Die Amerikaanse eiendommagnaat Donald Trump se casino-groep, Trump Entertainment Resorts, het Dinsdag 'n aansoek om vrywillige bankrotskapsbeskerming ingedien.
Die aansoek is Maandag deur die groep se direksie goedgekeur.
Die aansoek is ingevolge die sogenaamde Hoofstuk 11 gedoen, wat 'n maatskappy in staat stel om onder die wakende oog van die hof voort te gaan om sake te doen, maar 'n goedgekeurde herstruktureringsplan moet hê. Die aansoek is gedoen om krediteure te verhinder om die maatskappy te likwideer.
Dit is die derde keer dat Trump Entertainment só aansoek indien.