Die rand sal die komende paar weke by die deur uit glip en R10,80 per dollar haal, het wisselkoersontleders van die Rand Aksepbank Vrydag gewaarsku.
"Ons dans nou al 'n rukkie naby die deur en hou die verswakkende positiewes dop, maar ek dink dis tyd om by die deur uit te glip en die partytjie te verlaat," het John Cairns van die RMB gesê.
"Dis tyd om te hol."
Cairns het gesê die negatiewes wat die rand in die gesig staar, het net te veel geword om te hanteer. Een daarvan is die feit dat Amerikaanse ekwiteite van die begin van die jaar af daal, en Donderdag het die DOW Jones op sy laagste vlak in ses jaar gesluit.
"Die rand het dit nog nie weerspieël nie," het hy gesê.