Tuesday, 10 February 2009

Tot 10 000 kan werk by Anglo Plats verloor

Anglo Plats, die wêreld se grootste verskaffer van platinum, het Maandag gesê tot 10 000 poste kan vanjaar afgeskaf word om die laer pryse en dalende aanvraag van motorvervaardigers te hanteer.

Neville Nicolau, die uitvoerende hoof van Anglo Plats, het gesê 8 000 poste kan in die eerste helfte van die jaar verlore gaan, waarvan sowat 'n driekwart kontrakwerkers sal tref. Nog 2 000 mynwerkers kan hul werk in die tweede helfte van die jaar verloor, het hy gesê.

Nicolau het gesê die maatskappy verwag dat pryse vanjaar op sowat $1000 per ons sal stabiliseer ná verlede jaar se groot daling toe pryse van meer as $2000 per ons tot sowat $800 per ons getuimel het. Pryse het teen die einde van 2008 tot net onder $1000 per ons herstel.