Saturday, 28 February 2009

Internet-rowers plunder U2 skat

Die Ierse rocklegendes U2 het groot moeite gedoen om hul nuutste album geheim te hou voor die vrystelling op Vrydag, maar internet-rowers het dit nog steeds reggekry om hul hande daarop te lê.

Die nuwe album "No Line on the Horizon" was reeds vir dae beskikbaar op webtuistes, ten spyte van hoë sekureit voor die amptelike vrystelling. Die musiek is deur duisende mense onwettig van die internet afgelaai.

Volgens die Forbes-tydskrif, het die musiek uitgelek op 'n Australiese webtuiste, wat deur Universal besit word. Daar was 'n fout op die webtuiste een week gelede, wat toegelaat het dat belangstellendes die album wettiglik kon aflaai.

Die webtuiste was twee ure lank foutief, voordat iemand van Universal dit opgemerk het.

Groot veranderinge by Yahoo!

Yahoo! se nuwe baas Carol Bartz het Donderdag groot veranderinge aangekondig vir die bestuur van die sukkelende internet-reus.

Bartz het hierdie veranderinge bekendgemaak kort na nog 'n aankondig dat die Hoof Finansiele Beampte Blake Jorgensen die maatskappy verlaat en daar 'n soektog geloods is vir 'n nuwe persoon in sy plek.

"Ek gaan 'n nuwe bestuurstruktuur instel wat ek glo sal help om Yahoo! baie vinniger en meer doeltreffend te maak," het Bartz gesê.

Volgens analiste is die veranderinge 'n goeie teken:

"Bartz is besig om die kaf van die koring te skei. Sy raak ontslae van die mense met wie sy nie sal kan werk nie. Dis belangrik dat 'n hoof uitvoerende beampte 'n span kies wat lojaal teenoor haar sal wees," sê die analis Rob Enderle van Enderle Group in Silicon Valley.

Ryanair wil laat betaal vir toilette

Die Ierse afslag-lugredery Ryanair oorweeg dit tans om passasiers geld te vra vir die gebruik van die toilet tydens vlugte.

Volgens Ryanair se Hoof Uitvoerende Beampte, Michael O'Leary wil die lugredery moontlik spesiale deure in hul vliegtuie laat installeer wat slegs sal oopgaan as 'n een pond muntstuk in die gleuf gegooi word.

"Ek dink nie daar is iemand wat al ooit op 'n Ryanair-vliegtuig geklim het met minder as 'n pond nie," het hy Vrydag gesê.

Hierdie voorstel is Ryanair se nuutste plan om te probeer geld spaar gedurende die swak ekonomiese klimaat.

SA op soek na ingenieurs

Suid-Afrika het 'n groot soektog van stapel gestuur om ingenieurs te lok weens die vaardigheidstekort in die land, het die ingenieursraad van Suid-Afrika (ECSA) Vrydag gesê.

“Die hoeveelheid werk wat aan die gang is, is heeltemal te veel vir die hoeveelheid ingenieurs wat beskikbaar is om dit te doen,” het die raad se uitvoerende hoof, professor Hu Hanrahan, gesê.

ECSA het bygevoeg dat hy die beroep deur raadgewende ingenieurs van Suid-Afrika (CESA) ondersteun om ingenieurs wat afgelê is as gevolg van die globale finansiële krisis na die land te bring.

Huidige syfers by die departement van arbeid toon dat Suid-Afrika ernstige tekorte in die siviele, chemiese, meganiese en ander ingenieursektore beleef. Tensy ernstige opgetree word, gaan die bedryf se probleme voortduur, het ECSA gesê. - Praag

Murray en Roberts dank af

Dit is jammer, maar onvermydelik dat die ekonomiese insinking tot werkverliese gelei het, het die konstruksiereus Murray & Roberts Woensdag gesê nadat altesaam 3 900 werknemers sedert Oktober 2008 afgelê is.

Van dié werkers is 3 385 in Suid-Afrika, 400 in Kanada, 75 in die Midde-Ooste en 40 in Australië, het die genoteerde maatskappy in sy tussentydse verslag gesê.

Die groep kon darem sowat 950 werknemers heraanwend.

Absa kon dit doen met 'n miljoen

Absa het sy eenmiljoenste selfoonbankkliënt geregistreer.

Die bank het Donderdag gesê dié mylpaal is behaal agt jaar nadat die diens geloods is.

Selfoonbankdienste stel kliënte in staat om oorplasings tussen rekenings te doen, balanse en state na te gaan, betalings te doen en voorafbetaalde dienste te koop.

Sun International hou kop omhoog

Sun International het ten spyte van die ekonomiese insinking en groot verliese by die Montocello Grand Casino in Johannesburg sy inkomste vir die ses maande tot Desember 2008 verhoog, maar nie genoeg nie.

Die groep het sy inkomste met ses persent tot R4 miljard verhoog, maar dit was nie genoeg om inflasie te klop nie.

Sy dobbelafdeling se inkomste het met 5% gestyg, en dié van sy verblyf met 10%.

Imperial trap water

Imperial Holdings het 24 afsetpunte in sy verspreidings- en motorhandelaarskapsafdelings in die ses maande sedert Augustus 2008 gesluit.

Dit het sy personeel in hierdie afdelings met bykans 20% - ofte wel 800 mense - verminder.

Hubert Brody, die uitvoerende hoof van Imperial, het vandeesweek beklemtoon dat die maatskappy gewis nie besig is om hom aan die motorbedryf te ontttek nie en verwag dat 'n opswaai op pad is, maar die tydsberekening is uiters onseker.

Friday, 27 February 2009

Brandstofprys gaan styg

Die departement van minerale en energie sê die prys van alle grade brandstof gaan Woensdag met 45c ‘n liter styg.

Goeie nuus is egter dat die prys van diesel met gemiddeld 38c ‘n liter sal daal en paraffien sal met 26c ‘n liter daal.

Vraag na vlugte daal

Die internasionale lugvervoervereniging (Iata) sê die vraag na vlugte het Januarie met 5.6% gedaal in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar.

Iata sê weens die ekonomiese wêreldwye resessie, wil dit voorkom of lugverkeer sowat $2.5 miljard hierdie jaar gaan verloor. Hoewel die brandstofprys steeds onder die 2008 vlakke is, is die insinking na die vraag na sitplekke en vrag meer nadelig.

Werkloosheid teister Duitsland

Werkloosheid in Duitsland neem vir die vierde agtereenvolgende maand toe nadat uitvoere steeds afneem en die wêreldwye ekonomiese resessie groot maatskappye dwing om kostes te besnoei.

Die werkloosheidsyfer staan tans op 3.31 miljoen. Ekonome voorspel dat hierdie getal met 60 000 kan toeneem. Die werkloosheidkoers het van 7.8 tot 7.9 gestyg.

Tito swyg steeds

Tito Mboweni kon Donderdag nie enige duidelike antwoorde gee op vrae of die bank koerse gaan laat daal voor die geskeduleerde vergadering in April nie. Hy het gedurende sy toespraak by die beleggingskonferensie in Sandton herhaaldelik verwys na die finansiële krisis.

Banke oorsee het hul offisieële rentekoerse skerp laat daal in ‘n poging om hul ekonomieë ‘n hupstoot te gee, maar die Reserwebank het die repokoers met slegs 1.5 persent laat daal sedert Desember, en dit staan nou op 10.5 persent.

Grindrod betree Transnet-terrein

Grindrod wil ‘n bepalende faktor wees in die spoorweë sektor in Suid-Afrika, en hierdie skeeps- en logistieke firma het groot planne om hul besigheid uit te brei na wat op die oomblik Transnet se terrein is.

53 persent van die nuwe maatskappy, RRL Grindrod, se eienaars is swart.

Die maatskapy sal lokomotiewe verhuur en ander dienste soos die bou van treinstelle en laai van waens aan hul kliente aanbied.

Obama gee voorkeur aan gesondheidsdienste in begroting

Amerikaanse President Barack Obama het Donderdag ‘n begroting van $3.606 triljoen (ongeveer R35.4 triljoen) bekend gemaak, saam met assertiewe planne om die Amerikaanse ekonomie ‘n groot hupstoot te gee asook gesondheidsdienste op standaard te kry.

Die fiskale 2010 bestedingsplan is deel van Obama se pogings om die land uit die ekonomiese krises waarin dit op die oomblik is, te ruk.

"Die tyd het aangebreek dat ons ‘n nuwe tydperk omhels, ‘n tydperk van verantwoordelikheid waar ons nie net werksgeleenthede skep nie, maar waar ons ook geleenthede vir groei moet skep, sodat ons die belofte van Amerika kan hernu," het Obama gesê. "Die begroting is ‘n eerste stap in hierdie rigting."

Kamer van Mynwese ondersteun mynverslag

Die Kamer van Mynwese het Donderdag gesê hulle ondersteun die aanbevelings wat gemaak is in die Presidensiële ouditverslag oor gesondheid en veiligheid in myne.

Altesaam 335 myne is ingesluit by die oudit. Die voormalige president Thabo Mbeki het die oudit aangevra nadat 3200 workers in Oktober 2007 vir 42 ure ondergronds vasgekeer was.

Die verslag is vroeg in Februarie vrygestel en is deur die Kamer verwelkom.

Thursday, 26 February 2009

Werkers 'moenie die prys betaal nie'

Die vakbond Cosatu het gewaarsku dat werkers “alles in hul vermoë moet doen” om poste besnoeiings teë te werk.

Hy het gesê hy sal nie met gevoude arms sit en toekyk hoe werkers die prys betaal vir ‘n krisis wat hulle nie veroorsaak het nie.

Daar word beraam dat tussen 20 000 en 50 000 poste in die mynbedryf gesny word.

Cosatu het gesê hy hou die situasie dop en sal besluit of betogings of enige verdere protesaksie beplan moet word.

Bedryf ly weens 'musiekroof'

‘n Top musiekbedryf amptenaar het in ‘n Sweedse hof getuig dat die roof van musiek aanlyn, kunstenaars en vervaardigers “enorme skade” aandoen.

Die man, wat getuig het in die Pirate Bay saak, het gesê die onwettige aflaai van musiek het gelei tot ‘n 30% val in inkomste vir die musiekbedryf.

John Kennedy van die Internasionale Federasie van die Fonografiese bedryf, het groot maatskappye soos Sony BMG en EMI verteenwoordig.

Cosatu kondig kommer aan

Die vakbond Cosatu het Donderdag kommer uitgespreek oor maatskappye wat die wêreldwye finansiële krisis gebruik as ‘n verskoning om poste te sny en meer wins te maak.

Hy meen party maatskappye gebruik die huidige ekonomiese klimaat om voorafgemaakte planne uit te voer.

Vakbond-leier Zwelinzima Vavi het gesê byvoorbeeld goudmyne hoef nie poste te verminder nie aangesien die goudprys stabiel is.

Acsa: Dwelmsmokkelary nie ongewoon

‘n Woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse lughawensmaatskappy (Acsa) het gesê meer as 500 dwelmsmokkel-insidente is aangemeld in 2008 by Johannesburg se O R Tambo lughawe.

Acsa se direkteur van lughawebedrywighede het gesê sy maatskappy werk saam met die owerhede in die soektog na dwelms.

Dwelmsmokkelary vind gereeld by die lughawe plaas en ten minste een voorval per dag word aangemeld.

Dit word glo aanvaar dat dwelmbase lugrederye teiken om hul dwelms te vervoer.

Mboweni: SA banke 'gesond'

Die Suid-Afrikaanse Reserwebankbaas Tito Mboweni het Donderdag gesê die bank het nie ‘n noodvergadering gereël nie.

Nuwe inligting wys dat die ekonomie verder verslap het gedurende die vierde kwartaal van 2008 en al meer ekonome kyk na Mboweni vir ‘n soort aankondiging.

Mboweni het Donderdag gesê hoewel geen spesiale vergaderings belê is nie, dit nog kan gebeur.

Hy het verder gesê dat plaaslike banke in ‘n goeie toestand is ten spyte van die wêreldwye finansiële krisis.

Liberty se wins ook af

Die genoteerde versekeraars Liberty Holdings se wins vir 2008 het gedaal namate sy beleggings ook deur die wêreldwye ekonomiese insinking getref is, het die groep Donderdag gesê toe hy sy resultate aangekondig het.

Die groep se basiese verdienste per aandeel in sy finansiële jaar wat op 31 Desember afgesluit het, was 32,6% laer.

Die maatskappy het egter gesê hy vorder goed om sy groeistrategie te implementeer.

Nedbank voel ook insinking

Die wêreldwye ekonomiese insinking het die Nedbank-groep se verdienste vir die volle jaar geraak, het die bank Donderdag gesê toe hy sy resultate aangekondig het.

Die Nedbank-groep se verwaterde wesensverdienste per aandeel was 2% laer as die 1 429 sent in die vorige jaar.

Die Nedbank-groep het gesê 2008 was 'n uiters uitdagende jaar vir sy kleinhandelafdeling.

Nedbank het bygevoeg die binnelandse ekonomie sou na verwagting in 2009 bly verlangsaam, terwyl hy die groei op die bruto binnelandse produk huidiglik op 0,4% raam.

SA nié in resessie - Manuel

Suid-Afrika is nié in 'n resessie nie, al sê ekonome só, het die minister van finansies, Trevor Manuel, Donderdag gesê.

"Nee, ons is nie," het Manuel in 'n radio-onderhoud met die SABC gesê.

"Ek weet 'n aantal ekonome met wie julle praat, sê hulle dink die derde kwartaal kan afwaarts hersien word, maar die derde kwartaal is nie afwaarts hersien nie. Tegnies is ons nie in 'n resessie nie."

Manuel het gesê hy besef daar was "'n argument dat as dit soos 'n eend loop en soos 'n eend kwaak, dan is dit waarskynlik 'n eend", maar het beklemtoon Suid-Afrika is nie in 'n resessie nie.

Tito sal betyds laat weet

Die goewerneur van die SA reserwebank, Tito Mboweni, sal vooraf kennis van 'n spesiale vergadering van die monetêre beleidskomitee gee, het die Reserwebank-woordvoerder Samantha Henkeman Woensdag bevestig.

Dalende inflasie en bruto binnelandse produk het beroepe vir 'n vergadering voor die komende beplande vergadering in April laat opvlam nadat die verbruikersinflasie Woensdag aangekondig is.

Die bank het nog nie gereageer nie, maar Henkeman het gesê hulle sal probeer om nie die mark onkant te betrap nie en sal die mark net soos in September 2003 vooraf daarvan inlig.

Henkeman het gesê buiten 2003 is die publiek oor twee vorige voorafvergaderings in kennis gestel - vir die ongeskeduleerde vergaderings op 15 Januarie 2002 en 16 Oktober 2000.

Hoë kospryse hou inflasie hoog

Hardnekkige hoë voedselpryse hou verbruikersinflasie onverwags hoog, ten spyte van die feit dat kospryse op landbouvlak besig is om te daal.


Die Januarie-inflasiedata is Woensdag op 'n teleurstellende 8,1% vrygestel nadat 21 ekonome wat deur Bloomberg ondervra is, 'n inflasiekoers van nnet 7,5% voorspel het.

Statistiek SA het berig die voedselkomponent van die verbruikersprysindeks (VPI) het met 16,1 persent die afgelope twaalf maande en met 2% in Januarie gestyg.

Kospryse het in Desember 2008 op landbouvlak met 5,7 persent teenoor Desember die vorige jaar gedaal, wat daarop dui dat die voordeel van hierdie laer oryse nie aan die verbruiker oorgedra word nie.

Wednesday, 25 February 2009

DailyFill bring nuusbrokkies

Die breine agter die sosiale netwerk-webwerf MySpace het Dinsdag ‘n nuwe produk bekend gestel: DailyFill, ‘n aanlyn webwerf toegewy aan nuusbrokkies oor die glanswêreld.

Josh Berman en Colin Digiaro glo DailyFill het ‘n wenresep van nuusbrokkies oor film en musieksterre.

“Met die groot groei van Twitter kan mens sien mense soek na vinnige brokkies nuus,” het Digiaro gesê. “Mense lees nie regtig lang artikels nie, hulle soek ‘n vinnige samevatting,” het Berman gesê.

DailyFill het reeds 3.3 miljoen besoekers maandeliks.

Grondboontjie produkte herroep

Ongeveer 666 mense het siek geword weens salmonella wat hulle gekry het van besmette grondboontjie produkte in die VSA.

Dit het aanleiding gegee tot die grootste voedselherroeping in die Amerikaanse geskiedenis.

Nege mense is reeds dood.

King Nut grondboontjiebotter was by al die skole, hospitale en ander plekke waar mense siek geword het.

Die vervaardiger van King Nut, Peanut Corporation America, het bankrot gegaan en het twee fabrieke toegemaak sedert dit bekend geword het dat die besmetting van daar kom.

Goudproduksie daal skerp

Goudproduksie in Suid-Afrika het in 2008 met 13,6% gedaal tot sy laagste vlak sedert 1922, het Suid-Afrika se kamer van mynwese Dinsdag gesê.

Die handelsgroep het gesê Suid-Afrika, ‘n globale leier in die goudnywerheid, het verlede jaar net 220 127 kilogram goud geproduseer as gevolg van die energiekrisis wat myne gedwing het om in Januarie vir ‘n week te sluit.

Sjina en Amerika het Suid-Afrika se status as die wêreld se grootste goudprodusent in 2007 en 2008 oorgeneem.

Beroep gedoen op Reserwebank

Die Reserwebank moet dringend vergader oor rentekoerse, het die vakbond Solidariteit Woensdag gesê.

Die vakbond het gesê dat die huidige rentekoerse die Suid-Afrikaanse ekonomie rem en het gevra dat vergader word oor ‘n aanpassing.

Solidariteit se pleidooi kom na die bekendmaking van inflasiesyfers deur Statistiek SA wat wys dat verbruikersinflasie vir Januarie geval het tot op 8.1%.

Die vakbond het verder gesê dis die regering se plig om ekonomiese groei aan te moedig.

Donker prentjie vir Imperial

Die Imperial motormaatskappygroep is swaar getref deur die inkrimping in die ekonomie.

Die groep, wat voertuie verhuur, verkoop en logistiek beheer, se bedryfsresultate toon ‘n verlies aan inkomste oor die algemeen, hoewel sekere sektore wel gegroei het.

“Ons voorsien nie dat nuwe voertuigverkope-syfers sal herstel in die onmiddelike toekoms nie,” het Imperial gesê.

Kopermaatskappy vat gewese goudbaas

Metorex het die voormalige uitvoerende hoof van Gold Fields, Terence Goodlace, as sy uitvoerende hoof aangestel, het die kopermynmaatskappy Dinsdag aangekondig.

Die maatskappy sê Goodlace het "uitgebreide ondervinding in hoofbestuur, produksie, strategie en korporatiewe finansiering".

Goodlace is in Julie verlede jaar ná net drie maande by Gold Fields weg en het "private en persoonlike" redes aangevoer. Metorex het in Desember gesê hy sou Charles Needham as hoof vervang.

Lugreis deur Afrika groei

Toenemende handel tussen Suid-Afrika en die res van die vasteland het Afrika in Desember 2008 gehelp om te ontsnap aan 'n insinking in die weelde-streekslugvaartbedryf.

Besigheids- en eersteklas-vlugte op roetes binne Afrika het in Desember 2008 met 11,8 persent teenoor 'n jaar gelede gestyg, terwyl dit wêreldwyd met 13,3% gedaal het.

SAA se roetes binne die grense van Afrika is sy winsgewendste, en die olieryke Angola en die res van Afrika voorsien sommige plaaslike maatskappye van groeiende markte. Dit sluit in Shoprite, wat sowat 100 supermarkte elders in Afrika het, die visgroep Oceana, wat 'n groot uitvoermark ontwikkel het, en die wyn- en spiritualeë-groep Distell.

Inflasiedata vandag verwag

Die swakker ekonomiese data as wat verwag is vir die laaste kwartaal van 2008, wat Dinsdag aangekondig is, sal moontlik Woensdag met ander data saamspan om groter druk op die rentekoers te plaas.

Die data wat vandeesweek verwag word, is die verbruikersinflasiekoers (Woensdag), verskaffersinflasie (Donderdag) en kredietverlenging (Vrydag).

'n Syfer van 1,8% wat Dinsdag aangekondig is, was 'n heelwat groter daling as die 1,2% wat ekonome vir die laaste kwartaal Suid-Afrikaanse ekonomie (bruto binnelandse produk) aan die einde van verlede jaar verwag het, en kan die Reserwebank tesame met vandag se aankondiging oor die inflasiekoers moontlik dwing om die repokoers vroeër as die beplande aankondiging in die middel van April afwaarts aan te pas.

Sal Tito vroeër vergader?

Die groter daling in Suid-Afrika se ekonomie as wat verwag is in syfers wat Dinsdag deur Statistiek SA aangekondig is, kan moontlik tot 'n vervroegde rentekoersdaling lei.

Die goewerneur van die Reserwebank, Tito Mboweni, kan genoop word om die vergadering van die monetêre beleidskomitee wat vir 15 en 16 April beplan word, te vervroeg.

Mboweni het verlede maand, toe hy die repokoers met 1 persent tot 10,5% gesny het, gesê hy sou 'n daling van twee persent verkies het, maar is deur ander lede van die komitee oortuig om 'n meer beskeie aanpassing te doen.

Die bank het egter Dinsdag gesê daar is nie dadelik planne vir 'n vervroegde beleidskomiteevergadering nie. Die vorige keer toe 'n spesiale vergadering gehou is, was in September 2003 ná die publikasie van hersiene inflasie-inligting wat 'n laer inflasiekoers onthul het.

Daling erger as wat verwag is

Suid-Afrika se ekonomie het ten spyte van 'n groot sprong in landbou-uitset en sterk staatsbesteding in die vierde kwartaal van 2008 met 1,8% gekrimp, wat erger was as wat verwag is.

Rashad Cassim, die adjunk-direkteurgeneraal by Statistiek SA, het gesê dit was die grootste afname sedert die vierde kwartaal van 1992, toe die BBP met 3,5 persent gedaal het.

Ekonome het verwag die daling sou net 1,2% wees.

Tuesday, 24 February 2009

Groot aanvraag na steenkool

Steenkool en sink vervaardiger, Exxaro, het gesê daar word steeds ‘n groot aanvraag verwag na plaaslike kragsentrale-steenkool.

In ‘n verklaring Dinsdag, het Exxaro gesê daar word egter ‘n vermindering in kookssteenkool verwag.

Pryse van verskeie steenkoolprodukte is reeds laer. Exxaro het gesê die maatskappy se operasionele wins het toegeneem met 71% na R2.5 miljard.

Die vervaardigingsvolumes vir die steenkool gebruikshandel was oor die algemeen 9% hoër as laas jaar.

SA kyk na resessie

Nuwe syfers wat oor die Suid-Afrikaanse ekonomie bekend gemaak is, toon dat die land moontlik wel ‘n resessie in die gesig staar.

“Dis erger as wat ons verwag het. Daar is geen twyfel nou dat die ekonomie nie ‘n resessie sal kan vermy nie soos die Reserwebank en departement van finansies aangedui het nie,” het ekonoom Elna Moolman gesê.

Sy meen die Reserwebank moet ‘n noodvergadering reël om monetêre verligting te bespreek.

SA ekonomie krimp

Die Suid-Afrikaanse ekonomie het gekrimp vir die eerste keer in ‘n dekade in die vierde kwartaal van 2008, as gevolg van 'n vermindering in vervaardigingsproduksie.

Ekonome meen dit kan kanse verbeter vir ‘n vervroegde rentekoers-verlaging.

Afrika se grootste ekonomie het met net 3.1% gegroei in 2008, minder as 2007 se 5.1%.

Ekonome sê dit kom as gevolg van die wêreldwye ekonomiese krisis, met die motorbedryf wat die swaarste getref is.

Sukkelende Asië pla SA

Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte is toenemend afhanklik van handel met Asië en hierdie streek se groeiende onvermoë om hom van die Westerse krisis los te maak, is besig om SA negatief te raak.

“Dit gaan waarskynlik Suid-Afrika miljarde kos in verlore uitvoerbelasting,” het die ekonoom Mike Schussler gesê.

Amper 30% van SA se uitvoere gaan na Asië maar hierdie prentjie gaan waarskynlik verander soos meer Oosterse lande se ekonomië in die moeilikheid beland.

Lonmin sny 5000 poste

Lonmin, die wêreld se derde grootste platinumpvervaardiger het ‘n ooreenkoms bereik met vakbonde om 5 500 poste te sny by sy Marikana en Limpopo operasionele gebiede.

Lonmin het bekend gemaak dat tot 4 000 voltydse werknemers of kontrakteerders hul werk sal verloor by die Marikana myn.

Drie honderd poste is bestuursposte. In Limpopo, sal bloot instandhouding van die Baobabskag gedoen word, met 1 500 mense wat hul werk verloor.

Metaalwerkers kry pensioen-oorskot

Daar is nuwe hoop vir Suid-Afrika se metaalwerkerskorps nadat die metaalwerkersvakbond Numsa gesê het R150 miljoen se pensioenfondsoorskotte is (aan werkers in die) motorbedryf uitbetaal.

"Dit voel soos net gister toe die donker wolk almal laat wonder het wie daarvoor kwalifiseer en wanneer die uitbetalings gaan begin," het Mziwakhe Hlangani, die nasionale woordvoerder van Numsa, Maandag gesê.

Altesaam 41 000 metaalwerkers het al R150 miljoen se betalings van tussen R2 000 en R70 000 uit die oorskot van die Motorbedryf-fondsadministrasie (Mifa) ontvang.

Stanford het baie bates op eilande

Die Amerikaanse miljardêr Allen Stanford het miljoene dollar se beleggings op die Karibbiese eiland St. Croix, maar Amerikaanse reguleerders het nog op niks daarvan beslag gelê in hul ondersoek na dié sakeman van Texas se vermeende wêreldwye beleggingsbedrog spul nie.

James Sullivan, die Amerikaanse balju vir die Virgin-eilande, het gesê Stanford se bates op die eiland sluit in 'n seiljag van sowat 40m en 'n herehuis van R77 miljoen in Christiansted, die grootste stad op St. Croix.

Die Amerikaanse sekuriteite- en verhandelingskommissie het Stanford, 58, verlede week van bedrog aangekla nadat hy glo R80 miljard se depositosertifikate met beloftes van onwaarskynlike hoë rentekoersbetalings uit sy bank, Stanford International Bank Bpk (SIB) met sy hoofkantoor in Antigua verkoop het.

Reguleerders het reeds op al sy banke en maatskappye daar beslag gelê.

Tiger wen weer veld met sy Fatti's & Moni's

Tiger Brands het sy pasta-reeks Fatti's & Moni's van nuuts af bekend gestel in 'n poging om verlore markaandeel terug te wen.

Van die belangrikste Fatti's & Moni's-produkte in die reeks was in die ses maande voor verlede April gereeld uit voorraad weens die vertraging om 'n nuwe aanleg in Isando goed te keur, het die maatskappy vroeër gesê.

Verskaffing uit die Tiger Brands-fabriek het reeds in die tweede helfte van verlede jaar heeltemal herstel, maar dis nie so maklik om verlore markaandeel terug te kry nie, het die groep erken.

Staat en vennote het 30 dae vir hulpplan

Die regering, die sakewêreld, die arbeidsmag en gemeenskapsverteenwoordigers is 'n maand gegun om met besonderhede vir 'n hulpplan vir dié segmente wat die ergste deur die ekonomiese insinking getref is, vorendag te kom.

Alan Hirsch, die hoofdirekteur vir beleid-koördinering in die presidensie, sê dit volg nadat 'n taakmag wat deur president Kgalema Motlanthe aangestel is, die belangrikste ekonomiese sektore wat hulp nodig het, identifiseer het.

Die plan behels onder meer dat die staat meer produkte en dienste by plaaslike ondernemings aanskaf.

Toyota kort produksie in

Toyota is besig om sy wêreld-produksiesyfer vir 2009 op nagenoeg 6,5 miljoen voertuie vas te stel - die laagste in ses jaar, het 'n vooraanstaande Japannese sake-dagblad Maandag berig.

Toyota het verkies om nie op die berig te reageer nie.

Dié motorvervaardiger, wat sy eerste netto-verlies sedert 1950 vir sy finansiële jaar tot Maart verwag, moet nog 'n voertuigverkoopsyfer of produksieteiken vir vanjaar aankondig.

Monday, 23 February 2009

Miljoene kyk YouTube video

‘n Amerikaanse vrou het YouTube beroemdheid verwerf met meer as 4,5 miljoen mense wêreldwyd wat al gekyk het hoe sy haar humeur verloor op die Hongkongse lughawe nadat sy haar vlug verpas het.

Die video wys hoe die vrou, wie se naam nie bekend is nie, haarself op die grond gooi en histeries te kere gaan nadat sy te laat by die lughawe aangekom het om haar vlug San Francisco toe te haal.

Die video is vinnig op pad om die mees besigtigde video van alle tye op YouTube te word.

Nuwe maatreëls vir SAA

Alle bagasie wat aan SAA bemanningslede behoort sal voortaan fisies deursoek word, het die Suid-Afrikaanse lughawensmaatskappy (Acsa) Maandag gesê.

Die Acsa woordvoerder, Solomon Makgale, het gesê dit kom na aanbevelings van ‘n spesiale taakmag aangesê om sekuriteitsmaatreëls te ondersoek nadat bemanningslede gearresteer is met dwelms in hul besit.

Daar sal ook meer snuffelhonde gebruik word, saam met ander meer gespesialiseerde sekuriteitstoerusting.

30% afname in nuwe huislenings

‘n Eiendomstrateeg by Eerste Nasionale Bank, John Loos, meen dat die huisleningsmark in ‘n resessie is sedert middel-2007, toe groei in die nuwe huisleningsmark “sterk negatief” geword het – met ander woorde, meer mense het terugbetaal as geld geleen.

Nuwe syfers van die Reserwebank wys dat die derde kwartaal ‘n 30% afname getoon het in die goedkeuring van nuwe huislenings in vergelyking met dieselfde tyd laas jaar.

Hierdie neiging sal na verwagting ook te siene wees in die vierde kwartaal en sal voortduur vir die res van 2009. Tog meen sommige ekonome dat daar wel groei in seker besigheidsektore is.

Moontlike repokoers verlaging

Ekonome hoop dat Reserwebankhoof, Tito Mboweni, dalk hierdie week die repokoers kan sny.

Dit sal alles afhang van hoe marksyfers Maandag lyk, veral ten opsigte van die bruto binnelandse produk.

Dit kan ook moontlik lei tot 'n rentekoersverlaging, meen kenners.

Reddingsplan vir Zimbabwe

Ministers van finansies van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) sal binne ‘n week ontmoet om te praat oor ‘n reddingsplan vir Zimbabwe.

Dit volg op samesprekings tussen die SA President Kgalema Motlanthe en die Zimbabwiese Premier Morgan Tsvangirai.

Die SA minister van finansies, Trevor Manuel, sal glo betrokke wees en help om ‘n plan van aksie vir Zimbabwe se vele probleme te bedink.

Obama beplan vooruit

Amerikaanse president Barack Obama beplan om die begrotingstekort met sowat $535 miljard aan die einde van sy eerste termyn te verminder. Hy gaan mense wat in weelde leef swaarder belas en uitgawes vir die oorlog in Irak verminder.

’n Bron sê Obama is bang dat as hy nie dié maatreëls tref nie, sal dit nog moeiliker wees vir die Amerikaanse ekonomie om te groei en nuwe werksgeleenthede te skep.

Manuel: Ons moet saamwerk

Die minister van finansies, Trevor Manuel, sê lande sal moet saamwerk om die beste finansiële reddingsplan vir Zimbabwe uit te werk.

Finansministers van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap gaan binnekort vergader om die plan te bespreek. Dit volg ná ’n vergadering van President Mgalema Motlanthe en die Zimbabwiese eerste minister, Morgan Tsvangirai, in Kaapstad verlede week.

Gordhan dalk Transnet se nuwe baas?

Die sakewêreld gons oor gerugte dat die hoof van RMB Private Equity, Khetso Gordhan, die nuwe grootbaas van Transnet kan word.

As hy aangestel word, sal hy Mario Ramos opvolg, wat aangestel is as die hoof van Absa. Gordhan is ’n voormalige direkteur-generaal van die departement van vervoer en ’n voormalige stadsbestuurder van Johannesburg.

De Beers gaan produksie inkort

De Beers beplan om produksie betekenisvol te sny weens die afwaartse vraag na diamante in die vierde kwartaal verlede jaar.

De Beers het verlede jaar 48.1 miljoen karaat diamante produseer, in vergelyking met 51.1 miljoen in 2007.

Darling is boos vir Switserse banke

Die Britse minister van finansies, Alistair Darling, dink dis sommer bog dat Switserse banke sulke streng geheimhouding het.

Hy sê deursigtigheid is noodsaaklik en die teendeel was ’n bydraende faktor tot die wêreldwye ekonomiese krisis.

Sunday, 22 February 2009

Stimuleringspakket kan poste red

Hard-gedrukte Suid-Afrikaners wat bang is hulle kan die slagoffers van massiewe afleggings word, kan verligting uit 'n stimuleringspakket van R10 miljard verwag wat deur die regering saamgestel is om die uitwerking van die ekonomiese insinking te versag.

Goolam Ballim, die hoofekonoom van Standard Bank, het gesê 'n volskaalse resessie kan tot 500 000 afleggings lei, maar die taakspan wat deur president Kgalema Motlanthe opgestel is, is 'n positiewe ontwikkeling wat sulke wydverspreide werkloosheid kan verhinder.

Keith Brebnor, die uitvoerende hoof van die Johannesburgse sakekamer, het gesê dié hulppakket van R10 miljard is 'n silwer randjie om die donker wolk, en is bedoel om poste in die bedrywe wat die hardste getref is, soos die mynbedryf, te beskerm.

Miljardêr sit gewone hamburgers voor

'n Miljardêr-sakeman van London het sy werknemers noodgedwonge gewone hamburgers in 'n vyfster-hotel gegee om te eet nadat een die vorige dag oor die kos gekla het.

Damon Buffini, voorsitter van die private aandelemaatskappy Permira, wat deur sy ongetroude ma op 'n stadsraadseiendom in Leicester grootgemaak is, was blykbaar erg onsteld. Hy het sy personeel, van wie baie in die goeie jare miljarde in die aandelemark verdien het, uitgekryt omdat hulle nie besef "hoe gelukkig" hulle is nie.

Die hamburgervoorval het by die onderneming se jaarlikse wegbreekweek by die Pennyhill Park in Surrey, waar 'n kamer meer as R15 000 per nag kos, plaasgevind.

Voltstasies open in San Francisco

Herlaaistasies vir elektriese voertuie (EV) is vandeesweek naby San Francisco se stadsaal aangeskakel nadat die burgemeester onderneem het dié omgewing sal Amerika die pad weg van brandstofenjins af wys.

"Ons doel is om die Bay Area-omgewing in die EV-hoofstad van die VSA om te skep, en 'n netwerk-infrastruktuur is noodsaaklik vir die gebruik van elektriese voertuie," het die burgemeester, Gavin Newsom, gesê.

Coulomb Technologies het Woensdag drie herlaaistasies geopen.

Duitse kanselier vra strenger maatreëls

Die Duitse kanselier Angela Merkel het Saterdag op die vooraand van 'n Europese Unie-spitsberaad oor die wêreldwye ekonomiese insinking weer 'n beroep op strenger maatreëls vir die beheer van finansiële markte gedoen.

"Daar behoort nie meer gapings in die internasionale regulering van finansiële produkte te wees nie," het Merkel gesê.

Sy het ook gesê vandag (Sondag) se vergadering in Berlyn tussen leiers van Europa se groot moondhede moet besluit oor bepalings vir 'n eenvormige Europese benadering oor die finansiële krisis voor die komende G20-spitsberaad in Londen in April.

Wal-Mart skik oor rassediskriminasie

Die Amerikaanse kettingwinkelreus Wal-Mart het sowat R175 miljoen uitbetaal in 'n massa-eis oor vermeende rassisme in sy proses om vragmotorbestuurders aan te stel, het die maatskappy gesê.

Die eis is deur Daryal Nelson en Tommy Armstrong ingestel wat beweer het dat Wal-Mart, Ing. en Wal-Mart Vervoer "teen Afrika-Amerikaners vir werwing en indiensneming op die grondslag van ras gediskrimineer het".

Wal-Mart, die wêreld se grootste kleinhandelaar, het besluit om "in die beste belang van ons maatskappy, ons aandeelhouers en ons vennote" te skik, het die woordvoerder Daphne Moore Vrydag in 'n verklaring gesê.

Saturday, 21 February 2009

Nestle groep maak staat op goedkoper produkte

Die Nestlé groep gaan hul goedkoper produkte bemark ten einde die ekonomiese resessie te oorleef.

Paul Bulcke, die hoofuitvoerende beampte, sê die groep glo dat 2009 tog ‘n goeie jaar sal wees, en dat hul verwag om meer van hul goedkoper produkte te verkoop, aangesien verbruikers minder uiteet.

Ryanair verwyder inboektoonbanke

Die Ierse lae-koste lugredery Ryanair gaan teen die einde van die jaar al hul inboektoonbanke en personeel verwyder by lughawens ten einde kostes te bespaar.

Hierdie aankondiging is Saterdag deur die hoofuitvoerende beampte, Michael O'Leary, gemaak. "Ons sal slegs ‘n area beskikbaar stel waar bagasie afgegee kan word. Alles anders sal via die Internet plaasvind,” het hy gesê.

"Uiteindelik hoop ons dat slegs een uit elke vyf mense bagasie sal inboek." ‘n Woordvoerder van Ryanair het gesê dat 97 persent van hul kliënte alreeds aanlyn bespreek, en dat 75 persent aanlyn inboek.

O’Leary se aankondiging was dus “die volgende logiese stap”.

GM wil ontslae raak van Saab

Slegs drie dae nadat General Motors die Amerikaanse regering ingelig het dat hulle moontlik ontslae gaan raak van hul Sweeds-gebasseerde handelsmerk Saab, is hierdie sukkelende eenheid Vrydag opgegee vir herorganisering.

Die wêreldwye ekonomiese krisis het die VSA motorreuse forseer om ontslae te raak van enige handelsmerke wat nie wins toon nie. Die besluit berus nou by Europose regerings om te besluit of dit die moeite werd is om hulle te red.

Die hoofuitvoerende beampte van GM, Fritz Henderson, het die Amerikaanse industrie-analiste Dinsdag ingelig dat die maatskappy besig is om met die Europese vakbonde samesprekinge te voer oor kostevermindering.

Staalproduksie neem af

Die produksie van staal in Suid-Afrika het met 36.5% gedaal sedert Januarie verlede jaar, het die Wêreld Staal-organisasie Vrydag aangekondig.

Volgens hierdie organisasie se data was die Suid-Afrikaanse produksie in Januarie 2009 ongeveer 472,000 metrieke ton, in vergelyking met die 744,000 metrieke ton wat gedurende dieselfde maand verlede jaar geproduseer is.

Amerikaanse banke nie genasionaliseer

President Barack Obama se administrasie ontken gerugte dat sekere Amerikaanse banke wat in finansiële moeilikheid is, genasionaliseer gaan word.

Die aandele van hierdie finansiële instansies het verder gedaal nadat die markte ‘n verdere knou gekry het.

"Die administrasie is steeds daarvan oortuig dat die banksisteem geprivatiseerd moet wees,” het die Withuis se woordvoerder, Robert Gibbs, Vrydag aan joernaliste gesê.

Hierdie uitspraak kom nadat daar gespekuleer is dat die Bank van Amerika en Citigroup moontlik genasionaliseer gaan word.

Rand kan tot R10,80 daal, waarsku RMB

Die rand sal die komende paar weke by die deur uit glip en R10,80 per dollar haal, het wisselkoersontleders van die Rand Aksepbank Vrydag gewaarsku.

"Ons dans nou al 'n rukkie naby die deur en hou die verswakkende positiewes dop, maar ek dink dis tyd om by die deur uit te glip en die partytjie te verlaat," het John Cairns van die RMB gesê.

"Dis tyd om te hol."

Cairns het gesê die negatiewes wat die rand in die gesig staar, het net te veel geword om te hanteer. Een daarvan is die feit dat Amerikaanse ekwiteite van die begin van die jaar af daal, en Donderdag het die DOW Jones op sy laagste vlak in ses jaar gesluit.

"Die rand het dit nog nie weerspieël nie," het hy gesê.

Kruger- en Mandela-goud bo

Suid-Afrikaanse beleggers duik kop eerste in goud om hulle in die onsekerheid van die wêrel;d se aandelemarkte te verskans.

Krugerrande en goue Nelson Mandela-munte word links en regs opgeraap, het die Suid-Afrikaanse maatskappy SA Gold Coin Exchange Vrydag gesê.

Die immer gewilde Krugerrand het deur die R10 000-kerf gebars.

Die Johannesburgse sekuriteitebeurs (JSE) se indeks van alle aandele het die afgelope ses maande met 30 persent gedaal, terwyl die prys van 'n Krugerrand in dieselfde tydperk met 64 persent gestyg het.

Mosambiek kan SA krag gee

Mosambiek kan teen 2014 tot 6 000 megawatt (MW) se krag aan Suid-Afrika help lewer met groot beleggings wat op pad is om onbenutte natuurlike hulpbronne te kan ontgin.

Die Mosambiekese eerste minister, Luisa Diogo, het Vrydag gesê Mosambiek het die potensiaal om genoeg energie aan die suider-Afrika-streek waar nywerheidsprojekte weens kragtekorte gestaak is, te voorsien.

"Ons het 'n reeks energieprojekte in die pyplyn vir Mosambiek met beleggers wat gretig is om weg te spring," het sy gesê. Dit sluit in die tweede fase van die hidro-elektriese Cahora Bassa-aanleg in, wat tot 2 000 MW kan lewer, die Mpanda Nkuwa-dam wat toyt 1 500 MW kan lewer, en die Moatize-termiese kragstasie met 'n voorspelde vermoë van tot 2 500 MW.

Aandele-markte tuimel

Wêreld-aandelemarkte het Vrydag gedaal nadat Wallstraat oornag tot 'n sesjaarlaagtepunt gedaal het terwyl swak werkloosheidsdata in Amerika vrese vir die wêreld se grootste ekonomie versterk het.

Europa se vernaamste markte het gedaal met omtrent 3%, met beleggers wat verkies het om hulself te verskans te midde van toenemende vrese vir 'n verlengde globale ekonomiese afplatting, met vertroue in die banksektor wat weer afgeneem het.

Londen het in Vrydagoggend-verhandeling 2,81% gedaal, Frankfurt het 3,16% gedaal en Parys 3,41%.

Wallstraat se Dow Jones-nywerheidsgemiddeld het oornag 1,19% verloor en geëindig op 7 465.95 punte – die laagste sluitingsvlak sedert 9 Oktober 2002.

"Dit kan 'n redelik skadelike sluiting vir die week wees nadat die Dow Vrydagaand onder die 7 500-vlak gesluit het – die laagste in omtrent 6 jaar," het die CMC Markets-handelaar Matt Buckland gesê.

Britse motorvervaardiger kan sneuwel

'n Britse motorvervaardiger is glo op die punt om toe te maak, wat 100 000 poste bedreig, het die vakbondverteenwoordiger Alistair Darling Vrydag gewaarsku.

Die naam van die aanleg is nie genoem toe die kanselier die gesamentlike algemene sekretarisse van Unite, Derek Simpson en Tony Woodley, vir krisisonderhandelings by die tesourie ontmoet het.

Hulle het die vergadering aangevra ná verhoogde vrese vir die sluiting van die aanleg - selfs ná 'n reddingspakket van R3,5 miljard vir die motornywerheid wat verlede maand aangekondig is.

"Ons het dit baie duidelik gemaak dat die vooruitsig van die sluiting van 'n aanleg 'n vernietigende uitwerking op Britse vervaardiging kan hê. Onmiddellike en doeltreffende ingryping van die regering is nodig." - Praag

Friday, 20 February 2009

Geslagsgelykheid in maatskappye bekyk

Die minister in die presidensie, Manto Tshabalala-Msimang sê die regering oorweeg wetgewing wat maatskappye sal dwing om 50/50 geslagsgelykheid te implementeer.

Sy sê dit help nie net dat almal oor geslagsgelykheid praat nie. Wetgewing sal help dat iets daadwerklik gedoen word.

Stanford in Virginia opgespoor

Die Texas biljoener, Allen Stanford, wat glo die baasbrein van ’n $9.2bn bedrogspul was, is deur die FBI in die Amerikaanse staat Virginia opgespoor. Kliënte van die Stanford International Bank (SIB) het Donderdag regoor die wêreld in lang rye voor takke gestaan om hul geld te onttrek, maar tevergeefs.

'n Amerikaanse regter het vroeër Stanford se bates en eiendom bevries en reguleerders aangewys om beleggers se geld op te spoor.

Biljoener gee aandele weg

’n Sjinese biljoener beplan om sowat $600 miljoen in aandele aan liefdadigheids- organisasies te skenk in ’n gebaar wat die media sê baie herinner aan die filantropiese werk wat Microsoft stigter Bill Gates verrig.

Cao Dewang, 63, sê hy gaan 70% van sy aandele in die Fuyao Glass Industry groep weggee, maar al die finale reëlings is nog nie getref nie.

Rekenaars meer toeganglik gemaak

’n Groep van rekenaarkundiges in Afrika en taalkenners beplan om rekenaars meer toeganglik te maak vir mense wat Afrika tale praat ter ere van Internasionale Moedertaaldag wat op 21 Februarie gevier word.

Tot dusver het verbruikers van blykbaar net 36 van Afrika se sowat 2 000 tale toegang tot rekenaars in hul eie taal en daar word gehoop dié syfer sal verhoog tot 100 hierdie jaar.

Super Group sukkel

’n Woordvoerder van die Super Group sê hulle het ’n interim verlies van bykans R300m gelei weens herstrukturering.

Die vervoermaatskappy se aandele het met 24c tot 70c geval...bykans 92% die laaste jaar.

Kliënte se Stanford-rekening gevries

Kliënte van Stanford International Bank (SIB) het Donderdag regoor die wêreld in lang rye voor takke gestaan om hul geld te onttrek, maar tevergeefs.

Mense van die Karibiese Eilande tot Suid-Amerika het vandeesweek probeer - en dit nie reggekry nie - om hul geld uit Stanford International Bank en sy filiale te trek nadat Amerika skokkende bedrogklagte teen die krieket-liefhebber Allen Stanford en sy familie openbaar het.

Party beleggers, wat honderde duisende dollar belê het, het Woensdag na die Wes-Indiese eiland gevlieg en met leë hande uit Antigua, waar die bank se hoofkantoor is, teruggekeer nadat hulle meegedeel is hul rekeninge is bevries.

'n Amerikaanse regter het die Stanford-ryk se bates en eiendom bevries en reguleerders aangewys om beleggers se geld op te spoor.

Laer olieprys - laer petrolprys?

Dalende ru-olie-pryse die afgelope paar dae kan moontlike verligting vir die opwaartse druk op die plaaslike brandstofprys beteken.

Die prys van die toonaangewende Brent-ru-olie het van meer as $51 per vat vroeg in Januarie tot sowat $40 teen Donderdag gedaal. Die daaglikse onderverhaling op die prys van petrol by die plaaslike pomp het Woensdag van 63,6c Maandag tot net meer as 59c gedaal.

Die prys van petrol by die pomp is gegrond op pryse van 'n mandjie produkte van raffinaderye in Italië en die Golf-state. Die oor- en onder-verhaling is deel van die formule wat die departement van minerale- en energiesake gebruik om die prys die daaropvolgende maand te bepaal.

Verskaffers in motorbedryf kry swaar

Verskaffers in die voertuigbedryf het tuimelende winste aangemeld nadat voertuigproduksie diep gesny is weens 'n dalende vraag deur verbruikers.

Die Japanse bandevervaardiger Bridgestone het Donderdag gesê sy jaarlikse wins het verlede jaar met 47% gedaal, terwyl sy vierdekwartaalse bedryfswins in die lig van steeds dalende verkope (en in Japan ook die sterk jen) 86% laer is.

Sy Duitse mededinger Continental het ook 'n daling aangekondig, met onderneem om kostebesnoeiing te versnel.

Intussen beplan Saab om aansoek om herorganisering - 'n alternatief vir bankrotskap - te doen. GM het gesê hy sal Saab help, maar wil dié Sweedse vervaardiger aan die begin van aanstaande jaar onafhanklik maak.

Groot knou vir taxi-herkapitaliseringsprojek

Absa het die goedkeuring van alle taxi-voertuigfinansieringsaansoeke gestaak weens sy onvermoë om die egtheid van taxi-operateurslisensies te bevestig nadat dit aan die lig gekom het dat 800 000 permitte einde verlede jaar na bewering gesteel is.

Marcel de Klerk, die bestuurshoof van Absa se voertuig- en batefinansieringsafdeling, het Donderdag gesê die afdeling het taxi-voertuigfinansieringsgoedkeurings sowat twee weke gelede reeds gestaak nadat die bank agtergekom het van die lisensies was vals of gesteel.

Hy het gesê die bank weet nie of dit 'n landwye probleem is nie, maar het bewys van vals en ongeldige lisensies in die Oos- en die Wes-Kaap.

WesBank het 'n strenger proses ingestel om die lisensies na te gaan, terwyl Nedbank gesê het hy gaan nog nie die aansoeke keer nie.

Apple het 'n wurm

Apple se rekenaarverkope in die VSA was in Januarie 6% laer as dieselfde maand 'n jaar gelede en die eerste maandelikse daling in drie jaar.

Die Wall Street Journal het Donderdag berig die dollar-waarde van Apple se Amerikaanse kleinhandelverkope het in Januarie met 11% gedaal.

Daarbenewens het Apple se markaandeel in dollar in Januarie 13,7% teenoor 16,4% 'n jaar gelede gedaal.

Thursday, 19 February 2009

AngloGold verkoop myn

AngloGold Ashanti het ingestem om die Tau Lekoa goudmyn naby Orkney te verkoop aan Simmer en Jack Mines (Simmers) vir ‘n maksimum R600 miljoen.

Die verkoop sal effektief wees vanaf Januarie 2009 en Simmers sal probeer om AngloGold in kontant te betaal, maar kan AngloGold dalk in aandele ook betaal.

AngloGold het gesê dat hy Tau Lekoa verkoop aangesien dit een van die groep se kleinste plaaslike operasionele areas is.

Dit was vir hom ‘n “strategiese besluit”, het die groep gesê.

Resessie raak egskeidings

Die wêreldwye ekonomiese insinking raak nou ook egskeidings – in baie gevalle maak die vooruitsig van huisverkoop en groter finansiële druk paartjies minder geneë om hul paaie te laat skei.

Sara Carroll en haar man se huwelik van 22 jaar het nege maande gelede tot ‘n einde gekom maar hulle bly steeds saam in hulle goeie Londense voorstad aangesien hulle nou aansienlik minder sou kry vir hul huis indien hulle nou sou verkoop.

Sy sê hulle wag nou eers met die egskeiding om te sien of die ekonomie – en huispryse – verbeter.

Meer misdaad by banke

Wes-Kaapse polisie het banke gevra om sekuriteit te verskerp nadat daar ‘n toename was in mense wat agtervolg is nadat hulle sake by banke gedoen het.

Boewe sien mense glo geld trek, agtervolg hulle en besteel hulle dan later.

Senior superintendent Darius van der Ross het gesê banke het tot dusver nog nie juis veel samewerking gegee nie.

SAA in die knyp

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAA) het laat blyk dat hy in skuld verdrink en dringend meer van die belastingbetaler se geld nodig het om te oorleef.

Die lugdiens se hoof-finansiële beampte, Kaushik Patel, het geskokte LP’s in die parlement vertel dat die hoë olieprys en ander faktore dit moeilik gemaak het vir die lugdiens om te oorleef van geleende geld alleen.

Patel het gesê hoewel die lugdiens ‘n operasionele wins gemaak het, dit nie genoeg was om die olieprys en die hoë rentekoerse op sy skuld uit te skakel nie.

Switsers maak bankgeheime bekend

UBS, die grootste bank in Switserland, het Woensdag ingestem om die name van ryk Amerikaners bekend te maak wat deur owerhede verdink word dat hulle die buitelandse bankrekeninge gebruik om belasting te ontduik.

Die bank het erken dat hy skuldig is daaraan hy die VSA se inkomstediens wou bedrieg en het $780 miljoen betaal in die skikking van 'n wye Amerikaanse regeringsondersoek na sy aktiwiteite.

Dit is nie duidelik hoeveel van sy kliënte se name UBS bekend sal maak nie. Amerikaanse aanklaers het sowat 19 000 rekeninge by die bank ondersoek.

"Die Switsers het gesê dit is die einde van die Switserse bankwese soos hulle dit ken," het Jack Blum, 'n buitelandse belastingspesialis gesê. "Niemand sal die sekuriteit van 'n Switserse bankrekening meer vertrou nie."

MTN geprys oor SEB-besluit

MTN is Woensdag geprys vir sy besluit om sy SEB-ooreenkoms uit te stel.

Kenners is dit eens dat die besluit sinvol is omdat dit duur sou wees om skuld onder die huidige strawwe ekonomiese toestande aan te gaan.

MTN het verlede jaar gesê hy sou teen die eerste kwartaal vanjaar sowat 6% van die genoteerde maatskappy aan die Suid-Afrikaanse publiek verkoop om die Newshelf 664-swartbemagtigingsgroep wie se sesmaande-termyn in Desember verstryk het, te vervang.

MTN het Woensdag gesê hy stel dit weens die ekonomiese insinking tot later vanjaar uit.

36 500 poste in motorbedryf geskrap

Sowat 36 500 poste het tussen Julie 2008 en einde verlede maand weens afleggings in die Suid-Afrikaanse motorbedryf verlore gegaan.

'n Verslag deur die motorbedryfbemiddelingsraad (Mibco) lui dat dié syfer nog kan styg nadat dit gister bevestig is dat nog 400 poste by Atlantis Forge in die Wes-Kaap in die gedrang is en dat General Motors Suid-Afrika (GMSA) met vakbonde onderhandel het om sy werkmag met nog 400 uurliks besoldigde en salaris-personeel te verminder ten einde die maatskappy lewensvatbaar te hou.

Meer as 300 000 mense werk in die bedryf - sowat 38 000 by voertuigvervaardigers, 81 000 by voertuigkomponent-vervaardigers, en sowat 200 000 aan die kleinhandelkant van die bedryf, wat verkope, instandhouding en versiening insluit.

Kleinhandelverkope verras

Suid-Afrika se kleinhandel-verkoopsyfers het in Desember minder gedaal as wat verwag is en hul beste vertoning in agt maande gelewer, wat verwagtinge vir 'n Reserwebank-noodvergadering om rentekoerse afwaarts aan te pas, versterk het.

Verkope het op 'n jaargrondslag met 0,1% gedaal, teenoor 'n 4,4%-daling in November, het Statistiek SA Woensdag gesê.

Desember-verkope het die beste verkope sedert 'n 0,2%-groei in April verlede jaar verteenwoordig. Verkope vir die jaar was egter 2,2% laer en was die eerste jaarlikse daling in nege jaar.

Wêreldekonomie se groei dalk 0%

Die wêreldekonomie kan vanjaar stilstaan met 'n groeikoers van 0% namate die finansiële insinking uitwoed, het die besturende direkteur van die internasionale monetêre fonds (IMF) Woensdag gesê.

"Die volgende IMF-voorspelling, oor drie maande, kan maklik naby nul wees," het Dominique Strauss-Kahn in 'n onderhoud gesê wat Donderdag in die Franse finansiële dagkoerant, Les Echos, verskyn het.

Die IMF het reeds sy 2009-groeisyfer afwaarts tot 0,5% aangepas, en gesê ryk en ontwikkelende lande is in 'n resessie en (hul groei) kan met tot 2% daal.

Checkers klop kleinhandelresessie

Verkoopsgroei by die weelderiger Checkers-supermarkte het dié van Shoprite ingehaal namate hoë-inkomste kopers van mededingers af oorstap, het Shoprite Holdings se uitvoerende hoof, Whitey Basson, Woensdag gesê.

Basson het gesê mense in hoër inkomstegroepe het oorgestap namate Checkers-winkels verbeter is en die handelsnaam munt uit advertensieveldtogte geslaan het.

"Woolworths' se koswinkels het in die kleinhandelresessie gesukkel; Pick n Pay sukkel om sy hoërinkomste-kopers te behou; Checkers se markaandeel het van 6,7% 'n jaar gelede tot 7,3% gestyg," het Basson gesê.

Checkers-verkope het met 23,6% tot R8,57 miljard tot Desember 2008 gestyg (Shoprite het met 23,3% tot R13,6 miljard gestyg).

Wednesday, 18 February 2009

Goodyear ly verliese

Die Amerikaanse bandreus, Goodyear Tyre and Rubber, het Woensdag gesê hulle beplan om nog 5 000 poste te sny en om salarisse te bevries in 2009.

Die maatskappy het glo verliese van $330 miljoen gely in die vierde kwartaal.

Hy het reeds 4 000 poste gesny in die tweede kwartaal van 2008. Goodyear het gesê dat verkope 20% geval het in die vierde kwartaal – wat nog meer was as wat analiste voorspel het.

Afgri kondig besnoeiings aan

Genoteerde landboumaatskappy Afgri beplan om meer as 22% van sy werkers te laat gaan, het die vakbond Solidariteit Woensdag gesê.

Die besnoeiings sal plaasvind in hul vervaardigingsdivisie waar daar tans 585 werknemers is.

Solidariteit se Jaco Kleynhans het gesê die bekendmaking was onverwags aangesien die maatskappy goeie verdienstes gemeld het in hul mees onlangse finansiële opgawes.

Kleynhans het gesê dis duidelik dat Afgri die room skep van die landboubedryf en dat poste nie werklik besnoei hoef te word nie.

Donker wolk hang oor Nederland

Die Nederlandse premier, Jan-Peter Balkenende, het gister op ’n sombere perskonferensie gesê dat die ongekende inkrimping van die Nederlandse ekonomie aan die 1930's herinner.

Die Nederlandse ekonomie krimp vanjaar met 3,5%. Twee maande gelede is nog gemeen dat dit 0,75% sou wees, maar die wêreldwye ekonomiese krisis en die resessie het veel sterker toegeslaan as wat verwag is. Die krimping was in 1931 laas so groot.

Balkenende het gesê dat die styging in werkloosheidsyfers die pynlikste is van die huidige voorspelling van die Centraal Planbureau. Die aantal werkloses kan vanjaar styg tot 425 000, en volgende jaar tot 675 000. Dit is onderskeidelik 5,5% en 8,75% van die beroepsbevolking.

Verkeersontwrigting vir Durban

Motoriste kan verkeersknope te wagte wees wanneer die M4 of Ruth First snelweg langs die nuwe Moses Mabhida stadion in Durban opgeknap word voor die 2010 sokker Wêreldbekertoernooi.

Bestuurders wat na Durban Noord, La Lucia, Umhlanga, Phoenix, KwaMashu, Verulam en Tongaat ry kan probleme verwag vir die nege maande wat dit gaan neem om die opknappingswerk te voltooi.

Besonderhede van die R20m plan is Dinsdag bekend gemaak, en beloftes is ook gemaak vir ‘n voetgangertonnel.

Facebook stel gebruikers gerus

Duisende Facebook gebruikers is ongelukkig oor nuwe beleidbepalings wat hulle meen, die webwerf die vermoë gee om hul inligting te beheer.

Die nuwe voorwaardes het op 4 Februarie in werking getree maar gebruikers was nie bewus van die implikasies totdat ‘n verbruikerswebwerf dit uitgespel het nie.

Facebook stigter Mark Zuckerberg het mense verseker dat hulle steeds hul eie inligting beheer. Facebook het 175 gebruikers dwarsoor die wêreld.

Olieprys daal; Angola produseer meer

Die olieprys het tot dusver vandeesweek weer 'n knou gekry terwyl Angola gesê het hy gaan ten spyte van Opul-bepalings in April meer olie as sy toegelate Opul-kwota produseer.

Die olieprys het Dinsdag tot onder die $35-vlak per vat (na meer as $37 Vrydag) geval weens besorgdheid oor die wêreld-ekonomie.

Angola, wat deur Opul tot produksie van 1.52 miljoen vate per dag beperk word, het in Februarie sowat 1,62 miljoen vate uitgevoer, wat in Maart dieselfde sal wees, en beplan om dit in April te handhaaf.

Dit is egter steeds 200 000 vate per dag minder as in Januarie toe die beperkinge ingestel is om die olieprys, wat van oor die $147 tot onder $35 gedaal het, 'n hupstoot te gee.

MTN stel uit

MTN, Afrika se grootste selfoonmaatskappy, het sy ooreenkoms vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) uitgestel.

Die maatskappy het Woensdag gesê MTN-aandeelhouers word verwittig dat die direksie in die lig van die groot beperkings in huidige finansiële markte bepaal het dat dit nie in die beste belang van die maatskappy, sy aandeelhouers en die SEB-beleggers is om nou die beplande SEB-transaksie in die eerste helfte van 2009 soos oorspronklik beplan is, te implementeer nie.

Die maatskappy het in 'n verklaring gesê die direksie bly egter ten volle daartoe verbind om op die regte tydstip daarmee voort te gaan.

Nersa sal Eskom-verhogings heroorweeg

Suid-Afrika se kragreguleerder (Nersa) sal veranderinge in die ekonomiese klimaat en 'n staatsbesluit om lenings aan die staatsbeheerde Eskom toe te staan, in ag neem wanneer 'n besluit oor die volgende tariefverhoging geneem word.

Die Nersa-lid Thembani Bukula het gesê die omgewing het reeds drasties sedert Junie verlede jaar verander toe Nersa 'n verhoging van altesaam 27 persent goedgekeur het, wat heelwat minder was as die 53 persent waarvoor Eskom gevra het.

"Ekonomiese toestande het verander, die staat het aangedui dat hy waarborge sal verskaf, die kapitale koste vir die bou van 'n kragstasie het gestyg en Eskom se gradering is afwaarts aangepas, wat beteken ons sal dit alles in ag moet neem," het Bukula gesê.

"Ons teiken is om kosteverteenwoordigende tariewe binne die volgende vyf jaar - teen 2013 - in te stel," het hy gesê en bygevoeg hoewel tariewe tot dusver deur die bank verhoog is, 'n skaaltarief oorweeg word.

Net sowat 76 persent van alle huishoudings het huidiglik krag.

Donald Trump-casino al weer bankrot

Die Amerikaanse eiendommagnaat Donald Trump se casino-groep, Trump Entertainment Resorts, het Dinsdag 'n aansoek om vrywillige bankrotskapsbeskerming ingedien.

Die aansoek is Maandag deur die groep se direksie goedgekeur.

Die aansoek is ingevolge die sogenaamde Hoofstuk 11 gedoen, wat 'n maatskappy in staat stel om onder die wakende oog van die hof voort te gaan om sake te doen, maar 'n goedgekeurde herstruktureringsplan moet hê. Die aansoek is gedoen om krediteure te verhinder om die maatskappy te likwideer.

Dit is die derde keer dat Trump Entertainment só aansoek indien.

Allen Stanford se bates in bedrogondersoek bevries

Reguleerders van die Amerikaanse geldmark het die krieketmagnaat Allen Stanford van 'n sekuriteitebedrogspul van nagenoeg R9,2 miljard beskuldig.

Stanford kan van bedrog aangekla word vir "beloftes om onwaarskynlike en onbevestigbare hoë rentekoerse (te betaal)", het die Amerikaanse sekuriteite- en verhandelingskommissie (SEC) gesê.

'n Amerikaanse distrikshofregter het die bates van Stanford, 'n groot promotor van krieket, bevries nadat die SEC sy klagte ingedien het.

"Stanford en die klein sirkel familie en vriende saam met wie hy sy ondernemings bestuur, het massiewe bedrog gepleeg gegrond op vals beloftes en versinde geskiedkundige opbrengsdata om beleggers 'n rat voor die oë te draai," het Linda Thomsen, die direkteur van die SEC se vervolgingsafdeling, gesê. "Ons beweer hiermee bedrog van skrikwekkende afmetings, wat regdeur die wêreld gestrek het."

Tuesday, 17 February 2009

Goeie nuus vir Vodacom

Die Mededingingstribunaal het Maandag aanbeveel dat ‘n samesmelting tussen die Vodafone Groep en die Vodacom Groep goedgekeur word.

Tans word Vodacom gedeeltelik besit deur Telkom SA, wat ‘n 50% aandeel het in Vodacom en Vodafone, wat ook 50% besit.

Indien die transaksie voortgaan, sal Vodacom gelys word op die JSE en Telkom sal sy oorblywende aandele losmaak. Vodafone sal dan beheer uitoefen oor Vodacom.

Een selfoonherlaaier?

Selfoonmaatskappye werk tans aan een selfoonherlaaier wat vir alle fone sal werk.

‘n Duitse koerant het Maandag berig dat vervaardigers beplan om so ‘n toestel bekend te stel weens groeiende druk van die Europese Unie.

‘n Bedryfskenner het gesê daar word meer as 30 verskillende herlaaiers gebruik dwarsoor die EU en dit “beproef sy geduld”.

Die nuwe herlaaier sal moontlik ook omgewingsvriendeliker wees en minder elektrisiteit gebruik.

Japannese ekonomie krimp

Die Japannese ekonomie het met ‘n jaarlikse 12.7 persent gekrimp oor die laaste kwartaal, die meeste sedert die 1974 olie skok, as gevolg van die resessie in die VSA en Europa wat uitvoere geknou het.

Die bruto binnelandse produk het vir ‘n derde agtereenvolgende kwartaal geval in die drie maande tot op Desember, het die kabinet Maandag gesê.

Uitvoere het erg geval, na aanleiding van verminderde aanvraag na Corolla motors en Bravia televisies. Maatskappye soos Toyota Motor, Sony en Hitachi het reeds laat blyk dat hulle duisende mense sal moet afdank.

Amerikaners teiken kwik

Die Obama-administrasie het jare se Amerikaanse beleid omgekeer deur te vra vir 'n ooreenkoms om kwikbesoedeling, wat volgens hulle die wêreld se grootste chemiese probleem is, te verminder.

Sowat 6 000 ton kwik word in die omgewing vrygestel elke jaar, waarvan omtrent 'n derde deur kragstasies en steenkoolvure veroorsaak word. Baie kwik land in die oseane, waar dit in die voedselketting beland en gekonsentreerd is in roofvis soos tuna.

Kinders en fetusse is veral kwesbaar vir die giftige metaal, wat geboortedefekte kan veroorsaak, asook breinskade en vel wat afskilfer.

Group Five vind nuwe werk

Group Five, die gelysde konstruksie- en ingenieursfirma het opgemaak vir die verlore bestellings ter waarde van R4 miljard, wat gespruit het uit die opskorting of kansellasie van kontrakte in Doebai.

Nuwe kontrakte in Suid-Afrika wat sowat R1.8 miljard beloop sal binnekort glo aan die maatskappy toegeken word.

Mike Upton, Group Five se uitvoerende beampte het Maandag gesê die groep het weer ‘n vol bestellingsboek - sowat R13 miljard.

Hy het gesê hoewel van hul werknemers hervestig is, die maatskappy in die Midde-Ooste sal aanbly.

Twee weke vaderskapverlof gevra

Arbeidswetgewing behoort hersien te word om werkende pa's twee weke se vaderskapverlof te gun, het die minister in die presidensie, Manto Tshabalala-Msimang, Maandag gesê.

Sy het ook gesê te veel vroue gebruik nog werkloosheidsfondsvoordele nadat hul babas gebore is omdat hul kraamverlof nie ten volle uitbetaal is nie - en dit moet ook hersien word.

Tshabalala-Msimang het Maandag by 'n perskonferensie in Pretoria gesê die wet se huidige voorsiening van drie dae se vaderskapverlof is onvoldoende. "Drie dae is nie eens genoeg tyd vir 'n pa om te leer hoe om 'n doek te ruil nie," het sy gesê.

Lugdiens verklein vloot met 17%

Die Singapoerse lugdiens het Maandag gesê hy gaan sy vloot met 17 persent verklein en ondersoek ook verskeie ander kostebesparende maatreëls midde die wêreldwye ekonomiese insinking wat ook die reis- en lugvragmark hard getref het.

Die lugdiens, een van Asië se grootste, het in 'n verklaring gesê hy beplan om van 17 van sy 102 passasiersvliegtuie in die finansiële jaar van April 2009 tot Maart 2010 ontslae te raak, en oorweeg dit selfs om bestellings vir nuwe vliegtuie te kanselleer.

Singapore Airlines het gesê hy het voor die insinking reeds beplan om vier passasierstralers aan diens te onttrek, maar het dit nou tot 17 verhoog.

Die lugdiens ervaar 'n groot vermindering in vooruitbesprekings wat passasiers en lugvrag betref.

Transnet moet sny of hy ontspoor

Transnet se uitbreidingsprojek van miljarde rand lyk of dit in die weegskaal hang en die maatskappy sal na verwagting kostebesparingsmaatreëls instel, wat die uit- of afstel van nuwe projekte insluit.

Chris de Vos, die hoofsekretaris van die vervoervakbond Utatu, het Maandag gesê die Transnet-bestuur het die vakbond in kennis gestel dat die vervoerreus R4,9 miljard tussen nou en Maart - die einde van sy finansiële jaar - moet sny.

"As dit die geval is, sal hulle met ons moet praat oor 0% verhogings teenoor afleggings," het De Vos gesê.

Hy het gesê Transnet het twee weke gelede laat blyk hy beplan 'n aantal kostebesparings. Dit sluit in die afskaffing van twee beplande projekte, die vermindering van betaalde werksure, verpligte onbetaalde verlof, en die vermindering van konsultante en kontrakwerkers.

Country Foods-aandeelhouers verwerp direksie

Roberto Casaletti, 'n voormalige uitvoerende hoof van Country Foods, het Maandag weer misluk in 'n poging om beheer van die groep oor te neem nadat aandeelhouers 'n voorstel dat hy en twee van sy bondgenote op die direksie aangestel word, verwerp het.

Die voorsitter, Vusi Zwane, het gesê aandeelhouers in Country Foods, wat dringend 'n geldinspuiting van minstens R12 miljoen nodig het, het teen die drie resolusies gestem om Casaletti, sy vrou, Clara, en die gewese Zambiese sokkerster Kalusha Bwalya op die direksie aan te stel.

Casaletti is die grootste aandeelhouer met 'n aandeel van 24,2 persent, en het in September 2008 as uitvoerende hoof bedank.

Staking dreig oor verbod op oortyd

Die vervoervakbond Utatu het 'n geskil met Transnet verklaar en aangedui sy lede wat vir die spoorvragafdeling (TFR) werk, kan tot 'n staking oorgaan as die maatskappy voortgaan met sy plan om oortydwerk te verbied.

Chris de Vos, die hoofsekretaris van Utatu, het gesê Transnet het eensydig besluit hy sal nie werkers betaal wat teen die einde van Februarie meer as 60 dae se verlof opgehoop het, soos oorspronklik ooreengekom is nie.

"Sulke goed kan tot 'n staking lei," het De Vos gesê. Dit kan tot 20 000 werkers raak.

"Oortydbetaling, wat vir sommige werkers tot 'n derde van hul verdienste beteken, is deel van die lewe by Transnet vir so lank as wat almal kan onthou. Werkers het hul leefkoste volgens hul bruto-inkomste gestruktureer."

Monday, 16 February 2009

Knou vir melkboere

Honderde duisende melkkoeie in Amerika gaan slagpale toe moet gaan nadat die melkprys so laag geval het dat boere nie meer kan bekostig om hulle te voer nie.

Melkboere sê hulle het nie ‘n keuse nie en sal hul melkkoeie moet slag.

Die ekonomiese insinking tref die VSA hard en daar word gereken dat verbruikers minder uiteet asook dat die aanvraag na botter en kaas geval het.

Kenners meen tot 1.5 miljoen melkkoeie sal geslag moet word.

VSA banke in die knyp

Sommige van die groot Amerikaanse banke is volgens ekonome en ander finansiële kenners insolvent.

Verbruikers en besighede het egter nie nodig om bekommerd te wees oor hul beleggings nie, aangesien dit deur die Amerikaanse regering verseker word.

En selfs banke wat tegnies insolvent is, kan vir 'n lang tyd bly sake doen en hul finansiële gesondheid herwin wanneer die ekonomie verbeter.

Daar word baie verwag van die Obama-administrasie se stimulusplan om te help om die ekonomiese herstel aan te help en die waarde van banke se bates sal hopelik begin toeneem.

Tegniese probleem by JSE

Die JSE het Maandag tegniese probleme ervaar wat gelei het daartoe dat die beurs se hoofindekse nie verander het nie.

Dit was egter steeds moontlik om handel te dryf.

‘n JSE woordvoerder het gesê hulle was nog nie seker wat die probleem was nie.

SA en die ANC benodig Trevor

Terwyl die regerende party die afgelope ruk erg onder skandale deurgeloop het, wil dit lyk asof die party wat op 22 April stembus toe gaan, nou vasklou aan die minister van finansies, Trevor Manuel.

Die ANC het hom na bewering net so nodig soos die land en sy ekonomie. Met ‘n swaard wat oor leier Jacob Zuma se kop hang en vrae wat oor baie regeringsministers gevra word, is Manuel een van die min name in die ANC wat steeds vertroue inboesem.

In ‘n interessante onderhoud onlangs, het Manuel gesê dat een van Zuma se sterkste punte is, “dat hy weet wat hy nie weet nie.”

Manuel meen dat Zuma goeie adviseurs nodig het – mense soos Manuel, meen baie Suid-Afrikaners.

Obama bekyk behuising

Die Amerikaanse President Barack Obama gaan hierdie week begin om die behuisingskrisis in die VSA aan te spreek nadat sy stimulusplan uiteindelik deur die Kongres goedgekeur is.

Sy behuisingsplan gaan glo Woensdag in Arizona bekendgestel word.

Die $787 miljard plan behels beleggings en belastingsbesnoeiings en word beskou as die eerste groot mylpaal van sy presidensie.

Die volmaakte Valentynsdaggeskenk is...

Valentynsdag is verby, maar vir een Pretoriase egpaar was dit 'n tydjie wat vir hulle oor meer as net rooi rose, 'n boks sjokolade en 'n mooi kaartjie gegaan het.

Vir Charmaine Fouche en haar man, Neville, wat al 14 jaar getroud is, was dit 'n geval van lewe en dood nadat Charmaine in 2008 siek geword het en uiteindelik 'n nieroorplanting nodig het om haar lewe te red.

Neville het verlede week uit Haiti terug huis toe gevlieg - om haar skenker te word. Die operasie word vir Woensdag beplan.

Liberty staal hom vir resultate

Grootskaalse afleggings in Suid-Afrika kan die resultate van Liberty Holdings erg raak aangesien dié lewensversekeraar se premiegroei gedaal en afkope toegeneem het, het Johan de Kock, die hoof van navorsing by Metropolitan-batebestuurders, Vrydag gesê.

Die maatskappy het gesê hy verwag sy verdienste per aandeel sal tussen 25 tot 35 persent laer as in die vorige tydperk wees.

Cosatu kry mededinger in Gauteng

Willie Madisha, die voormalige president van die Congress of South African Trade Unions (Cosatu), beplan om voor die einde van die maand 'n nuwe werkersfederasie in Gauteng op die been te bring, het die SABC Maandag berig.

Die nuwe organisasie sal van Cosatu verskil in die sin dat hy op werkerskwessies sal fokus eerder as op politiek, het hy Sondag gesê waar hy werkers in Secunda, Mpumalanga, toegespreek het.

Hy het gesê baie vakbonde onder Cosatu se beheer word politieke partye omdat hulle nie na werkers se probleme omsien nie, maar by die politiek betrokke raak.

NHFC is op soek na groot geld

Die nasionale behuisingsfinansieringskomitee (NHFC) beplan om in sy volgende finansiële jaar nog R1,6 miljard, en in die daaropvolgende drie jaar altesaam R5 miljard, te bekom ten einde sy bedrywighede uit te brei.

Samson Moraba, uitvoerende hoof van die NHFC, het Vrydag gesê 'n verbanduitreiking is die waarskynlikste weg.

Die organisasie sal homself ook wyd bemark.

Moraba het egter gesê die NHFC lok ook befondsing uit ander bronne, waaronder multilaterale agentskappe. Sowat R800 miljoen word van een groep verwag, met die res wat van die internasionale finansieringskorporasie (IFC) sal kom, maar weens die ekonomiese insinking wil die IFC "eers wag en kyk".

MBSA het ander verskaffers

Nog voertuigkomponent-vervaardigers sal weens die afname in die plaaslike en internasionale motorbedryf sluit.

Só waarsku Hansgeorg Niefer, die voorsitter van Mercedes-Benz Suid-Afrika (MBSA) se bestuursraad, wat verlede week aangekondig het hy het gebeurlikheidsplanne vir die meeste van sy verskaffers in plek om komponente elders te bekom, maar bygevoeg dié alternatiewe het niks met die ekonomiese afplatting te doen nie.

Niefer het gesê tot dusver is MBSA nog net geraak deur die sluiting van die suiervervaardiger Kolbenco, maar het bygevoeg hy verwag dat "ander sal volg".

MBSA self het verlede week ook die aflegging van 150 werkers aangekondig.

Sunday, 15 February 2009

Microsoft beplan reeks kettingswinkels

'n Veteraan-bestuurder van een van die wêreld se grootste kleinhandel-kettingwinkels begin Maandag by Microsoft werk met die doel om Microsoft-winkels wat in die sagtewarereus se produkte spesialiseer, op die been te bring.

Die eerste op die sakelys vir David Porter, wie se ondervinding 25 jaar by Wal-Mart insluit, sal wees om te bepaal waar en wanneer om Microsoft-winkels te open, en hoe hulle ontwerp moet word.

Microsoft volg in die voetspore van sy groot mededinger, Apple, wat sy inkomste en wins aansienlik verhoog het deur sowat agt jaar gelede 'n string suksesvolle Apple-winkels te open.

Woonstel teruggekry

'n Enkel-pa van Phoenix wat sy karige woonstelletjie vir 'n appel en 'n ei verkoop het skaars 'n uur nadat hy sy titelakte ontvang het, het sy blyplek teruggekry.

Sanjeev Bissessur was van die baie Phoenix-stadsraadsinwoners wat die titelakte vandeesweek by die eThekweni-munispaliteit gekry het. Hy het die woonstel in Whetstone, wat hy en sy familie die afgelope 30 jaar gehuur en hy ná sy ma se dood verlede jaar oorgeneem het, vir 'n skamele R30 000 aan 'n vriend, Ally Shaik, verkoop. Die woonstel is meer as R100 000 werd.

Bissessur het twee dae later sy besluit verander, en het sy woonstel met die hulp van die ANC-politikus Omie Singh teruggekry. Shaik het dit egter nie teengestaan nie. "Ek het gesê hy en sy seun kan maar daar bly solank hulle wil, maar hy het sy besluit verander," het Shaik gesê.

ANC belowe om SEB-beleid te hersien

Suid-Afrikaanse minderheidsgroepe behoort ook bemagtig te word ten einde hul regmatige rol in die ekonomie en openbare sektor te speel, het die ANC se nasionale tesourier, Matthew Phosa, gesê.

Phosa het Vrydagaand by die Griffiths en Victoria Mxenge-gedenklesing in Durban gesê dit maak nie saak of daardie minderhede 'n dekade en 'n half gelede nog voorkeurtoegang tot geleenthede gehad het nie.

"Ek sal veral graag wil toesien dat verlore vaardighede uit die openbare sektor deur interaksie met die sogenaamde minderhede herwin word," het Phosa gesê.

Die ANC het belowe om die SEB-beleid te hersien.

Meer as 250 eis reeds ná treinongelukke

Metrorail is toegegooi onder eise van slagoffers van verlede week se twee treinongelukke waarin meer as 300 pendelaars beseer is.

Meer as 250 eise is reeds ingedien - skaars 'n week nadat mobiele eisekantore by die Midway- en Springs-stasies vir slagoffers geopen is, het Sibusiso Ngomane, 'n woordvoerder van Metrorail, gesê.

'n Voorlopige ondersoek het onthul die ongeluk tussen Midway en Lenz, waar een trein van agter in 'n ander vasgery het en 181 pendelaars beseer is, is veroorsaak deur sinjaaltoerusting wat nie reg gewerk het nie. Die ander botsing - tussen New Era en Pollack Park waarin 144 mense beseer is - is vermoedelik deur 'n menslike fout veroorsaak.

Bob Marley herleef in handelsprodukte

Lus vir 'n koppie Marley-koffie? Kry jou by die One Love Café...

'n Nuwe Bob Marley-mania is aan die broei danksy 'n omvattende handelsware-ooreenkoms wat vandeesweek deur die kinders van die reggae-koning en Hilco Consumer Capital, 'n private aandelemaatskappy wat daarin spesialiseer om nuwe lewe in ou handelsmerke te blaas, aangegaan is.

Die nuwe House of Marley-produkreeks behels 'n reeks Bob Merley-produkte met 'n gewaarborgde handelsmerk, wat hoofsaaklik klerereekse soos One Love, Bob Marley, Catch A Fire, Three Little Birds en Tuff Gong insluit.

Saturday, 14 February 2009

Temapark moontlik in Beijing ontwikkel

‘n Berig van Beijing lui dat Universal Studios wil blykbaar ‘n reuse temapark van $1.5bn wil ontwikkel en wag slegs vir die goedkeuring van die Sjinese regering.

Indien dit goedgekeur word, sal die park in een van Beijing se voorstede ontwikkel word.

Pillay: Ford Ikon is net die motor

Ford SA se bemarkingsbestuurder Ben Pillay sê die Ford Ikon reeks is opgradeer vir die 2009 model en kan ‘n groot “speler in die B-segment word”.

Hy sê die motor word gekenmerk deur betroubaarheid, bekostigbaarheid en lae onderhoudskoste sonder om spasie en gemak in te kort.

SA ekonomie vertoon goed

Die minister van finansies, Trevor Manuel, sê Suid-Afrika vertoon baie beter as baie ander lande gesien in die lig van die wêreldwye ekonomiese krisis.

Hy het aan ‘n radiodebat ná sy begrotingsrede deelgeneem en gesê hierdie feit word nie dikwels deur Suid-Afrikaners waardeer nie, omdat mense hulleself baie keer onderskat. Hy sê oplossings kan gevind word as daar samewerking is.

GM nog in die pekel

Die Wall Street Journal berig dat General Motors van plan is om die Barack Obama administrasie vir nog biljoene dollars te vra om bankrontskap te voorkom.

Dit sal blykbaar ‘n tameletjie vir die Amerikaanse kongres wees, want ingevolge die land se ekonomiese stimuleringspakket het GM verlede jaar reeds $13.4bn gekry.

Mercedes help afgedankte werknemers

‘n Woordvoerder van Mercedes-Benz SA sê spesiale reëlings word getref om die 150 mense wie hul werk by die Oos-Londense tak van die maatskappy verloor het, by te staan.

Hy sê hulle probeer om die afdankingsproses nie uitermate uit te rek nie en so gou moontlik mense te kry om aansoek te doen om ander werk te kry.

Aveng met 8% van omset beboet

Die genoteerde konstruksie- en ingenieursgroep Aveng is Vrydag deur die mededingingskommissie met R46,3 miljoen as deel van 'n skikkingsooreenkoms weens sy rol in 'n kartel in die betonbedryf beboet.

Dit volg op die kommissie se ondersoek na die bedryf oor prysvasstellingsgebruike op die gebied van betonprodukte, wat deel is van 'n reeks produkte wat vervaardig word deur Infraset, 'n afdeling van Aveng.

Aveng het erken dat Infraset betrokke was by prysvasstelling, markverdeling en onderhandse tenders in die mark vir betonpypwerk in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap.

Olieprys lig sy kop

Olie het Vrydag uit sy weeklange ineenstorting gebreek en $1.54 tot $35.52 per vat in New York herstel. Die prys het oornag met $1.96 gedaal en Vrydagoggend op $33.98 gestaan.

Die prys het Maandag op $42 per vat geopen, en elke dag getuimel namate handelaars min optimisme aan die dag gelê het dat Amerika se hulpplan van $790 miljard en die tesourie se plan om meer as $1 triljoen (miljoen miljoen) te bestee om banke te help, die Amerikaanse ekonomie - en dus olieverbruik - gou sou stimuleer.

Pryse het Donderdag op die laagste vlak van die week - $33.98 per vat - gesluit en dit het gelyk asof dit in die rigting van die vorige laagtepunt in Januarie en Februarie - $32.48 en $32.70 - op pad was.

Amerikaanse huise vir eers nie teruggevat

JPMorgan Chase en Citigroup is besig om werk daarvan te maak om te verhinder dat huise teruggeneem word terwyl die Obama-regering sy planne ontwikkel om die Amerikaanse huismark te help.

Die uitvoerende hoof van JPMorgan, Jamie Dimon, het gesê dié New Yorkse maatskappy beplan om van 6 Maart af nuwe beslagleggings vir eienaarbesette huise te staak. Dimon het dié onderneming in 'n brief aan die Barney Frank, voorsitter van die huisfinansieringskomitee, wat dit Vrydag bekend gemaak het, onthul.

Citigroup se beslagleggingsmoratorium is van toepassing op alle "Citi-verbande op eiendomme wat die eerste woning van die klant is" tot 12 Maart of totdat president Barack Obama se regering die detail van die leningsaanpassingsprogram aankondig, wat ook al eerste is.

Sonitel-privatisering misluk

Chinese en Libiese aandeelhouers in 'n telekommunikasiemaatskappy van Niger gaan as eienaars verwyder word weens swak bestuur van die maatskappy, het 'n minister van Niger Vrydag gesê.

Die gesamentlike Chinese-Libiese onderneming Dataport het 'n aandeel van 51 persent in Sonitel gekoop toe dit in 2001 geprivatiseer is, terwyl die staat 45 persent en die personeel vier persent behou het.

"Dataport sal nie meer enige deel van die kapitaal van Sonitel of sy filiaal Sahel-Com hou nie en al twee sal van 20 Februarie weer onder eienaarskap van die staat kom," het Niger se minister van kommunikasie, Mohammed Ben Omar, in 'n verklaring gesê en die privatisering as mislukkig bestempel.

SAA stel waarnemende hoof aan

Die Suid-Afrikaanse lugdiens SAA het Chris Smyth Vrydag as waarnemende uitvoerende hoof aangewys ná 'n direksiebesluit om Khaya Ngqula op spesiale verlof te stuur ten einde 'n dringende ondersoek te hou.

Die lugdiens het Woensdag aangekondig dat Ngqula vrywillig spesiale verlof geneem het, maar het nie verdere besonderhede gegee nie.

SAA het gesê sy direksie sal 'n onafhanklike, eksterne agentskap aanstel om 'n ondersoek na sekere bestuurskwessies te doen.

Smyth is die bedryfshoofbestuurder by SAA.

Friday, 13 February 2009

IOL Property se webtuiste groei geweldig

Bykans 70 000 mense wat woonplek soek het meer as 1.4 miljoen keer IOL Property se webtuiste besoek gedurende die eerste maand nadat dit van stapel gestuur is.

‘n Woordvoerder sê dit is meer as dubbel as wat die maatskappy verwag het, “maar dit is baie opwindend, want ons groei nog steeds en weet nie waar dit gaan eindig nie.”

Aveng word swaar beboet

Die Mededingingskommissie het bekend gemaak dat die konstruksie en ingenieursgroep Aveng, wat op die aandelebeurs genoteer is, met R46.3m beboet is vir sameswering.

Dit volg na ‘n ondersoek deur die kommissie in verband met betonprodukte wat deur Infraset vervaardig word – een van Aveng se maatskappye.

G7-ministers bespreek krisis

Die Groep van Sewe ministers van finansies en hoofde van banke gaan later Vrydag in Rome vergader om die wêreldwye ekonomiese krisis te bespreek te midde van ernstige waarskuwings rakende proteksionisme.

Die Japanese minister van finansies, Shoichi Nakagawa sê sy afvaardiging gaan ‘n sterk standpunt teen proteksionisme inneem en het dit as ‘n euwel bestempel.

Google dank werknemers af

Google sê 40 werknemers gaan hul werk verloor nadat hulle besluit het om nie verder aandag te skenk aan die plasing van advertensies op radiostasies nie.

Google probeer al die afgelope twee jaar om sakebedrywighede op radiostasies te adverteer, maar dit was blykbaar nie baie suksesvol nie.

Manuel weerspreek glo regering

Organisasies wat kinderregte beskerm is ontsteld oor die begroting wat die minister van finansies Trevor Manuel voorgelê het, want volgens hulle het hy die beloftes van sy party, asook dié van President Kgalema Motlanthe, weerspreek.

Manuel het tydens sy begrotingsrede gesê die kindertoelae word verhoog om 15-jariges ook in te sluit en oorweeg dit om die perk tot 18-jariges te verhoog. Die organisasies sê nou Motlanthe het in sy staatsrede reeds gesê die perk sal verhoog word.

VSA-ekonomie gaan met 2% krimp - Bloomberg

Die Amerikaanse president, Barack Obama, se stimuleringsprgram sal nie genoeg wees om die grootste Amerikaanse ekonomiese afname sedert 1946 af te weer namate verbruikersbesteding sy langste daling in die geskiedenis handhaaf nie, aldus 'n peiling deur Bloomberg.

Die peiling het bevind die Amerikaanse ekonomie sal vanjaar na verwagting met nog 2% krimp - 'n halfpersent meer as verlede maand se raming.

Werkloosheid sal in 2010 na verwagting steeds hoër as 8% wees ten spyte van Obama se stimuleringsplan wat daarop gerig is om 3,5 miljoen werksgeleenthede te skep.

Valentynsdag-rose se reuk flouer

Die geur van rose sal vanjaar op Valentydsdag flouer in die VSA wees - Ecuador se blomverskepings na die VSA is tot dusver vanjaar 23 persent laer as gewoonlik, het Gonzalo Luzuriaga, die president van Expoflores, Ecuador se belangrikste blomkwekersvereniging, Donderdag gesê.

Amerikaanse blomverkopers het vroeër gesê hulle verwag dat verkope in 2009 met 10% sal daal.

Uitvoer van rose, angeliere en ander blomme uit Colombië, wat per lugvrag vervoer word, is ook laer, hoewel blomkwekers baie onseker oor die syfers is. Altesaam 60% van blomme wat in die VSA verkoop word, kom van Colombië af, sowel as 92% van angeliere en 93% van die krisante.

City Lodge amper net so vol

Al vier die handelsname in die City Lodge-groep se hotelle het 'n besettingsyfer van 81 persent in die ses maande tot Desember gehandhaaf - ten spyte van die insinking in die ekonomie. Dit was egter 'n effense 2,5% laer as verlede jaar, het die maatskappy Woensdag gesê.

City Lodge se uitvoerende hoof, Clifford Ross, het gesê hoewel besprekings deur ontspanningsreisigers tot dusver vanjaar minder is, het besprekings vir sakereisigers reeds begin toeneem. Hy verwag dat sportbyeenkomste vanjaar - waaronder die A1 Grand Prix by Kyalami; die Australiese kriekettoer en die rugbytoer van die Britse en Ierse Leeus, sowel as die Konfederasiesokkerbekertoernooi in Junie - die vraag vir die res van die finansiële jaar 'n stewige hupstoot sal gee.

Die maatskappy is besig met 'n groot uitbreidingsprogram in afwagting op die toename in toerisme in die tydperk ná die 2010-wêreldsokkerbekertoernooi. Net een nuwe hotel, 'n Road Lodge in Umhlangarif, open in 2009.

Welsyntoelaes onvolhoubaar, sê Manuel

Die staat beplan om die vereistes vir toelaes te verhoog nadat die minister van finansies, Trevor Manuel, gesê het die aantal mense wat welsynstoelaes ontvang, is onvolhoubaar.

Manuel het gesê die staat oorweeg dit om voorwaardes aan die betalings te koppel.

Die aantal begunstigdes van staatspensioen en kindertoelaes het tot 13,5 miljoen mense gestyg - wat "buitengewoon" baie is. Suid-Afrika het 5,4 miljoen geregistreerde belastingbetalers.

Die staat het die maksimum ouderdom vir ontvangers van kindertoelaes van 14 tot 15 verhoog, terwyl die ANC in sy verkiesingsmanifes gesê het hy sal dit tot 18 verhoog. Die staat oorweeg nou egter om voorwaardes daaraan te heg, soos skoolbywoning of dat die geld vir kos gebruik moet word.

Toelaes sal dit staat in die volgende jaar tot Maart 2010 R85,5 miljard kos.

CCMA red 495 van 500 poste

Die Kommissie vir Versoening, Mediasie en Arbitrasie (CCMA) het 495 poste gered deur 'n ooreenkoms te bewerkstellig waarin mynwerkers by die Buffelsfontein-goudmyn naby Klerksdorp ingestem het om gereelde ekstra skofte te werk as die maatskappy sy afleggingsplan terugtrek.

Die ooreenkoms tussen die myn, wat aan Simmer & Jack behoort, behels dat die myn pleks van 500 afleggings nou net vyf senior kontrakwerkers sal aflê en 65 kontrakwerkers permanent sal aanstel. Daarbenewens sal ondergrondse werkers een ekstra skof per maand tot die einde van die jaar werk.

Die myn het gesê stygende bedryfs- en materiaalkoste het die stap genoodsaak.

Thursday, 12 February 2009

Motorbase is onbewus van gevare

Baie uitvoerende beamptes van motormaatskappye wêreldwyd begryp nie ten volle die implikasies en gevaar van die wêreldwye ekonomiese insakking op hul besighede nie, toon ‘n verslag deur Pricewaterhouse Coopers.

Van die 62 base wat ondervra is, was net 38% bekommerd oor hul aanvoerketting as ‘n moontlike bedreiging vir die langtermyn groei van hul besighede.

Ses plaaslike onderdele vervaardigers het reeds gesluit, 1 100 poste is gesny en ses ander groot vervaardigers het laat blyk dat hulle poste gaan besnoei.
Die verslag het voorspel dat 13% minder motors vervaardig sal word hierdie jaar.

Frankryk skep werk

Die ekonomiese ineenstoring het onverwagse goeie nuus beteken vir Parys se beroemde Notre Dame katedraal.

Danksy die Franse regering se pogings om die ekonomie te stimuleer deur verwaarloosde kulturele projekte te befonds, sal die katedraal in Mei R25 miljoen kry om sy torings op te knap.

Die opknappingswerk sal tot 18 maande duur en werk vir baie beteken.

Veesiekte tref Chinese plaas

Owerhede in China het meer as 400 koeie geslag nadat bek-en-klouseer vee besmet het naby Sjanghai.

‘n Nasionale laboratorium het bevestig dat die siekte op die plaas uitgebreek het. Meer as 40 koeie het laas week begin siek word. Die voorval blyk geisoleerd te wees.

Die siekte het laas in 2007 in China uitgebreek. Mense kan dit nie aansteek nie maar dis uiters aansteeklik vir skape, bokke en vee.

Regering kyk na behuising

Die regering gaan oor die volgende drie jaar R44.8 miljard spandeer op behuising om toelae van ongeveer R54 000 te bewerkstellig vir diegene wat huishoudelik ‘n inkomste van onder R3 500 ‘n maand het.

R500m van hierdie geld sal bestee word om 25 000 huishoudings te hervestig in die Khutsong gebied terwyl R120m opsy gesit word vir die ontwikkeling van ‘n behuisingsontwikkelingsagentskap.

Pas op vir maklike wagwoorde

Studies wys dat mense steeds baie onoorspronklik is as hulle wagwoorde moet uitdink vir epos, aanlynbankgeriewe en vliegtuigkaartjies.

Dit maak dit soveel makliker vir kriminele om toegang tot mense se besonderhede te kry, sê navorsers.

‘n Onlangse studie van 28 000 wagwoorde het gewys dat mense liewer ‘n maklike uitweg kies.

Sestien persent het ‘n eerste naam gekies, hul eie of een van hul kinders s’n, terwyl 14% staatgemaak het op die rekenaartoetsbord vir kombinasies van die nommers 1234 of die ooreenstemmende QWERTY op die Engelse toetsbord. Vyf persent het die naam van TV programme gekies.

Geen koerante vir 7 weke

In die Wes-Afrikaanse land Guinee-Bissau is daar nou al sewe weke lank geen koerante beskikbaar nie.

Atizar Mendes van die Ultima Hora weeklikse publikasie het gesê daar is ‘n krisis by die land se drukkerye en dat dit nou al meer as 45 dae aanhou.

Die land het net vyf publikasies maar nie een van hulle is die afgelope tyd beskikbaar gewees nie omdat hulle nie gedruk kon word nie.

Daar is glo ook ‘n probleem met papierverskaffing in die land.

Wêreld prys Zimbabwe, maar...

Verskeie wêreldleiers het Woensdag Morgan Tsvangirai se inlywing as Zimbabwe se eerste minister geprys, maar gesê 'n onstuimige pad vorentoe wag op Zimbabwe met president Robert Mugabe nog in beheer.

Die Europese Unie het gesê die nuwe regering, wat 'n uitdaging van werkloosheid van 94 persent en 'n bevolking wat van die honger vergaan die hoof moet bied, sal homself eers moet bewys voordat hy groot ekonomiese hulp kan verwag.

Eskom raak ontslae van nie-kern-bates

Eskom beplan om van sy nie-kernbates ontslae te raak, maar sal daarop fokus om sy besteding laer as sy inkomste te hou, het die staatsmaatskappy se uitvoerende hoof, Jacob Maroga, gesê.

Eskom het nog nie besluit wat om met sy mees opvallende nie-kernbate, sy aandeel in 3 miljoen ton se uitvoer per jaar in die steenkooluitvoerterminaal in Richardsbaai, te doen nie, het Maroga gesê. Handelaars soos die Switserse reus Glencore sit al jare daaragter, en het al verskeie aanbiedinge gedoen om dit vir afslagprys-steenkool te verruil.

"Wat ons ook al daarmee doen, moet ons steenkoolverskaffing aan ons aanlegte verseker," het Maroga gesê. "Ek verkies egter om nou nie te veel daaroor te sê nie. Ons moet nou op ons kernbesigheid en diens fokus," het hy gesê.

Absa bepleit hulp met SEB

Suid-Afrika se projek om aandele in mynmaatskappye aan swart beleggers te verkoop om op te maak vir hul uitsluiting onder apartheid, is ook deur die finansiële krisis getref en het hulp nodig, het 'n top-bankamptenaar Woensdag gesê.

Korporatiewe ooreenkomste ingevolge die swart ekonomiese bemagtigingsprogram (SEB) is uiters negatief deur die ekonomiese insinking en dalende metaal- en aandeelpryse getref, en van die bates kan verlore gaan tensy die staat, die mynbedryf en finansiële instellings inspring om te help.

"Almal moet om die tafel vergader, en dit moet gou gedoen word," het Cliff Zephyrine, hoof van Absa Capital se afdeling vir bemagtiging, gesê.

Ekonome prys Manuel

Ekonome het die voorspelling van die minister van finansies, Trevor Manuel, vir Suid-Afrika se groei in 2009 geprys.

Die Stanlib-ekonoom Kevin Lings het Woensdag ná die minister se begrotingstoespraak gesê dit is "realisties". Manuel het gesê Suid-Afrika se ekonomie sal vanjaar met 1,2% groei - 'n aanpassing van sy skatting van 3% in Oktober, en die laagste koers sedert 1998.

Behalwe vir die groot tekort van tussen 3,8 en 3,9%, het die begroting nie juis verrassings ingehou nie, het Lings gesê.

Lugdiens-baas met "spesiale verlof"

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAA) se uitvoerende hoof, Khaya Ngqula, is met spesiale verlof, het die lugdiens se direksie Woensdag onthul.

Die direksie is besig om "verder met hom te onderhandel", maar 'n waarnemende uitvoerende hoof sal in sy plek aangewys word.

Dit volg op 'n verklaring dat die SAA-direksie 'n onafhanklike ondersoek gelas het na bewerings oor ongerymdhede waarby Ngqula betrokke is. Die ondersoek sal as uiters dringend hanteer word.

Wednesday, 11 February 2009

Tyd om op te hou rook...

Sigarette en alkohol gaan nog duurder word, het die minister van finansies, Trevor Manuel, Woensdag gesê toe hy die 2009 begroting bekendgestel het.

‘n Pakkie sigarette sal 88 sent meer kos en wyndrinkers sal ook 10.5 sent meer betaal vir ‘n bottel wyn.

Bierdrinkers sal sewe sent meer moet betaal vir ‘n blikkie bier.

Fokus op onderwys

Die regering se belofte van kostevrye onderwys begin materialiseer met die hoeveelheid geen-fooi skole wat gaan toeneem tot ongeveer 60% van alle skole.

Sommige meen dat dit nie toevallig is dat hierdie veranderinge kom in ‘n verkiesingsjaar nie.

Skoolvoedingsplanne het ook ekstra befondsing gekry in die nuwe begroting van 2009, wat Woensdag deur die minister van finansies, Trevor Manuel, bekend gestel is.

Manuel se goeie nuus

Hierdie jaar se begroting kom met goeie en slegte nuus vir verbruikers.

Die beste nuus was waarskynlik die belastingverligting wat R13.6 miljard beloop, een van die maniere waarop die huidige swak ekonomiese toestande se impak versag is.

Mense onder 65 wat minder as R54 200 per jaar verdien, hoef geen belasting te betaal nie, asook diegene oor 65 wat minder as R84 200 verdien.

Finansiesminister Trevor Manuel het ook meer geld beskikbaar gemaak vir dié wat op welsynstoelae staatmaak – vanaf April gaan party toelae op met tussen R50 en R680 per maand.

Hoe gelukkig is jou werknemers?

Elke organisasie die wêreld oor maak staat op drie faktore vir hul sukses: prosesse, tegnologie en mense, meen een arbeidskonsultasiefirma.

Big Five meen dat baie maatskappye te min aandag gee aan werknemers, wat ‘n kritiese probleem kan veroorsaak.

Maak nie saak hoe goed ‘n maatskappy se tegnologie en prosesse is nie, as werknemers onglukkig is, affekteer dit dienslewering, sê die firma.

Dikwels is dit ook die werknemers wat sorg daarvoor dat een maatskappy van ‘n ander onderskei word en daarom moet spesiaal aandag aan hulle gegee word.

ArcelorMittal beskerm werkers

Daar sal geen poste besnoeiing wees van permanente werkers by ArcelorMittal SA nie, het die staalverskaffer Woensdag gesê.

“Ons sal nie permanente poste afskaf nie – hierdie mense het vaardighede wat ons nie wil verloor nie,” het woordvoerder Sven Lunsche gesê.

“Wanner die opbloei kom, gaan ons hierdie mense nodig hê.”

SA Weermag het dringend geld nodig

Die Suid-Afrikaanse leër sal binnekort 'n groot uitdaging die hoof moet bied tensy hy gou 'n broodnodige geldinspuiting kry.

Dit is die siening van sommige van Suid-Afrika se voorste verdedigingsontleders op die vooraand van die jaarlikse stand van die leër-toespraak wat Donderdag deur die hoof van die leër, luitenant-generaal Solly Shoke, in Pretoria gelewer word.

Die tekort aan geld beteken dat die leër nie sy internasionale militêre verpligtinge soos vredesoptredes in Afrika sal kan onderhou nie.

Steenkooluitvoer verloop seepglad

Steenkool-uitvoerders is in hul noppies met die vertoning van Transnet se spoorvragafdeling, TFR - veral die afgelope twee maande toe die vervoerreus alles waarvoor hy gevra is, na die Richardsbaaise steenkoolterminaal vervoer het.

Groot en klein steenkooluitvoerders het gesê TFR se nuwe span by Mpongeni het vir baie duideliker kommunikasie en samewerking begin sorg, wat dit heelwat makliker gemaak het om die steenkool aan die beweeg te hou.

Steenkooluitvoer is verlede jaar tot 61 miljoen ton beperk weens 'n tekort aan treine, maar sal vanjaar weens beter beskikbaarheid van treine tot 65 tot 68 miljoen ton styg.

Eskom vra weer tariefverhoging

Die staatsbeheerde elektrisiteitsverskaffer, Eskom, het nog 'n aansoek vir 'n tariefverhoging by die nasionale kragreguleerder (Nersa) ingedien.

Nersa het verlede jaar in Junie reeds 'n tariefverhoging goedgekeur en het destyds gesê Eskom mag pryse oor die volgende drie jaar met tussen 20% en 25% per jaar verhoog.

Die minister van minerale- en energiesake, Buyelwa Sonjica, het Dinsdag gesê sy weet nie watter verhoging Eskom wil hê nie. "'n Voorstel is deur Eskom ingedien... ek weet nie wat die inhoud van die voorstel is nie," het sy gesê.

Motorbedryf beplan poste-slagting

Die motorbedryf in KwaZulu-Natal beplan blykbaar 'n slagting om honderde - moontlik duisende - werkers af te lê.

Mbuso Ngubane van die nasionale metaalwerkersvakbond (Numsa) het gesê Toyota, wat sy hoofaanleg in Prospecton net buite Durban het, beplan glo om meer as 700 tydelike werkers tussen Februarie en Maart vanjaar af te lê. Meer as 160 tydelike werkers is glo reeds gevra om te loop - blykbaar sonder vakbondverteenwoordiging, soos wat deur die wet vereis word.

"Die maatskappy bied werkers ook vrywillige skeidingspakette aan. Meer as 1 000 mense sal hierdeur geraak word," het hy gesê.

Numsa vra LUR om afleggings te keer

Die nasionale metaalwerkersvakbond (Numsa) in KwaZulu-Natal het Dinsdag 'n beroep op die provinsie se LUR vir ekonomiese ontwikkeling, Zweli Mkhize, gedoen om massiewe afleggings in die voertuigbedryf te help keer.

Mbuso Ngubane van Numsa het gesê die provinsie se voertuig-, bande- en komponente-bedryf verwag groot afleggings.

"Ons voel die staat het 'n rol in 'n situasie soos hierdie om te vervul," het Ngubane gesê en bygevoeg 'n staking word beplan om maatskappye te dwing om 'n moratorium op afleggings te plaas.

Tuesday, 10 February 2009

Aluminiumreus in die knyp

Aanstellings by die aluminiumreus Hulamin is gevries, het die maatskappy Dinsdag bekendgemaak.

Kontrakposisies is ook grotendeels gekanselleer, het die maatskappy gesê met die vrystelling van hul bedryfsresultate vir die jaar wat op 31 Desember 2008 verby was.

Die maatskappy het gesê hy reageer op die swakker wêreldwye mark.

Alle oë op Manuel

Suid-Afrika gaan na verwagting 'n hele klomp geld spandeer om sy ekonomie te versterk teen die globale afplatting, wanneer die minister van finansies, Trevor Manuel Woensdag die begroting bekendmaak, het ekonome gesê.

Ekonome voorspel dat met inkomstes wat afgeneem het en beloftes van spandering wat toegeneem het, die begrotingsoorskryding kan toeneem van 1,6% van die bruto binnelandse produk – teen die laaste skatting in Oktober – tot soveel as 3,5%.

In Oktober het Manuel Suid-Afrika se eerste begrotingstekort aangekondig sedert 2005, as 'n gevolg van verswakking in uitvoere en daling in kommoditeitspryse.

Oliepryse onder $40

Oliepryse het Dinsdag in Asië onder $40 per vat rondgespeel selfs na beleggers bewus geraak het van die massiewe Amerikaanse stimulushulppakket as 'n moontlike versterking vir die dalende ru-olie aanvraag.

Ligte ru-olie vir Maartlewering het met 35 sent gestyg tot $39,91 per vat in Singapoer op die New York Merchatile Exchange. Die kontrak het oornag met 61 sent gedaal tot op $39,56.

Die senaat het Maandag 'n $838 miljard ekonomiese stimulus wet in 'n toetsstemming goedgekeur, en die finale goedkeuring vir Dinsdag gelaat. Die plan sal dan gerekonsilieer moet word met 'n $819 miljard pakket deur die huis van verteenwoordigers.

Beleggingsooreenkoms wankel

China se grootste beleggingsooreenkoms in Afrika is besig om te wankel nadat Westerse skenkers begin druk toepas het om 'n minerale-vir-infrastruktuur kontrak in die DRK ter waarde van $9 miljard te heronderhandel.

Volgens die ooreenkoms sal 'n staatsbeheerde konsortium van Chinese maatskappye paaie, spoorweë, hospitale en universiteite bou in ruil vir die reg om 'n kobalt- en kopermyn te ontwikkel.

Maar druk om die ooreenkoms te verander het gekom van Westerse skenkers wat nie sal skiet gee op historiese skuld van $11 miljard van die regering van president Joseph Kabila indien hy die Chinese finansiering op kommersiële terme aanvaar nie.

Goeie nuus vir verbruikers

Ten minste drie groot kleinhandelaars het planne om kospryse te sny, met Woolworths wat Maandag aangekondig het dat hulle pryse gaan sny op 245 van hul voedselreekse.

Die besparings word gemaak op verskillende produkte; van kookolie en pasteie tot koeldranke en items soos wyn en neute.

Shoprite het ook bekendgemaak dat hy pryse gaan laat sak. Pick n Pay beplan om pryse te sny en onderhandel nog met sy verskaffers.

Dollar-verkope versterk die rand

Dollar-verkope het 'n groot bydrae tot 'n relatiewe sterk rand sedert die einde van verlede week gelewer, het Ian Cruickshanks, die hoof van strategiese navorsing by Nedbank Capital, Maandag gesê.

"Amerikaners word basies verkopers van die dollar teen ander geldeenhede. 'n Nuwe interdaaglikse patroon is onlangs gevestig - die rand bly op sy vlak van die vorige dag totdat New York open, en versterk dan in die laatmiddag," het hy verduidelik.

Cruickshanks het gesê die rand, wat Maandagoggend 'n interdaaglikse laagtepunt van R9,78 bereik het, maar daarna weer versterk het, het skerp gestyg nadat die Amerikaanse valutamarkte omstreeks 16:00 plaslike tyd geopen het. Die rand se beste was R9,5356 teen 16:25 en het teen 17:00 teen R9,6017 teen die dollar verhandel.

ZIM het g'n planne vir SA geldeenheid

Die reserwebank van Zimbabwe het Maandag bevestig dat hy nié die gebruik van die rand oorweeg om sy waardelose Zim-dollar te anker nie.

Dit volg op 'n voorstel van Suid-Afrika se president, Kgalema Motlanthe, wat Sondag in 'n radio-onderhoud gesê het dit kan vir Zimbabwe "prakties" wees om 'n ooreenkoms met Suid-Afrika se Reserwebank aan te gaan om die rand as gemeenskaplike geldeenheid te gebruik noudat 'n eenheidsregering op die been gebring is.

Gideon Gono, die goewerneur van die Zimbabwiese reserwebank, het egter gesê dit word nie oorweeg nie.

SA verloor suierfabriek; 320 werkloos

Suid-Afrika het sy laaste vervaardiger van suiers vir motorenjins verloor nadat Kolbenco van die Oos-Rand sy deure gesluit en 320 mense hul werk verloor het.

Colin Eddey, die besturende direkteur van Kolbenco, wat motorvervaardigers in Suid-Afrika en Duitsland van plaaslik vervaardigde suiers voorsien het, het Maandag gesê die wêreldwye ekonomiese insinking in die motorbedryf het 'n groot rol gespeel.

Eddey het gesê Kolbenco het 'n Volkswagen-kontrak vir later vanjaar gehad, maar daar is geen mark om die maatskappy tot dan te ondersteun nie nadat die Ford-Motormaatskappy van Suider-Afrika se Rocam-enjinprogram "dramaties uitmekaar geval het".

Sy Duitse vennoot, KS Kolbenschmidt, het ook volumes onttrek wat nodig sou wees om die maatskappy aan die gang te hou totdat die VW-kontrak ingeskop het.

Tot 10 000 kan werk by Anglo Plats verloor

Anglo Plats, die wêreld se grootste verskaffer van platinum, het Maandag gesê tot 10 000 poste kan vanjaar afgeskaf word om die laer pryse en dalende aanvraag van motorvervaardigers te hanteer.

Neville Nicolau, die uitvoerende hoof van Anglo Plats, het gesê 8 000 poste kan in die eerste helfte van die jaar verlore gaan, waarvan sowat 'n driekwart kontrakwerkers sal tref. Nog 2 000 mynwerkers kan hul werk in die tweede helfte van die jaar verloor, het hy gesê.

Nicolau het gesê die maatskappy verwag dat pryse vanjaar op sowat $1000 per ons sal stabiliseer ná verlede jaar se groot daling toe pryse van meer as $2000 per ons tot sowat $800 per ons getuimel het. Pryse het teen die einde van 2008 tot net onder $1000 per ons herstel.

Bankgroep skrap vet bonusse

Die Ierse bankgroep Irish Life and Permanent het Maandag gesê hy het in reaksie op die ekonomiese insinking 160 senior bestuurders se bonusse geskrap, en sal die salaris van al sy bestuurders op verlede jaar se vlakke vries.

Dié groep, Ierland se vierde grootste bank, het gesê die veranderinge "verteenwoordig die uitdagings wat die sakewêreld en groter ekonomie" die hoof moet bied.

Die groep se drie uitvoerende direkteure - Denis Casey, Peter Fitzpatrick en Kevin Murphy - het in 2007 tussen die drie van hulle bonusse van sowat R18 miljoen ontvang.

Monday, 09 February 2009

Nissan sny 20 000 poste

Japan se Nissan Motors het Maandag die verlies van 20 000 poste aangekondig, asook die feit dat hulle 'n massiewe netto verlies vir die jaar ly. Dit het die slegte nuus vererger in die wêreld se tweede grootste ekonomie waar die uitvoere hard deur 'n erge afname getref is.

Die lopende rekening se surplus het met 'n rekordpersentasie gekrimp in 2008 met die globale ekonomiese krisis wat erg geraak is weens dalende uitvoere, het amptelike syfers getoon, terwyl bestellings van masjinerie in Desember vir die derde agtereenvolgende maand gedaal het.

Die dalende globale vraag tref nie net Japan nie – byna die helfte van Sjina se speelgoedmakers het verlede jaar toegemaak. Sjina se media het gesê dit is 'n persentasie wat neerkom op meer as 4000 maatskappye.

Top beroepe bekendgemaak

Die 2008 verslag deur arbeidspesialis Magnet Communications het interessante bevindinge oor salarisse gehad.

Die jaarlikse verslag het bevind dat meeste mense meer in 2008 verdien het as in 2007.

Die huidige gemiddelde salaris is R300 983 met mans wat steeds meer verdien as vroue.

Die mense wat die meeste verdien, is dié in die bankwese, ingenieurs, en geoktrooieerde rekenmeesters.

VSA kernnavorsing gedoen in VK

Die Amerikaanse weermag het Brittanje se kernwapenfabriek gebruik om navorsing te doen op sy eie kernplofkopprogram, volgens die Britse Guardian.

Amerikaanse verdedigingsbeamptes het gesê dat baie waardevolle navorsing gedoen is op plofkoppe by die Kernwapen Instituut by Aldermaston in Berkshire as deel van 'n volgehoue, geheime ooreenkoms tussen die Britse en Amerikaanse regerings.

Sondagaand het opposisie LP's gevra vir 'n volledige parlementêre ondersoek na die omvang van die samewerking by Aldermaston en gewaarsku dat so ooreenkoms 'n oortreding was van internasionale wette.