweedaagse konferensie van die Wêreld Handelsorganisasie gesê.

Konstruksiegroei stel teleur

Siviele konstruksievertroue het in die tweede kwartaal van 2009 gedaal, het Eerste Nasionale Bank Maandag gesê.

Die ENB Indeks vir Siviele Konstruksievertroue, wat deur die Buro vir Ekonomiese Navorsing saamgestel word, het van ’n indekswaarde van 60 in die eerste kwartaal van 2009 gedaal tot 48 in die tweede kwartaal.

Die groei in konstruksiebedrywighede in die tweede kwartaal was veral teleurstellend. Dit moet egter gesien word teen die agtergrond van die skerp daling in privatesektor-belegging, veral in die mynbou-, vervaardigings- en eiendomsontwikkelingsbedrywe, het FNB gesê.

G8 kyk na voedselsekerheid

Die Groep van Agt gaan oor die volgende drie jaar meer as $12 miljard vir landbou-ontwikkeling bestem as deel van ’n voedselsekerheidsinisiatief.

Die G8-leiers hou van Woensdag af ’n driedaagse spitsberaad in L'Aquila, Italië. Volgens die Financial Times is hierdie besluit ’n verdere aanduiding van ’n verskuiwing weg van voedselhulp in die rigting van langtermyn-beleggings in landbou in die ontwikkelende wêreld.

Leiers sal onderneem om "die tendens van afnemende amptelike ontwikkelingshulp en nasionale finansiering van landbou om te keer” ten einde toenemende hongersnood in die wêreld teë te werk.

Sakeklimaat stabiliseer

Sakevertroue in Junie was positief, het die Suid-Afrikaanse Kamer van Handel en Nywerheid (SAKHN) Maandag gesê.

SAKHN se Sakevertroue-indeks (SVI) het met 1,3 punte gestyg tot 83,1 in Junie 2009, wat 4,2 punte hoër was as die laagtepunt van 78,9 in Maart 2009.

Volgens SAKHN dui die jongse ekonomiese data en bewegings in die finansiële mark daarop dat die sakeklimaat aan die stabiliseer is, alhoewel ondernemings en verbruikers steeds onseker en huiwerig voorkom.

Krediteure dagvaar Kaapse 'barones'

’n Sosiale vlinder van Constantia, Kaapstad, wat haarself ’n barones noem, is landuit onder ’n donker wolk van nagenoeg R50 miljoen se skuld.

Die Wes-Kaapse Hoërhof het ’n voorlopige sekwestrasiebevel teen Aleksandra von Maltzan uitgereik ten gunste van Pure Capital Property Holdings. Standard Bank het Von Maltzan vir R45,5 m gedagvaar en sy skuld Investec Private Bank amper R220 000.

Von Maltzan het tot 14 Julie tyd om te sê waarom sy nie gesekwestreer moet word nie.

GM-plan goedgekeur

‘n Amerikaanse regter het Sondag bevind dat General Motors die grootste deel van sy bates kan verkoop aan ‘n nuwe maatskappy, wat die weg baan vir die motorvervaardiger om weer vinnig op die been te kom.

Regter Robert Gerber het gesê die koop was in die beste belang van beide GM en sy krediteure, wat andersins niks sou ontvang nie.

‘n Woordvoerder vir GM het gesê die maatskappy sou binnekort ‘n verklaring uitreik.

African Sun beplan ontwikkeling

African Sun, ‘n Zimbabwiese hotelmaatskappy met bates regoor die kontinent, dink daaraan om op die JSE gelys te word.

Die maatskappy wil verdriedubbel teen 2012.

Die maatskappy, wat in Harare gebaseer is, beskik tans oor 2 500 kamers, maar hulle wil uitbrei na 8 500, waarvan heelwat in Botswana en Nigerië gaan wees.

Huispryse nóg laer in Junie

Absa het Maandag gesê dat huispryse steeds ‘n afwaartse neiging getoon het in Junie.

Volgens sy huisprysindeks, het huispryse met ‘n verdere 4.4% geval in hierdie maand.

In Mei, het pryse met 11.1% geval in vergelyking met dieselfde tyd die vorige jaar.

Die bank het gesê hy verwag nie ‘n verbetering in huispryse vir die res van die jaar nie.

Maatskappye kyk na Zim

Ten minste twee groot Suid-Afrikaanse maatskappye oorweeg nuwe beleggings of uitbreidings in Zimbabwe.

Netcare kyk tans na vennootskappe in Zimbabwe, het Jerry Vilakazi, van Business Unity SA en Netcare gesê.

Nog ‘n maatskappy wat belangstelling toon in Zimbabwe, is Aspen Pharmacare.

Groot belegging vir Afrika

Die Nywerheidsontwikkelingsorganisasie (NOK) het R15 miljard opsy gesit om te belê in nuwe en bestaande projekte in Afrika oor die volgende 15 jaar, het die staatsbeheerde instansie oor die naweek gesê.

Gert Gouws, NOK se hoof-uitvoerende beampte, het gesê die belegging sal nie net goed wees vir lande buite Afrika nie, maar ook vir Suid-Afrika, aangesien dié land se produkte en dienste gebruik sal word.

NOK het R2.9 biljoen in Afrika oor die laaste finansiële jaar belê – dit het R800 miljoen ingesluit vir ‘n mynprojek in Eritrea.

Saturday, 04 July 2009

Filtreringsprogram vir China gaan voort

Chinese owerhede het aangedring dat ‘n filtreringsprogram vir die Internet steeds ingestel sal word, ten spyte daarvan dat daar hierdie week besluit is om dit uit te stel.

Die owerhede wil hierdie filtreringsprogram verpligtend vir alle nuwe persoonlike rekenaars maak.

Nadat die nuwe planne Woensdag eers herroep is, het owerhede Donderdag aangekondig dat dit voortaan verpligtend sal wees.

Rusland, VSA baklei oor rekenaaraanvalle

President Barack Obama gaan binnekort Moskou besoek, en die VSA en Rusland kan steeds nie ‘n ooreenkoms bereik betreffende die groeiende bedreiging van kuberoorlogaanvalle nie.

Hierdie aanvalle kan chaos veroorsaak op internetsisteme van die Internet.

Die probleem sal waarskynlik aangeroer word wanneer Obama Rusland aanstaande maand besoek.

Microsoft integreer Twitter in soekenjin

Microsoft gaan die boodskappe van prominente gebruikers van Twitter, die gewilde mikro-blogdiens, in die resultate van hul nuwe Internet soekenjin, Bing, insluit.

Microsoft sê hulle beplan nie om al die Twitter-boodskappe soekbaar te maak nie, net “boodskappe van die meer prominente Twitters uit ‘n wye sfeer’, soos byvoorbeeld die voormalige vise-president, Al Gore.

Twitter word deur sommige tegnologie-analiste as die volgende stap in die veld van webnavorsing beskou, weens die onmiddellike aard van die boodskappe.

VN help Jay Leno

Die komediant en kletsprogramaanbieder, Jay Leno, het ‘n hofsaak teen ‘n man van Texas gewen nadat ‘n VN-agentskap bevind het dat hierdie man die domeinnaam thejaylenoshow.com gebruik het om internetgebruikers na die webtuiste van ‘n eiendomsagentskap te lei.

In ‘n uitspraak wat Donderdag gelewer is, het die Wêreld Intellektuele Eiendomsorganisasie (WIPO) gesê Leno het handelsmerkreg op sy naam, aangesien hy al vir 30 jaar ‘n loopbaan in die vermaakbedryf het.

Wending in Internet-selfmoordsaak

‘n Amerikaanse vrou wat van rekenaarbedrog aangekla is en betrokke was by ‘n internetkullery wat na die dood van ‘n 13-jarige meisie gelei het, is Donderdag deur ‘n federale regter tydelik vrygespreek.

Die 50-jarige Lori Drew het gehelp om ‘n denkbeeldige seun op MySpace te skep. Die fiktiewe karakter het vriende geword met Megan Meier, en informasie oor haar aan-en-af vriendskap met Drew se dogter uit haar gekry.

Meier, wat vir depressie behandel is, het haarself in 2006 opgehang nadat die fiktiewe vriend haar gelos het, en aan haar gesê het “die wêreld sal ‘n beter plek wees sonder jou”.

Staking sal bouwerk lamlê - Bcawu

Die sekretaris-generaal van die boukonstruksie en verwante werkers unie (Bcawu), Narius Moloto, sê as die konstruksie sektor voortgaan met hul beplande staking volgende week, sal dit die grootste wees wat nog ooit hul sektor getref het.

Hy sê Bcawu het die SA federasie van siviele ingenieurs kontrakteurs (Safcec) ingelig dat hulle gaan staak nadat loonverhoging onderhandelings op ‘n dooiepunt uitgeloop het.

Sisulu tree vinnig op

Die Minister van Verdediging, Lindiwe Sisulu, sê die Suid-Afrikaanse verdedigingsbedryf moet deeglik ondersoek word.

Sy het gesê dit moet só uitgevoer word dat dit gevolg hê dat dit effektief bestuur kan word en kontrole maatreëls moet ook voorgestel word. Sisulu het gesê nie net Denel moet “herbelyn” word nie, maar Denel en Armscor moet onder die soeklig geplaas word.

Winde: Dienslewering nie afgeskeep

Die LUR vir finansies, Alan Winde, sê dienslewering sal definitief nie daaronder ly ná provinsiale regerings besluit het om onnodige besteding hok te slaan nie.

Winde sê die swak ekonomiese toestand het baie van die geld wat die provinsiale regerings van bronne soos dobbelary en voertuiglisensie belasting invorder, laat krimp. Die verskeie departemente sal gevra word om op alle onnodige uitgawes te besnoei.

Rand stil voor Amerikaanse vakansie

Die rand het Vrydag tussen R7.80 en R7.90 teen die dollar verhandel en met die Amerikaanse onafhanklikheidsdagvierings Saterdag en min ekonomiese data op die horison het handelaars ‘n stil einde aan die week gehad.

Die rand is Vrydag teen R7.8358 teenoor die dollar verhandel, teen R10.9961 teenoor die euro en teen R12.8845 teenoor die pond.

Gordhan waarsku oor inflasie

Die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, sê permanente hoër inflasie hou die gevaar van groot ekonomiese koste in. Dit sal rentekoerse verhoog, mededinging kortwiek en ook ekonomiese groei verlaag. Hy het vroeër gesê Suid-Afrika sal op dieselfde koers bly om inflasie in ag te neem, wat gehelp het om pryse te stabiliseer en ekonomiese groei aan te moedig.

“Wanneer inflasie streng dopgehou word, bied dit ‘n soort van ‘n anker vir monetere beleid en dit vereis van die Reserwebank om openlik oor sy doelwitte en aksies te wees”, sê Gordhan.

Friday, 03 July 2009

Twee vragskepe bots by Kopenhagen

Die Deense vloot sê twee vragskepe het tussen Denemarke en die suide van Swede gebots.

Volgens die vloot se woordvoerder, Pernille Kroer, was die Maltese vragskip, die Captain Lus, besig om uit die Baltiese See na die hawe te vaar.

Kroer sê die Captain Lus het met die Noorweegse tenker, Sundstraum, gebots. Dié skip het met ’n vrag metanol in ’n suidwaartse rigting gevaar .

Die botsing het suid van Kopenhagen naby Taarnby gebeur. Niemand is beseer nie en daar is ook geen berigte van oliebesoedeling nie.

Skelm handelaar plaas olie onder druk

Beamptes van ICE Futures Europe, Londen se oliemark, het ’n ondersoek gelas na ’n beweerde skelm handelaar wat 9 miljoen vate gekoop en die olieprys die hoogte laat inskiet het.

Dinsdag se ongemagtigde handel het ruolie-termynkontrakte na oor die $73 per vat laat styg, die hoogste vlak in agt maande.

Oliemakelaar PVM Oil Associates, die slagoffer van die ongemagtigde handel, het Vrydag gesê die senior handelaar Steve Perkins was die skuldige party. Die maatskappy moes noodgedwonge sy posisie afwikkel, wat oliepryse weer skerp laat daal het.

Water raak warmer vir Tannenbaum

Barry Tannenbaum het erken dat hy dokumente vervals het om die Qatarse eiendomsagentskap, Barwa Real Estate, om die bos te lei, het ’n bron Donderdag gesê.

Volgens die bron het Tannenbaum dié bekentenis in ’n beëdigde verklaring gemaak wat Barwa in 'n Britse hof ingedien het as deel van ’n aansoek om Dean Rees se bates te vries.

Rees is een van die Johannesburgse prokureurs wat beleggers vir Tannenbaum se Ponzi-skema gewerf het. In die proses het hy glo miljoene rande gemaak.

‘Strategiese herbelyning’ vir Denel

Die wapenvervaardiger Denel gaan “herbelyn” word en sal weer onder die weermag resorteer, het die minster van verdediging, Lindiwe Sisulu, Vrydag tydens haar begrotingstoespraak aan die Nasionale Vergadering gesê.

Sisulu sê sy het reeds die saak met die minister van openbare ondernemings, Barbara Hogan, bespreek.

Daar moet “onmiddellik begin word met ’n strategiese herbelyning van Denel”, en die hele verdedigingsbedryf moet deeglik ondersoek word. Dit sal beide Armscor en Denel insluit, want nie een van die twee kan op uitnemende prestasie roem nie, het sy gesê.

Merkel waarsku banke

Die Duitse kansellier, Angela Merkel, het Vrydag gewaarsku dat regerings sterk weerstand sal bied teen enige pogings deur banke om die hervorming van finansiële regulasies af te water.

Sy het gesê dié taktiek sal nie in Amerika óf in die EU werk nie. Finansiële markte in Europa – wat Brittanje insluit – sal voortaan omsigtig gemonitor word.

Merkel het ook gesê sy sal haar beywer vir volhoubare ekonomiese ontwikkeling by ’n vergadering van die Groep van Agt (G8) nywerheidslande wat binnekort in Italië gehou word.

Shell beskuldig van toesmeerdery

Die oliereus Shell word beskuldig daarvan dat hy katastrofiese olie vermorsting in die Niger-delta probeer toesmeer deur dit te blameer op sabotasie van plaaslike mense.

Amnesty International sê mense wat in die Niger-delta woon, se menseregte word aangetas deur die omgewingsskade wat onder andere en hoofsaaklik, deur Royal Dutch Shell, veroorsaak word.

Landbougrond word beskadig, water, lug en vis word besoedel en besmet terwyl oliemaatskappye die saak probeer ontwyk.

Huispryse val steeds

Die verminderde rentekoerse sedert Desember het nog nie juis die aanvraag vir woonhuise geraak nie, het John Loos van FNB se huisleningsafdeling Donderdag gesê.

Die bank se huisprysindeks, wat Donderdag vrygestel is, wys dat huispryse met 10.2% geval het laas maand in vergelyking met 8.5% in Mei.

Hy meen huispryse sal verder val en dat daar tans te veel huise op die mark is.

Regering sny uitgawes

Tee, water en droë koekies gaan voortaan op die spyskaart wees in plaas van swierige maaltye wat die regering vroeër aangebied het by vergaderings soos wat beursies toegemaak word om openbare uitgawes in te perk, het ‘n woordvoerder Donderdag gesê.

Begrotings vir maaltye en reise word tans gesny, het Themba Maseko aan verslaggewers gesê.

Dit is een van die maniere waarop die regering uitgawes probeer beperk in die huidige finansiële klimaat waar die ekonomie met 6.4% gekrimp het in die eerste kwartaal van 2009.

VSA skok met werkloosheid

Amerikaanse werkgewers het meer poste as verwag laas maand gesny – 467 000 – en die land se werkloosheidssyfer opgestoot na 9.5%, die hoogste in 26 jaar.

Dit skilder ‘n prentjie van ‘n moeilike herstel vir een van die wêreld se grootste ekonomië.

Die werksverliese meer as wat ekonome verwag het.

Investec-baas kry kleiner salaris

Investec het die salaris van sy hoof-uitvoerende beampte, Stephen Koseff, met die helfte gesny na onderhandelinge met die Reserwebank oor ‘n afskaling in uitvoerende vergoeding.

Koseff is R21.4m laas jaar betaal, insluitende ‘n bonus van £1.25m.

Investec is Suid-Afrika se vyfde grootste bank en die enigste bank wat in Londen gelys is. Die bank het ook aangekondig dat bonusse vir die bank se uitvoerende direkteurs met meer as die helfte gesny sou word.

Thursday, 02 July 2009

Parlement keur Gordhan-plan goed

Die Parlement het die plan van die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, om die land se huidige vlak van uitgawe te behou en meer te leen, goedgekeur.

Gordhan het vroeër bekend gemaak dat die huidige inkomste-invordering sowat R19 miljard minder as die teiken is en dit kan tot so baie as R60 miljard teen die einde van die jaar beloop.

Cosatu verwelkom verhogings

Cosatu het die aankondiging van verhogings in die tekstielbedryf verwelkom. Cosatu het verwys na die aankondiging dat die tariewe op ingevoerde klere van 40% tot 45% verhoog gaan word om die plaaslike mark teen goedkoop invoere te help beskerm. Dit kon andersins tot gevolg hê dat plaaslike nywerhede en poste tot niet sou gaan.

Die vakbond sê SA verbied nie invoere nie, maar probeer net verseker dat wêreldwye handelsvoordele eweredig oor deelnemende lande versprei word.

Gautrein projek vorder fluks

’n Woordvoerder van die Gautrein projek, Jack van der Merwe, sê 65% konstruksie van die projek is voltooi en sowat R17.5 miljard van hul begrote R25.1 miljard is reeds bestee.

Hy sê 14km van die 15km tonnels is reeds voltooi en sowat 25% van alle spoorstawe is gelê. ’n Aankondiging sal volgende maand gemaak word of die OR Tambo lughawe roete na Sandton voltooi sal wees voor die aanvang van die 2010 Sokkerwêreldbeker toernooi.

Kalifornië het groot geldelike probleme

Die goewerneur van Kalifornië, Arnold Schwarzenegger, het formeel ‘n fiskale noodtoestand in die grootste staat in Amerika afgekondig en wetgewers vir ‘n spesiale sitting ontbied om die begrotingstekort van $24 miljard aan te spreek.

Kalifornië het ‘n $2.8 miljard kontant tekort en kan moontlik van Donderdag af nie meer hul rekeninge betaal nie. Schwarzenegger sê die wetgewers sal groot besparings, onder andere in opvoeding en hulpverlening, teweeg moet bring.

Nuwe voertuigverkope daal

Die verkope van nuwe voertuie was steeds onder groot druk in Junie, sê die nasionale vereniging van voertuigvervaardigers (Naamsa).

Sowat 30 065 nuwe eenhede is verkoop, ‘n daling van 23.7% - of 9 347 eenhede in Junie dié jaar, vergeleke by 39 412 eenhede dieselfde tydperk verlede jaar. Bykans 80% van die nuwe voertuie is aan handelaars gelewer en sowat 10% aan motorverhurings-maatskappye.

Rand vertoon goed

Die rand het sterk verhandel Woensdagoggend met plaaslike handelaars wat opgemerk het dat dit so laag as R7.50 sou kon gaan.

Teen vroegoggend was die rand op R7.7065 teenoor die dollar, R10.8333 teenoor die euro en R12.6590 teenoor die pond.

‘n Handelaar het gesê die mark word tans oorheers deur die swak VSA verbruikersvertroue inligting, die stadiger bankaktiwiteite in Europa asook die stadiger-as-verwagte toename in Japannese besigheidsvertroue.

SA banke is stabiel

Die Reserwebank het gesê die Suid-Afrikaanse banksisteem is stabiel en dat plaaslike banke genoeg kapitaal het en winsgewend was.

Dit kom ten spyte van die onstuimige finansiële markte en ekonomiese ontwikkelinge gedurende 2008.

Suid-Afrika se top kommersiële banke – Absa, FirstRand, Standard Bank en Nedbank – het gesê hul toekomstige verdienstes sal laer wees aangesien meer mense sukkel om skuld terug te betaal.

Heineken sukkel in Europa

Heineken, die grootste bierbrouer in Europa, staar ‘n groeiende resessie in die gesig in sy grootste biermark.

Die Amsterdam-gebaseerde bierbrouer sny tans terug op uitgawes in alle areas buiten Afrika, waar verkope steeds groei.

Anheuser-Busch InBev is die wêreld se grootste brouer. Anthony Geard van Investec Securities het gesê dat Heineken werklik in gevaar is.

Nuwe goudmyn begin produseer

Harmony Gold het laat blyk dat sy Hidden Valley myn in Papoea-Nieu-Guinee begin het om goud te produseer.

Die myn sal hopelik 5 000 ton erts, ter waarde van R2 miljard produseer, asook vier miljoen onse silwer, ter waarde van R429m.

Hidden Valley, ‘n gesamentlike onderneming van Harmony en ‘n Australiese myngroep, Newcrest Mining, is PNG se eerste nuwe goudmyn in 15 jaar.

Johannesburgers is negatiefste

‘n Meningsopname het gewys dat verbruikers in Durban en Kaapstad meer positief is oor die ekonomie as diegene in Johannesburg.

Johannesburgers is ook ontsteld oor verkeersprobleme en meer geraak deur die wêreldwye resessie as dié wat elders in die land bly, het ‘n MasterCard Wêreldwye Indeks van Verbruikersvertroue getoon.

Durbaniete is die mees optimistiese, gevolg deur Kapenaars.

Wednesday, 01 July 2009

China verkoop meer motors as VSA

China het die eerste keer in Januarie die VSA verbygesteek as die wêreld se grootste motorverkoper.

General Motors in China het vroeër aangekondig dat motorverkope skerp gestyg het, in teenstelling met probleme elders in die wêreld. GM se probleme is verder onderstreep toe ‘n klein Chinese vervaardiger, Sicyhuan Tengzhong Heavy Industrial Machinery, aangekondig het dat hulle ‘n bod ingedien het om die Hummer-reeks te koop.

Reuse ooreenkoms met swart beleggers

Die ooreenkoms van die wêreld se tweede grootste biervervaardiger, SABMiller, wat 10%van sy aandele in SA aan swart beleggers gaan verkoop, sal waarskynlik in die tweede helfte van die finansiële jaar, wat op 1 April 2010 begin, van stapel gestuur word.

Die brouery het vroeër gesê só ‘n ooreenkoms sal sowat R5.8 miljard beloop en is in lyn met die land se swart bemagtigingsaksie. Die koste van die ooreenkoms vir die brouer van Miller Lite, Peroni en Castle biere sal sowat $220m beloop.

Rand verhandel sterk

‘n Analis van RMB, John Cairns, sê die tweede kwartaal van vanjaar was tot dusver die beste kwartaal vir wêreldwye effekte in meer as twee dekades, en ook die beste ooit vir die rand.

Hy het kommentaar gelewer nadat die rand in vroeë verhandeling Woensdag sterk vertoon het en teen R7.7065 teenoor die dollar verhandel het. Dit het teen R10.8333 teenoor die euro verhandel en R12.6590 teenoor die pond.

Miljoene aanlyn betaal vir toerusting

‘n Vennoot in Textile Horizons, Reg Taylor, sê toerusting wat aanlyn van tekstielbedrywighede in Suid-Afrika wat tot niet gegaan het, verkoop het, het meer as R100 miljoen oorskrei.

Hy sê die toerusting is hoofsaaklik aan Indië, Bangladesh en Indonesië verkoop, wat die afgelope vier jaar aanlyn bie vir die toerusting. Textile Horizons het saamgespan met die wêreld se grootste aanlyn veilingsmaatskappy, GoIndustry DoveBid, om die tekstiel-verwante projekte in sub-Sahara Afrika te verteenwoordig.

Klein groei in vervaardigingsektor

Die aankope bestuurders indeks, (PMI), ‘n aanduiding hoe die land se vervaardigingsektor vaar, het die tweede agtereenvolgende maand ‘n klein verhoging getoon, sê die indeksborg Kagiso.

‘n Woordvoerder, Andre Coetzee, sê die indeks, wat seisoenaal aangepas word, het in Junie op 37.9 te staan gekom, vergeleke by 37.3 in Mei. Die volume vervaardigde goedere het egter steeds stadig afgeneem, maar seisoenaal aangepaste verkope het van 35.1 tot 37.9 en van 35.7 tot 38.2 gegroei.

Madoff-fortuin is weg

‘n Dag nadat die Wall Street-bedrieër Bernard Madoff 150 jaar tronktoe gestuur is, wonder ondersoekbeamptes steeds waar al die miljarde is wat hy van sy slagoffers gesteel het.

Madoff was die meesterbrein agter een van die wêreld se grootste bedrogspulle maar trustees kon tot dusver nog net $1.2 miljard terugvind.

Staatsaanklaers beweer $13 miljard is by hom “belê” en dit het vrae laat ontstaan oor waar die oorblywende geld nou is.

GM skitter in China

General Motors in China het Woensdag gesê motorverkope in dié land het skerp toegeneem in 2009, in teenstelling met die maatskappy se probleme elders in die wêreld.

Die Amerikaanse motormaatskappy het 38% meer motors verkoop in China in die eerste helfte van 2009 in vergelyking met dieselfde tyd laas jaar.

GM China se groeppresident, Kevin Wale, het in ‘n verklaring gesê dat die Chinese mark steeds beter vaar as wat verwag is.

Lloyds sny nog poste

Die Lloyds Banking Group, Brittanje se grootste verbandsbank beplan om ongeveer 2 100 poste te sny.

Dit sal beteken dat die groep sedert April laas jaar meer as 7 650 poste gesny het. Dit sal personeel in die Verenigde Koninkryk raak.

Die maatskappy se hoof-uitvoerende beampte, Eric Daniels, het belowe om kostes te sny na die aankoop van HBOS in Januarie, wat ‘n bank geskep het met meer as 3 000 takke en ‘n 28% aandeel in die land se verbandmark.

Naspers fokus op Internet

Die mediareus Naspers beplan heelwat kleiner ooreenkomste soos wat hy voortgaan om uit te brei in ontwikkelende markte. Die maatskappy wil ook meer Internet-besighede aankoop.

Hoof-uitvoerende beampte, Koos Bekker, het gesê van die ooreenkomste sal bestaande dienslewering verbeter terwyl ander op hul eie winsgewende proposisies is.

Sy huidige internet belange het R7.3 miljard gelewer in inkomste vir die jaar tot en met Maart, ‘n jaarlikse toename van 87%.

Resessie duur voort

Inligting wat Dinsdag bekend gemaak is oor kredietsyfers dui aan daarop dat die resessie voortduur in die tweede kwartaal van die jaar.

Die Reserwebank het inligting vrygestel wat wys dat kredietverlening in die privaatsektor geval het met R27 miljard in Mei – die skerpste maandelikse afname nog, het ekonoom Fanie Joubert gesê.

Nog ‘n ekonoom, Arthur Kamp, het gesê dit wys dat daar nie veel ekonomiese herstel tot aan die einde van die jaar sal wees nie.

Tuesday, 30 June 2009

GM wil likwidering vermy

General Motors gaan in ’n bankrotskap-verhoor toestemming vra om meeste van sy bates aan ’n nuwe maatskappy te verkoop – een wat nie deur ou skuld belas word nie.

GM beweer die skep van die “Nuwe GM” is die enigste manier om die maatskappy van likwidering te red en het onderneem om sterker en meer gefokus daaruit te kom.

Regter Robert Gerber het tot dusver in GM se guns beslis in elke mosie wat voor die hof gelê is sedert die motorvervaardiger beskerming teen bankrotskap begin soek het.

Unisa-finansies lyk beter

Unisa se finansiële posisie lyk beduidend beter, aldus raadsvoorsitter Mathews Phosa.

Dit ten spyte van die “struikelblokke as gevolg van die samesmelting van die voormalige Unisa, Technikon SA en Vista Universiteit se afstandsonderrig-komponent”, sowel as die “volgehoue moeilike finansiële klimaat waarbinne SA universiteite hulself bevind het.

Unisa se finansiële verslag word nou aan die departement van onderwys oorhandig.

NUM verlaag eis

Die Nasionale Unie van Mynwerkers (NUM) sê hy sal sy eis van 15% loonverhoging vir sy lede by Anglo Platinum verlaag omdat die maatskappy byna voldoen aan sy ander eise.

NUM se Lasiba Seshoka sê Angloplat het ingestem om die maandelikse minimum loon van oppervlaktewerkers te verhoog tot R4 000 en dié van ondergrondse werkers tot R4 400. Die unie het R4 200 en R4 500 onderskeidelik geëis.

VS-banke versigtig vir MTN-transaksie

Die MTN-groep se goeie vordering in Iran kan potensiaal probleme vir VS banke beteken, wat hul oog het op ’n rol in die maatskappy se beplande sameselting van meer as $20 miljard met Indië se Bharti Airtel.

MTN het ’n jaar gelede, toe die partye oor samesmelting gesels het, sowat 6 miljoen gebruikers in Iran gehad, maar sy besigheid daar, in die Soedan en Sirië, het sedertdien gegroei tot 18.2 miljoen in die laaste kwartaal.

MTN se jaarlikse verslag sê 13% van sy 2008-inkomste het uit dié drie lande gekom – drie state waar die VS Tesourie se se Buitelandse Batebeheer streng beperkings op VS-maatskappye plaas en hulle effektief verhoed om direk en indirek betrokke te wees weens sanksies.

Pamodzi-bieproses weer oop

Die bieproses vir Pamodzi Gold se Orkney-myn sal heropen word, aldus die gesamentlike voorlopige likwidateurs van dié myn.

Volgens ’n verklaring kan belangstellende partye hulle aanod binne drie weke van die amptelike kennisgewing indien, waarna dit oorweeg sal word in samewerking met die hoofkrediteur, vakbonde en die Bedryfsontwikkelingskorporasie.

Simmer & Jack het onlangs aansoek gedoen om die myn moontlik oor te neem.

Skoenverkope daal skerp

Verbruikers het minder duur skoene gekoop en het daarom die kernwinste van die AVI-groep laat val.

AVI verskaf Prada en DKNY handelsname by sy Spitz winkels en verkope het met 9% geval in vergelyking met laas jaar.

Van sy ander besighede soos Frisco en Entyce het egter winste getoon wat die maatskappy se algehele kernverdienste gelig het en die vooruitsigte vir die jaar laat verbeter het.

Rand verhandel sterk

Die rand het sterker verhandel Dinsdagoggend weens ‘n swakker dollar, het ‘n plaaslike handelaar gesê.

Teen 09:00 was die rand R7.7498 teenoor die dollar en R10.9560 teenoor die euro en R12.9210 teenoor die pond.

Analiste meen slegte ekonomiese nuus uit die VSA kon 'n bydraende faktor gewees het in hoekom die dollar verswak het.

Vebruikers bly weg van winkels

Verbruikers bly nog steeds weg van die winkels af, toon die jongste kredietsyfers wat Dinsdag deur die Reserwebank gepubliseer is.

Daar was ‘n afname in die aanvraag na krediet deur die privaatsektor en ekonome skryf dit toe aan werksverliese en onsekerheid oor die toekoms.

Boonop sny kommersiële banke terug op die toestaan van lenings aangesien mense sukkel om dit terug te betaal.

Switserse banke sluit rekeninge

Switserse banke maak die rekeninge van Amerikaners toe soos die VSA se belastingbetaler die soektog na belastingontduikers verskerp.

UBS en Credit Suisse Group, die land se grootste banke, het Amerikaners gevra om hul rekeninge te skuif na die VSA of hul rekeninge te verloor.

Ongeveer vyf miljoen Amerikaners woon oorsee, met 30 000 in Switserland.

SAners bly oor resessie

Die wêreldwye ekonomiese resessie, wat sommige Suid-Afrikaners laat terugkeer na die land, oortuig ook baie mense wat wou emigreer om liewer te bly, het ‘n marknavorsingsagentskap laat blyk.

Charlotte Jackson van Synovate, het Maandag gesê dit gee die regering ‘n kans om vaardighede binne die land te hou.

Volgens die maatskappy het 20% van mense met bemarkbare vaardighede laas jaar oorweeg om te emigreer, maar hierdie jaar staan dit op 18%.

Monday, 29 June 2009

Banke waak teen 2010-bedrog

Suid-Afrikaanse banke maak gereed vir ’n skerp toename in bedrog gedurende die 2010 Sokkerwêreldbeker.

Hoërisiko-aspekte vir kliënte is kaartbedrog, ATM-misdaad, bedrog met buitelandse valuta en vervalste geld, en kliënte wat mislei of beroof word.

Die banke sal ook die bedrogtendense deeglik monitor. Daar is tans ’n afname in kredietkaartbedrog in Suid-Afrika. Volgens ’n opname deur American International Group - South Africa is versekeringsbedrog agter tans die land se nommer een ekonomiese misdaad.

Padvervoer gewildste by besoekers aan SA

Meer as twee miljoen besoekers het in Maart 2009 deur doeanepunte die land binnegekom, sê Statistiek Suid-Afrika.

In vergelyking met Maart 2008 was daar ’n afname in reisigers wat die land binnegekom of verlaat het.

Padvervoer, eerder as treine en skepe, is deur 1 429 920 (67,1%) van die 2 131 152 besoekers gebruik, terwyl 681 487 (32%) per vliegtuig gereis het.

Buitelandse besoekers was hoofsaaklik afkomstig uit Europa (67,3%), gevolg deur Noord-Amerika (14,7%), Asië (8,2%); Australasië (4,9%); Sentraal- en Suid-Amerika (2,7%) en die Midde-Ooste (2,2%).

Nisbet dalk nie ten gunste van Indië-transaksie

Afrika se grootste selfoonoperateur, die MTN Groep, se direkteur van finansies, Rob Nisbet, het bedank. Dit het kommer laat ontstaan dat hy dalk nie ten gunste was van ’n beplande samesmelting met Indië se Bharti Airtel nie.

Om 13:40 het MTN-aandele teen 0,3% laer verhandel op R119,51, wat swakker was as die stewiger JSE Top-40-indeks van prima aandele.

Nisbet sal tot einde September as ’n uitvoerende direkteur aanbly en ook deel wees van die span wat die Bharti-Airtel-transaksie struktureer. Op 1 Oktober sal hy vervang word deur Nazir Patel.

Anglo 'nie op die verdediging'

Anglo American oorweeg dit om ’n vennoot te kry vir sy reuse ysterertsprojek in Brasilië.

Dié besluit is egter nie om homself teen sy mededinger, Xstrata, te verdedig nie, sê bronne wat insae in die situasie het. Anglo het verlede week 'n samesmeltingsaanbod van Xstrata van die hand gewys.

Volgens nuusberigte oor die naweek was Anglo besig om ’n verdedigingstrategie uit te werk deur deel van die Minas-Rio-projek te verkoop.

Anglo het gesê hulle lewer nie op mediaspekulasie kommentaar nie.

Eis teen Tesourie oor Vigs-tender

Die Indiese farmaseutiese maatskappy, Aurobindo, dagvaar die Suid-Afrikaanse Tesourie nadat ’n tender van $400 miljoen (R3,1 miljard) vir die vervaardiging van antiretrovirale middels aan plaaslike kontakteurs toegeken is.

Volgens Business Day beweer Aurobindo dat sy tender onregverdiglik afgewys is. Sy tenderprys was gemiddeld 30% laer as dié van plaaslike produkte.

Bykans 60% van die kontrak is aan die Suid-Afrikaanse maatskappye Aspen en Adcock Ingram toegeken. Die res is aan kleiner maatskappye toegeken.

Cosatu hou ministers dop

Die Cosatu president, Sdumo Dlamini, sê ministers wat deur die vakbond gesteun is om hul posisies in die kabinet te verkry, moet nou in die regering voorbrand maak vir hulle.

Hy sê Cosatu gaan sy eie moniteringstelsel instel om te kyk wat ministers doen om te verseker hulle hou Cosatuse belange voorop. Van die ministers wat senior posisies in vakbonde beklee het wat onder Cosatuse vaandel resorteer is die Minister van Ekonomiese Ontwikkeling, Ebrahim Patel en die Minister van Vrouesake, die jeug, kinders en gestremdes, Noluthando Mayende-Sibiya.

Nóg brandstofverhoging op pad - kenner

Verbruikers, wat van Woensdag tussen 37c en 40c ‘n litre meer vir brandstof gaan betaal, kan hulle maar regmaak vir nog ‘n verhoging in Augustus. Hierdie stelling is gemaak deur Nedbankse senior ekonoom, Nicky Weimar, wat dink die Augustus verhoging kan sowat 35c wees.

Die verhoging, tesame met ‘n 31% elektrisiteitsverhoging en dubbelsyfer loonverhoging eise deur vakbonde, sal bydra om inflasie, wat verlede maand 8% was, bo die Reserwebankse teiken van tussen 3% en 6% te hou.

Wells is glo nuwe Transnet baas

Berigte doen die ronde dat Transnetse nuwe hoof uitvoerende beampte Chris Wells gaan wees. Sy aanstelling moet deur die Openbare Ondernemings Minister, Barbara Hogan, bekragtig word.

Daar is vroeër aangekondig dat die nuwe hoof benoem sou word voordat die vorige hoof, Maria Ramos weg is om na Absa te gaan, maar dit het nie gebeur nie. Wells neem sedertdien waar.

Mynwerkers binnekort werkloos

Sowat 3 300 werkers by die Pamodzi Goldse President Steyn myn in Welkom gaan hul werk verloor wanneer Harmony Gold oorneem.

Die tusstentydse likwidateurs het aangekondig dat Harmony Gold die voorkeurbod gekry het en dat werkers by die myn afgedank gaan word teen ‘n koste van sowat R100m. Pamodzi sukkel sedert verlede jaar om die werkers te betaal.

Sasol open navorsingsentrum

Sasol het ‘n R70 miljoen brandstof toetssentrum in Kaapstad geopen. Die doel daarvan is om navorsing te doen oor brandstof uitlaatgasse en die uitwerking daarvan.

“Die sentrum is een van min soorgelyke fasiliteite wêreldwyd en die eerste van sy soort in Suider-Afrika”, lui ‘n verklaring.

Saturday, 27 June 2009

Projekbestuurders kry leiding

Die Universiteit van Kaapstad se Besigheidskool gaan in Augustus ‘n kursus aanbied vir gesoute projekleiers, ten einde hul projekte in lyn te kry met ‘n besigheidstrategie.

Sodoende kan hul meer waarde uit hul projekte kry. Laastenoemde is van uiterste belang, aangesien die ekonomiese resessie orals sy tol eis.

Deur die effektiwiteit van projekte te stroomlyn, kan maatskappye dus baatvind en die resessie oorleef.

Amerikaanse elektrisiteit gaan digitaal

Meer as ‘n eeu nadat Thomas Edison ‘n betroubare gloeilamp uitgevind het, gaan die Amerikaanse elektrisiteitsverspreidingsisteem nou digitaal gaan.

Volgens President Barack Obama is dit belangrik dat die ontwikkeling van wind- en sonenergie spoedig moet plaasvind, sodat minder energie verbruik word en klimaatveranderinge aangepak kan word.

Winkel misbruik Twitter

‘n Meubelwinkelgroep in Brittanje het Woensdag verskoning gemaak nadat sleutelwoorde wat na die huidige probleme in Iran verwys, in hul Twitter boodskap wat hul produkte adverteer, verskyn het.

Twitter het ‘n uitlaatklep vir duisende protesteerders in Iran geword. Politieke onrus het uitgebreek nadat President Mahmoud Ahmadinejad herverkies is. Die winkelgroep wou waarskynlik meer lesers trek met die gebruik van die sleutelwoorde.

Brittanje: Woolworths herrys aanlyn

Brittanje se Woolworths, wat ‘n honderd jaar oud is, het Donderdag as ‘n aanlynwinkel die lig gesien, nadat dit ses maande gelede bankrot verklaar is.

Die nuwe eienaar van hierdie bekende handelsmerk, Shop Direct, het na bewering tussen £5 en £10 miljoen (R105 en R210 miljoen) betaal vir die oorname van die handelsmerk.

Die nuwe webtuiste maak gebruik van die winkelgroep se kenmerkende rooi kleur, en verkoop alles van lekkergoed, CD’s tot speelgoed.

Jacko neem Internet oor

Die virtuele wêreld was Vrydag gevul met verwysings na Michael Jackson, nadat die pop-legende Donderdagaand aan ‘n hartaanval gesterf het.

Boodskappe van aanhangers wat treur oor hul held se dood het die internet oorstroom, terwyl siniese boodskappe ook volop was.

Volgens die media-kenner Dan Gillmore het 15% van alle plasings op Twitter na Jackson verwys. Op die sosiale netwerk-webtuiste Facebook, was verwysings na Jackson ook volop.

Gold Fields ietwat optimisties

Gold Fields sê verhoogte vlakke van aardskokke by beide die Driefontein en Kloofmyne het produksie ingekort. Gold Fields, die land se tweede grootste goudprodusent, het vroeër aangekondig dat produksie vir die vierde kwartaal vier persent hoër gaan wees as die vorige skatting van 905 000 onse.

Die maatskappy sê beide South Deep en Beatrix het verhoogte produksie in die kwartaal getoon, met South Deep wat verhoogte produksie gedurende 2010 kan verwag.

Ekonome voorspel swaarkry

Ekonome sê die 31.3 persent verhoging in elektrisiteit sal verbruikers en die sakesektor erg benadeel en dit sal ‘n negatiewe invloed op inflasie en ekonomiese aktiwiteite tot gevolg hê.

Hulle sê die ekonomie is reeds in ‘n resessie en die verhoging sal net help om inflasie verder te laat styg in ‘n tyd wat verbruikers en nywerhede klaar swaarkry. Dit volg op die besluit van die president van die Reserwerbank, Tito Mboweni, om die repokoers onveranderd te laat.

SABMiller ernstig oor besoedeling

Die hoof uitvoerende amptenaar van SABMiller, Graham Mackay, sê die maatskappy gaan hom toelê om maatreëls in te stel wat klimaatsverandering kan teëwerk. Hy het vroeër aangekondig dat sy maatskappy dit ten doel het om alle koolstofvrystellings uit fossielbrandstowwe teen 2020 uit te skakel.

“Klimaatsverandering is ‘n al groeiende bron van kommer wêreldwyd wat weerpatrone, die beskibkaarheid van water en oes-opbrengs beïnvloed”.

Chaos in kwalifikasies vir eiendomsagente

Die sektorale opleidingsowerheid (SETA) en die eiendomsagente raad (EAAB) kan nie oreenstemming bereik oor die inwerkingstelling van verpligte kwalifikasie standaarde vir die eiendomsektor nie en chaos heers in dié mark.

Diit kom nadat die EAAB, wat die eindomsmark beskerm, eiendomsagente verwittig het dat slegs kwalifikasies wat deur vasgestelde sentrums (RPL) uitgereik is en by SETA ge-akkrediteer is, ongeldig is. Voordat mense kan kwalifiseer, moet hulle ‘n EAAB kursus slaag en vir dié doel moet hulle ‘n 800-bladsy handboek koop wat R490 kos.

‘Rand het bietjie momentum’

‘n Handelaar van RMB in Johannesburg, Brigid Taylor, sê die rand het Vrydag taamlik goed vertoon.

“Die dollar het effens gedaal, wat die rand ‘n bietjie momentum gegee het”, sê Taylor. Die rand het Vrydag versterk tot bykans die hoogste vlak in ‘n maand nadat die Reserwebank die repokoers onveranderd op 7.5 persent gelaat het.

Friday, 26 June 2009

Metale en hulpbronne gee die toon aan

Teen middagete Vrydag was dit metaalaandele en hulpbronne wat die toon op die JSE aangegee het in navolging van stewiger internasionale markte.

Teen 12:03 was die JSE indeks van alle aandele met 1,95% op, hulpbronne met 2,31%, goudaandele met 1,69%, platinumaandele met 3,10%, banke met 2,42%, finansiële aandele met 1,93% en nywerheidsaandele met 1,56%.

“Ons volg die wêreldmarkte. Die banksektor het 'n bietjie momentum verloor na die rentekoersbesluit gister, maar lyk vandag goed,” het 'n plaaslike handelaar gesê.

SABMiller wil koolstofvoetspoor verklein

Die brouery SABMiller het Vrydag gesê teen 2020 gaan hy koolstofvrystellings uit fossielbrandstowwe in sy brouprosesse met 50% per liter verminder.

Die groep sê hy wil hierdie teiken haal deur groter energiedoeltreffendheid en die gebruik van hernubare energiebronne, insluitend afvalprodukte uit die brouproses en landbou-afval.

SABMiller is ook daartoe verbind om koolsuurgasvrystellings in sy waardeketting te verminder. Bavaria in Colombië het byvoorbeeld reeds $145 miljoen geïnvesteer om ‘super inruilbare’ bottels in gebruik te stel.

Gold Fields se produksie 4% meer

Gold Fields, Suid-Afrika se tweede grootste goudprodusent, het Vrydag gesê hy verwag dat sy produksie vir die vierde kwartaal tot einde Junie 2009 4% meer sal wees as sy vorige riglyn van 905 000 onse.

Suid-Afrikaanse goudmyne se toeskryfbare produksie vir die vierde kwartaal van die 2009 fiskale jaar sal na verwagting met sowat 2% styg tot ongeveer 16 400 kg, vergeleke met 16 088 kg in die derde kwartaal.

Toeskryfbare vierdekwartaalproduksie van internasionale myne sal na verwagting met ongeveer 6% styg tot 377 000 onse vergeleke met 354 000 onse in die derde kwartaal

Petrolprys gaan skerp styg

Die kleinhandelprys van petrol gaan volgende week met tussen 37 en 40c/liter styg, het die departement van minerale en energie Vrydag aangekondig.

Die prys van 93-oktaan petrol sal met 37c/liter styg, en dié van 95-oktaan met 40c/liter.

Die groothandelprys van alle diesel sal met 40c/liter styg en dié van kragparaffien met 46c/liter. Die maksimum nasionale kleinhandelprys vir kragparaffien sal met 62c/liter styg.

BA-personeel gaan verniet werk

Die sukkelende British Airways het Donderdag aangekondig dat 800 van sy personeellede ingestem het om sonder betaling te werk en dat nog duisende salarisverlagings aanvaar het. Dit sal die groep help om tot £10 miljoen (R131 miljoen) te spaar.

Die lugredery het onlangs ’n verlies begin toon omdat vliegkaartjieverkope weens die wêreldwye ekonomiese insinking afgeneem het.

Die uitvoerende hoof, Willie Walsh, en die finansiële direkteur, Keith Williams, gaan onder andere nie hulle salarisse vir Julie kry nie.

Rand verhandel goed

Die rand het sterker vertoon in handel Vrydagoggend.

Teen 09:00 was die rand op R7.9926 teenoor die dollar en R11.2161 teenoor die euro. Die rand het op R13.1195 teenoor die pond gestaan.

Dit word toegeskryf aan die Reserwebank se weiering om aan rentekoerse te verander asook sterk handel op Wallstraat.

Mboweni bly versigtig

By die laaste monetêre beleidsvergadering van die huidige Reserwebank se goewerneur, Tito Mbwoni, het hy besluit om te hou by sy omstrede inflasie beleid.

Die repokoers is onveranderd gelaat op 7.5% en hy het ook laat blyk dat rentekoerse waarskynlik ook nie verder gesny gaan word nie.

Die ekonomie het verder gekrimp tydens die eerste kwartaal van die jaar en sal na verwagting nie veel gegroei het in die tweede kwartaal nie.

Vele ekonome sê egter Mboweni se besluit is die regte een en dat hy versigtig optree.

Eskom verhoging veroordeel

Opposisiepartye, vakbonde en siviele groepe het Eskom se elektrisiteitsverhoging van 31,3% veroordeel – maar die regering het gesê die ekstra geld sal help om geld in die maatskappy se sak te bring.

Die verhoging, wat goedgekeur is deur die energiereguleerder, Nersa, sal Woensdag in werking tree.

Armer huishoudings sal egter net ‘n verhoging van 15% sien. Cosatu het gesê die verhoging van tariewe sal “katastrofaal” wees en het gedreig met betogings.

BP kry nuwe voorsitter

Die hoof-uitvoerende beampte van Ericsson, Carl-Henric Svanberg, gaan uittree om die voorsitter te word van BP.

Die verrassende aankondiging bring ‘n einde aan die oliereus se lang soektog na ‘n nuwe voorsitter.

Ericsson het Donderdag aangekondig dat die nuwe baas Hans Vestberg sal wees.

Russe belê in Namibië

Die Russiese President, Dmitry Medvedev, het Donderdag aangekom in Namibië waar hy ooreenkomste wil beklink ten opsigte van natuurlik gas, minerale en uraan.

Volgens ‘n Namibiese minister kan die Russiese belegging in die land verskeie miljard dollar kos. Namibië kyk glo na hidro- en kernkraguitbreiding.

Rusland gaan ooreenkomste sluit met Namibië ten opsigte van banke, beleggings en visserye.

Thursday, 25 June 2009

Sjokoladeverkope net effens beter

Die wêreldwye ekonomiese krisis het ook ‘n invloed op die hoeveelheid sjokolade wat mense verorber, sê die Switserse sjokolade en kakao reus Barry Callebaut.

Die maatskappy sê verkope die afgelope nege maande tot Mei het met 0.9 persent gegroei vergeleke by dieselfde tyd verlede jaar en het sowat R27 miljard beloop. Die maatskappy het sowat 895 391 ton sjokolade oor dieselfde tydperk verkoop.

Beleggers bekommerd oor Telkom

Die beleggingsektor is bekommerd oor Telkomse strategie omdat die telekommunikasie reus ‘n nuwe era sonder die finansiële krag van Vodacom tegemoet gaan.

Beleggers het aangedui dat hulle bekommerd is oor die swak vertoning van Telkomse Afrika netwerk, veral Multi-Links met hoofkwartier in Nigerië. Telkom het glo R1.76 miljard daar verloor.

Eskom kry groot verhoging

SA verbruikers en nywerhede sal 31.3 persent meer vir elektrisiteit moet betaal. Die verhoging het groot debat ontketen en baie verbruikers is weens die resessie daarteen gekant.

Eskom beplan om sowat R385 miljard die volgende vier jaar te bestee en hoop om teen 2026 meer as dubbel soveel krag te kan voorsien as wat nou die geval is.

Inflasiesyfers stof tot nadenke

Suid-Afrikase verbruikersprys inflasie het op –3.0 persent in Mei te staan gekom in vergelyking met 2.9 persent in April.

Statistiek Suid-Afrika sê die koers, wat plaaslike produksie verteenwoordig, was –1.1 persent vergeleke by –0.2 persent in April. Ingevoerde kommoditeite was –16.7 persent in Mei in vergeleke met die vorige maand terwyl uitvoer kommoditeit inflasie –6.0 persent was op ‘n jaar tot jaar van –2.7 persent voorheen.

Mededingingskommissie ondersoek PPC

Die sement-maatskappy Pretoria Portland Cement (PPC) het Donderdag aangekondig dat hul terrein deur die Mededingingskommissie ondersoek is.

Volgens die maatskappy is dit deel van ‘n breër ondersoek wat tans in die sementbedryf gedoen word.

Woordvoerders van die maatskappy het bevestig dat hulle hul samewerking vir die kommissie sal gee.

Te min informasie kelder entrepreneurs

Volgens die uitvoerende hoof van die Gauteng Jeugkamer van Koophandel en Nywerheid, Isaac Moroeng, is entrepreneurs se groot struikelblok nie befondsing nie, maar eerder toegang tot informasie.

Volgens Moroeng wil die kamer ‘n portaal vir besigheidsinformasie word wat die ontwikkeling van klein ondernemings wat deur jong mense begin word, kan ondersteun.

Hy het Woensdag ‘n toespraak gelewer by die opening van die Gautengse Klein-, Medium- en Mikro-ondernemingsgeleenthede Ekspo wat in Sandton, Johannesburg plaasvind.

Kenners maan teen besnoeiing

Ekonome het gesê die minister van finansies, Pravin Gordhan, is verkeerd indien hy sê dat die regering hul kostes sal moet besnoei.

Volgens die ekonome het die resessie nie enige ruimte vir die regering gelaat om minder te spandeer nie.

Dit kom nadat Gordhan verlede week aangekondig het dat die regering hul kostes sal moet besnoei.

Die wêreldwye resessie het die regering forseer om ‘n nuwe strategie te ontwikkel waarvolgens geld spandeer word.

Sentula kry sekwestrasiebevel

‘n Sekwestrasiebevel is aan die mynmaatskappy Sentula Mining toegeken nadat die maatskappy daarop aangedrink het dat ‘n verlore R242 miljoen opgespoor moet word.

Die bevel is gekry teen die voormalige finasiële direkteur, Jason Holland, wat na bewering fondse wanbestee het.

Bevelle is ook toegeken teen ander individue, firma’s en trusts.

Die aangeleentheid sal nie Sentula se bedrywighede ontwrig nie, het die uitvoerende hoof van die maatskappy Woensdag gesê.

Iran gebruik straks internet vir politieke voordeel

‘n Amerikaanse beweging wat fokus op die verkoop en handel van rekenaars het Maandag kommer uitgespreek dat Iran besig is om tegnologie wat deur die Weste verskaf word, te gebruik om hulle politieke opponente aanlyn uit te oorlê.

Ed Black, president en uitvoerende hoof van Rekenaar- en Kommunikasiebydryf-beweging, het gesê hierdie beweringe is ontstellend.

Volgens hom moet die internet verkieslik gebruik word om politieke kommunikasie en deelname aan ‘n demokrasie te bevorder.

Wednesday, 24 June 2009

MTN ontken Iran-netwerk is af

MTN het ontken dat sy Iran-netwerk, Irancell, nie werk nie en dat hy ’n maand se inkomste uit dié land kwyt is weens geblokkeerde selfoonseine.

“Daar is niks fout nie,” sê woordvoerder Nozipho Januray-Bardill. Dit volg na koerantberigte dat Iran seine van selfoonnetwerke geblokkeer het ná geskille oor die verkiesing van vroeër vandeesmaand.

Papierwerkers staak dalk

’n Staking deur papierwerkers dreig by Mondi en Sappi.

Die unie, Ceppwawu, sê hy het ’n geskil verklaar met dié twee maatskappye ná loononderhandelings oor die afgelope twee maande misluk het. Die unie eis ’n 17% loonverhoging en die onmiddelikke afskaffing van arbeidmakelaars. Die maatskappye het 4.5% aangebied.

Ceppwawu het ’n sertifikaat van die Kommissie vir Konsiliasie, Mediasie en Arbitrasie verkry, wat werkers toelaat om hul toerusting binne die volgende 48 uur neer te lê.

Transnet agter skedule

Transnet sê sy plan om die spoorafdeling se steenkoollyn op te gradeer, is 12 maande agter skedule weens die laat aflewering van nuwe lokomotiewe. Transnet-hoof Chris Wells sê die vertraging sal minimale impak hê op die vervoer van uitvoer-steenkool na die hawe, aangesien produsente kleiner volumes vervoer weens die ekonomiese afswaai.

“Ons het die kapasiteit om sowat 70 miljoen ton af te lewer.”

Hy sê Transnet beplan steeds om 80.5 miljard te spandeer aan die opgradeer van sy infrastruktuur, maar dat sommige kleiner projekte uitfaseer mag word.

VPI styg jaar-op-jaar

Die Verbruikersprysindeks (VPI) het in Mei met 8% jaar-op-jaar gestyg, aldus Statistiek SA.

Die VPI het maand-op-maand met 0.4% gestyg sedert April en daar is verwag dat verbruikersinflasie ’n toename van 7.9% sou toon, aldus ’n meningsopname van ekonome by I-Net Bridge. Die voorspelling het gestrek van 7.6% tot 8.0%.

Vrae oor MTN-kompetisie

Vrae word gevra oor ’n MTN sms-kompetisie waarin gebruikers gevra is om in te skryf teen R7.50 per sms. Die persoon met die meeste korrekte sms’se kon skootrekenaars, ’n motor en ’n R1 miljoen huisverband wen.

Maar volgens ’n ongeïdentifiseerde bron het die wenners wat met die Toyota Fortuner weggestap het, glo presies geweet hoeveel smsse om te stuur om te wen. Die bron het glo gehoor hoe iemand in ’n openbare plek vertel dat iemand hom die bronkode gegee het en dat hy mense se antwoorde op ’n URL kon tel.

MTN SA algemene bestuurder Donovan Smith sê hulle het ’n forensiese ondersoek na die saak geloods, maar dat die oudit gewys het alles is korrek.

Rugby bring R40m na Durban

Ondersteuners van die Britse en Ierse Leeus het amper R40 miljoen uitgegee in Durban laas naweek ten tye van die eerste toets teen die Springbokke.

Die geld is uitgegee op akkommodasie, kos, drank en reis en het ‘n lekker hupstoot vir die stad se toerismebedryf beteken – al was Kingspark nie uitverkoop nie.

Pretoria sien alreeds uit na die naweek se tweede toets, en berigte sê dat Britse ondersteuners reeds op die hoofstad toesak. Sommige gastehuise het gesê hulle is al volbespreek vir die naweek se rugby ses maande gelede.

Verhoging vir taxibestuurders

Die regering se minimum salaris vir taxibestuurders is verhoog tot op R1 933.72 per maand, het die departement van arbeid Woensdag bevestig.

Dit sal toegepas word vanaf 1 Julie, het woordvoerder Page Boikanyo gesê.

Die verhoging is ook van toepassing op administratiewe werkers in die bedryf.

Nuwe reeks vir Woolies

Voedsel-en klere kleinhandelaar, Woolworths, het aangekondig dat hy ‘n nuwe klerereeks gaan bekendstel in Augustus.

Die klerehandelsnaam, genaamd Trenery, kom weens die sukses van die Country Road-reeks en is 'n luukse klerereeks.

Trenery sal die Woolworths W Collection vervang wanneer dit in 14 Suid-Afrikaanse winkels bekend gestel word.

Trenery sal meer op ‘n ouer mark gemik wees, terwyl Country Road op jonger verbruikers gerig is.

SA verloor 180 000 poste

Statistiek SA het Dinsdag laat blyk dat bykans 180 000 poste verloor is weens die ekonomiese insinking tussen Januarie en Maart vanjaar.

Mike Schussler, die hoof ekonoom by Economists.co.za het gesê dit was ‘n “bloedbad” in die privaatsektor.

Dit laat ook twyfel ontstaan oor of die amptelike werkloosheidssyfer, wat tans op 23.5% staan, nie dalk hoër is nie. Die meeste werksverliese was in die konstruksiebedryf.

JSE herstel ietwat

Die JSE het Dinsdag ietwat flou geëindig met die mark wat op ‘n stadium meer as 500 punte verloor het en beleggers wat aandele opgeraap het.

Teen die tyd wat die JSE gesluit het, het die indeks van alle aandele 0.45% verloor, met goudmyne wat die meeste geval het met 1.72%.

‘n Handelaar het gesê die JSE het mooi reggekom en dat banke soos Absa en First Rand goed herstel het nadat hulle aanvanklik geknou is.

Tuesday, 23 June 2009

Laer FirstRand-syfers verwag

FirstRand het gewaarsku dat die verwagte afname in die makro-omgewing, binnelands en globaal, selfs meer negatief kan uitspeel as wat die groep verwag het.

Die groep verwag dat sy wesensverdienste vir die jaar tot einde Junie met tussen 28% en 33% kan daal. Verdienste per aandeel is verwag om te val met tussen 39% en 44% van 2008 se 218.2 sent.

Telkom-visier op Nigerië

Telkom sê sy nommer 1 prioriteit is om sy Nigeriese besigheid om te keer, wat ’n verlies van R1.76 miljard gemaak het.

Die groep se 2009 finansiële resultate het ’n 45.9% daling in wesensverdienste per aandeel getoon. Wins het met 47.7% gedaal tot R4.170 miljoen.

“Ons beskou die situasie by Multi-Links in Nigerië in ’n ernstige lig,” meen Telkom-hoof Reuben September. Hy sê Nigerië is nie immuun teen die wêreldwye krisis nie, aangesien dit ’n olie-gebaseerde ekonomie is.

BRT: Taxibedryf soek eienaarskap

Die minibustaxi-bedryf eis volle eienaarskap van die Snelbusdiens, oftewel BRT. Die Nasionale Taxi-Alliansie se sekretaris-generaal Alpheus Mlalazi sê sy bedryf het die roetes ontwikkel wat die BRT-stelsel nou teiken en sê dis regverdigbaar dat die taxibedryf intellektuele eiendom kan eis.

Hy sê as die regering nie wil begin onderhandel nie, daar protesaksie sal volg.

Ek wis van niks – Pioneer-bestuurder

Die Mededingingstribunaal het aangehoor dat Andries Goosen, bestuurder van Sasko se bakafdeling, nie geweet het daar word telefonies met konkurrente gesels nie.

Pioneer Foods, aan wie Sasko behoort, word beskuldig daarvan dat hy met ander broodvervaardigers gekonkel het. David Unterhalter, regsverteenwoordiger vir die Mededingendheidskommissie, sê geen stappe is geneem om oortreders by Sasko te straf nie.

Pioneer ontken alle betrokkenheid by vergaderings om prysvasstelling op brood te bepaal, maar Premier Foods, Foodcorp en Tiger Brands het met die kommissie geskik en boetes betaal.

Remgro-syfers bekend

Beleggingsgroep Remgro het ’n 21.7% verlies in wesensverdienste per aandeel vir die 12 maande wat in Maart geïndig het, aangekondig, van 1 692.8 sent na 987.7 sent.

Wesensverdienste peraandeel van voortgesette operasies het afgeneem met 30.3%, van 964.1 sent tot 671.5 sent. Die groep het ’n finale dividend van 110 sent per aandeel verklaar, in vergelyking met die 330 sent per aandeel vir verlede jaar.

Remgro-hoof Thys Visser het die resultate grootliks toegeskryf aan die ontbondeling van BAT en die ekonomiese toestand.

Imperial Logistics maak aankoop

Imperial Logistics het 60% gekoop van die vervoermaatskappy, Tip Trans Holdings, het Imperial Holdings Maandag gesê.

Abrie de Swardt van Imperial wou nie sê hoeveel die ooreenkoms gekos het nie, wat behels het dat 180 werknemers van Tip Trans oorbeweeg het na Imperial Logistics.

Hoof-uitvoerende beampte, Marius Swanepoel, het gesê die aankoop het die maatskappy in staat gestel om uit te brei in areas waar Tip Trans homself gevestig het oor vier dekades.

Olieprys val skerp

Die olieprys het skerp geval tot onder $67 per vat in Oosterse handel Dinsdag.

Dit kom weens onsekerheid oor die herstel van die wêreldekonomie.

Die Amerikaanse dollar was Dinsdag sterker en daar was ‘n afname in die wêreldaandeelmark.

Omnia vaar goed

Omnia het Dinsdag rapporteer dat die maatskappy ‘n 54% toename in kernverdienste gehad het vir die jaar wat in Maart 2009 geëindig het.

Die maatskappy, wat gespesialiseerde chemiese dienste verskaf, skryf die toename aan verskillende faktore toe, soos aan boere wat ekstra kunsmis gekoop het weens onsekerheid oor die toekoms.

Omnia se besturende direkteur, Rod Humphris, het gesê hy meen die maatskappy is goed geplaas in die mark en sal baat vind by enige verbetering in die landbou, water en alternatiewe engergiebedryf.

Fidentia: Nog vervolgings?

Meer kriminele klagtes word verwag uit die verduisteringsbewerings in die multimiljoenrandse Fidentia-skandaal nadat kurators twee groot transaksies ondersoek wat aan die maatskappy gekoppel word.

Die kurators ondersoek glo ook ‘n transaksie wat ‘n ongeïdentifiseerde “finansiële entiteit” in die finansiële bedryf gemaak het, wat ‘n bedrogspul was.

Hierdie ondersoek kan aanleiding gee tot verdere kriminele vervolgings.

Een van die transaksies kom van aandele in ‘n mediese afval maatskappy, gekoop deur Reno Cycle Lab van die Amerikaans-geregistreerde maatskappy, Stericycle.

Anglo verwerp aanbod

Xstrata se beoogde samesmelting met Anglo American om ‘n nuwe R551 miljard groep te vorm is deur Anglo se raad Maandag verwerp.

Anglo American het gesê die samesmelting sou nie in die beste belang van die maatskappy wees nie.

Plaaslike vakbonde het gesê die Xstrata aanbod kon moontlik werksverliese beteken asook vele ander negatiewe moontlikhede.

Monday, 22 June 2009

Opname toon SEB bly belangrik

Volgens die konsultantgroep Grant Thornton se jaarlikse internasionale sake-opname, glo 63% van besighede in private besit dat swart ekonomiese bemagtiging (SEB) belangrik is om nuwe besigheid te kry. Dit is 4% meer as die vorige jaar se syfer van 59%.

’n Sektorontleding toon dat 71% van die konstruksiebedryf, 68% van die dienstebedryf en 63% van die vervaardigingsbedryf glo dat SEB tot nuwe besigheid bygedra het. In die kleinhandelbedryf was dié syfer egter slegs 47%, in vergelyking met 53% in 2008.

SA patente binnekort wêreldwyd te sien

Suid-Afrikaanse patente gaan nie meer net tot Suid-Afrika beperk wees nie, het die kantoor vir die registrasie van maatskappye en intellektuele eiendom (Cipro) Maandag aangekondig.

"Alle Suid-Afrikaanse patente gaan binnekort beskikbaar wees op die webwerf van die VN-agentskap, die World Intellectual Property Organisation (Wipo) onder 'National Collections'," het Cipro gesê.

Sodoende sal geskandeerde beelde van Suid-Afrikaanse patente wêreldwyd beskikbaar gestel word.

Kodak sluit filmeenheid

Eastman Kodak gaan ophou om sy oudste film, die ikoniese Kodachrome, te maak omdat die vraag daarna weens die digitale era so kwaai afgeneem het.

Kodachrome is in 1935 bekend gestel het was die wêreld se eerste kommersieel suksesvolle kleurfilm. Verkope van dié unieke film vorm nou egter net ’n fraksie van 1% van Kodak se filmverkope.

Kodak sê dit was ’n moeilike maar noodsaaklike besluit. Die maatskappy wil egter steeds die toon aangee wat films betref en het die afgelope paar jaar verskeie nuwe films bekend gestel.

Anglo-aandele skitter op JSE

Anglo American se aandeelprys het Maandagoggend met 12% gestyg in reaksie Xstrata se planne om met Anglo saam te smelt.

Xstrata, die grootste uitvoerder van steenkool wat deur kragstasies gebruik word, se aandeelprys het egter met 2% teruggesak.

Anglo het tot R242 per aandeel gestyg kort nadat die mark geopen het, maar teen 10:30 effens teruggesak tot R233 per aandeel – sowat 7% meer as Vrydag se sluitingsprys.

Wêreldekonomie 'stuur op 'n ramp af'

In die volgende twee jaar gaan die krisis in die wêreldekonomie baie erger wees as die ekonomiese afswaai wat ons tans beleef, sê die Amerikaanse voorspeller, Harry S. Dent.

Dent het Japan se resessie in die 1990’s en die huidige insinking voorspel. Hy sê stellings dat die ergste verby is en dat daar “groen sprietjies” begin opduik, is nonsens.

Volgens hom sal verbruikers wat besnoei, aandele- en eiendomspryse in ’n afwaartse spiraal indwing wat die huidige beermarkherstel heeltemal sal oorskadu.

Volkswagen belê groot

‘n Raadslid van Volkswagen Suid-Afrika, Christian Kingler, sê die maatskappy beplan om die Citi Golf-reeks met nog ‘n model te vervang en ontwikkeling is ver gevorder. Hy het dié besluit aangekondig nadat bekend gemaak is dat die uiteindelike uitfasering van die Citi Gold-reeks niks te doen het met die wêreldwye ekonomiese krisis nie.

Kingler sê Volkswagen gaan ‘n groot bedrag in Suid-Afrika belê ten spyte van afwaarste motorverkope.

Huishoudings rat voor oë gedraai

‘n Voorste ekonomis sê dit lyk of verbruikers verneuk word rakende voedselpryse. Mike Schussler het aan ‘n forum in Midrand gesê verbruikers betaal sowat 10% meer vir voedsel en die ondersoek na broodpryse was dus ‘n positiewe stap.

Hy het verwys hoe verbruikers die rat voor die oë gedraai word, want sakebedrywighede betaal minder vir krag as huishoudings.

Xstrata praat met Anglo

Xstrata, die grootste uitvoerder van steenkool wat kragsentrales gebruik, het ‘n voorstel aan Anglo American gemaak om ‘n samesmelting te weeg te bring, het die wêreld se grootste voorsiener van platinum bekend gemaak.

Anglo, wat nie nog besonderhede bekend gemaak het nie, het gereageer op ‘n berig dat Xstrata glo sowat R546 miljard sal bestee. Anglo het tot dusver hierdie jaar met 5% verbeter wat die waarde van die maatskappy op sowat $35 miljard te staan bring en Xstrata het 88% verbeter, wat dit ‘n markkapitalisasie van $33 miljard gee.

Stemming in markte verbeter – kenner

Die stemming in finansiële markte is stadig besig om te verbeter soos beide banke en leners meer selfvertroue kry, sê ‘n ENB amptenaar, Michael Jordaan.

Hy sê die 4.5 persentasie punt vermindering in rentekoersheffings sedert Desember, en ook omdat kliënte besig is om hul skuld te verminder, het die gewenste uitwerking op die finansies van huishoudings. “Banke word meer gemaklik om geld uit te leen", sê Jordaan.

Speurder ondersoek Tannenbaum

‘n Privaatspeurder, Kobus Beukes, het die polisie gevra om ‘n ondersoek teenoor Barry Tannenbaum vir bedrog te loods. Hy was na bewering die hoof van die land se grootste Ponzi skema. ‘n Polisiewoordvoerder het bevestig dat die saak aanhanging gemaak is en dat dit na die Johannesburgse handelseenheid verwys is.

Beukes het gesê dat hy deur ‘n private belegger , wat glo hy is bedrieg, gehuur is. Tannenbaum het glo sowat 400 mense van biljoene rande bedrieg.

Saturday, 20 June 2009

Minder familie-tyd weens internet

Meer en meer Amerikaanse huishoudings spandeer minder tyd saam weens die internet.

Navorsing toon dat huishoudings wat internettoegang het, minder tyd saam met mekaar spandeer.
Familielede is dus in kontak met die wêreld, ten koste van tyd saam met hulle familielede.

Die gemiddelde tyd wat ’n familie saam spandeer, het sedert 2006 met 30% afgeneem.

Hunch wil met besluitneming help

’n Nuwe aanlyndiens wat mense help om belsuite te neem, is nou beskikbaar.

Hunch.com is in Maart bekend gestel, en kan mense help om oor enigiets te besluit: dit sluit verhoudingsbesluite in, die kies van ’n motor tot selfs alledaagse besluite.

Hunch.com wil mens help om besluite te neem wat by hulle pas, of by hul leefstyl pas.

Porsche-verkope daal

Verkope van die Duitse luukse-sportmotor-vervaardiger, Porsche, het Vrydag nog ’n knou gekry nadat data van die maatskappy aangetoon het dat verkope met 15% gedaal het in die eerste nege maande van Porsche se fiskale jaar.

Verkope het gedaal tot R48.8 miljard.

Die resultate, wat strek vanaf 1 Augustus tot 30 April, sluit nie die verkope van Volkswagen in nie.

Porsche besit 51% van Volkswagen se aandele.

Ryk swendelaar vasgetrek

Die Texas-Miljardêr, R. Allen Stanford, het Vrydag voor ‘n federale regter in Virginië verskyn.

Hy het homself Donderdag aan die FBI oorgegee.

Die FBI was opsoek na Stanford nadat hy bedrog gepleeg het.

SA-rentekoers daal straks weer

Suid-Afrika se rentekoers gaan volgende week met nog 50 basispunte daal, in ’n poging om die sukkelende ekonomie ’n hupstoot te gee.

Volgens kenners sal hierdie egter die laaste daling in ’n lang ruk wees.

’n Halwe persentasiepunt-daling sal die totale daling wat sedert Desember plaasgevind het, tot 500 opstoot.

Onsekerheid oor busmaatskappy

Onsekerheid bestaan nog oor die toekoms van die Remant Alton busmaatskappy. ‘n Lid van die uitvoerende komitee het vroeër gesê die maatskappy oorweeg dit om sy kontrak as munisipale busoperateur binne die volgende twee weke te staak.

As dit wel die geval is, sal duisende verbruikers weer yslike vervoerprobleme hê soos in Maart vanjaar toe die komitee die busmaatskappyse dienste gestaak het ná probleme met stakings, instandhouding en afdankings.

SAUK gaan Arbeidshof toe

Die SAUK gaan hul na die Arbeidshof wend in ‘n poging om ‘n staking oor salarisse en die krisis by die uitsaaier te stop.

‘n Onderhandelbaar van die Communication Workers Union (CWU) Vulture Ntukuli, sê die SAUK het vir ‘n interdik aansoek gedoen “om ons verhoed om te staak”. Die CWU en die Media Workers Association of SA (Mwasa) het vroeër ‘n interdik verkry om wel aan ‘n beskermde staking deel te neem, maar hulle is gevra om te wag tot na die Konfederasiebeker eindstryd op Junie 28.

Ooreenkoms oor groter treinveiligheid

Metrorial, Cosatu en die spoorwegverbruikers aksiegroep het ‘n ooreenkoms aangegaan om die spoorwegnetwerk meer veilig te maak en om slagoffers van geweld op treine geldelik by te staan. ‘n Multi-miljoen rand uitbetaling is ook aan slagoffers van treingeweld betaal.

Die groep is op die been gebring deur Leslie van Minnen van Vishoek nadat sy seun Juan op ‘n Metrorail trein in 2001 doodgesteek is. ‘n Totaal van 41 slagoffers het ‘n gesamentlike bedrag van sowat R24 miljoen ontvang.

Ekonomie herstel traag - King

Ekonomiese verslae uit Brittanje dui daarop dat die land se herstelproses van die ergste resessie sedert 1979 baie traag sal geskied.

Die president van die Bank van Engeland, Mervyn King, sê kleinhandelverkope het verlede maand onverwags gedaal – die eerste keer in drie maande. Hy dink banke gaan krediet baie fyn dophou en dit sal die herstelproses nog verder kniehalter.

Regering wil werkloses help

Die Minister van Arbeid, Membathisi Mdladlana, het aangekondig dat verskeie stappe geneem gaan word om mense te help en een daarvan is om werkloosheidsversekering wetgewing te heroorweeg.

Ondersoek sal ook gedoen word om te kyk of staatsamptenare ook voordeel uit die werkloosheidsfonds kan trek. Mdladlana sê werkloosheidsversekering voordele het verlede jaar met amper 32% verhoog wat ‘n duidelike aanduiding is van die impak van die huidige wêreldwye ekonomiese krisis in die land.

Friday, 19 June 2009

Werksverlies: minister gaan intree

Die minister van arbeid, Membathisi Mdladlana, het Vrydag beloof om werkloosheidsvoordele te verhoog. Die tydperk waarvoor werklose mense betalings kan ontvang, gaan ook verleng word van agt maande tot ’n jaar.

Volgens Mdladlana het die uitbetaling van werkloosheidsvoordele in 2008 met 31,7% toegeneem - "’n duidelike bewys van die impak van die huidige ekonomiese krisis” op Suid-Afrika.

In die laaste kwartaal van 2008 en die eerste kwartaal van 2009 het 200 000 mense hul werk verloor.

Kontant-vir-jou-skedonk sorg vir 'wonderwerk'

Duitsland se “kontant-vir-jou-skedonk”-plan het meer vroue in Europa se grootste motormark ingetrek as ooit tevore, het ’n studie bevind.

Vroue verteenwoordig 51% van die Duitse bevolking, maar net 35% van hulle het bestuurslisensies en net 32% van hulle sal uiteindelik ’n motor koop.

Sedert Februarie het vrouekopers egter tot ’n rekord 39% gestyg. Die rede vir dié "wonderwerk" is ’n motorskrapbonus van €2 500 (ongeveer R28 000) vir elkeen wat ’n motor van minstens nege jaar oud vir ’n nuwe een inruil.

Pamodzi gaan myne herkapitaliseer

Die beleërde jong goudmynmaatskappy, Pamodzi Gold, het Vrydag in ’n verklaring aan die JSE gesê sy direkteure gaan voort met hul fondswerwingspogings sodat hulle die maatskappy kan herkapitaliseer.

Aandeelhouers sal op hoogte gehou word van enige wesenlike verwikkelinge.

Pamodzi Gold sukkel al ’n jaar lank om genoeg kapitaal te kry om sy myne te herkapitaliseer en weer winsgewend te maak. Drie van sy vier goudmyne is onder voorlopige likwidasie geplaas.

Gewilde Prius breek deur Toyota-teiken

Toyota het in een maand 180 000 bestellings vir die nuwe Prius uit Japan gekry. Dit is ver bo die maatskappy se verkoopsteiken van 10 000 voertuie per maand.

Die derde-generasie Prius, wat ’n maand gelede bekend gestel is, is reeds baie gewild in Japan, deels danksy belastingaftrekkings en nuwe staatsaansporings om groei tydens die ekonomiese afswaai te stimuleer.

Die Prius was die topverkoper in Japan in Mei, en het Honda se nuwe hibridiese motor, die Insight, vir die eerste keer uitgestof.

Vakbond oorweeg massa-aksie oor koerse

Die National Union of Metalworkers of SA (Numsa) oorweeg steeds massa-aksie om druk op die Reserwebank uit te oefen om rentekoerse te verlaag. Dit ten spyte van ’n vergadering Donderdag tussen die vakbond en president van die Reserwebank, Tito Mboweni.

Mboweni het die ontmoeting as konstruktief en positief beskryf, maar Numsa sê hulle kon nog nie ’n afleiding maak nie, omdat die gesprek in Julie voortgesit sal word.

Numsa se president, Cedric Gina, sê hulle verwag dat die rentekoers volgende week met 2% verlaag sal word.

Naspers verwag verliese

Die uitgewersgroep Naspers het Donderdag aangekondig dat die maatskappy se kernverdienste per aandeel vir die jaar wat in Maart geëindig het, tussen 15 en 25% laer is as die vorige jaar.

Die maatskappy skryf die verlies toe hoofsaaklik aan die toename in die kostes van transaksies asook aan onlangse aankope.

BBP val met 6.4%

Die ekonomie is twee keer erg geknou aan die begin van die jaar. Uitvoere het met 55% afgeneem van die vorige kwartaal en huishoudelike uitgawes het ook gekrimp met vyf persent van die vorige kwartaal.

Hierdie inligting is vrygestel terwyl die Reserwebankhoof, Tito Mboweni, met vakbondleiers onderhandel oor sy beleid van geteikende inflasie.

Daar is tot dusver meer negatiewe as positiewe faktore, wat beteken het dat die bruto binnelandse produk met 6.4% geval het oor die afgelope kwartaal.

Anglo kom met nuwe aanbod

Anglo American en ander steenkoolmaatskappye het ‘n tweede aanbod gemaak vir die salarisverhogings van werknemers.

Hulle bied nou ‘n verhoging van tussen agt en nege persent aan.

Vakbonde soek ‘n verhoging van 15%.

Tannenbaum-agent aangekla

Kriminele klagtes is Donderdag gebring teen Dean Rees, ‘n agent vir die Ponzi-tipe beleggingsskema wat vermoedelik deur Barry Tannenbaum bestuur is en na bewering miljarde rande van 400 beleggers verduister het.

Regsverteenwoordiger Ian Levitt het bevestig dat die klag gelê is by die polisiestasie in Sandton deur een van die beleggers wat sy firma verteenwoordig.

Die klagte rus daarop dat Rees bedrog gepleeg het deur geld onder valse voorwendsels te neem.

300 nuwe KFC eetplekke

Die kitskos-maatskappy KFC wil 9 000 poste skep in Suid-Afrika oor die volgende drie tot vyf jaar, sê Keith Warren, die besturende direkteur van die maatskappy.

Hy het gesê werkskepping sou deel wees van die R1.5 miljard belegging wat KFC in die land maak.

Daar word beplan om 300 nuwe eetplekke oop te maak.

Thursday, 18 June 2009

Verbruikers se beursies dunner

Spandering in huishoudings is deur die ekonomiese afswaai getref, meen die Reserwebank in sy kwartaallikse bulletin.

Spandering het met 4.9% in die eerste kwartaal vanjaar gedaal, wat volg op ’n 2.7% afname in die laaste kwartaal van 2008. Huishoudings se spandering op duursame goedere hou aan daal, wat, so sê die Reserwebank, die “finansiële stres” in dié sektor en lae verbruikersvertroue weerspieël.

Eskom - rykes help straks armes

Meer welgestelde elektrisiteitsverbruikers kan gevra word om die armer gebruikers te help dra aan die 34% Eskom-tariefverhoging, maar die goeie nuus is dat daar geen kragonderbrekings sal wees dié winter nie.

Eskom-woordvoerder Fanie Zulu kon nie die versekering gee dat niemand meer as die voorgestelde 34% sal betaal nie. “As Nersa sê ons moet die armes beskerm en fooie teen hierdie koers hou… dan moet ons sien hoe die armes ’n kleiner rol kan speel.”

Zim-inflasie koel stadig af

Pryse in Zimbabwe hou aan daal ná ’n dekade van hiperinflasie wat die ekonomie vernietig het.

Die regering se sentrale statistiek-kantoor sê die maand-tot-maand inflasiekoers in Mei was -1.0%, in vergelyking met -1.1% in April.

Hulle skryf dit toe aan die afskaffing van die plaaslike geldeenheid, die Zim dollar, en bereken nou inflasie gebaseer op VS dollar-pryse.

Qatar maatskappy soek geld terug

Die eiendomsmaatskappy Barwa, wat in Qatar gebaseer is, eis terugbetalings van Barry Tannenbaum se Frankel-maatskappy.

Tannenbaum, beweerde meesterbrein van ’n Ponzi-skema, het volgens berigte glo vervalste bestellings van groot farmaseutiese maatskappye aan voornemende beleggers gewys.

Barwa het in ’n verklaring gesê hy het sy wentelkrediet-fasiliteit onmiddellik gestaak toe die nuus van die vermeende bedrogspul breek en só ’n beduidende bedrag krediet gespaar, maar dat die res van die geld ook terugbetaal moet word.

Tekort vergroot soos uitvoere tuimel

Die tekort op Suid-Afrika se lopende rekening is groter as verwag in die eerste kwartaal van 2009, soos uitvoere tuimel in die wêreldwye resessie, aldus die sentrale bank.

Die gaping het van 5.8% in dieselfde tyd verlede jaar vergroot tot 7% van die BBP vanjaar, oftewel R163.7 miljard.

Die bank sê ook ’n verlangsaming in SA se grootste handelsvennote het uitvoere geraak, wat met 21% gedaal het, of 19.4% in waardeterme.

SA maak slegte skuld

Suid-Afrikaners maak al meer slegte skuld en siviele dagvaardigings vir skuld het toegeneem, het Statistiek SA Donderdag gesê.

Daar was ‘n toename van ongeveer 15.6% vir die eerste drie maande van die jaar in vergelyking met laas jaar ten opsigte van siviele dagvaardigings.

Die meese daarvan was vir goedere wat op rekening gekoop is, geld wat geleen is, en ander skuldmakery.

McDonalds bedink reddingsplan

Die kitskos-maatskappy McDonalds soek plaaslike mense en besighede om hul besigheidsbelange in Suid-Afrika oor te neem.

Verteenwoordigers van die VSA maatskappy, wat 128 besighede in die land bedryf, het gesê dit sou die beste manier wees vir die groep om groei in Suid-Afrika te verseker.

McDonalds het gesê hulle wil nie toemaak nie maar dat hulle nou meer op wêreldmarkte wil konsentreer waar die maatskappy verliese gely het in 2008 en 2009.

Werkers wen saak

Meer as 100 vakbondlede van Numsa, die nasionale vakbond vir metaalwerkers, het ‘n belangrike oorwinning in die hof gehad Woensdag toe General Motors SA ‘n aansoek verloor het om hulle af te dank.

Die arbeidshof het bevind dat afdankingsbriewe wat aan sowat 130 werkers gegee is, ongeldig is.

Numsa woordvoerder, Alex Mashilo, het GMSA daarvan beskuldig dat hulle gewetenloos opgetree het.

500 000 poste bevraagteken

President Jacob Zuma se ambisieuse teiken van 500 000 poste wat hy teen die einde van die jaar wil skep, is weer Woensdag bevraagteken.

Volgens personeelgroep, Adcorp, word groei in die werksektor eers verwag teen die middel van volgende jaar.

Die hoof-uitvoerende beampte, Richard Pike, het gesê dit kan dalk in ‘n jaar se tyd gebeur maar nie teen die einde van die jaar nie.

SAA maak wins

SAA het dit reggekry om ‘n suksesvolle ommeswaai te maak na herorganisering waarin sowat 2 000 poste gesny is.

Die maatskappy het ‘n operasionele wins van sowat R2 miljard gemaak in die jaar tot en met Maart, het Chris Smyth, die lugredery se waarnemende uitvoerende beampte gesê.

Intussen gaan onderhandelings voort met Airbus oor vliegtuie wat nie meer aangekoop gaan word nie.

Wednesday, 17 June 2009

Bemiddeling vir goudmaatskappye, unies

Die unies van SA mynwerkers en goudprodusente het met ’n bemiddelingsliggaam ontmoet om ’n staking oor loonverhogings te vermy, iets wat die goudmaatskappye sê hulle nie kan bekostig nie.

Die unies het gesê hulle het dooiepunt bereik in onderhandelings en dat ’n staking onvermydelik is, sou die bemiddelingspoging faal.

Die Nasionale Unie van Mynwerkers en Solidariteit het ’n verbeterde aanbod van 7% geweier en ’n bemiddelaar ingeroep. Die mynwerkers eis 15%.

Moeilike tye vir boubedryf

Die boubedryf staar moeilike omstandighede in die gesig, meen hoofekonoom van FNB, Cees Bruggemans ná die vrystelling van die FNB Bouvertroue-Indeks.

Hy sê dat hoewel daar ’n 450 basispunt-afname in rentekoerse was, ’n groot deel van dié voordeel egter geneutraliseer is deur die strenger kriteria van finansiële instellings.

“Die algehele vraag vir bouwerk bly dus ernstig ingeperk,” meen Bruggemans.

‘Apartheid-tegnieke op handelaars gebruik’

Straathandelaars het kratte verrotte vrugte en groente van die Warwick Junction vroegoggendmark verwyder onder die wakende oog van die metropolisie.

Die stad se plan om ’n inkopiesentrum op dié plek te bou het talle handelaars ontstoke. Hulle het dié week ’n derde Hoërhofbevel gekry wat die munisipaliteit beveel om hulle toe te laat om aan te hou handel dryf.

Die IFP het die stad se behandeling van die handelaars beskryf as “taktiek in die apartheid-styl” ná berigte dat die metropolisie rubberkoeëls gebruik het.

Vraag na arbeid daal

Die algehele omgewing vir werk in SA is veel meer negatief en sal so bly tot 2010, aldus menslike kapitaalbestuurfirma Adcorp.

Dit is bevestig deur ’n kwartaal-op-kwartaal afname van 12.9% in Adcorp se Indiensnemingsindeks. Adcorp meen in ’n verklaring die omgewing is “beïnvloed deur die beduidende afname in makro-ekonomiese aktiwiteit (17.1%) en die vraag na arbeid wat met 5.7% gedaal het”.

Adcorp Holdings-hoof Richard Pike sê egter sekere vaardighede bly in aanvraag, veral dié in die finansiële dienste, ingenieurswese, natuur- en fisieke wetenskappe, medies en gesondheid, onderwys en informasie- en kommunikasietegnologie.

‘EPA moenie inmeng’

Die Ekonomiese Vennootskapsooreenkoms (EPA) met die EU moenie die SA Doane-unie (Sacu) ondermyn nie, sê minister van handel en nywerheid Rob Davies.

Dit volg na Botswana, Lesotho en Swaziland die EPA onderteken het, met Mosambiek wat lyk of hy wil teken. Suid-Afrika, Namibië en Angola glo egter fundamentele kwessies moet uitgesorteer word voor die ooreenkoms onderteken word, aldus Davies.

Ekonomiese herstel teen 2010

Die besturende direkteur van die Internasionale Monetêre Fonds het Woensdag gesê die wêreldwye ekonomie behoort teen volgende jaar tekens van herstel te toon.

Dominique Strauss-Kahn het Woensdag gepraat tydens ‘n besoek aan Tajikistan in Sentraal-Asië.

Hy het gesê soos die wêreldekonomie begin herstel sou die verandering sigbaar word in individuele lande wat tans swaar kry.

Politiek stoot olieprys op

Die prys van olie het opgegaan na $71 in Oosterse handel Woensdag weens politieke onstabiliteit in die olieproduserende lande van Iran en Nigerië, saam met ‘n swakker VSA dollar, het analiste gesê.

Jason Feer van Argus Media het gesê die politieke probleme in Iran was besig om die olieprys op te stoot.

Die verkiesingswaghond in Iran het Dinsdag gesê hy is reg om weer stemme te tel in die omstrede presidentsiële verkiesing in die land waar ten minste sewe mense dood is in geweld na die verkiesing.

Bedryf verwelkom tariefverlaging

Bedryfskenners het die besluit verwelkom om verminderde tariewe in te stel op sekere tekstiele wat in die kleremaakbedryf gebruik word.

Die tekstielwerkersvakbond, Sactwu, het gesê die vermindering van tariewe was deel van ‘n hulppakket wat onderhandel is vir die bedryf deur organisasies en die departement vir handel en nywerheid.

Daar was egter kommer dat van die prysverminderings ‘n negatiewe effek kon hê op tekstielvervaardigers en werksvoorsiening.

'Wit plase is veilig'

Die Staat sal nie beslag lê op plase wat deur blankes besit word nie om dit aan swartmense te gee nie aangesien dit die ekonomie sou skade aandoen, het die minister van landbou, Tina Joemat-Pettersson, Dinsdag gesê.

Sy het ‘n konferensie in Kaapstad toegespreek en het gesê daar is soms gevalle wanneer die plase te duur is onder die gewillige koper, gewillige verkoper sisteem, maar dat onteining nie sal plaasvind nie.

Ongeveer 4% van plase in privaat besit is reeds aangekoop deur die regering.