Die Nederlandse premier, Jan-Peter Balkenende, het gister op ’n sombere perskonferensie gesê dat die ongekende inkrimping van die Nederlandse ekonomie aan die 1930's herinner.
Die Nederlandse ekonomie krimp vanjaar met 3,5%. Twee maande gelede is nog gemeen dat dit 0,75% sou wees, maar die wêreldwye ekonomiese krisis en die resessie het veel sterker toegeslaan as wat verwag is. Die krimping was in 1931 laas so groot.
Balkenende het gesê dat die styging in werkloosheidsyfers die pynlikste is van die huidige voorspelling van die Centraal Planbureau. Die aantal werkloses kan vanjaar styg tot 425 000, en volgende jaar tot 675 000. Dit is onderskeidelik 5,5% en 8,75% van die beroepsbevolking.