Die vervoervakbond Utatu het 'n geskil met Transnet verklaar en aangedui sy lede wat vir die spoorvragafdeling (TFR) werk, kan tot 'n staking oorgaan as die maatskappy voortgaan met sy plan om oortydwerk te verbied.
Chris de Vos, die hoofsekretaris van Utatu, het gesê Transnet het eensydig besluit hy sal nie werkers betaal wat teen die einde van Februarie meer as 60 dae se verlof opgehoop het, soos oorspronklik ooreengekom is nie.
"Sulke goed kan tot 'n staking lei," het De Vos gesê. Dit kan tot 20 000 werkers raak.
"Oortydbetaling, wat vir sommige werkers tot 'n derde van hul verdienste beteken, is deel van die lewe by Transnet vir so lank as wat almal kan onthou. Werkers het hul leefkoste volgens hul bruto-inkomste gestruktureer."