Wednesday, 18 February 2009

Nersa sal Eskom-verhogings heroorweeg

Suid-Afrika se kragreguleerder (Nersa) sal veranderinge in die ekonomiese klimaat en 'n staatsbesluit om lenings aan die staatsbeheerde Eskom toe te staan, in ag neem wanneer 'n besluit oor die volgende tariefverhoging geneem word.

Die Nersa-lid Thembani Bukula het gesê die omgewing het reeds drasties sedert Junie verlede jaar verander toe Nersa 'n verhoging van altesaam 27 persent goedgekeur het, wat heelwat minder was as die 53 persent waarvoor Eskom gevra het.

"Ekonomiese toestande het verander, die staat het aangedui dat hy waarborge sal verskaf, die kapitale koste vir die bou van 'n kragstasie het gestyg en Eskom se gradering is afwaarts aangepas, wat beteken ons sal dit alles in ag moet neem," het Bukula gesê.

"Ons teiken is om kosteverteenwoordigende tariewe binne die volgende vyf jaar - teen 2013 - in te stel," het hy gesê en bygevoeg hoewel tariewe tot dusver deur die bank verhoog is, 'n skaaltarief oorweeg word.

Net sowat 76 persent van alle huishoudings het huidiglik krag.