Die groter daling in Suid-Afrika se ekonomie as wat verwag is in syfers wat Dinsdag deur Statistiek SA aangekondig is, kan moontlik tot 'n vervroegde rentekoersdaling lei.
Die goewerneur van die Reserwebank, Tito Mboweni, kan genoop word om die vergadering van die monetêre beleidskomitee wat vir 15 en 16 April beplan word, te vervroeg.
Mboweni het verlede maand, toe hy die repokoers met 1 persent tot 10,5% gesny het, gesê hy sou 'n daling van twee persent verkies het, maar is deur ander lede van die komitee oortuig om 'n meer beskeie aanpassing te doen.
Die bank het egter Dinsdag gesê daar is nie dadelik planne vir 'n vervroegde beleidskomiteevergadering nie. Die vorige keer toe 'n spesiale vergadering gehou is, was in September 2003 ná die publikasie van hersiene inflasie-inligting wat 'n laer inflasiekoers onthul het.