Roberto Casaletti, 'n voormalige uitvoerende hoof van Country Foods, het Maandag weer misluk in 'n poging om beheer van die groep oor te neem nadat aandeelhouers 'n voorstel dat hy en twee van sy bondgenote op die direksie aangestel word, verwerp het.
Die voorsitter, Vusi Zwane, het gesê aandeelhouers in Country Foods, wat dringend 'n geldinspuiting van minstens R12 miljoen nodig het, het teen die drie resolusies gestem om Casaletti, sy vrou, Clara, en die gewese Zambiese sokkerster Kalusha Bwalya op die direksie aan te stel.
Casaletti is die grootste aandeelhouer met 'n aandeel van 24,2 persent, en het in September 2008 as uitvoerende hoof bedank.