Die swakker ekonomiese data as wat verwag is vir die laaste kwartaal van 2008, wat Dinsdag aangekondig is, sal moontlik Woensdag met ander data saamspan om groter druk op die rentekoers te plaas.
Die data wat vandeesweek verwag word, is die verbruikersinflasiekoers (Woensdag), verskaffersinflasie (Donderdag) en kredietverlenging (Vrydag).
'n Syfer van 1,8% wat Dinsdag aangekondig is, was 'n heelwat groter daling as die 1,2% wat ekonome vir die laaste kwartaal Suid-Afrikaanse ekonomie (bruto binnelandse produk) aan die einde van verlede jaar verwag het, en kan die Reserwebank tesame met vandag se aankondiging oor die inflasiekoers moontlik dwing om die repokoers vroeër as die beplande aankondiging in die middel van April afwaarts aan te pas.