Tuesday, 30 June 2009

GM wil likwidering vermy

General Motors gaan in ’n bankrotskap-verhoor toestemming vra om meeste van sy bates aan ’n nuwe maatskappy te verkoop – een wat nie deur ou skuld belas word nie.

GM beweer die skep van die “Nuwe GM” is die enigste manier om die maatskappy van likwidering te red en het onderneem om sterker en meer gefokus daaruit te kom.

Regter Robert Gerber het tot dusver in GM se guns beslis in elke mosie wat voor die hof gelê is sedert die motorvervaardiger beskerming teen bankrotskap begin soek het.

Unisa-finansies lyk beter

Unisa se finansiële posisie lyk beduidend beter, aldus raadsvoorsitter Mathews Phosa.

Dit ten spyte van die “struikelblokke as gevolg van die samesmelting van die voormalige Unisa, Technikon SA en Vista Universiteit se afstandsonderrig-komponent”, sowel as die “volgehoue moeilike finansiële klimaat waarbinne SA universiteite hulself bevind het.

Unisa se finansiële verslag word nou aan die departement van onderwys oorhandig.

NUM verlaag eis

Die Nasionale Unie van Mynwerkers (NUM) sê hy sal sy eis van 15% loonverhoging vir sy lede by Anglo Platinum verlaag omdat die maatskappy byna voldoen aan sy ander eise.

NUM se Lasiba Seshoka sê Angloplat het ingestem om die maandelikse minimum loon van oppervlaktewerkers te verhoog tot R4 000 en dié van ondergrondse werkers tot R4 400. Die unie het R4 200 en R4 500 onderskeidelik geëis.

VS-banke versigtig vir MTN-transaksie

Die MTN-groep se goeie vordering in Iran kan potensiaal probleme vir VS banke beteken, wat hul oog het op ’n rol in die maatskappy se beplande sameselting van meer as $20 miljard met Indië se Bharti Airtel.

MTN het ’n jaar gelede, toe die partye oor samesmelting gesels het, sowat 6 miljoen gebruikers in Iran gehad, maar sy besigheid daar, in die Soedan en Sirië, het sedertdien gegroei tot 18.2 miljoen in die laaste kwartaal.

MTN se jaarlikse verslag sê 13% van sy 2008-inkomste het uit dié drie lande gekom – drie state waar die VS Tesourie se se Buitelandse Batebeheer streng beperkings op VS-maatskappye plaas en hulle effektief verhoed om direk en indirek betrokke te wees weens sanksies.

Pamodzi-bieproses weer oop

Die bieproses vir Pamodzi Gold se Orkney-myn sal heropen word, aldus die gesamentlike voorlopige likwidateurs van dié myn.

Volgens ’n verklaring kan belangstellende partye hulle aanod binne drie weke van die amptelike kennisgewing indien, waarna dit oorweeg sal word in samewerking met die hoofkrediteur, vakbonde en die Bedryfsontwikkelingskorporasie.

Simmer & Jack het onlangs aansoek gedoen om die myn moontlik oor te neem.

Skoenverkope daal skerp

Verbruikers het minder duur skoene gekoop en het daarom die kernwinste van die AVI-groep laat val.

AVI verskaf Prada en DKNY handelsname by sy Spitz winkels en verkope het met 9% geval in vergelyking met laas jaar.

Van sy ander besighede soos Frisco en Entyce het egter winste getoon wat die maatskappy se algehele kernverdienste gelig het en die vooruitsigte vir die jaar laat verbeter het.

Rand verhandel sterk

Die rand het sterker verhandel Dinsdagoggend weens ‘n swakker dollar, het ‘n plaaslike handelaar gesê.

Teen 09:00 was die rand R7.7498 teenoor die dollar en R10.9560 teenoor die euro en R12.9210 teenoor die pond.

Analiste meen slegte ekonomiese nuus uit die VSA kon 'n bydraende faktor gewees het in hoekom die dollar verswak het.

Vebruikers bly weg van winkels

Verbruikers bly nog steeds weg van die winkels af, toon die jongste kredietsyfers wat Dinsdag deur die Reserwebank gepubliseer is.

Daar was ‘n afname in die aanvraag na krediet deur die privaatsektor en ekonome skryf dit toe aan werksverliese en onsekerheid oor die toekoms.

Boonop sny kommersiële banke terug op die toestaan van lenings aangesien mense sukkel om dit terug te betaal.

Switserse banke sluit rekeninge

Switserse banke maak die rekeninge van Amerikaners toe soos die VSA se belastingbetaler die soektog na belastingontduikers verskerp.

UBS en Credit Suisse Group, die land se grootste banke, het Amerikaners gevra om hul rekeninge te skuif na die VSA of hul rekeninge te verloor.

Ongeveer vyf miljoen Amerikaners woon oorsee, met 30 000 in Switserland.

SAners bly oor resessie

Die wêreldwye ekonomiese resessie, wat sommige Suid-Afrikaners laat terugkeer na die land, oortuig ook baie mense wat wou emigreer om liewer te bly, het ‘n marknavorsingsagentskap laat blyk.

Charlotte Jackson van Synovate, het Maandag gesê dit gee die regering ‘n kans om vaardighede binne die land te hou.

Volgens die maatskappy het 20% van mense met bemarkbare vaardighede laas jaar oorweeg om te emigreer, maar hierdie jaar staan dit op 18%.

Monday, 29 June 2009

Banke waak teen 2010-bedrog

Suid-Afrikaanse banke maak gereed vir ’n skerp toename in bedrog gedurende die 2010 Sokkerwêreldbeker.

Hoërisiko-aspekte vir kliënte is kaartbedrog, ATM-misdaad, bedrog met buitelandse valuta en vervalste geld, en kliënte wat mislei of beroof word.

Die banke sal ook die bedrogtendense deeglik monitor. Daar is tans ’n afname in kredietkaartbedrog in Suid-Afrika. Volgens ’n opname deur American International Group - South Africa is versekeringsbedrog agter tans die land se nommer een ekonomiese misdaad.

Padvervoer gewildste by besoekers aan SA

Meer as twee miljoen besoekers het in Maart 2009 deur doeanepunte die land binnegekom, sê Statistiek Suid-Afrika.

In vergelyking met Maart 2008 was daar ’n afname in reisigers wat die land binnegekom of verlaat het.

Padvervoer, eerder as treine en skepe, is deur 1 429 920 (67,1%) van die 2 131 152 besoekers gebruik, terwyl 681 487 (32%) per vliegtuig gereis het.

Buitelandse besoekers was hoofsaaklik afkomstig uit Europa (67,3%), gevolg deur Noord-Amerika (14,7%), Asië (8,2%); Australasië (4,9%); Sentraal- en Suid-Amerika (2,7%) en die Midde-Ooste (2,2%).

Nisbet dalk nie ten gunste van Indië-transaksie

Afrika se grootste selfoonoperateur, die MTN Groep, se direkteur van finansies, Rob Nisbet, het bedank. Dit het kommer laat ontstaan dat hy dalk nie ten gunste was van ’n beplande samesmelting met Indië se Bharti Airtel nie.

Om 13:40 het MTN-aandele teen 0,3% laer verhandel op R119,51, wat swakker was as die stewiger JSE Top-40-indeks van prima aandele.

Nisbet sal tot einde September as ’n uitvoerende direkteur aanbly en ook deel wees van die span wat die Bharti-Airtel-transaksie struktureer. Op 1 Oktober sal hy vervang word deur Nazir Patel.

Anglo 'nie op die verdediging'

Anglo American oorweeg dit om ’n vennoot te kry vir sy reuse ysterertsprojek in Brasilië.

Dié besluit is egter nie om homself teen sy mededinger, Xstrata, te verdedig nie, sê bronne wat insae in die situasie het. Anglo het verlede week 'n samesmeltingsaanbod van Xstrata van die hand gewys.

Volgens nuusberigte oor die naweek was Anglo besig om ’n verdedigingstrategie uit te werk deur deel van die Minas-Rio-projek te verkoop.

Anglo het gesê hulle lewer nie op mediaspekulasie kommentaar nie.

Eis teen Tesourie oor Vigs-tender

Die Indiese farmaseutiese maatskappy, Aurobindo, dagvaar die Suid-Afrikaanse Tesourie nadat ’n tender van $400 miljoen (R3,1 miljard) vir die vervaardiging van antiretrovirale middels aan plaaslike kontakteurs toegeken is.

Volgens Business Day beweer Aurobindo dat sy tender onregverdiglik afgewys is. Sy tenderprys was gemiddeld 30% laer as dié van plaaslike produkte.

Bykans 60% van die kontrak is aan die Suid-Afrikaanse maatskappye Aspen en Adcock Ingram toegeken. Die res is aan kleiner maatskappye toegeken.

Cosatu hou ministers dop

Die Cosatu president, Sdumo Dlamini, sê ministers wat deur die vakbond gesteun is om hul posisies in die kabinet te verkry, moet nou in die regering voorbrand maak vir hulle.

Hy sê Cosatu gaan sy eie moniteringstelsel instel om te kyk wat ministers doen om te verseker hulle hou Cosatuse belange voorop. Van die ministers wat senior posisies in vakbonde beklee het wat onder Cosatuse vaandel resorteer is die Minister van Ekonomiese Ontwikkeling, Ebrahim Patel en die Minister van Vrouesake, die jeug, kinders en gestremdes, Noluthando Mayende-Sibiya.

Nóg brandstofverhoging op pad - kenner

Verbruikers, wat van Woensdag tussen 37c en 40c ‘n litre meer vir brandstof gaan betaal, kan hulle maar regmaak vir nog ‘n verhoging in Augustus. Hierdie stelling is gemaak deur Nedbankse senior ekonoom, Nicky Weimar, wat dink die Augustus verhoging kan sowat 35c wees.

Die verhoging, tesame met ‘n 31% elektrisiteitsverhoging en dubbelsyfer loonverhoging eise deur vakbonde, sal bydra om inflasie, wat verlede maand 8% was, bo die Reserwebankse teiken van tussen 3% en 6% te hou.

Wells is glo nuwe Transnet baas

Berigte doen die ronde dat Transnetse nuwe hoof uitvoerende beampte Chris Wells gaan wees. Sy aanstelling moet deur die Openbare Ondernemings Minister, Barbara Hogan, bekragtig word.

Daar is vroeër aangekondig dat die nuwe hoof benoem sou word voordat die vorige hoof, Maria Ramos weg is om na Absa te gaan, maar dit het nie gebeur nie. Wells neem sedertdien waar.

Mynwerkers binnekort werkloos

Sowat 3 300 werkers by die Pamodzi Goldse President Steyn myn in Welkom gaan hul werk verloor wanneer Harmony Gold oorneem.

Die tusstentydse likwidateurs het aangekondig dat Harmony Gold die voorkeurbod gekry het en dat werkers by die myn afgedank gaan word teen ‘n koste van sowat R100m. Pamodzi sukkel sedert verlede jaar om die werkers te betaal.

Sasol open navorsingsentrum

Sasol het ‘n R70 miljoen brandstof toetssentrum in Kaapstad geopen. Die doel daarvan is om navorsing te doen oor brandstof uitlaatgasse en die uitwerking daarvan.

“Die sentrum is een van min soorgelyke fasiliteite wêreldwyd en die eerste van sy soort in Suider-Afrika”, lui ‘n verklaring.

Saturday, 27 June 2009

Projekbestuurders kry leiding

Die Universiteit van Kaapstad se Besigheidskool gaan in Augustus ‘n kursus aanbied vir gesoute projekleiers, ten einde hul projekte in lyn te kry met ‘n besigheidstrategie.

Sodoende kan hul meer waarde uit hul projekte kry. Laastenoemde is van uiterste belang, aangesien die ekonomiese resessie orals sy tol eis.

Deur die effektiwiteit van projekte te stroomlyn, kan maatskappye dus baatvind en die resessie oorleef.

Amerikaanse elektrisiteit gaan digitaal

Meer as ‘n eeu nadat Thomas Edison ‘n betroubare gloeilamp uitgevind het, gaan die Amerikaanse elektrisiteitsverspreidingsisteem nou digitaal gaan.

Volgens President Barack Obama is dit belangrik dat die ontwikkeling van wind- en sonenergie spoedig moet plaasvind, sodat minder energie verbruik word en klimaatveranderinge aangepak kan word.

Winkel misbruik Twitter

‘n Meubelwinkelgroep in Brittanje het Woensdag verskoning gemaak nadat sleutelwoorde wat na die huidige probleme in Iran verwys, in hul Twitter boodskap wat hul produkte adverteer, verskyn het.

Twitter het ‘n uitlaatklep vir duisende protesteerders in Iran geword. Politieke onrus het uitgebreek nadat President Mahmoud Ahmadinejad herverkies is. Die winkelgroep wou waarskynlik meer lesers trek met die gebruik van die sleutelwoorde.

Brittanje: Woolworths herrys aanlyn

Brittanje se Woolworths, wat ‘n honderd jaar oud is, het Donderdag as ‘n aanlynwinkel die lig gesien, nadat dit ses maande gelede bankrot verklaar is.

Die nuwe eienaar van hierdie bekende handelsmerk, Shop Direct, het na bewering tussen £5 en £10 miljoen (R105 en R210 miljoen) betaal vir die oorname van die handelsmerk.

Die nuwe webtuiste maak gebruik van die winkelgroep se kenmerkende rooi kleur, en verkoop alles van lekkergoed, CD’s tot speelgoed.

Jacko neem Internet oor

Die virtuele wêreld was Vrydag gevul met verwysings na Michael Jackson, nadat die pop-legende Donderdagaand aan ‘n hartaanval gesterf het.

Boodskappe van aanhangers wat treur oor hul held se dood het die internet oorstroom, terwyl siniese boodskappe ook volop was.

Volgens die media-kenner Dan Gillmore het 15% van alle plasings op Twitter na Jackson verwys. Op die sosiale netwerk-webtuiste Facebook, was verwysings na Jackson ook volop.

Gold Fields ietwat optimisties

Gold Fields sê verhoogte vlakke van aardskokke by beide die Driefontein en Kloofmyne het produksie ingekort. Gold Fields, die land se tweede grootste goudprodusent, het vroeër aangekondig dat produksie vir die vierde kwartaal vier persent hoër gaan wees as die vorige skatting van 905 000 onse.

Die maatskappy sê beide South Deep en Beatrix het verhoogte produksie in die kwartaal getoon, met South Deep wat verhoogte produksie gedurende 2010 kan verwag.

Ekonome voorspel swaarkry

Ekonome sê die 31.3 persent verhoging in elektrisiteit sal verbruikers en die sakesektor erg benadeel en dit sal ‘n negatiewe invloed op inflasie en ekonomiese aktiwiteite tot gevolg hê.

Hulle sê die ekonomie is reeds in ‘n resessie en die verhoging sal net help om inflasie verder te laat styg in ‘n tyd wat verbruikers en nywerhede klaar swaarkry. Dit volg op die besluit van die president van die Reserwerbank, Tito Mboweni, om die repokoers onveranderd te laat.

SABMiller ernstig oor besoedeling

Die hoof uitvoerende amptenaar van SABMiller, Graham Mackay, sê die maatskappy gaan hom toelê om maatreëls in te stel wat klimaatsverandering kan teëwerk. Hy het vroeër aangekondig dat sy maatskappy dit ten doel het om alle koolstofvrystellings uit fossielbrandstowwe teen 2020 uit te skakel.

“Klimaatsverandering is ‘n al groeiende bron van kommer wêreldwyd wat weerpatrone, die beskibkaarheid van water en oes-opbrengs beïnvloed”.

Chaos in kwalifikasies vir eiendomsagente

Die sektorale opleidingsowerheid (SETA) en die eiendomsagente raad (EAAB) kan nie oreenstemming bereik oor die inwerkingstelling van verpligte kwalifikasie standaarde vir die eiendomsektor nie en chaos heers in dié mark.

Diit kom nadat die EAAB, wat die eindomsmark beskerm, eiendomsagente verwittig het dat slegs kwalifikasies wat deur vasgestelde sentrums (RPL) uitgereik is en by SETA ge-akkrediteer is, ongeldig is. Voordat mense kan kwalifiseer, moet hulle ‘n EAAB kursus slaag en vir dié doel moet hulle ‘n 800-bladsy handboek koop wat R490 kos.

‘Rand het bietjie momentum’

‘n Handelaar van RMB in Johannesburg, Brigid Taylor, sê die rand het Vrydag taamlik goed vertoon.

“Die dollar het effens gedaal, wat die rand ‘n bietjie momentum gegee het”, sê Taylor. Die rand het Vrydag versterk tot bykans die hoogste vlak in ‘n maand nadat die Reserwebank die repokoers onveranderd op 7.5 persent gelaat het.

Friday, 26 June 2009

Metale en hulpbronne gee die toon aan

Teen middagete Vrydag was dit metaalaandele en hulpbronne wat die toon op die JSE aangegee het in navolging van stewiger internasionale markte.

Teen 12:03 was die JSE indeks van alle aandele met 1,95% op, hulpbronne met 2,31%, goudaandele met 1,69%, platinumaandele met 3,10%, banke met 2,42%, finansiële aandele met 1,93% en nywerheidsaandele met 1,56%.

“Ons volg die wêreldmarkte. Die banksektor het 'n bietjie momentum verloor na die rentekoersbesluit gister, maar lyk vandag goed,” het 'n plaaslike handelaar gesê.

SABMiller wil koolstofvoetspoor verklein

Die brouery SABMiller het Vrydag gesê teen 2020 gaan hy koolstofvrystellings uit fossielbrandstowwe in sy brouprosesse met 50% per liter verminder.

Die groep sê hy wil hierdie teiken haal deur groter energiedoeltreffendheid en die gebruik van hernubare energiebronne, insluitend afvalprodukte uit die brouproses en landbou-afval.

SABMiller is ook daartoe verbind om koolsuurgasvrystellings in sy waardeketting te verminder. Bavaria in Colombië het byvoorbeeld reeds $145 miljoen geïnvesteer om ‘super inruilbare’ bottels in gebruik te stel.

Gold Fields se produksie 4% meer

Gold Fields, Suid-Afrika se tweede grootste goudprodusent, het Vrydag gesê hy verwag dat sy produksie vir die vierde kwartaal tot einde Junie 2009 4% meer sal wees as sy vorige riglyn van 905 000 onse.

Suid-Afrikaanse goudmyne se toeskryfbare produksie vir die vierde kwartaal van die 2009 fiskale jaar sal na verwagting met sowat 2% styg tot ongeveer 16 400 kg, vergeleke met 16 088 kg in die derde kwartaal.

Toeskryfbare vierdekwartaalproduksie van internasionale myne sal na verwagting met ongeveer 6% styg tot 377 000 onse vergeleke met 354 000 onse in die derde kwartaal

Petrolprys gaan skerp styg

Die kleinhandelprys van petrol gaan volgende week met tussen 37 en 40c/liter styg, het die departement van minerale en energie Vrydag aangekondig.

Die prys van 93-oktaan petrol sal met 37c/liter styg, en dié van 95-oktaan met 40c/liter.

Die groothandelprys van alle diesel sal met 40c/liter styg en dié van kragparaffien met 46c/liter. Die maksimum nasionale kleinhandelprys vir kragparaffien sal met 62c/liter styg.

BA-personeel gaan verniet werk

Die sukkelende British Airways het Donderdag aangekondig dat 800 van sy personeellede ingestem het om sonder betaling te werk en dat nog duisende salarisverlagings aanvaar het. Dit sal die groep help om tot £10 miljoen (R131 miljoen) te spaar.

Die lugredery het onlangs ’n verlies begin toon omdat vliegkaartjieverkope weens die wêreldwye ekonomiese insinking afgeneem het.

Die uitvoerende hoof, Willie Walsh, en die finansiële direkteur, Keith Williams, gaan onder andere nie hulle salarisse vir Julie kry nie.

Rand verhandel goed

Die rand het sterker vertoon in handel Vrydagoggend.

Teen 09:00 was die rand op R7.9926 teenoor die dollar en R11.2161 teenoor die euro. Die rand het op R13.1195 teenoor die pond gestaan.

Dit word toegeskryf aan die Reserwebank se weiering om aan rentekoerse te verander asook sterk handel op Wallstraat.

Mboweni bly versigtig

By die laaste monetêre beleidsvergadering van die huidige Reserwebank se goewerneur, Tito Mbwoni, het hy besluit om te hou by sy omstrede inflasie beleid.

Die repokoers is onveranderd gelaat op 7.5% en hy het ook laat blyk dat rentekoerse waarskynlik ook nie verder gesny gaan word nie.

Die ekonomie het verder gekrimp tydens die eerste kwartaal van die jaar en sal na verwagting nie veel gegroei het in die tweede kwartaal nie.

Vele ekonome sê egter Mboweni se besluit is die regte een en dat hy versigtig optree.

Eskom verhoging veroordeel

Opposisiepartye, vakbonde en siviele groepe het Eskom se elektrisiteitsverhoging van 31,3% veroordeel – maar die regering het gesê die ekstra geld sal help om geld in die maatskappy se sak te bring.

Die verhoging, wat goedgekeur is deur die energiereguleerder, Nersa, sal Woensdag in werking tree.

Armer huishoudings sal egter net ‘n verhoging van 15% sien. Cosatu het gesê die verhoging van tariewe sal “katastrofaal” wees en het gedreig met betogings.

BP kry nuwe voorsitter

Die hoof-uitvoerende beampte van Ericsson, Carl-Henric Svanberg, gaan uittree om die voorsitter te word van BP.

Die verrassende aankondiging bring ‘n einde aan die oliereus se lang soektog na ‘n nuwe voorsitter.

Ericsson het Donderdag aangekondig dat die nuwe baas Hans Vestberg sal wees.

Russe belê in Namibië

Die Russiese President, Dmitry Medvedev, het Donderdag aangekom in Namibië waar hy ooreenkomste wil beklink ten opsigte van natuurlik gas, minerale en uraan.

Volgens ‘n Namibiese minister kan die Russiese belegging in die land verskeie miljard dollar kos. Namibië kyk glo na hidro- en kernkraguitbreiding.

Rusland gaan ooreenkomste sluit met Namibië ten opsigte van banke, beleggings en visserye.

Thursday, 25 June 2009

Sjokoladeverkope net effens beter

Die wêreldwye ekonomiese krisis het ook ‘n invloed op die hoeveelheid sjokolade wat mense verorber, sê die Switserse sjokolade en kakao reus Barry Callebaut.

Die maatskappy sê verkope die afgelope nege maande tot Mei het met 0.9 persent gegroei vergeleke by dieselfde tyd verlede jaar en het sowat R27 miljard beloop. Die maatskappy het sowat 895 391 ton sjokolade oor dieselfde tydperk verkoop.

Beleggers bekommerd oor Telkom

Die beleggingsektor is bekommerd oor Telkomse strategie omdat die telekommunikasie reus ‘n nuwe era sonder die finansiële krag van Vodacom tegemoet gaan.

Beleggers het aangedui dat hulle bekommerd is oor die swak vertoning van Telkomse Afrika netwerk, veral Multi-Links met hoofkwartier in Nigerië. Telkom het glo R1.76 miljard daar verloor.

Eskom kry groot verhoging

SA verbruikers en nywerhede sal 31.3 persent meer vir elektrisiteit moet betaal. Die verhoging het groot debat ontketen en baie verbruikers is weens die resessie daarteen gekant.

Eskom beplan om sowat R385 miljard die volgende vier jaar te bestee en hoop om teen 2026 meer as dubbel soveel krag te kan voorsien as wat nou die geval is.

Inflasiesyfers stof tot nadenke

Suid-Afrikase verbruikersprys inflasie het op –3.0 persent in Mei te staan gekom in vergelyking met 2.9 persent in April.

Statistiek Suid-Afrika sê die koers, wat plaaslike produksie verteenwoordig, was –1.1 persent vergeleke by –0.2 persent in April. Ingevoerde kommoditeite was –16.7 persent in Mei in vergeleke met die vorige maand terwyl uitvoer kommoditeit inflasie –6.0 persent was op ‘n jaar tot jaar van –2.7 persent voorheen.

Mededingingskommissie ondersoek PPC

Die sement-maatskappy Pretoria Portland Cement (PPC) het Donderdag aangekondig dat hul terrein deur die Mededingingskommissie ondersoek is.

Volgens die maatskappy is dit deel van ‘n breër ondersoek wat tans in die sementbedryf gedoen word.

Woordvoerders van die maatskappy het bevestig dat hulle hul samewerking vir die kommissie sal gee.

Te min informasie kelder entrepreneurs

Volgens die uitvoerende hoof van die Gauteng Jeugkamer van Koophandel en Nywerheid, Isaac Moroeng, is entrepreneurs se groot struikelblok nie befondsing nie, maar eerder toegang tot informasie.

Volgens Moroeng wil die kamer ‘n portaal vir besigheidsinformasie word wat die ontwikkeling van klein ondernemings wat deur jong mense begin word, kan ondersteun.

Hy het Woensdag ‘n toespraak gelewer by die opening van die Gautengse Klein-, Medium- en Mikro-ondernemingsgeleenthede Ekspo wat in Sandton, Johannesburg plaasvind.

Kenners maan teen besnoeiing

Ekonome het gesê die minister van finansies, Pravin Gordhan, is verkeerd indien hy sê dat die regering hul kostes sal moet besnoei.

Volgens die ekonome het die resessie nie enige ruimte vir die regering gelaat om minder te spandeer nie.

Dit kom nadat Gordhan verlede week aangekondig het dat die regering hul kostes sal moet besnoei.

Die wêreldwye resessie het die regering forseer om ‘n nuwe strategie te ontwikkel waarvolgens geld spandeer word.

Sentula kry sekwestrasiebevel

‘n Sekwestrasiebevel is aan die mynmaatskappy Sentula Mining toegeken nadat die maatskappy daarop aangedrink het dat ‘n verlore R242 miljoen opgespoor moet word.

Die bevel is gekry teen die voormalige finasiële direkteur, Jason Holland, wat na bewering fondse wanbestee het.

Bevelle is ook toegeken teen ander individue, firma’s en trusts.

Die aangeleentheid sal nie Sentula se bedrywighede ontwrig nie, het die uitvoerende hoof van die maatskappy Woensdag gesê.

Iran gebruik straks internet vir politieke voordeel

‘n Amerikaanse beweging wat fokus op die verkoop en handel van rekenaars het Maandag kommer uitgespreek dat Iran besig is om tegnologie wat deur die Weste verskaf word, te gebruik om hulle politieke opponente aanlyn uit te oorlê.

Ed Black, president en uitvoerende hoof van Rekenaar- en Kommunikasiebydryf-beweging, het gesê hierdie beweringe is ontstellend.

Volgens hom moet die internet verkieslik gebruik word om politieke kommunikasie en deelname aan ‘n demokrasie te bevorder.

Wednesday, 24 June 2009

MTN ontken Iran-netwerk is af

MTN het ontken dat sy Iran-netwerk, Irancell, nie werk nie en dat hy ’n maand se inkomste uit dié land kwyt is weens geblokkeerde selfoonseine.

“Daar is niks fout nie,” sê woordvoerder Nozipho Januray-Bardill. Dit volg na koerantberigte dat Iran seine van selfoonnetwerke geblokkeer het ná geskille oor die verkiesing van vroeër vandeesmaand.

Papierwerkers staak dalk

’n Staking deur papierwerkers dreig by Mondi en Sappi.

Die unie, Ceppwawu, sê hy het ’n geskil verklaar met dié twee maatskappye ná loononderhandelings oor die afgelope twee maande misluk het. Die unie eis ’n 17% loonverhoging en die onmiddelikke afskaffing van arbeidmakelaars. Die maatskappye het 4.5% aangebied.

Ceppwawu het ’n sertifikaat van die Kommissie vir Konsiliasie, Mediasie en Arbitrasie verkry, wat werkers toelaat om hul toerusting binne die volgende 48 uur neer te lê.

Transnet agter skedule

Transnet sê sy plan om die spoorafdeling se steenkoollyn op te gradeer, is 12 maande agter skedule weens die laat aflewering van nuwe lokomotiewe. Transnet-hoof Chris Wells sê die vertraging sal minimale impak hê op die vervoer van uitvoer-steenkool na die hawe, aangesien produsente kleiner volumes vervoer weens die ekonomiese afswaai.

“Ons het die kapasiteit om sowat 70 miljoen ton af te lewer.”

Hy sê Transnet beplan steeds om 80.5 miljard te spandeer aan die opgradeer van sy infrastruktuur, maar dat sommige kleiner projekte uitfaseer mag word.

VPI styg jaar-op-jaar

Die Verbruikersprysindeks (VPI) het in Mei met 8% jaar-op-jaar gestyg, aldus Statistiek SA.

Die VPI het maand-op-maand met 0.4% gestyg sedert April en daar is verwag dat verbruikersinflasie ’n toename van 7.9% sou toon, aldus ’n meningsopname van ekonome by I-Net Bridge. Die voorspelling het gestrek van 7.6% tot 8.0%.

Vrae oor MTN-kompetisie

Vrae word gevra oor ’n MTN sms-kompetisie waarin gebruikers gevra is om in te skryf teen R7.50 per sms. Die persoon met die meeste korrekte sms’se kon skootrekenaars, ’n motor en ’n R1 miljoen huisverband wen.

Maar volgens ’n ongeïdentifiseerde bron het die wenners wat met die Toyota Fortuner weggestap het, glo presies geweet hoeveel smsse om te stuur om te wen. Die bron het glo gehoor hoe iemand in ’n openbare plek vertel dat iemand hom die bronkode gegee het en dat hy mense se antwoorde op ’n URL kon tel.

MTN SA algemene bestuurder Donovan Smith sê hulle het ’n forensiese ondersoek na die saak geloods, maar dat die oudit gewys het alles is korrek.

Rugby bring R40m na Durban

Ondersteuners van die Britse en Ierse Leeus het amper R40 miljoen uitgegee in Durban laas naweek ten tye van die eerste toets teen die Springbokke.

Die geld is uitgegee op akkommodasie, kos, drank en reis en het ‘n lekker hupstoot vir die stad se toerismebedryf beteken – al was Kingspark nie uitverkoop nie.

Pretoria sien alreeds uit na die naweek se tweede toets, en berigte sê dat Britse ondersteuners reeds op die hoofstad toesak. Sommige gastehuise het gesê hulle is al volbespreek vir die naweek se rugby ses maande gelede.

Verhoging vir taxibestuurders

Die regering se minimum salaris vir taxibestuurders is verhoog tot op R1 933.72 per maand, het die departement van arbeid Woensdag bevestig.

Dit sal toegepas word vanaf 1 Julie, het woordvoerder Page Boikanyo gesê.

Die verhoging is ook van toepassing op administratiewe werkers in die bedryf.

Nuwe reeks vir Woolies

Voedsel-en klere kleinhandelaar, Woolworths, het aangekondig dat hy ‘n nuwe klerereeks gaan bekendstel in Augustus.

Die klerehandelsnaam, genaamd Trenery, kom weens die sukses van die Country Road-reeks en is 'n luukse klerereeks.

Trenery sal die Woolworths W Collection vervang wanneer dit in 14 Suid-Afrikaanse winkels bekend gestel word.

Trenery sal meer op ‘n ouer mark gemik wees, terwyl Country Road op jonger verbruikers gerig is.

SA verloor 180 000 poste

Statistiek SA het Dinsdag laat blyk dat bykans 180 000 poste verloor is weens die ekonomiese insinking tussen Januarie en Maart vanjaar.

Mike Schussler, die hoof ekonoom by Economists.co.za het gesê dit was ‘n “bloedbad” in die privaatsektor.

Dit laat ook twyfel ontstaan oor of die amptelike werkloosheidssyfer, wat tans op 23.5% staan, nie dalk hoër is nie. Die meeste werksverliese was in die konstruksiebedryf.

JSE herstel ietwat

Die JSE het Dinsdag ietwat flou geëindig met die mark wat op ‘n stadium meer as 500 punte verloor het en beleggers wat aandele opgeraap het.

Teen die tyd wat die JSE gesluit het, het die indeks van alle aandele 0.45% verloor, met goudmyne wat die meeste geval het met 1.72%.

‘n Handelaar het gesê die JSE het mooi reggekom en dat banke soos Absa en First Rand goed herstel het nadat hulle aanvanklik geknou is.

Tuesday, 23 June 2009

Laer FirstRand-syfers verwag

FirstRand het gewaarsku dat die verwagte afname in die makro-omgewing, binnelands en globaal, selfs meer negatief kan uitspeel as wat die groep verwag het.

Die groep verwag dat sy wesensverdienste vir die jaar tot einde Junie met tussen 28% en 33% kan daal. Verdienste per aandeel is verwag om te val met tussen 39% en 44% van 2008 se 218.2 sent.

Telkom-visier op Nigerië

Telkom sê sy nommer 1 prioriteit is om sy Nigeriese besigheid om te keer, wat ’n verlies van R1.76 miljard gemaak het.

Die groep se 2009 finansiële resultate het ’n 45.9% daling in wesensverdienste per aandeel getoon. Wins het met 47.7% gedaal tot R4.170 miljoen.

“Ons beskou die situasie by Multi-Links in Nigerië in ’n ernstige lig,” meen Telkom-hoof Reuben September. Hy sê Nigerië is nie immuun teen die wêreldwye krisis nie, aangesien dit ’n olie-gebaseerde ekonomie is.

BRT: Taxibedryf soek eienaarskap

Die minibustaxi-bedryf eis volle eienaarskap van die Snelbusdiens, oftewel BRT. Die Nasionale Taxi-Alliansie se sekretaris-generaal Alpheus Mlalazi sê sy bedryf het die roetes ontwikkel wat die BRT-stelsel nou teiken en sê dis regverdigbaar dat die taxibedryf intellektuele eiendom kan eis.

Hy sê as die regering nie wil begin onderhandel nie, daar protesaksie sal volg.

Ek wis van niks – Pioneer-bestuurder

Die Mededingingstribunaal het aangehoor dat Andries Goosen, bestuurder van Sasko se bakafdeling, nie geweet het daar word telefonies met konkurrente gesels nie.

Pioneer Foods, aan wie Sasko behoort, word beskuldig daarvan dat hy met ander broodvervaardigers gekonkel het. David Unterhalter, regsverteenwoordiger vir die Mededingendheidskommissie, sê geen stappe is geneem om oortreders by Sasko te straf nie.

Pioneer ontken alle betrokkenheid by vergaderings om prysvasstelling op brood te bepaal, maar Premier Foods, Foodcorp en Tiger Brands het met die kommissie geskik en boetes betaal.

Remgro-syfers bekend

Beleggingsgroep Remgro het ’n 21.7% verlies in wesensverdienste per aandeel vir die 12 maande wat in Maart geïndig het, aangekondig, van 1 692.8 sent na 987.7 sent.

Wesensverdienste peraandeel van voortgesette operasies het afgeneem met 30.3%, van 964.1 sent tot 671.5 sent. Die groep het ’n finale dividend van 110 sent per aandeel verklaar, in vergelyking met die 330 sent per aandeel vir verlede jaar.

Remgro-hoof Thys Visser het die resultate grootliks toegeskryf aan die ontbondeling van BAT en die ekonomiese toestand.

Imperial Logistics maak aankoop

Imperial Logistics het 60% gekoop van die vervoermaatskappy, Tip Trans Holdings, het Imperial Holdings Maandag gesê.

Abrie de Swardt van Imperial wou nie sê hoeveel die ooreenkoms gekos het nie, wat behels het dat 180 werknemers van Tip Trans oorbeweeg het na Imperial Logistics.

Hoof-uitvoerende beampte, Marius Swanepoel, het gesê die aankoop het die maatskappy in staat gestel om uit te brei in areas waar Tip Trans homself gevestig het oor vier dekades.

Olieprys val skerp

Die olieprys het skerp geval tot onder $67 per vat in Oosterse handel Dinsdag.

Dit kom weens onsekerheid oor die herstel van die wêreldekonomie.

Die Amerikaanse dollar was Dinsdag sterker en daar was ‘n afname in die wêreldaandeelmark.

Omnia vaar goed

Omnia het Dinsdag rapporteer dat die maatskappy ‘n 54% toename in kernverdienste gehad het vir die jaar wat in Maart 2009 geëindig het.

Die maatskappy, wat gespesialiseerde chemiese dienste verskaf, skryf die toename aan verskillende faktore toe, soos aan boere wat ekstra kunsmis gekoop het weens onsekerheid oor die toekoms.

Omnia se besturende direkteur, Rod Humphris, het gesê hy meen die maatskappy is goed geplaas in die mark en sal baat vind by enige verbetering in die landbou, water en alternatiewe engergiebedryf.

Fidentia: Nog vervolgings?

Meer kriminele klagtes word verwag uit die verduisteringsbewerings in die multimiljoenrandse Fidentia-skandaal nadat kurators twee groot transaksies ondersoek wat aan die maatskappy gekoppel word.

Die kurators ondersoek glo ook ‘n transaksie wat ‘n ongeïdentifiseerde “finansiële entiteit” in die finansiële bedryf gemaak het, wat ‘n bedrogspul was.

Hierdie ondersoek kan aanleiding gee tot verdere kriminele vervolgings.

Een van die transaksies kom van aandele in ‘n mediese afval maatskappy, gekoop deur Reno Cycle Lab van die Amerikaans-geregistreerde maatskappy, Stericycle.

Anglo verwerp aanbod

Xstrata se beoogde samesmelting met Anglo American om ‘n nuwe R551 miljard groep te vorm is deur Anglo se raad Maandag verwerp.

Anglo American het gesê die samesmelting sou nie in die beste belang van die maatskappy wees nie.

Plaaslike vakbonde het gesê die Xstrata aanbod kon moontlik werksverliese beteken asook vele ander negatiewe moontlikhede.

Monday, 22 June 2009

Opname toon SEB bly belangrik

Volgens die konsultantgroep Grant Thornton se jaarlikse internasionale sake-opname, glo 63% van besighede in private besit dat swart ekonomiese bemagtiging (SEB) belangrik is om nuwe besigheid te kry. Dit is 4% meer as die vorige jaar se syfer van 59%.

’n Sektorontleding toon dat 71% van die konstruksiebedryf, 68% van die dienstebedryf en 63% van die vervaardigingsbedryf glo dat SEB tot nuwe besigheid bygedra het. In die kleinhandelbedryf was dié syfer egter slegs 47%, in vergelyking met 53% in 2008.

SA patente binnekort wêreldwyd te sien

Suid-Afrikaanse patente gaan nie meer net tot Suid-Afrika beperk wees nie, het die kantoor vir die registrasie van maatskappye en intellektuele eiendom (Cipro) Maandag aangekondig.

"Alle Suid-Afrikaanse patente gaan binnekort beskikbaar wees op die webwerf van die VN-agentskap, die World Intellectual Property Organisation (Wipo) onder 'National Collections'," het Cipro gesê.

Sodoende sal geskandeerde beelde van Suid-Afrikaanse patente wêreldwyd beskikbaar gestel word.

Kodak sluit filmeenheid

Eastman Kodak gaan ophou om sy oudste film, die ikoniese Kodachrome, te maak omdat die vraag daarna weens die digitale era so kwaai afgeneem het.

Kodachrome is in 1935 bekend gestel het was die wêreld se eerste kommersieel suksesvolle kleurfilm. Verkope van dié unieke film vorm nou egter net ’n fraksie van 1% van Kodak se filmverkope.

Kodak sê dit was ’n moeilike maar noodsaaklike besluit. Die maatskappy wil egter steeds die toon aangee wat films betref en het die afgelope paar jaar verskeie nuwe films bekend gestel.

Anglo-aandele skitter op JSE

Anglo American se aandeelprys het Maandagoggend met 12% gestyg in reaksie Xstrata se planne om met Anglo saam te smelt.

Xstrata, die grootste uitvoerder van steenkool wat deur kragstasies gebruik word, se aandeelprys het egter met 2% teruggesak.

Anglo het tot R242 per aandeel gestyg kort nadat die mark geopen het, maar teen 10:30 effens teruggesak tot R233 per aandeel – sowat 7% meer as Vrydag se sluitingsprys.

Wêreldekonomie 'stuur op 'n ramp af'

In die volgende twee jaar gaan die krisis in die wêreldekonomie baie erger wees as die ekonomiese afswaai wat ons tans beleef, sê die Amerikaanse voorspeller, Harry S. Dent.

Dent het Japan se resessie in die 1990’s en die huidige insinking voorspel. Hy sê stellings dat die ergste verby is en dat daar “groen sprietjies” begin opduik, is nonsens.

Volgens hom sal verbruikers wat besnoei, aandele- en eiendomspryse in ’n afwaartse spiraal indwing wat die huidige beermarkherstel heeltemal sal oorskadu.

Volkswagen belê groot

‘n Raadslid van Volkswagen Suid-Afrika, Christian Kingler, sê die maatskappy beplan om die Citi Golf-reeks met nog ‘n model te vervang en ontwikkeling is ver gevorder. Hy het dié besluit aangekondig nadat bekend gemaak is dat die uiteindelike uitfasering van die Citi Gold-reeks niks te doen het met die wêreldwye ekonomiese krisis nie.

Kingler sê Volkswagen gaan ‘n groot bedrag in Suid-Afrika belê ten spyte van afwaarste motorverkope.

Huishoudings rat voor oë gedraai

‘n Voorste ekonomis sê dit lyk of verbruikers verneuk word rakende voedselpryse. Mike Schussler het aan ‘n forum in Midrand gesê verbruikers betaal sowat 10% meer vir voedsel en die ondersoek na broodpryse was dus ‘n positiewe stap.

Hy het verwys hoe verbruikers die rat voor die oë gedraai word, want sakebedrywighede betaal minder vir krag as huishoudings.

Xstrata praat met Anglo

Xstrata, die grootste uitvoerder van steenkool wat kragsentrales gebruik, het ‘n voorstel aan Anglo American gemaak om ‘n samesmelting te weeg te bring, het die wêreld se grootste voorsiener van platinum bekend gemaak.

Anglo, wat nie nog besonderhede bekend gemaak het nie, het gereageer op ‘n berig dat Xstrata glo sowat R546 miljard sal bestee. Anglo het tot dusver hierdie jaar met 5% verbeter wat die waarde van die maatskappy op sowat $35 miljard te staan bring en Xstrata het 88% verbeter, wat dit ‘n markkapitalisasie van $33 miljard gee.

Stemming in markte verbeter – kenner

Die stemming in finansiële markte is stadig besig om te verbeter soos beide banke en leners meer selfvertroue kry, sê ‘n ENB amptenaar, Michael Jordaan.

Hy sê die 4.5 persentasie punt vermindering in rentekoersheffings sedert Desember, en ook omdat kliënte besig is om hul skuld te verminder, het die gewenste uitwerking op die finansies van huishoudings. “Banke word meer gemaklik om geld uit te leen", sê Jordaan.

Speurder ondersoek Tannenbaum

‘n Privaatspeurder, Kobus Beukes, het die polisie gevra om ‘n ondersoek teenoor Barry Tannenbaum vir bedrog te loods. Hy was na bewering die hoof van die land se grootste Ponzi skema. ‘n Polisiewoordvoerder het bevestig dat die saak aanhanging gemaak is en dat dit na die Johannesburgse handelseenheid verwys is.

Beukes het gesê dat hy deur ‘n private belegger , wat glo hy is bedrieg, gehuur is. Tannenbaum het glo sowat 400 mense van biljoene rande bedrieg.

Saturday, 20 June 2009

Minder familie-tyd weens internet

Meer en meer Amerikaanse huishoudings spandeer minder tyd saam weens die internet.

Navorsing toon dat huishoudings wat internettoegang het, minder tyd saam met mekaar spandeer.
Familielede is dus in kontak met die wêreld, ten koste van tyd saam met hulle familielede.

Die gemiddelde tyd wat ’n familie saam spandeer, het sedert 2006 met 30% afgeneem.

Hunch wil met besluitneming help

’n Nuwe aanlyndiens wat mense help om belsuite te neem, is nou beskikbaar.

Hunch.com is in Maart bekend gestel, en kan mense help om oor enigiets te besluit: dit sluit verhoudingsbesluite in, die kies van ’n motor tot selfs alledaagse besluite.

Hunch.com wil mens help om besluite te neem wat by hulle pas, of by hul leefstyl pas.

Porsche-verkope daal

Verkope van die Duitse luukse-sportmotor-vervaardiger, Porsche, het Vrydag nog ’n knou gekry nadat data van die maatskappy aangetoon het dat verkope met 15% gedaal het in die eerste nege maande van Porsche se fiskale jaar.

Verkope het gedaal tot R48.8 miljard.

Die resultate, wat strek vanaf 1 Augustus tot 30 April, sluit nie die verkope van Volkswagen in nie.

Porsche besit 51% van Volkswagen se aandele.

Ryk swendelaar vasgetrek

Die Texas-Miljardêr, R. Allen Stanford, het Vrydag voor ‘n federale regter in Virginië verskyn.

Hy het homself Donderdag aan die FBI oorgegee.

Die FBI was opsoek na Stanford nadat hy bedrog gepleeg het.

SA-rentekoers daal straks weer

Suid-Afrika se rentekoers gaan volgende week met nog 50 basispunte daal, in ’n poging om die sukkelende ekonomie ’n hupstoot te gee.

Volgens kenners sal hierdie egter die laaste daling in ’n lang ruk wees.

’n Halwe persentasiepunt-daling sal die totale daling wat sedert Desember plaasgevind het, tot 500 opstoot.

Onsekerheid oor busmaatskappy

Onsekerheid bestaan nog oor die toekoms van die Remant Alton busmaatskappy. ‘n Lid van die uitvoerende komitee het vroeër gesê die maatskappy oorweeg dit om sy kontrak as munisipale busoperateur binne die volgende twee weke te staak.

As dit wel die geval is, sal duisende verbruikers weer yslike vervoerprobleme hê soos in Maart vanjaar toe die komitee die busmaatskappyse dienste gestaak het ná probleme met stakings, instandhouding en afdankings.

SAUK gaan Arbeidshof toe

Die SAUK gaan hul na die Arbeidshof wend in ‘n poging om ‘n staking oor salarisse en die krisis by die uitsaaier te stop.

‘n Onderhandelbaar van die Communication Workers Union (CWU) Vulture Ntukuli, sê die SAUK het vir ‘n interdik aansoek gedoen “om ons verhoed om te staak”. Die CWU en die Media Workers Association of SA (Mwasa) het vroeër ‘n interdik verkry om wel aan ‘n beskermde staking deel te neem, maar hulle is gevra om te wag tot na die Konfederasiebeker eindstryd op Junie 28.

Ooreenkoms oor groter treinveiligheid

Metrorial, Cosatu en die spoorwegverbruikers aksiegroep het ‘n ooreenkoms aangegaan om die spoorwegnetwerk meer veilig te maak en om slagoffers van geweld op treine geldelik by te staan. ‘n Multi-miljoen rand uitbetaling is ook aan slagoffers van treingeweld betaal.

Die groep is op die been gebring deur Leslie van Minnen van Vishoek nadat sy seun Juan op ‘n Metrorail trein in 2001 doodgesteek is. ‘n Totaal van 41 slagoffers het ‘n gesamentlike bedrag van sowat R24 miljoen ontvang.

Ekonomie herstel traag - King

Ekonomiese verslae uit Brittanje dui daarop dat die land se herstelproses van die ergste resessie sedert 1979 baie traag sal geskied.

Die president van die Bank van Engeland, Mervyn King, sê kleinhandelverkope het verlede maand onverwags gedaal – die eerste keer in drie maande. Hy dink banke gaan krediet baie fyn dophou en dit sal die herstelproses nog verder kniehalter.

Regering wil werkloses help

Die Minister van Arbeid, Membathisi Mdladlana, het aangekondig dat verskeie stappe geneem gaan word om mense te help en een daarvan is om werkloosheidsversekering wetgewing te heroorweeg.

Ondersoek sal ook gedoen word om te kyk of staatsamptenare ook voordeel uit die werkloosheidsfonds kan trek. Mdladlana sê werkloosheidsversekering voordele het verlede jaar met amper 32% verhoog wat ‘n duidelike aanduiding is van die impak van die huidige wêreldwye ekonomiese krisis in die land.

Friday, 19 June 2009

Werksverlies: minister gaan intree

Die minister van arbeid, Membathisi Mdladlana, het Vrydag beloof om werkloosheidsvoordele te verhoog. Die tydperk waarvoor werklose mense betalings kan ontvang, gaan ook verleng word van agt maande tot ’n jaar.

Volgens Mdladlana het die uitbetaling van werkloosheidsvoordele in 2008 met 31,7% toegeneem - "’n duidelike bewys van die impak van die huidige ekonomiese krisis” op Suid-Afrika.

In die laaste kwartaal van 2008 en die eerste kwartaal van 2009 het 200 000 mense hul werk verloor.

Kontant-vir-jou-skedonk sorg vir 'wonderwerk'

Duitsland se “kontant-vir-jou-skedonk”-plan het meer vroue in Europa se grootste motormark ingetrek as ooit tevore, het ’n studie bevind.

Vroue verteenwoordig 51% van die Duitse bevolking, maar net 35% van hulle het bestuurslisensies en net 32% van hulle sal uiteindelik ’n motor koop.

Sedert Februarie het vrouekopers egter tot ’n rekord 39% gestyg. Die rede vir dié "wonderwerk" is ’n motorskrapbonus van €2 500 (ongeveer R28 000) vir elkeen wat ’n motor van minstens nege jaar oud vir ’n nuwe een inruil.

Pamodzi gaan myne herkapitaliseer

Die beleërde jong goudmynmaatskappy, Pamodzi Gold, het Vrydag in ’n verklaring aan die JSE gesê sy direkteure gaan voort met hul fondswerwingspogings sodat hulle die maatskappy kan herkapitaliseer.

Aandeelhouers sal op hoogte gehou word van enige wesenlike verwikkelinge.

Pamodzi Gold sukkel al ’n jaar lank om genoeg kapitaal te kry om sy myne te herkapitaliseer en weer winsgewend te maak. Drie van sy vier goudmyne is onder voorlopige likwidasie geplaas.

Gewilde Prius breek deur Toyota-teiken

Toyota het in een maand 180 000 bestellings vir die nuwe Prius uit Japan gekry. Dit is ver bo die maatskappy se verkoopsteiken van 10 000 voertuie per maand.

Die derde-generasie Prius, wat ’n maand gelede bekend gestel is, is reeds baie gewild in Japan, deels danksy belastingaftrekkings en nuwe staatsaansporings om groei tydens die ekonomiese afswaai te stimuleer.

Die Prius was die topverkoper in Japan in Mei, en het Honda se nuwe hibridiese motor, die Insight, vir die eerste keer uitgestof.

Vakbond oorweeg massa-aksie oor koerse

Die National Union of Metalworkers of SA (Numsa) oorweeg steeds massa-aksie om druk op die Reserwebank uit te oefen om rentekoerse te verlaag. Dit ten spyte van ’n vergadering Donderdag tussen die vakbond en president van die Reserwebank, Tito Mboweni.

Mboweni het die ontmoeting as konstruktief en positief beskryf, maar Numsa sê hulle kon nog nie ’n afleiding maak nie, omdat die gesprek in Julie voortgesit sal word.

Numsa se president, Cedric Gina, sê hulle verwag dat die rentekoers volgende week met 2% verlaag sal word.

Naspers verwag verliese

Die uitgewersgroep Naspers het Donderdag aangekondig dat die maatskappy se kernverdienste per aandeel vir die jaar wat in Maart geëindig het, tussen 15 en 25% laer is as die vorige jaar.

Die maatskappy skryf die verlies toe hoofsaaklik aan die toename in die kostes van transaksies asook aan onlangse aankope.

BBP val met 6.4%

Die ekonomie is twee keer erg geknou aan die begin van die jaar. Uitvoere het met 55% afgeneem van die vorige kwartaal en huishoudelike uitgawes het ook gekrimp met vyf persent van die vorige kwartaal.

Hierdie inligting is vrygestel terwyl die Reserwebankhoof, Tito Mboweni, met vakbondleiers onderhandel oor sy beleid van geteikende inflasie.

Daar is tot dusver meer negatiewe as positiewe faktore, wat beteken het dat die bruto binnelandse produk met 6.4% geval het oor die afgelope kwartaal.

Anglo kom met nuwe aanbod

Anglo American en ander steenkoolmaatskappye het ‘n tweede aanbod gemaak vir die salarisverhogings van werknemers.

Hulle bied nou ‘n verhoging van tussen agt en nege persent aan.

Vakbonde soek ‘n verhoging van 15%.

Tannenbaum-agent aangekla

Kriminele klagtes is Donderdag gebring teen Dean Rees, ‘n agent vir die Ponzi-tipe beleggingsskema wat vermoedelik deur Barry Tannenbaum bestuur is en na bewering miljarde rande van 400 beleggers verduister het.

Regsverteenwoordiger Ian Levitt het bevestig dat die klag gelê is by die polisiestasie in Sandton deur een van die beleggers wat sy firma verteenwoordig.

Die klagte rus daarop dat Rees bedrog gepleeg het deur geld onder valse voorwendsels te neem.

300 nuwe KFC eetplekke

Die kitskos-maatskappy KFC wil 9 000 poste skep in Suid-Afrika oor die volgende drie tot vyf jaar, sê Keith Warren, die besturende direkteur van die maatskappy.

Hy het gesê werkskepping sou deel wees van die R1.5 miljard belegging wat KFC in die land maak.

Daar word beplan om 300 nuwe eetplekke oop te maak.

Thursday, 18 June 2009

Verbruikers se beursies dunner

Spandering in huishoudings is deur die ekonomiese afswaai getref, meen die Reserwebank in sy kwartaallikse bulletin.

Spandering het met 4.9% in die eerste kwartaal vanjaar gedaal, wat volg op ’n 2.7% afname in die laaste kwartaal van 2008. Huishoudings se spandering op duursame goedere hou aan daal, wat, so sê die Reserwebank, die “finansiële stres” in dié sektor en lae verbruikersvertroue weerspieël.

Eskom - rykes help straks armes

Meer welgestelde elektrisiteitsverbruikers kan gevra word om die armer gebruikers te help dra aan die 34% Eskom-tariefverhoging, maar die goeie nuus is dat daar geen kragonderbrekings sal wees dié winter nie.

Eskom-woordvoerder Fanie Zulu kon nie die versekering gee dat niemand meer as die voorgestelde 34% sal betaal nie. “As Nersa sê ons moet die armes beskerm en fooie teen hierdie koers hou… dan moet ons sien hoe die armes ’n kleiner rol kan speel.”

Zim-inflasie koel stadig af

Pryse in Zimbabwe hou aan daal ná ’n dekade van hiperinflasie wat die ekonomie vernietig het.

Die regering se sentrale statistiek-kantoor sê die maand-tot-maand inflasiekoers in Mei was -1.0%, in vergelyking met -1.1% in April.

Hulle skryf dit toe aan die afskaffing van die plaaslike geldeenheid, die Zim dollar, en bereken nou inflasie gebaseer op VS dollar-pryse.

Qatar maatskappy soek geld terug

Die eiendomsmaatskappy Barwa, wat in Qatar gebaseer is, eis terugbetalings van Barry Tannenbaum se Frankel-maatskappy.

Tannenbaum, beweerde meesterbrein van ’n Ponzi-skema, het volgens berigte glo vervalste bestellings van groot farmaseutiese maatskappye aan voornemende beleggers gewys.

Barwa het in ’n verklaring gesê hy het sy wentelkrediet-fasiliteit onmiddellik gestaak toe die nuus van die vermeende bedrogspul breek en só ’n beduidende bedrag krediet gespaar, maar dat die res van die geld ook terugbetaal moet word.

Tekort vergroot soos uitvoere tuimel

Die tekort op Suid-Afrika se lopende rekening is groter as verwag in die eerste kwartaal van 2009, soos uitvoere tuimel in die wêreldwye resessie, aldus die sentrale bank.

Die gaping het van 5.8% in dieselfde tyd verlede jaar vergroot tot 7% van die BBP vanjaar, oftewel R163.7 miljard.

Die bank sê ook ’n verlangsaming in SA se grootste handelsvennote het uitvoere geraak, wat met 21% gedaal het, of 19.4% in waardeterme.

SA maak slegte skuld

Suid-Afrikaners maak al meer slegte skuld en siviele dagvaardigings vir skuld het toegeneem, het Statistiek SA Donderdag gesê.

Daar was ‘n toename van ongeveer 15.6% vir die eerste drie maande van die jaar in vergelyking met laas jaar ten opsigte van siviele dagvaardigings.

Die meese daarvan was vir goedere wat op rekening gekoop is, geld wat geleen is, en ander skuldmakery.

McDonalds bedink reddingsplan

Die kitskos-maatskappy McDonalds soek plaaslike mense en besighede om hul besigheidsbelange in Suid-Afrika oor te neem.

Verteenwoordigers van die VSA maatskappy, wat 128 besighede in die land bedryf, het gesê dit sou die beste manier wees vir die groep om groei in Suid-Afrika te verseker.

McDonalds het gesê hulle wil nie toemaak nie maar dat hulle nou meer op wêreldmarkte wil konsentreer waar die maatskappy verliese gely het in 2008 en 2009.

Werkers wen saak

Meer as 100 vakbondlede van Numsa, die nasionale vakbond vir metaalwerkers, het ‘n belangrike oorwinning in die hof gehad Woensdag toe General Motors SA ‘n aansoek verloor het om hulle af te dank.

Die arbeidshof het bevind dat afdankingsbriewe wat aan sowat 130 werkers gegee is, ongeldig is.

Numsa woordvoerder, Alex Mashilo, het GMSA daarvan beskuldig dat hulle gewetenloos opgetree het.

500 000 poste bevraagteken

President Jacob Zuma se ambisieuse teiken van 500 000 poste wat hy teen die einde van die jaar wil skep, is weer Woensdag bevraagteken.

Volgens personeelgroep, Adcorp, word groei in die werksektor eers verwag teen die middel van volgende jaar.

Die hoof-uitvoerende beampte, Richard Pike, het gesê dit kan dalk in ‘n jaar se tyd gebeur maar nie teen die einde van die jaar nie.

SAA maak wins

SAA het dit reggekry om ‘n suksesvolle ommeswaai te maak na herorganisering waarin sowat 2 000 poste gesny is.

Die maatskappy het ‘n operasionele wins van sowat R2 miljard gemaak in die jaar tot en met Maart, het Chris Smyth, die lugredery se waarnemende uitvoerende beampte gesê.

Intussen gaan onderhandelings voort met Airbus oor vliegtuie wat nie meer aangekoop gaan word nie.

Wednesday, 17 June 2009

Bemiddeling vir goudmaatskappye, unies

Die unies van SA mynwerkers en goudprodusente het met ’n bemiddelingsliggaam ontmoet om ’n staking oor loonverhogings te vermy, iets wat die goudmaatskappye sê hulle nie kan bekostig nie.

Die unies het gesê hulle het dooiepunt bereik in onderhandelings en dat ’n staking onvermydelik is, sou die bemiddelingspoging faal.

Die Nasionale Unie van Mynwerkers en Solidariteit het ’n verbeterde aanbod van 7% geweier en ’n bemiddelaar ingeroep. Die mynwerkers eis 15%.

Moeilike tye vir boubedryf

Die boubedryf staar moeilike omstandighede in die gesig, meen hoofekonoom van FNB, Cees Bruggemans ná die vrystelling van die FNB Bouvertroue-Indeks.

Hy sê dat hoewel daar ’n 450 basispunt-afname in rentekoerse was, ’n groot deel van dié voordeel egter geneutraliseer is deur die strenger kriteria van finansiële instellings.

“Die algehele vraag vir bouwerk bly dus ernstig ingeperk,” meen Bruggemans.

‘Apartheid-tegnieke op handelaars gebruik’

Straathandelaars het kratte verrotte vrugte en groente van die Warwick Junction vroegoggendmark verwyder onder die wakende oog van die metropolisie.

Die stad se plan om ’n inkopiesentrum op dié plek te bou het talle handelaars ontstoke. Hulle het dié week ’n derde Hoërhofbevel gekry wat die munisipaliteit beveel om hulle toe te laat om aan te hou handel dryf.

Die IFP het die stad se behandeling van die handelaars beskryf as “taktiek in die apartheid-styl” ná berigte dat die metropolisie rubberkoeëls gebruik het.

Vraag na arbeid daal

Die algehele omgewing vir werk in SA is veel meer negatief en sal so bly tot 2010, aldus menslike kapitaalbestuurfirma Adcorp.

Dit is bevestig deur ’n kwartaal-op-kwartaal afname van 12.9% in Adcorp se Indiensnemingsindeks. Adcorp meen in ’n verklaring die omgewing is “beïnvloed deur die beduidende afname in makro-ekonomiese aktiwiteit (17.1%) en die vraag na arbeid wat met 5.7% gedaal het”.

Adcorp Holdings-hoof Richard Pike sê egter sekere vaardighede bly in aanvraag, veral dié in die finansiële dienste, ingenieurswese, natuur- en fisieke wetenskappe, medies en gesondheid, onderwys en informasie- en kommunikasietegnologie.

‘EPA moenie inmeng’

Die Ekonomiese Vennootskapsooreenkoms (EPA) met die EU moenie die SA Doane-unie (Sacu) ondermyn nie, sê minister van handel en nywerheid Rob Davies.

Dit volg na Botswana, Lesotho en Swaziland die EPA onderteken het, met Mosambiek wat lyk of hy wil teken. Suid-Afrika, Namibië en Angola glo egter fundamentele kwessies moet uitgesorteer word voor die ooreenkoms onderteken word, aldus Davies.

Ekonomiese herstel teen 2010

Die besturende direkteur van die Internasionale Monetêre Fonds het Woensdag gesê die wêreldwye ekonomie behoort teen volgende jaar tekens van herstel te toon.

Dominique Strauss-Kahn het Woensdag gepraat tydens ‘n besoek aan Tajikistan in Sentraal-Asië.

Hy het gesê soos die wêreldekonomie begin herstel sou die verandering sigbaar word in individuele lande wat tans swaar kry.

Politiek stoot olieprys op

Die prys van olie het opgegaan na $71 in Oosterse handel Woensdag weens politieke onstabiliteit in die olieproduserende lande van Iran en Nigerië, saam met ‘n swakker VSA dollar, het analiste gesê.

Jason Feer van Argus Media het gesê die politieke probleme in Iran was besig om die olieprys op te stoot.

Die verkiesingswaghond in Iran het Dinsdag gesê hy is reg om weer stemme te tel in die omstrede presidentsiële verkiesing in die land waar ten minste sewe mense dood is in geweld na die verkiesing.

Bedryf verwelkom tariefverlaging

Bedryfskenners het die besluit verwelkom om verminderde tariewe in te stel op sekere tekstiele wat in die kleremaakbedryf gebruik word.

Die tekstielwerkersvakbond, Sactwu, het gesê die vermindering van tariewe was deel van ‘n hulppakket wat onderhandel is vir die bedryf deur organisasies en die departement vir handel en nywerheid.

Daar was egter kommer dat van die prysverminderings ‘n negatiewe effek kon hê op tekstielvervaardigers en werksvoorsiening.

'Wit plase is veilig'

Die Staat sal nie beslag lê op plase wat deur blankes besit word nie om dit aan swartmense te gee nie aangesien dit die ekonomie sou skade aandoen, het die minister van landbou, Tina Joemat-Pettersson, Dinsdag gesê.

Sy het ‘n konferensie in Kaapstad toegespreek en het gesê daar is soms gevalle wanneer die plase te duur is onder die gewillige koper, gewillige verkoper sisteem, maar dat onteining nie sal plaasvind nie.

Ongeveer 4% van plase in privaat besit is reeds aangekoop deur die regering.

Ekonome is bekommerd

Twee van die land se mees gerespekteerde ekonome meen dat belangrike ekonomiese sake misgekyk word terwyl die Reserwebank en Cosatu onderhandel.

Brian Kantor van Investec Private Securities en Azar Jammine van Econometrix sê die feit dat die president so lank neem om aan te kondig of Tito Mboweni ‘n derde ampstermyn sal uitdien, dra by tot die deurmekaarspul.

Cosatu is ontsteld oor Mboweni se beleid van geteikende inflasie, iets wat Kantor en Jammine beide nie ondersteun nie, maar tog voel dat die regering nie gesien moet word as te sag op inflasie of te inskiklik teenoor Cosatu nie.

Tuesday, 16 June 2009

‘Breëband is sleutel’ – Intel

Die versnelling van breëbandvoorsiening is die sleutel tot ekonomiese groei in Suid-Afrika en die kontinent, aldus Intel se John Davies. Hy sê owerhede moet ’n rol speel om die regulerende omgewing reg te kry en vinniger belastingverdiskontering van kapitaaltoerusting toelaat.

Volgens Davies is die VSA en Turkye goeie voorbeelde van hoe telekommunikasie groei aangespoor het. Indië, weer, bied internet-toegang teen gesubsidieërde koerse. Daar, nes in SA, is ’n lae basis van breëbandgebruikers.

Zim-rakke vol, mense kan nie koop

Zimbabwe se supermarkte is weer vol ná die land die wêreldrekord-hiperinflasie ingeperk het. Die meeste mense kan egter nie bekostig om enigiets te koop nie. “Dis ’n luukse vir die wat geld het om te koop,” sê die 36-jarige Marian Chituku.

In Harare se ryker buurte kan ryker inwoners egter kies en keur. “Jy kan alles kry wat jy wil, solank jy geld het,” meen Josephine Marucchi, ’n huisvrou van die welgestelde buurt Mount Pleasant. Die leë winkelrakke is nou vol danksy die rekering wat besighede gedwing het om pryse te sny en die afskaffing van die Zim dollar.

‘Broadway van die Ooste’ ontwikkel

Die Chinese regering het sowat 10 miljoen yuan (R1.5 miljoen) belê in Shanghai om dit die ‘Broadway van die Ooste’ te maak.

Owerhede hoop ’n teater-streek sal geld na die omringende besighede bring. Die fondse sal gebruik word om teaters op te knap, oorspronklike toneelstukke te ontwikkel en jong kunstenaars te slyp. Die Majestic-teater staan in die middel van die distrik, wat die “Dramavallei” genoem word.

“Ons plan is om ’n moderne dramavalley te bou wat binne ’n dekade kan kompeteer met Amerika se Broadway en Londen se Weseinde,” aldus die regering se Zhang Rengliang.

Motlanthe: Groen ekonomie moet groei

Die regering het vir homself ’n spertyd van ses maande gestel om ’n multi-miljard rand plan te implementeer om 500 000 werksgeleenthede te skep.

Adjunk-president Kgalema Motlanthe is vasberade dat dié poging om die impak van die ekonomiese krisis nie buite bereik is nie.

Hy het aan die Internasionale ArbeidsKonferensie in Genéve gesê dat die nuwe werksgeleenthede ook “groen werk” sal insluit, en dat die ekonomiese krisis “gebruik kan word om ons weg te stuur van gevestigde sakepraktyke wat skadelik is”. Hy sê die groen ekonomie in Suid-Afrika moet groei.

Bekendes ingeloop deur bedrogspul

Van Suid-Afrika se rykstes en ’n aantal internasionale beleggers is vasgevang in die ponzi-skema wat na bewering deur Barry Tannenbaum georkestreer is, ná beloftes van tot 80% opbrengs op hul beleggings binne ’n jaar.

Dit het aan die lig gekom dat voormalige JSE-voorsitter Norman Lowenthal, voormalige Bond Exchange HUB Tom Lawless en die prokureur Warren Drue onder dié is wat ingeloop is.

Obama beloof Zim hulp

Die Amerikaanse President Barack Obama het voorlopig sy ondersteuning gegee aan Zimbabwe se regering van nasionale eenheid.

Die eerste minister, Morgan Tsvangirai, het egter met amper leë hande die Withuis verlaat.

Obama het $73 miljoen belowe in hulp wat die Withuis gesê het sou gaan vir die stryd teen HIV/Vigs. Die geld sal nie aan die regering beskikbaar gestel word nie maar sal direk na hulporganisasies gaan.

Tannenbaum se bates bekyk

Prokureurs wat beleggers in die Ponzi-tipe skema verteenwoordig wat deur Barry Tannenbaum bedryf is, gaan nou probeer beslag lê op sy Australiese bates.

Hulle probeer erkenning kry in Australië vir die sekwestrasiebevel wat in Suid-Afrika toegestaan is, waarmee hulle sy boedel in Australië ook wil sekwestreer.

Hulle is taamlik seker daarvan dat Tannenbaum hierdie regsaksies sal teëstaan. ‘n Regskenner het gesê daar is genoeg bewyse dat meeste van Tannenbaum se bates oorsee lê.

Rand vertoon stabiel

Daar was nie veel aktiwiteit op internasionale markte Maandag nie en die rand het nie veel beweging getoon nie.

Die mark is Dinsdag gesluit weens die openbare vakansiedag.

Maandagoggend het die rand op R8.0599 gestaan teenoor die dollar en R11.2100 teenoor die euro en R13.1888 teenoor die pond.

Kommer oor leë stadions

Die Fifa-president, Sepp Blatter, het Maandag die organiseerders van die Konfederasiebeker gekritiseer daaroor dat daar so min toeskouers was by die wedstryd tussen Spanje en Nieu-Seeland by die Royal Bafokeng-stadion in Phokeng Sondagaand.

Die stadion was maar halfvol, ten spyte daarvan dat dit die wêreld se top sokkerspan was en die openingswedstryd by die nuwe stadion.

Blatter het gevoel mense moes soontoe gebring word, dat die kinders deel van die openingsseremonie daar kon gesit het en dat meer moeite gedoen moes word om die kaartjies te verkoop of selfs weg te gee vir dié wat dit nie kan bekostig nie.

Kpst munisipaliteit neem verband uit

Die Stad Kaapstad het Maandag ‘n tweede verband ter waarde van R1.2 miljard uitgeneem.

Twaalf beleggers het die veranwoordelikheid van die verband oorgeneem en in ‘n verklaring het die stad se munisipaliteit gesê daar was baie vertroue in die mark ten opsigte van die stad se finansiële stabiliteit.

Net twee munisipaliteite – Kaapstad en Johannesburg – gebruik verbande as ‘n manier om geld te leen.

Monday, 15 June 2009

SABMiller kyk na Afrika

Die Londen-gebaseerde SABMiller verwag dat vier beplande aanlegte in Afrika meer wins sal inbring as sy tien ander regoor die wêreld, aangesien dié kontinent die minste deur die finansiële krisis geraak word, aldus hoof uitvoerende beampte Graham McKay.

Die brouer het 55 000 plaaslike boere gekry om graan teen 2012 te produseer. SABMiller maak buiten Suid-Afrika tans bier in 15 Sub-Sahara lande.

BP steun Wêreldbeker

BP SA het ’n multimiljoen rand brandstofborgskap aangekondig om kragopwekkers by stadions tydens die Wêreldbeker te laat loop en so die risiko van kragonderbrekings te verminder.

Dit is die grootste borgskap wat BP in sy 100-jaar geskiedenis onderneem, sê hoof van BP Afrika, Sipho Maseko.

Fifa het intussen aangekondig Metrorail se moedermaatskappy, Prasa (Passenger Rail Agency of SA) en Neo Africa is amptelike Wêreldbeker-ondersteuners.

Labat-syfers bekend

Omset by Labat Africa het sedert Februarie verlede jaar van R154 miljoen gedaal tot R42 miljoen vanjaar.

Dit beteken ’n basiese verdienste van 29.2 sent per aandeel, in vergelyking met ’n verlies van 0.4 sent verlede jaar. Die styging in verdienste per aandeel is toegeskryf aan waarde-aanpassings op eiendomme van R17.3 miljoen en ’n rekeningkundige wins van R48.8 miljoen deur die ontbondeling van Total Client Services.

Wesensverdienste per aandeel het gestyg van 0.5 sent tot 5.1 sent, terwyl netto batewaarde per aandeel gestyg het van 11.5 sent tot 11.6 sent.

‘Debswana-uitset kan halveer’

De Beers se samewerkingsooreenkoms met die Botswana-regering, Debswana, mag vanjaar dalk minder as die helfte van sy normale uitsette lewer ná hy bedrywighede in Februarie weens die ekonomiese afswaai gestaak het, aldus woordvoerder Esther Kanaimba.

De Beers verkoop sowat 60% van die wêreld se ongeslypte edelstene en Kanaimba sê vanjaar se uitset kan sowat 13-15 miljoen karaat wees.

INM se toekoms onseker

Hoof uitvoerende beampte van Independent News & Media (INM), Gavin O’Reilly, wou nie spekuleer oor die kans dat die raad ’n ooreenkoms met die groep se finansiers bereik nie, maar beklemtoon dat “al die partye saamwerk tot oplossing van die skuld-kwessie … die alternatief is te aaklig vir almal.”

O’Reilly sê die groep het nie enige aanbod vir INM se verlies-makende Londen-besigheid ontvang nie. As die partye nie tot ’n vergelyk kom voor die sperdatum van 26 Junie nie, kan die groep geforseer word tot likwidering.

Die aandeelprys het oor die laaste jaar amper 90% gedaal en het verlede week op 28 euro sent (R3.15) in Dublin gesluit.

Mboweni wil vakbondleiers ontmoet

Die president van die Reserwebank, Tito Mboweni, is vas van plan om ‘n vergadering met vakbonde te hou ná hul versoeke dat hy inflasie mikpunte moet skrap.

Intussen is die vergadering tussen hom en die National Metalworkers Union of SA (Numsa), uitgestel nadat Mboweni onverwags Kaapstad toe moes vlieg.

Smeltkroes afgeskakel ná probleme

Die platinum mynmaatskappy Lonmin sê hul nommer een smeltkroes is afgeskakel ná probleme Sondag ervaar is.

Die maatskappy sê in ‘n verklaring in Johannesburg dat dit sowat 30 dae gaan neem om dit te herstel, maar drie Pyromet oonde is reeds aangeskakel om die impak op produksie so laag moontlik te hou. Die stukkende smeltkroes sal ondersoek word sodra dit voldoende afgekoel het.

Telekommunikasie help groei - Davies

Intelse John Davies sê die sleutel vir ekonomiese groei in Suid-Afrika en die Afrika kontinent lê in versnelde aksie om breëband verbindings te voorsien.

Hy sê die VSA en Turkye is goeie voorbeelde van hoe telekommunikasie groei aanhelp. Die meeste werkgeleenthede in die VSA die afgelope 10 jaar is teweeg gebring as ‘n gevolg van rekenaar verbindings. In Turkye moet klein sake-ondernemings ‘n webtuiste hê om te registreer. Dit gee hulle toegang tot plaaslike en wêreldwye markte.

SA maatskappye wil in Zimbabwe belê

Suid-Afrikaanse maatskappye is bereid om Zimbabwe van R2.75 miljard in krediet toe te staan wanneer Zimbabwe ‘n beleggings beskermingsooreenkoms onderteken het, sê dié land se finansminister Tendai Biti.

Suid-Afrikaanse maatskappye wat wil belê sluit in Netcare en First Randse FNB. Daar word gehoop dat die ooreenkoms teen die einde van die maand geteken sal wees.

Taakspan gaan Ponzi skema ondersoek

‘n Spesiale taakspan is op die been gebring om ‘n Ponzi skema, wat na bewering deur Barry Tannenbaum bestuur is, te ondersoek.

Die span sal onder meer bestaan ujt lede van die Inkomstediens, die Reserwebank en die Polisie. Dit volg nadat besonderhede van dié Ponzi skema, glo sowat R10 miljard sterk, verlede week bekend gemaak is. Beleggers is onder meer aangesê om minstens sewe weke voordat hulle meer as R5m wou onttrek, kennis te gee.

Saturday, 13 June 2009

‘n Ander benadering tot nuus

Die Amerikaanse medialandskap is besig om te verander, en ‘n nuwe webruimte wat ‘n innoverende platvorm vir joernaliste en adverteerders bied ten einde die “mure” tussen hulle en hul gehoor af te breek, is tans beskikbaar.

"True/Slant is ‘n oorspronklike nuusinhoud netwerk,” sê Lewis Dvorkin, die stigter van die trueslant.com.

‘n Eerste weergawe van die webruimte is Maandag bekend gestel.

Brasilië gebruik tegnologie vir markregulering

Brasiliaanse reguleerders kan nou met behulp van rekenaars weet wanneer informasie lekkasies in die land se beleggingsmark voorkom.

Die Comissao de Valores Mobiliarios (CVM), Brasilië se markreguleerders, het sopas ‘n plan finaliseer wat die analise van markgedrag kan analiseer.

Ouers moet kinders beskerm teen internet-gevaar

Die polisie het Donderdag gesê dat Suid-Afrikaanse kinders meer en meer op die internet blootgestel word aan volwassenes wat hulself voordoen as iemand anders, en dikwels verkeerde intensies het.

Volgens die polisie is dit nog nie ‘n probleem nie, maar ouers moet aandag gee aan die probleem.

Geselskamers, waar mense mekaar aanlyn kan ontmoet, hou veral gevaar in.

SA geprys vir arbeidsbeleid

Suid-Afrika se ‘sosiale vennootskap’ beleid betreffende arbeid is tydens die Internasionale Arbeidskonferensie in Switserland geprys.

SA se beleid maak dat minder werknemers afgedank moet word weens die finansiële krisis.

“Verteendigers van die 163 lande wat deelgeneem het, en soek na maniere om minder werkers af te dank, het herhaaldelik na Suid-Afrika se arbeidsmarkbeleid verwys as ‘n goeie model,” het die Departement van Arbeid in ‘n verklaring gesê.

Intel koop Wind River

Intel het Donderdag aangekondig dat hulle die sagteware vervaardiger, Wind River Systems, vir $884 miljoen (R7.1 miljard) gaan koop, ten einde hul produk in meer apparate te kry en sodoende die verspreiding te verbeter.

Intel, wat in Santa Clara, Kalifornië geleë is, het aangekondig dat Wind River se raad van direkteure eenparig besluit het dat die Wind River aanddele vir $11.50 per aandeel verkoop sal word.

Intel het in ‘n verklaring aangekondig dat die oorname van Wind River deel is van ‘n strategie om hul huidige besigheid wat meestal fokus op persoonlike rekenaars, uit te brei na meer mobiele apparate en ander sisteme.

Globale ekonomie op die agenda

Die wankelrige herstel van die globale ekonomie gaan waarskynlik gesprekke domineer wanneer die G8 ministers van finansies Saterdag in Italië ontmoet.

Daar is glo alreeds onenigheid oor die toets van die stabiliteit van Europa se bankstelsel.

In die afgelope paar weke was daar tekens van 'n beskeie ekonomiese herstel in lande soos Britain, Frankryk, Duitsland, Italië en Amerika. Maar sommige kenners het gewaarsku dat dit te gou is om te verklaar dat die ergste krisis verby is.

Miljoene vir Zimbabwe

Die Amerikaanse president Barack Obama gaan 'n $73 miljoen hulpverleningspakket aan Zimbabwe gee. Die aankondiging kom na 'n ontmoeting met Zimbabwe se premier Morgan Tsvangirai.

Obama het egter gesê die hulp gaan direk aan die mense van Zimbabwe en nie na die regering nie, want daar is nog steeds rede tot kommer oor die land se demokrasie en menseregte rekord.

Dis pynlik - motorbase

Die grootbase van General Motors en Chrysler het Vrydag in die Amerikaanse Kongres gesê die toemaak van honderde motorhandelaars is pynlike stappe wat nodig is om die maatskappye reg te ruk.

Die uitvoerende hoof van General Motors , Fritz Henderson, het gesê die stappe was noodsaaklik sodat ten minste 200 000 werke by ander motorhandelaars gered kon word.

"Om deur bankrotskap te gaan was nie ons keuse nie," het Chrysler se vise-uitvoerende hoof Jim Press gesê.

Kurator vir Tannenbaum

'n Kurator sal binnekort aangestel word oor die Suid-Afrikaanse eiendom van Barry Tannenbaum.

Die Suid-Afrikaanse sakeman, wat in Australië woon, word daarvan beskuldig dat hy honderde beleggers ingedoen het in waarskynlik die grootste piramideskema wat nog in Suid-Afrika bedryf is.

Die aansoek is Vrydag deur die Hooggeregshof in Johannesburg goedgekeur, het 'n advokaat vir een van die beleggers gesê.

Volgens berigte het Tannenbaum beleggers ’n jaarlikse opbrengs van 200% belowe, gekoppel aan die invoere van farmaseutiese produkte. Tannenbaum het enige skuld ontken en die ekonomiese krisis geblameer vir sy maatskappy se moeilikheid.

Skepties oor Microsoft

Microsoft het aangekondig dat sy volgende weergawe van Windows sonder sy Internet Explorer-webblaaier verkoop gaan word in Europa. Die maatskappy probeer glo boetes vermy.

Volgens berigte is die Europese Kommissie egter skepties oor die besluit.

Die Europese Unie reguleerders het Microsoft van monopolie-misbruik in Januarie beskuldig ná ’n klagte van Opera Software ASA, wat gesê het dat Microsoft sy krag as die dominante verskaffer gebruik het om mededingers uit te stof. Mozilla en Google is derde partye in die saak.

Friday, 12 June 2009

BlackRock gaan Barclays-eenheid koop

Die Amerikaanse batebestuurder BlackRock het Donderdag aangekondig dat hy Barclays Global Investors (BGI), die beleggingsbeen van Barclays bank, vir $13,5 biljoen gaan koop.

Die transaksie sal BlackRock se grootte verdubbel en die waarde van die bates wat hy bestuur, verhoog tot sowat $2,7 triljoen, met ’n personeel van meer as 9 000 mense in 24 lande.

BlackRock sal $6,6 billjoen in kontant betaal en $37,8 miljoen in aandele. Die nuwe, gekombineerde maatskappy sal as BlackRock Global Investors bekend staan.

NUM dreig met staking

’n Staking dreig in die mynbousektor.

Die NUM (Nasionale Unie vir Mynwerkers) en die Kamer van Mynwese se goudafdeling het ’n dooiepunt bereik, het Lesiba Seshoka van die NUM Donderdag gesê.

Die Kamer het ’n loonverhoging van 7% aangebied teenoor die 15% wat NUM eis. Die dooiepunt sal nou deur die CCMA (die Kommissie vir Konsiliasie, Mediasie en Arbitrasie), opgelos moet word.

NUM se algemene sekretaris, Frans Baleni, het gesê om te staak is altyd die laaste uitweg, "maar vanjaar is dit onvermydelik". Sowat 150 000 mynwerkers kan aan die staking deelneem.

'Roofonderdele' kry groen lig

Die gebruik van "onegte" en tweedehandse onderdele om motors te herstel wat deur korttermynversekeraars verseker is, het die ombudsman vir korttermyn-versekering, Brian Martin, Vrydag gesê.

Martin sê sy kantoor ontvang dikwels klagtes van verbruikers oor die gebruik van sogenaamde “roof- ” en tweedehandse onderdele deur versekeraars wanneer motors herstel moet word.

“Daar bestaan ’n persepsie by die publiek dat versekeraars verplig is om ‘egte’ onderdele te gebruik, maar solank veiligheid en betroubaarheid nie geraak word nie, is ander vervaardigers se onderdele heeltemal in orde.”

Kunsmark swakker weens resessie

Kunswerke deur kunstenaars soos Andy Warhol gaan vanjaar teen minder verkoop by die Art Basel-kunsfees in Switserland omdat kunshandelaars die grootste markinsinking sedert 1991 die hoof moet bied.

Altesaam 300 internasionale kunsgalerye neem deel en stel werke deur 2 500 kunstenaars ten toon. Minder kopers word verwag, en die gevoel is dat almal op soek is na ’n winskopie.

Christie's International en Sotheby's se veilings in New York verlede maand het ’n daling van onderskeidelik 72% en 87% getoon.

Tannenbaum het bestellings vervals

Die Suid-Afrikaanse sakeman, Barry Tannenbaum, wat van die land se grootste korporatiewe bedrogspul verdink word, het beleggers glo ’n jaarlikse opbrengs 200% belowe, gekoppel aan die invoere van farmaseutiese produkte.

Tannenbaum het bestellings vir o.a. antiretrovirale middels van Aspen, Afrika se grootste vervaardiger van generiese medisyne, vervals om die beleggers die indruk te gee dat fondse sal inkom.

Adcock Ingram en Aspen sê egter hulle het net klein hoeveelhede voorraad van Tannenbaum se maatskappye, Frankel International en Frankel Chemical Corporation, gekoop.

Absa verkoop aandeel

Die Absa-groep het sy 50% aandeel in ‘n Angolese bank verkoop, het die maatskappy Vrydag aangekondig.

Absa het die aandeel in Banco Comercial Angolano Sarl (BCA) verkoop aan ses van die huidige aandeelhouers vir ‘n onbekende hoeveelheid geld.

Absa het gesê sy strategie is om beherende aandele te bekom en indien dit nie moontlik is nie, dan liewer hul aandeel te verkoop.

“Angola bly ‘n aantreklike mark vir Absa en die groep sal geleenthede oorweeg om te belê indien hulle hulself voordoen.”

Woolies nou ook by lughawe

Die voedsel- en klerekleinhandelaar, Woolworths, het Donderdag aangekondig dat hy ‘n nuwe winkel by die Kaapstadse lughawe gaan oopmaak.

Die winkel sal tussen die binnelandse en internasionale terminale wees by die lughawe. Woolies het in April ‘n winkel oopgemaak by OR Tambo Internasionaal in Johannesburg.

Die groep oorweeg tans of hy ‘n winkel by die Durbanse lughawe wil oopmaak.

Besighede moenie lafhartig wees

Besigheidsleiers wat nie hul man staan teenoor vakbonde nie, is “lafhartig”, het die voormalige minister van finansies, Trevor Manuel, gesê in ‘n toespraak by die Wêreld Ekonomiese Forum in Kaapstad.

Manuel wat nou aan die hoof staan van die nasionale beplanningskommissie in die presidentskap, het beide besigheid en vakbondleiers gekritiseer.

Manuel het impliseer dat vakbondleiers te magtig was.

Hoë olieprys sleg vir herstel

Die wêreldwye ekonomiese herstel sal teruggehou word deur die verhoogde olieprys, meen Tony Twine, ‘n senior ekonoom by Econometrix.

Hy het gesê die hoë olieprys, tans bo $70 per vat, was nie “toepaslik” met ‘n ingekrimpte wêreldekonomie nie.

Twine het gesê regulering is nodig om die mark te stabiliseer, maar dit is iets wat tyd sou neem om in plek te sit.

Swendelaar verloor eiendom

Die persoonlike eiendom van Barry Tannenbaum, die beweerde meesterbrein agter ‘n ernome beleggingsbedrogspul wat miljarde van ongeveer 400 plaaslike beleggers gesteel het, is onder voorlopige sekwestrasie geplaas.

Kriminele klagtes is gelê teen Tannenbaum wat tans in Australië woon.

Verskeie hoë profiel besigheidsmanne soos die hoof-uitvoerende beampte van Pick n Pay, Sean Summers en die JSE-voorsitter, Norman Lowenthal, is bedrieg deur Tannenbaum.

Thursday, 11 June 2009

‘Transformeer landboubedryf’ - minister

Dit is nodig om die vloeibare brandstof-bedryf te transformeer om die armes te beskerm teen uitbuiters, aldus energieminister Dipuo Peters.

Hy sê arm mense in KZN se landelike gebied is geforseer om duurder petroleumprodukte te koop, terwyl mense in die Transkei-streek van die Oos-Kaap paraffien met water meng om die volume te verhoog, ’n “gevaarlike, onwettige daad”.

Hy meen die transformasie moet meer op vroue fokus.

Vukile koop Sanlam Eiendomme

Vukile, ’n eiendomshoudings- en beleggingsmaatskappy, sal die batebestuur-eenheid van Sanlam Eiendomme in ’n kontant- en aandeletransaksie aanskaf, wat Sanlam se aandeel in Vukile op 35.3% te staan sal bring.

Die transaksie se waarde word geraam op R332 miljoen. Vukile het ook die opsie om eiendom van Sanlam Lewens ter waarde van sowat R500 miljoen te koop.

Grootkoppe brand ook vingers

Voormalige hoofde van Pick n Pay, Sean Summers, en OK Bazaars, Mervyn Serebro, is van die honderde beleggers wat uit sowat R10 miljard gekul is in ’n massiewe piramide-skema.

Daar word beweer dat Barry Tannenbaum, seun van Harold Tannenbaum, stigter van farmaseutiese maatskappy Adcock Ingram, saam met Johannesburgse prokureurs Dean Rees en Daryl Leigh, ’n piramideskema bedryf het wat beleggers tussen 15 en 20% opbrengs in drie maande belowe het.

Die geld sou glo gebruik word om chemikalieë in te voer wat onder meer gebruik sou word om antiretrovirale middels te vervaardig. Rees en Tannenbaum ontken dat hulle enigiets verkeerd gedoen het.

IDC vergroot betalings

Die Bedryfontwikkelingskorporasie (IDC) sal sy betalings met sowat 30% verhoog in hierdie finansiële jaar om nuwe besighede en sukkelende maatskappye te help, aldus IDC-hoof Geoffrey Qhena.

Qhena sê die bedrag wat hulle aan firmas leen sal van sowat R8.5 miljard in die vorige jaar verhoog tot R11 miljard vanjaar, waarvan R8 miljard aan nuwe en R3 miljard aan sukkelende besighede sal gaan. Versoeke om hulp kom veral uit die myn-, motor-, klere- en tekstielbedrywe, sowel as bosboumaatskappye.

Hy sê sukkelende maatskappye het sowat R12 miljard nodig – “vier keer meer” as die IDC se begroting vir hulppakkette.

Unie eis heraanstel van werkers

Die mynwerkersunie Numsa eis die heraanstelling van General Motors SA werkers. Die unie het in ’n verklaring gesê GMSA het 1300 werksgeleenthede sedert 2007 “vernietig” deur afleggings en “waardelose skeidingspakkette”.

Numsa het ook gesê die maatskappy het Suid-Afrikaners “onopreg” verseker dat die likwidering van sy Amerikaanse moedermaatskappy nie plaaslike bedrywighede sal beïnvloed nie, maar dat die produksielyne van Hummer in Port Elizabeth gesluit is.

Numsa beplan om hulp in die arbeidshof te soek en as dit nie werk nie, 'n “staking wat GMSA nooit na herstel sal vergeet nie”.

Goudmyn se produksie verminder

Die goudmyngroep, AngloGold Ashanti, het Woensdag gesê dat ‘n reeks seismiese insidente naby aan ‘n mynskag by die Savuka-myn veroorsaak het dat die myn se produksie verminder sal word.

Dele van die mynskag is beskadig en dit moet eers herstel word. Dit is nog nie duidelik hoe dit goudproduksie by die myn sal affekteer nie.

Savuka is nie een van AngloGold Ashanti se grootste myne nie.

Olieprys skiet die hoogte in

Oliepryse het Woensdag gestyg en die $71 per vat prys verbygesteek om die hoogste vlak in agt maande in Oosterse handel te bereik.

Olie was laas bo $71 per vat in Oktober laas jaar.

Kenners meen die styging dui daarop dat die ergste verby is vir die resessie-geknoude VSA ekonomie, die wêreld se grootste energie verbruiker, asook op ‘n swakker dollar.

Zuma: Afrika moet herstel beplan

President Jacob Zuma het gesê Afrika moet sy mense so goed moontlik probeer beskerm teen die wêreld ekonomiese krisis, maar moet ook optree en begin beplan vir ‘n herstel.

Hy het die Wêreld Ekonomiese Forum toegespreek in Kaapstad Woensdag.

Zuma het gesê mense met vaardighede moet teruggelok word Suid-Afrika toe waar hulle saam kan werk om die kontinent terug op sy voete te help.

Bedrogskema ruk SA

‘n Groot internasionale bedrogskema, wat van Suid-Afrika se rykste families geteiken het, is oopgevlek. Tot R10 miljard is ter sake.

Die bedrog is ‘n Ponzi-skema soortgelyk aan die soort skema wat die bedrieër Bernie Madoff in New York gebruik het.

‘n Plaaslike belegger het soveel as R100m in die skema belê. Dit lyk asof die bedrog groter as die Fidentia-skandaal kan wees.

Hof bevind teen De Beers

Die arbeidshof het bevind dat De Beers onregmatig opgetree het toe hy werkers laat gaan het, het die nasionale unie van mynwerkers Woensdag gesê.

Die vakbond het gesê hy het die hof genader nadat De Beers werkers laat gaan het sonder om die nodige stappe te neem soos dit in die arbeitswet gestipuleer word.

Hoewel die vakbond gesê het hy verstaan dat poste gesny moet word, dring hy daarop aan dat die regte prosesse gevolg word.

Wednesday, 10 June 2009

Kontanthupstoot vir Landbank

Minister van Finansies Pravin Gordhan het R3.5 miljard goedgekeur vir die herkapitalisering van Landbank.

Dit beteken die regering onderneem om die verpligtinge van Landbank tot ’n bedrag van R3.5 miljard na te kom, aldus Landbank. Die waarborg verval sodra R3.5 miljard se kontantinspuitings aan die bank gemaak is.

Dié waarborg is gegee op voorwaarde dat die bank ’n kapitaalvoldoeningsratio van ten minste 20% handhaaf. Hy moet ook kwartaallikse vorderingsverslae aan die Nasionale Tesourie deurgee oor die omkeerstrategie, leningsinvorderings en goeie bestuur van die leningsboek.

Eskom se Fitch-stand verbeter

Fitch het Eskom se nasionale stand van negatief tot stabiel verander, aldus dié klassifiseringsagentskap.

Onlangse tekens van regeringsondersteuning is genoeg bewyse vir Fitch dat die regering enige gapings in fondse sal oorbrug. Die ondersteuning is duidelik in die dividendbeleid, die goedkeuring van ’n R60 miljard lening en die regering se besluit om tot R176 miljard van Eskom se bestaande en toekomstige skuld te waarborg, sê Fitch se Erwin van Lumich.

Donker wolke oor ekonomie - Schüssler

Die SA ekonomie sukkel en daar is nie juis tekens dat die situasie in die onmiddellike toekoms gaan verbeter nie, aldus BoE Private Clients.

Donker wolke hang oor die ekonomie, sê ekonoom Mike Schlüssler, brein agter die maandelikse BoE Private Clients barometerprojek, wat gewys het dat die skerp afwaartse neiging van die afgelope paar maande in April voortgeduur het.

Die barometers meet besigheidsaktiwiteitsvlakke in Gauteng (14.6% af), die Wes-Kaap (7.4% af), Oos-Kaap (17.1% af) en Vrystaat (7.8% af) en het uitgelig dat die Oos-Kaapse ekonomie in groter moeilikheid is as dié in ander provinsies.

Supermarkte onder skoot

Die Nasionale Landboubemarkingsraad het die Kompetisiekommissie gevra om SA se grootste supermarkgroepe te ondersoek vir moontlike aanblaas van verbruikerspryse en gewaarsku dat hul voortgesette dominering die ekonomie kan seermaak.

Die raad se verslag het onder meer gesê daar is ’n onverklaarde gaping tussen produsente- en rakpryse. Handelsunies het kleinhandelaars al herhaaldelik gekritiseer omdat hulle nie pryse sny in ooreenstemming met die dalende petrol- en ander pryse nie. Solidariteit het in April gesê kospryse by Pick n Pay, Shoprite/Checkers en Spar het in die voorafgaande vier maande met tussen 8.1 en 3.1% gestyg.

Die kleinhandelaars sê hulle verwelkom ’n ondersoek van die kommissie.

Chrysler-Fiat transaksie straks deurgevoer

Na alle verwagting behoort die beplande transaksie tussen Chrysler en Fiat binnekort voltooi te wees.

Dit ná die Hoërhof in Amerika die pad oopgemaak het vir die verkoop van die meerderheid van Crysler se bates aan Fiat deur ’n appèl van ’n trio pensioen- en konstruksiefondse in Indiana weg te wys.

Die Wit Huis het in ’n verklaring gesê die “Chrysler-Fiat alliansie kan nou voortgaan” met Crysler as ’n “kompeterende motorvervaardiger”.

Motorverkope val in Europa

Europese motorpryse het met 3.1% geval laas jaar soos vervaardigers pryse gesny het om verkope aan te help.

Dit is die streek se ergste resessie in 60 jaar, het die Europese Kommissie Dinsdag gesê.

Nuwe motorverkope het geval tot op die laagste vlak in twee dekades en was 27% laer in Januarie in vergelyking met die dieselfde tyd die vorige jaar.

Mminele aanstelling verwelkom

Die Suid-Afrikaanse besigheidsgemeenskap het die aanstelling van Daniel Mminele as die nuwe adjunk-goewerneur van die sentrale bank verwelkom.

Die hoof-uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Sakekamer, Neren Rau, het gesê Mminele se ervaring in finansiële sake sal bestuur by die bank versterk.

Rau het gesê die land het sterk leierskap nodig om hom uit die huidige finansiële krisis te lei en dat Mminele ‘n positiewe bydrae sou lewer.

Banke wil SA verlaat

Ses buitelandse banke beplan om op te hou besigheid doen in Suid-Afrika nadat die wêreldwye finansiële krisis hulle gedwing het om hul strategie te heroorweeg, beweer ‘n studie deur PricewaterhouseCoopers.

Dit sou massiewe werksverliese beteken.

Bankkenner Tom Winterboer het gesê dit lyk asof die banke vertroue verloor in Suid-Afrika en liewer hul geld elders wil neem. “Dit is nie goed vir die land en ons ekonomie nie.”

Commerzbank, Dresdner Bank en die Suid-Afrikaanse Bank van Athene is glo van die maatskappye wat beplan om SA te verlaat.

Mboweni wil nie inmeng nie

Die debat oor monetêre beleid het nuwe afmetings aangeneem Dinsdag toe die Reserwebankbaas Tito Mboweni dit duidelik gemaak het dat die bank nie sou inmeng om die rand te verswak nie.

Hy het weer eens bevestig dat die bank se hoofdoel was om die rand se prys stabiel te hou.

“Ons is nie in die besigheid van die geldeenheid versterk of verswak nie. Ons is nie geldeenheid handelaars nie. Ons bedryf nie ‘n kasino van Pretoria nie.”

Hoenderbedryf kry swaar

Suid-Afrika se grootste hoenderverwerker, Rainbow Chicken, het rapporteer dat hy ‘n strawwe jaar tot en met Maart agter die blad het, met inkomste wat met ongeveer 40% geval het.

Die maatskappy het veral gely daaronder dat onverwerkte dierevoer teen besonder hoë pryse verkoop is.

Hoof-uitvoerende beampte, Miles Dally, het gesê dat verbruikers onder druk was en minder geld uitgegee het weens die ekonomiese resessie. Die pryse van hoenders het ook geval weens groter beskikbaarheid.

Tuesday, 09 June 2009

Diefstal knou rooivleisbedryf

Diefstal van voorraad kos die rooivleisbedryf jaarliks meer as R300 miljoen, sê die Nasionale Opkomende Rooivleisprodusentevereniging (Nerpo).

Aggrey Mahanjana van Nerpo sê hulle statistiek wys Gauteng, veral die Vereeniging-streek, KZN, die Oos-Kaap en die Vrystaatword deur dié misdaad geteister.

Mahanjana sê die diefstal dreig om die prys van rooivleis te laat styg, omdat minder vleis in die toekoms deur die formele strukture sal gaan.

Mminele nuwe Reserwebank-adjunk

Daniel Mminele is aangewys as ’n sentrale bank adjunkgoewerneur vir ’n termyn van vyf jaar, aldus Reserwebank-hoof Tito Mboweni.

Mminele is tans die uitvoerende algemene bestuurder by die bank. Hy sluit hom aan by Xolile Guma en Renosi Makote en vul die pos wat vakant gelaat is met die aftrede van Ian Plenderleith in 2005.

Fiat staan by Chrysler

Fiat het gesê hy sal nie sy rug draai op sy ooreenkoms om ’n beherende aandeel in Chrysler te bekom nie, ondanks ’n US Hoërhof se besluit om ’n saak oor die transaksie aan te hoor.

Volgens die ooreenkoms se terme het Fiat die opsie om die koop te staak as dit nie teen 15 Junie voltooi is nie, maar “Fiat sal nie wegstap van Chrysler nie,” het Fiat-segspersoon Gualberto Ranieri gesê.

Die hof gaan ’n saak aanhoor van drie pensioen- en konstruksiefondse wat die verkoop in die wiele kan ry. Die fondse, wat ’n deel van Chrysler se skuld hou, opponeer die transaksie en sê dit bevoordeel die maatskappy se belanghouers bó skuldhouers soos hulself.

Goud en hulpbronne herstel op JSE

Aandele op die JSE het ’n hupstoot gekry, ondersteun deur ’n herstel in goud- en hulpbronaandele, wat die vorige dag laag gesluit het.

Die algehele indeks is 0.94 % hoër, met hulpbronne wat 1.46% bygevoeg het. Goudaandele is 2.97% sterker en platinum-myne is 0.38% hoër. Banke het 0.89% bygevoeg, finansiële aandele is 0.54% beter en bedryfsaandele is 0.48% beter.

’n Dollar kos R8.13, in vergelyking met R8.18 teen sluitingstyd die vorige dag.

SA goudbedryf onder soeklig

Die Suid-Afrikaanse goudmynbedryf behoort tot 2010 steeds af te neem soos in die afgelope paar jaar, aldus ’n verslag van Frost & Sullivan.

Die bedryf behoort egter vanaf 2011 ’n ommekeer te maak en teen 2014 te herstel, soos elektrisiteitsvoorsiening en beskikbaarheid van vaardighede verbeter.

Die verslag het egter ook gestoon dat diepvlak-myne duurder is om te myn, omdat dit meer veiligheidsrisiko’s het en meer elektrisiteit en diesel gebruik.

Steenkooluitvoere val dramaties

Steenkoolvragte by Richardsbaai se steenkoolterminaal het met 21% geval laas maand tot op sy laagste vlak in 16 maande, het Afrika se grootste steenkooluitvoer-fasiliteit Maandag gesê.

Op sy huidige vlak, sal Richardsbaai 54.2 miljoen ton steenkool vanjaar uitvoer in vergelyking met 76 miljoen ton laas jaar.

Lugrederye kyk na 2010

Lugrederye glo dat hulle in 2010 ‘n oplewing sal beleef en het laat blyk dat hulle verwag om $20 miljard te verloor in 2008-2009.

Afgevaardigdes wat die Internasionale Lugvervoervereniging se jaarlikse vergadering in Kuala Lumpur bywoon, het gesê hulle meen lugrederye sal weer begin winste toon in 2010.

Die vereniging verteenwoordig 230 lugrederye wêreldwyd.

City Lodge het groot planne

Die hotelgroep, City Lodge, tans besig met uitbreiding ter waarde van R614 miljoen, gaan nog ‘n verdere vier hotelle bou, het die groep se baas, Clifford Ross, Maandag gesê.

Konstruksiewerk het reeds begin vir twee hotelle in Pretoria ter waarde van R245m en die groep belê nou ook in ‘n projek in Fourways en by OR Tambo Lughawe in Johannsburg, asook in ‘n projek by Umhlanga.

Verdere planne word gemaak vir hotelle by die lughawens in Bloemfontein en Port Elizabeth, asook vir nog hotelle by Port Elizabeth in nog een vir Southgate in Johannesburg.

Mahindra maak SA planne

Die motorvervaardiger, Mahindra Suid-Afrika, die plaaslike verteenwoordiger van die Indiese konglomeraat, beplan om binnekort te begin om motors hier te begin monteer.

Die nuwe hoof-uitvoerende beampte van Mahindra SA, Ashok Thakur, het Maandag gesê ‘n studie het gewys dat dit lonened sou wees om ‘n plaaslike monteerfabriek hier te vestig, hoewel daar nie ‘n volwaardige Mahindra fabriek sou kom nie.

Mahindra is werksaam in 25 Afrika lande en daar is wesentlike voordele om voertuie vanaf Suid-Afrika te voorsien eerder as vanaf Indië.

Eskom wyd veroordeel

Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) behoort Eskom se aansoek vir ‘n 34% verhoging in elektrisiteitstariewe te verwerp aangesien dit die resessie sal vererger, het belangegroepe Maandag gesê.

Verteenwoordigers van vakbonde, munisipaliteite, besighede en verbruikers het gesê die beplande verhoging was onwettig en ongegrond.

Nersa-lid, Ethel Teljeur, het gesê Eskom se aansoek was baie laat en sou chaos by munisipaliteite veroorsaak.

Monday, 08 June 2009

Al hoe minder eiendomsagente

Die getal geregistreerde eiendomsagente in Suid-Afrika het vanjaar met meer as 50% afgeneem na 38 000. In 2007 was daar 84 000 agente.

Eiendomsagente verlaat die bedryf weens die insinking in die residensiële eiendomsmark en lae verkoopsvlakke, sê Willie Marais, die nasionale president van die Instituut vir Eiendomsagente van SA (IEASA). Hy meen die aantal aktiewe agente “is baie minder”.

Selfs al verbeter die ekonomie, is dit onwaarskynlik dat die getal hoër as 40 000 sal styg omdat kredietwetgewing eiendomstransaksies en die winsgewendheid vir eiendomsagente beperk.

Mboweni sal inmeng as dit nodig is

Die Reserwebank het van mening verander oor inmenging in die buitelandsevalutamark.

Die president van die Rewerwebank, Tito Mboweni, het die afgelope naweek gesê die Reserwebank sal inmeng as omstandighede dit vereis.

Hy het egter nie gesê dat ’n teikenband, soortgelyk aan die 3 tot 6%-inflasieteiken, vir die rand ingestel gaan word nie.

Mboweni het die naweek ’n strategiese beplanningsessie oor monetêre beleid by Magoebaskloof bygewoon.

Huispryse hou aan val, sê Absa

Volgens Absa se huisprysindeks wat Maandag vrygestel is, was die daling in huispryse in Mei die grootste sedert September 1986.

In nominale terme – as inflasie nie in ag geneem word nie – het jaar-tot-jaar huisprysdeflasie in Desember 2008 begin, sê Absa se Jacques du Toit. In reële terme – as inflasie wel in ag geneem word – het dit reeds in Januarie 2008 begin.

Die gemiddelde nominale prys vir ’n middelslaghuis het jaar-tot-jaar met 3,6% gedaal tot R932 000 in Mei 2009, en dié van kleiner huise met 4% tot R658 200.

Belê nou om olieprysstyging te voorkom

Royal Dutch Shell se uitvoerende hoof, Jeroen van der Veer, het Maandag gesê as daar nie in die oliesektor belê word om in die vraag te voorsien wanneer die wêreldekonomie herstel nie, gaan oliepryse in die toekoms kwaai styg.

Volgens hom sal die vraag na olie teen 2050 verdubbel omdat die wêreldbevolking sal aangroei van 6 na 9 mljard mense. Oliemaatskappye moet dus nou in tegnologie belê en nuwe bronne ontwikkel sodat hulle die vrugte kan pluk wanneer die herstel aanbreek.

Stil oggend op JSE

Die JSE het Maandag in die rooi geopen ná verlede week se oplewing.

Teen 09:11 het die JSE se indeks van alle aandele 0,81% verloor, met hulpbronne 1,50% laer nadat dié sektor Vrydag met 4% gestyg het.

Platinum het met 0,74% gedaal en goudaandele met 0,78%. Banke was effens laer met 0,32%, finansiële aandele lusteloos op 0,10% laer, en nywerheidsaandele het met 0,33% geval.

Die rand het op R8,12 teenoor die dollar verhandel teenoor Vrydag se sluitingsprys van R8,05.

Eskom: "SA sal baat by tariefverhoging"

Die hoof van Eskom, Jacob Maroga, het Maandag gesê dat Eskom se beplande tariefverhoging van 34 persent tot voordeel van die hele Suid-Afrika sal wees.

“Die 34 persent verhoging gaan nie na Eskom toe gaan nie. Dit gaan so bestee word sodat Suid-Afrika daarby sal baatvind,” het hy gesê.

Eskom se beplande verhoging het verskeie arbeidsbewegings woedend gehad.

Fifa 2010: Stakings

Die Nasionale Unie van Mynwerkers het Maandag aangekondig dat kontruksiewerkers wat aan die 2010 sokkerstadions werk, ‘n salarisdispuut met hulle werkgewers verklaar het.

Die werkers het aangedring op ‘n verhoging van 15 persent, maar die Suid-Afrikaanse Federasie van Siviele Ingenieur kontrakteurs is slegs bereid om ‘n verhoging van 7 persent te gee.

Die moontlikheid van stakings is tans groot.

Lugrederye sukkel meer as ooit

Die wêreld se lugrederye gaan na bewering meer as R72 miljard verloor hierdie jaar.

Die industrie staar tans die grootste krisis in die geskiedenis van die bestaan daarvan, in die gesig.

Die verlies is amper dubbel die bedrag wat sowat drie maande verlede voorspel is. Volgens bronne is die huidige krisis selfs erger as die nagevolge van die 11 September 2001-aanvalle in Amerika.

Taakspan ondersoek publieke en private samewerking

Die minister van finansies, Pravin Gordhan, het Vrydag aangekondig dat ‘n taakspan saamgestel is om “modelle te ondersoek wat die publieke en private vennootskappe in die gesondheidsektor sal bevorder”.

Hy het ook gesê dat daar klem gelê sal word op die finansiering van gesondheidsdienste.

Volgens Gordhan staar die land “ontsettende uitdagings in die gesig, nie slegs weens MIV en tuberkulose nie, maar ook omdat “moderne gesondheidsdienste duur en kompleks is”.

Belastingbetaler moet straks nog R100 miljard uithaal

Die ANC-taakspan wat werk aan die Nasionale Gesondheidsversekering, het voorgestel dat belastingbetalers jaarliks ‘n bykomende R100 miljard moet uithaal om hierdie skema te befonds.

Alex van den Heever, ‘n gesondheidsekonoom, het twee van die ANC se taakspan-vergaderings bygewoon, en het hierdie aankondiging die naweek gemaak.

Die R100 miljard is gelykstaande aan ongeveer 9 persent van die algemene begroting van huishoudings in SA. Ekonome het gewaarsku dat die ekstra R100 biljoen die ekonomie sal skaad, aangesien SA burgers tans nie kan bekostig om meer belasting te betaal nie.

Saturday, 06 June 2009

Groot planne met ystererts

Twee reusemaatskappye, BHP Billiton en Rio Tinto gaan saamwerk om beide maatskappye se ystererts voorraad in wes-Australië ten beste te benut. Die twee gaan ystererts in ewe groot volumes aan skepe voorsien wat onafhanklik deur hul eie bemarkings-groepe verkoop sal word.

Die maatskappye sê baie duplisering sal uitgeskakel word en meen die ooreenkoms is sowat $10 miljard werd.

Vlekvryestaal invoere krimp

Die voorsitter van Sassda, die Suider-Afrikaanse Vlekvryestaal Ontwikkelings-vereniging, Sampie van Rooyen, sê die invoer van vlekvryestaalprodukte het die meeste die afgelope jaar gedaal en het met 45% gekrimp. Die verbruik van vlekvryestaal het ook 5.8% gekrimp het, wat aandui dat verbruikers voorkeur gee aan plaaslike produkte.

Hy het in Johannesburg gesê die vraag na staal het bykans verdwyn, terwyl opgehoopte voorrade nog steeds baie hoog is.

Nuwe kabel vir vinniger dienste

Die Africa Finance Corporation, wie se hoofkwartiere in Nigerië is, en ander beleggers het ‘n $240m ooreenkoms aangegaan om ’n kabel te voorsien wat vinniger internet en telekomdienste na wes-Afrika kan bring.

Die 7 000 km stelsel sal van Portugal na Nigerië aangebring word, met takke na die Kanariese eilande, Morokko, Senegal, die Ivoorkus en Ghana.

Mvela gaan op platinum konsentreer

Die voorsitter en grootste aandeelhouer van Mvela, Lazarus Zim, sê dié maatskappy gaan volgende jaar ophou bestaan en op Northam Platinum konsentreer. Daar is vroeër aangekondig dat Mvelaphanda Resources van volgende jaar nie meer genoteer wees nie.

Mvela is deur Tokyo Sexwale begin, wat nou die minister van behuising is. Die besluit meen dat die hoop nie meer bestaan dat die maatskappy ‘n mynoperateur kan word nadat dit begin is as ‘n beherende maatskappy nie, maar dit sal ‘n beduidende aandeel hê in ‘n groot platinum firma.

Mededingingskommissie kan ingryp

Die Mededingingskommissie, wat verlede jaar banke aangespreek het omdat hulle kliënte so baie vir banktransaksies laat betaal, sê hulle sal stappe neem as daar gevind word die vier grootste banke werk saam. Dit volg op berigte dat die vier – Standard Bank, Absa, First National en Nedbank - hul maandelikse bankkoste op huislenings met tot 500% verhoog het en dit terwyl baie mense met ‘n groot skuldlas en hoë lewenskoste sukkel.

Die berigte lui terselfdertyd dat analiste voorspel dat banke miskien meer huiwerig sal word om nuwe huislenings toe te staan.