Sunday, 22 February 2009

Stimuleringspakket kan poste red

Hard-gedrukte Suid-Afrikaners wat bang is hulle kan die slagoffers van massiewe afleggings word, kan verligting uit 'n stimuleringspakket van R10 miljard verwag wat deur die regering saamgestel is om die uitwerking van die ekonomiese insinking te versag.

Goolam Ballim, die hoofekonoom van Standard Bank, het gesê 'n volskaalse resessie kan tot 500 000 afleggings lei, maar die taakspan wat deur president Kgalema Motlanthe opgestel is, is 'n positiewe ontwikkeling wat sulke wydverspreide werkloosheid kan verhinder.

Keith Brebnor, die uitvoerende hoof van die Johannesburgse sakekamer, het gesê dié hulppakket van R10 miljard is 'n silwer randjie om die donker wolk, en is bedoel om poste in die bedrywe wat die hardste getref is, soos die mynbedryf, te beskerm.