Kliënte van Stanford International Bank (SIB) het Donderdag regoor die wêreld in lang rye voor takke gestaan om hul geld te onttrek, maar tevergeefs.
Mense van die Karibiese Eilande tot Suid-Amerika het vandeesweek probeer - en dit nie reggekry nie - om hul geld uit Stanford International Bank en sy filiale te trek nadat Amerika skokkende bedrogklagte teen die krieket-liefhebber Allen Stanford en sy familie openbaar het.
Party beleggers, wat honderde duisende dollar belê het, het Woensdag na die Wes-Indiese eiland gevlieg en met leë hande uit Antigua, waar die bank se hoofkantoor is, teruggekeer nadat hulle meegedeel is hul rekeninge is bevries.
'n Amerikaanse regter het die Stanford-ryk se bates en eiendom bevries en reguleerders aangewys om beleggers se geld op te spoor.