Tuesday, 31 March 2009

Internetbedrog neem toe

Gerapporteerde bedrog oor die Internet het verlede jaar met 33% toegeneem in die VSA, die eerste keer in drie jaar dat daar ‘n toename was en dit styg weer hierdie jaar weens die resessie, waarsku owerhede.

Internet bedrogverliese in 2008 in die VSA het ‘n rekordgetal van $264.6m bereik, het ‘n verslag Maandag gewys.

Meeste van die webbedrogskemas kom van die VSA, Kanada, Brittanje, Nigerië en China en daar is reeds in Maart ‘n 50% toename gewees in gerapporteerde misdaad.

Die mees algemene klagtes was die nie-aflewering van gekoopte produkte, veilingsbedrog, kredietkaartbedrog asook beleggingsbedrog.

Nuwe motorfabriek vir Indië

Europa se grootste motorvervaardiger, Volkswagen, het Dinsdag aangekondig dat hy ‘n nuwe fabriek gaan oopmaak in Indië.

Hier wil hy uiteindelik meer as ‘n honderd duisend motors vir die groeiende plaaslike mark maak.

Die fabriek sal gebou word naby Moembai in Mei en sal waarskynlik 2 500 poste skep. Beamptes het gesê ten spyte van die wêreldwye ekonomiese krisis, was die motorbedryf in Indië een met “enorme potensiaal”.

Afrika is in die mode

In Parys, kyk modehuise tans na nuwe giere vir lente. Johan Galliano het Afrika na Dior gebring, weer eens met skoene waaarop vrugbaarheidsimbole gekerf is. Maar dit was die gevormde haarstyle wat die sterkste impak gemaak het, saam met die weef-effek teksture uit Parys.

Materiaal by baie groot modehuise, soos Lanvin, is dierepatrone wat vernuwe is in helde kleure. Die mees dramatiese voorbeeld van sulke materiaal kan gesien word in die werk van die Japannese ontwerper Junya Watanabe.

Vir Hermes beteken dit die herskep van die effek van woestynsand op die oppervlak van rimpelende suede rokke. Vir Ralph Lauren het die koloniale voorkoms êrens tussen Indië en Afrika.

Rekenaars mors krag

Rekenaars wat oornag aan gelos word mors baie meer krag as wat verbruikers besef.

Een studie het nou getoon dat omtrent $2,8 miljard se energie elke jaar in Amerika alleen vermors word weens rekenaars wat nie afgeskakel word nie.

Op die basis van CO2, is dit 20 miljoen ton koolstofdioksied, omtrent die hoeveelheid wat vervaardig word deur vier miljoen karre op die pad.

Fiat onderhandel met Chrysler

Die hoof-uitvoerende beampte van Fiat, Sergio Marchione, het Maandag gesê ‘n vennootskap met Chrysler sal die sukkelende Amerikaanse motormaatskappy help en keer dat poste verlore gaan.

Marchione het gesê Fiat het opmerkings van die VSA President Barack Obama oor ‘n ooreenkoms met Chrysler verwelkom. Chrysler se toekoms hang tans in die weegskaal.

Die Amerikaanse regering het vroeër gesê dat die ooreenkoms binne 30 dae gefinaliseer moet word of Chrysler sal bankrot verklaar word.

Besending pistasieneute word herroep

Amerikaanse voedselbeamptes sê ‘n fabriek in Kalifornië het sowat 454 ton pistasieneute herroep weens die vrees van salmonella besmetting.

Die fabriek het neute, wat nog in die dop en ook sonder die dop verkoop word, herroep nadat die salmonella, wat ernstige gesondheidsgevare vir kinders en bejaardes inhou, in ‘n mengsel neute en droë vrugte opgespoor is.

Sentrum besorg oor gasse

Die sentrum om gasse op te vang en te berg gaan in die volgende vyf jaar R25m bydra om Suid-Afrika te help om gereed te maak vir ‘n eksperiment in 2016.

Die sentrum, wat verlede week geopen is, sluit in maatskappye wat groot gasuitlatings het soos Eskom en Sasol en steenkoolvervaardigers Exxaro, AngloCoal en Xstrata.

Beleid vertraag groei in krediet

Die streng monetêre beleid vertraag steeds groei in krediet na die private sektor, vir beide sake- en huishoudings.

Inligting wat die Reserwebank vrygestel het dui daarop dat groei tot 11.1% verlede maand geval het, in vergelyking met 11.9% in Januarie en ‘n hoogtepunt van 27.5% in Oktober 2005. Die huidige syfer, wat groei oor 12 maande meet, is die laagste sedert November 2004, toe krediet in die private sektor jaarliks 10.7% gegroei het.

Gemoedere loop hoog voor G20 vergadering

Die Londense Kamer van Koophandel het werknemers van finansiële firmas aangeraai om meer informeel aan te trek en verskillende tye by die werk op te daag in antwoord op die beplande protestoptrede vóór die Groep van 20 se leiersvergadering.

Beswaarmakers het vroeër bekend gemaak dat hulle die finansiële distrik in die visier het weens bankiers se rol in die wêreldwye ekonomiese krisis.

Cosatu kwaad oor gissings

The Congress of South African Trade Unions (Cosatu) sê dit sal ‘n 34% verhoging in elektrisiteit teenstaan weens die “vernietigende” effek wat dit op verbruikers sal hê.

Die vakbond sê dit sal enige verhoging, of enigiets naastenby so skerp, teenstaan omdat miljoene verbruikers nog probeer om die 27.5% verhoging wat verlede jaar ingestel is te verwerk.

Monday, 30 March 2009

Winkelbase word slimmer

Winkels in Amerika het besluit om hierdie jaar meer praktiese en goedkoper voorraad te koop. Hulle wil hul flater van verlede jaar se vakansieseisoen nie herhaal nie. Hulle het toe so baie voorraad aangekoop dat hulle ná die tyd reuse verkopings met groot afslag moes hou om van die goed ontslae te raak.

Hierdie jaar koop winkels minder speelgoed en minder duur rokke met baie blinkers en meer praktiese en alledaagse produkte.

SA sal gou voordeel ná afplatting trek

Nuwe navorsing van die SA Mining Report Q1 van vanjaar sê die land sal waarskynlik van die eerstes wees wat voordeel sal trek wanneer die wêreldwye ekonomie weer op dreef kom.

Die verslag sê die omvang van die Suid-Afrikaanse mynbousektor, wat sowat 5.2% van die land se Bruto Binnelandse Produk verteenwoordig, behoort te verseker dat die nywerheid veerkragtig deur die ekonomiese afplatting sal bly.

Rand versleg teenoor dollar

Die Suid-Afrikaanse rand het met so veel as twee persent Maandag teenoor die dollar versleg en het ‘n swakker euro en wêreldwye effektebeurse gevolg.

Vroegoggend het die rand 1.61% tot 9.76 teenoor die dollar verhandel, nadat dit vroeër 9.81 bereik het. ‘n Makelaar het gesê die rand skommel op die oomblik weens die afkeer van risiko.

Groot skommelinge by motorvervaardigers

GM se aandele het bykans 20% in Frankfort gedaal ná die aankondiging dat die Obama administrasie die leisels van die wankelende motorvervaardigers oorgeneem het. Die baas van GM het bedank en Chrysler gaan blykbaar met nog ‘n maatskappy saamsmelt. In Europa is Peugeot Citroen se baas, Christian Streiff, die trekpas gegee.

Die Obama administrasie het onderneem om GM vir ‘n verdere 60 dae te help, in teenstelling met die maatskappy se versoek vir ‘n verdere $16 miljard in lenings.

Makelaar glo by bedrog betrokke

PSG Konsult, ‘n aanlyn finansiële maatskappy, het ‘n senior makelaar by hul aandele arm PSG Online geskors omdat hy glo by bedrog betrokke is.

Die hoof-uitvoerende amptenaar van PSG Konsult, Willem Theron, sê ‘n klag van bedrog is by die polisie gelê en ‘n interne ondersoek sal binnekort plaasvind. PSG Online is op die aandelebeurs genoteer.

Motorbaas bedank

Die baas van General Motors (GM) het sy bedanking aangekondig nadat die Amerikaanse President Barack Obama Sondag gesê het dat dié maatskappy asook Chrysler nie genoeg gedoen het om hulself te red sedert hulle $17.4 miljard ontvang het in Desember nie.

Rick Wagoner is vervang met die GM president en hoof-uitvoerende beampte, Fritz Henderson.

GM en Chrysler staar beide bankrotskap in die gesig indien hulle nie binnekort finansiële hulp ontvang nie.

Eskom beplan tariefverhoging

Eskom sal na alle waarskynlikheid by die Nasionale Energiereguleerder aansoek doen vir ‘n 34% styging in elektrisiteitstariewe in die komende jaar, is Maandag berig.

Dit is heelwat minder as die 88% verhoging wat hy tot ‘n paar maande gelede nog beplan het.

Die 34% is hoofsaaklik om hul uitgawes te dek eerder as om te betaal vir nuwe uitbreidingsplanne en neem glo in ag dat ‘n aggressiewe verhoging die ekonomie kan skade aandoen.

Spanning voor G20 beraad

Die Britse hoofstad Londen maak reg vir betogings Donderdag wanneer die Groep van 20 vergader vir ‘n beraad met wêreldleiers soos die Amerikaanse President Barack Obama.

Omtrent 35 000 mense het Saterdag in Londen marsjeer om te betoog vir klimaatsverandering en teen werkloosheid.

Sekuriteit sal straf wees vir die ongeveer 20 wêreldleiers, veral aangesien betogers laat blyk het dat hulle Woensdag die finansiële hart van die stad wil binneval en verskeie aksies beplan.

Werkers word geïntimideer

‘n Groot hoeveelheid staatsdienswerkers word onder druk geplaas om te bedank omdat hulle by die nuwe politieke party, Cope, aangesluit het, glo die party.

Partywoordvoerder Philip Dexter sê daar is heelwat hoë profiel gevalle, insluitende sy eie, wat onder hul aandag gebring is, maar dat Cope se advies aan mense op laer vlakke in die staatsdiens is, om nie in te gee nie.

“Daar is wette wat mense beskerm teen hierdie soort intimidasie,” het hy gesê.

Motorbedryf-werknemers kry swaarste

Werknemers in die motorbedryf kry die swaarste weens die verdere daling in beide internasionale en plaaslike nuwe motorverkope.

Lone word gesny, vier-dag weke word implementeer en daar is voortdurende planne om mense rond te skuif by fabrieke by amper al die sewe plaaslike motorvervaardigers.

Bykans al die motorvervaardigers het hul produksieteikens gesny weens die huidige mark. Net General Motors het bevestig dat hulle ‘n reëling gemaak het om werkers by te staan weens die vermindering in produksie.

Saturday, 28 March 2009

Britse regering soek Facebook besonderhede

Sosiale netwerk webtuises soos Facebook en MySpace kan moontlik deur die Britse regering gedwing word om die besonderhede van hul gebruikers se vriende en kontakte aan die regering bekend te maak, in ‘n poging om terrorisme te voorkom.

Ministers is bevrees dat hierdie sosiale netwerke deur ekstremiste uitgebuit kan word. Hierdie plan het kritiek ontlok, aangesien dit slegs ‘n verdere wyse is waarop die regering in die privaat lewens van landsburgers inbreek maak.

Google dank werknemers af

Die Internet soekenjin Google het Donderdag aangekondig dat ongeveer 200 poste in die bemarkingsafdeling van die maatskappy afgeskaf gaan word.

Google se senior vise-president van Verkope en Besigheidsontwikkelings, Omid Kordestani het hierdie aankondiging op Google se webbladsy gemaak.

Chinese woestyn gebruik vir sonkrag

China beplan om ‘n sonkrag eenheid in die westelike woestyngedeelte van hierdie land op te rig, in ‘n poging om die land se ekonomiese groei ‘n hupstoot te gee.

Die regering gaan een wenner uit 13 maatskappye kies om hierdie eenheid naby die dorp Dunhuang op te rig, het Shi Lishan, die adjunk-direkteur-generaal van die Department van Nuwe en Herwinbare energie, verbonde aan China se Nasionale Energie administrasie, gesê.

China hoop om herwinbare bronne van sonkrag, windturbines en hidrostasies op te rig.

Beste werkgewers bekroon

Die jaarlikse “Werkgewer van die Jaar” – toekenning word weer eersdaags toegeken. Hierdie toekenning vier ‘n 20ste bestaansjaar.

Die doel hiervan is om erkenning te gee aan diegene wat oor uitsondelike leiereienskappe in die werksomgewing beskik.

Ornella Trinco van Dictum Uitgewers, die organiseerders van die toekenning, sê: “’n Belangrike aspek van die toekenning is dat werknemers die mag het om te besluit of hul baas goed genoeg is om vir die toekenning genomineer te word. Hierdie besluit word nie geneem deur ‘n paneel nie, maar deur die mense wat elke dag skouer aan skouer saam met hom/haar werk.”

Cell C kry nuwe hoof

Cell C het aangekondig dat Lars Reichelt, voorheen die hoof van Orascom Telecom Holding's Banglalink eenheid, hul nuwe uitvoerende hoof is.

Reichelt vervang Jeffrey Hedberg.

Hedberg sal steeds die voorsitter van Virgin Mobile Suid-Afrika wees.

Kleinhandelaars angstig dat verbruikers begin koop

Weens die ekonomiese afswaai is ontleders lugtig oor voorspellings dat meubel- en klereverkope vanjaar kan herstel, ten spyte van die laer rentekoers.

Van so vroeg as die middle van 2008 het die aandelepryse van Foschini, Truworths, Lewis en die JD Groep begin styg na aanleiding van verwagte koersverlagings.

Maar weens verbruikers se groot skuldlas en talle afdankings is hulle nie tans in die posisie om te begin bestee nie.

Koolstofbergingsaanleg vir SA teen 2020

Suid-Afrika, die grootste vrysteller van koolstofdioksied op die kontinent, beplan om sy eerste toetsaanleg vir die opvang en berging van uitlaatgasse teen 2020 te bou, het die minister van minerale en energiesake, Buyelwa Sonjica, Vrydag gesê.

Die land het ’n teiken gestel om uitlaatgasse teen 2020-25 te beperk en dit teen die middel van die eeu te verminder.

Die vasvang van koolstof is een manier om die land se aardverwarmende gasvrystellings te bekamp.

Mynaandele val, rand verswak

Suid-Afrikaanse mynaandele het Vrydag met meer as 2% teruggesak weens swakker metaalpryse.

Finansiële aandele het die voorbeeld van die res van die wêreld gevolg en die rand het skerp teenoor die dollar gedaal.

Die JSE Top 40-indeks van prima aandele het met 2,33% gedaal tot 18 719,70 punte, en die indeks van alle aandele met 2,14% tot 20 661,32 punte.

Die rand het Vrydag op 9,57 teenoor die dollar verhandel, ongeveer 2,4% swakker as Donderdag se sluiting van 9,3450 in New York. Dit was vroeër 9,6350.

Iets soets 'verlig' die resessie

Dit wil voorkom asof die resessie ’n soet tand het. Namate werkloosheid toeneem, koop veral volwasse Amerikaners meer lekkers, van jelliebeertjies tot sjokolade, veral die goedkoper soort.

Teorieë verskil oor presies hoekom. Vir swaarmoediges lig suiker die gemoed; vir ander verteenwoordig lekkers ’n nostalgiese herinnering aan beter tye. En dis goedkoop.

“Lekkergoedmaatskappye is redelik resessiebestand,” het Peter Liebhold, voorsitter van die Smithsonian-afdeling vir werk en nywerhede gesê. “Gedurende die Groot Depressie het lekkergoedmaatskappye 'n bestaan bly maak.”

Olieskok op pad

Die wêreldwye finansiële krisis en die ineenstorting van die oliemark is besig om noodsaaklike belegging in olie-eksplorasie en -produksie in die wiele te ry.

Dit gaan waarskynlik lei tot skerp stygings in die olieprys, het Matt Simmons, ’n energiekonsultant en finansier, Vrydag gesê.

Volgens hom neem die wêreld se verouderende olievelde se produksie met tot 20% per jaar af.

Friday, 27 March 2009

Amerika gereed vir 'kern-renaissance'

Dertig jaar nadat die ongeluk op Three Mile Island Amerikaners se vertroue in kernkrag ’n nekslag toegedien het, dink wetgewers kernkrag is ’n veilige, groen manier om die VSA van buitelandse olie te speen.

Senator David Vitter het vandeesweek gesê daar betaan ’n uitstekende geleentheid vir ’n kern-renaissance.

Die Instituut vir Kernenergie sê egter om selfs net in 20% van die land se kragbehoeftes te voorsien, sal daar van 2016 af elke twee jaar drie reaktors gebou moet word.

Sedert die ongeluk op 28 Maart 1979 gebeur het, het Amerika nog nooit weer ’n kernreaktor gebou nie.

Nuwe kredietkaart-bedrogskema kan SA tref

Die polisie het gewaarsku dat ’n nuwe kredietkaart-bedrogskema wat oorsee gebruik word, binnekort in Suid-Afrika kan kop uitsteek.

Bedrieërs programmeer glo betaalpuntmasjiene met sagteware wat die kaart se data aflees en bewaar.

Al trek jy dus self jou kaart in 'n winkel of restaurant deur die masjien, kan jou inligting steeds in kriminele hande beland.

Jerome Hardenberg van die polisie se kommersiële misdaadeenheid sê dit vat gewoonlik so agt maande vir neigings soos dié om te “migreer”.

Woede oor welsynskrisis

Staatsgesubsidieerde welsynsorganisasies is woedend omdat die LUR vir maatskaplike dienste en bevolkingsontwikkeling, Meshack Radebe, niks doen om die krisis weens die vertraging van hulle maandelikse subsidies af te weer nie.

’n Stroom briewe en oproepe na die LUR se kantoor het geen antwoorde opgelewer oor die rede waarom Februarie se subsidies, wat terugwerkend bereken en op Maart 18 betaal sou word, meer as ’n week laat was nie.

Die Daily News het die LUR Woensdag “iewers in die boendoe” opgespoor. Hy het gesê hy was nie bewus van die probleem nie omdat hy nie op kantoor was nie.

Huge gaan JSE dalk dagvaar

Die Huge Groep oorweeg dit om die JSE vir naamskending te dagvaar. Dié groep is woedend omdat hy daarvan beskuldig word dat hy die JSE-reëls oortree het. Daar word beweer dat Huge nie ’n botsing van belange verklaar het toe hy sy eie aandele in Oktober teruggekoop het nie.

Dit sal die eerste keer wees dat die JSE deur ’n kliënt vir naamskending gedagvaar word.

Huge se uitvoerende hoof, James Herbst, sê die telekommunikasiemaatskappy oorweeg dit ook om te denoteer omdat hulle verskaffer so “wraaksugtig” voorkom en die maatskappy se reputasie ondermyn het.

Vakbond verklaar dispuut met Poskantoor

Die vakbond vir kommunikasiewerkers (CWU) het ’n dispuut met die Suid-Afirkaanse Poskantoor verklaar in ’n poging om kwessies wat al lank hangende is, op te klaar.

In ’n verklaring wat Vrydag uitgereik is, sê die vakbond dit sluit salarisongelykhede en posgradering in.

"Die feit dat hierdie sake nie opgeklaar word nie, kom neer op finansiële diefstal wat CWU-lede en hulle families die reg ontneem om ’n beter lewe te skep,” het die vakbond gesê.

Lande skakel ligte af

Miljoene mense dwarsoor die planeet sal Saterdagaand vir een uur hul ligte afsit, in wat organiseerders hoop sal help om meer te doen vir die veldtog teen klimaatsverandering.

Meer as 80 lande het hulle verbind tot Earth Hour, en ligte sal afgeskakel word by die bekende Sydneyhawe, asook by die Giza piramides, die Eiffeltoring, die Akropolis en vele ander wêreldbekende plekke.

In Hong Kong sal meer as 1 500 geboue hul ligte doof. Een van die organiseerders, Andy Ridley, het gesê die doel van die veldtog is om lande aan te spoor om ‘n nuwe klimaatsveranderingsooreenkoms te sluit.

Insinking raak korporatiewe maatskappye

Die ekonomiese insinking in Suid-Afrika begin om ‘n negatiewe effek te hê op die waardebepalingsprofiel van die plaaslike korporatiewe sektor, het Fitch Ratings Donderdag gesê.

Dit kan aanleiding gee tot verdere afwaartse waardebepalingsdruk oor die hele korporatiewe sektor.

Maatskappye wat goeie inkomstes het is egter in ‘n beter posisie om die insinking te hanteer, het die maatskappy gesê.

Oliepypleiding beplan vir SA

‘n Mosambiekse en Suid-Afrikaanse konsortium, Petroline Holdings, beplan om ‘n oliepypleiding te bou ter waarde van R5.8 miljard.

Die pypleiding sal Johannesburg met Maputo verbind en petrolinvoere na Suid-Afrika bewerkstellig.

Konstruksie van die 450km pypleiding sal hierdie jaar begin, het Petromoc, ‘n maatskappy met belange by die projek, gesê.

Standard Bank in die sop

Daar was skerp kritiek op Standard Bank Donderdag nadat dit aan die lig gekom het dat hy kliente se kredietkaartlimite opgestoot het sonder om kliente se toestemming te vra. Dit is ‘n oortreding van die nasionale kredietwet.

Sim Tshabalala, hoof-uitvoerende beampte van Standard Bank, het om verskoning gevra en gesê kredietlimiete sou herstel word na hul vorige limiete.

Senior amptenare was glo onbewus van die optrede tot klagtes ontvang is.

Ekonomie vang Mercedes

Mercedes-Benz Suid-Afrika beplan om sy Oos-Londense fabriek te sluit vir vier weke in April en weer vir vier weke in die laaste week van Mei.

Die maatskappy beoog ook om sy fabriek se deure net vier dae in die week in Mei oop te maak.

Dit volg op ernstige probleme in die motorbedryf as gevolg van verminderde aanvraag en ‘n daling in verkope weens die internasionale ekonomiese insinking.

Thursday, 26 March 2009

Werknemers laat gyselaar vry

‘n 3M industriële konglomeraatbestuurder is Donderdag vrygelaat nadat hy meer as ‘n dag lank gyselaar gehou is deur Franse werknemers wat hul Amerikaanse werkgewer probeer dwing het om hul skeidingspakkette te verbeter.

Na ure van onderhandelinge tussen verteenwoordigers van vakbonde en die maatskappy, is die man vrygelaat van die kantoor waar hy gevange gehou is.

Die 3M fabriek, wat farmaseutiese produkte vervaardig, het 235 mense in diens, maar 110 van hierdie poste word vanjaar gesny en 40 mense sal na ander plekke verskuif word.

Mboweni waarsku teen depressie

Daar is 'n merkbare afplatting in die Suid-Afrikaanse ekonomie, het Reserwebank goewerneur Tito Mboweni Woensdag gesê.

Hy het gepraat by ‘n dinee van die Kaapstadse Rotariërs en gesê dit beteken nie dat die plaaslike ekonomie in ‘n resessie ingaan nie.

“Daar is ‘n moontlikheid dat ons twee opeenvolgende kwartale mag hê wat negatief kan groei,” het hy gesê.

Met verwysing na die plaaslike ekonomie, het hy gesê dit is belangrik dat mense “nie depressief raak nie”.

Sasol wil uitbrei

Sasol, die wêreld se grootste petrol-van-steenkool vervaardiger, soek toestemming by die Nasionale Energiereguleerder om sy petrolstoorplek in Alberton uit te brei.

Dit sal ongeveer R820 miljoen kos en heet die Thibela projek. Sasol het gesê hy wil nog stoorplek bou in Pretoria, Polokwane, Klerksdorp, Nelspruit en Durban.

Die projek moet ook nog deur omgewingskenners goedgekeur word.

Groter navraag na SA eiendom

Seeff Eiendomme het Donderdag gesê dat die toename in navrae oor plaaslike eiendom wys dat Suid-Afrikaners oorsee begin huistoe kom weens die internasionale ekonomiese insinking.

Algemene bestuurder Emarie Campbell het gesê hulle sien dit in die soort navrae wat op hulle webwerf gemaak word, asook deur uitgewekenes wat ses maande gelede hul stalletjie besoek het tydens die Homecoming Revolution se skou in Londen.

Goud gaan 'beslis beweeg'

Goud staan gereed vir ’n besliste styging, het die SA Gold Coin Exchange (SAGCE) Donderdag gesê.

Volgens die SAGCE het die SPDR Gold Trust ’n kurwe geïdentifiseer wat beslis dui op ’n op- of afwaartse skuif in die nabye toekoms.

Alan Demby, die uitvoerende hoof van die SAGCE, sê hy voorspel dat die goudprys gaan styg, onder andere danksy ’n skerp toename in die vraag na goue munte.

Banke speel groot rol in motorverkope

Banke bly huiwerig om geld uit te leen en dit beïnvloed nuwemotorverkope. Vergeleke met verlede jaar, het die verkoop van nuwe motors met 36% gedaal.

Banke finansier kliënte wat motors wil koop, asook handelaars se oortrokke rekeninge en vloerplanfasiliteite.

As banke eers besluit het dat ’n handelaar ’n té groot risiko inhou, hersien hulle gou die finansieringsfasiliteite en gee die handelaar kennis dat die finansiering onttrek gaan word.

Hulle stuur dan ’n taakspan om te kyk of die handelaar ’n wins maak en sy skuldverpligtinge kan nakom.

Honderde motorhandelaars sal moet sluit

Teen die huidige verkoopsvolumes sal nog ongeveer 200 van die land se nuwevoertuig-franchisemotorhandelaars binne die volgende ses maande moet sluit as die handelaarsnetwerk volhoubaar wil bly, het Brand Pretorius, uitvoerende hoof van McCarthy Motor Holdings, Woensdag gesê.

Verlede jaar het 150 franchise-handelaars en 200 onafhanklike handelaars gesluit en 9 500 mense het hulle werk verloor.

Vinniger rasionalisering is onvermydelik, het Pretorius gesê, want daar is net te veel handelaars en verkope per handelaar kan nie die kostestrukture hanteer nie.

Wat blaas inflasie aan?

Vier ander faktore, benewens kospryse, het die inflasiekoers van 8,1% in Augustus tot 8,6% in Januaie laat styg, sê Kevin Lings, ’n ekonoom by Stanlib.

Dit is die koste van versekering, veral mediese fondse, die swakker wisselkoers, die petrolprys en mediese koste.

Volgens die Reserwebank se kwartaalbulletin is die toename in nominale vergoeding per werker nog ’n bron van inflasie omdat dit nie gepaard gaan met hoër produktiwiteit nie. In die derde kwartaal van 2008 was dit 13,5% vergeleke met 7,2% in die vierde kwartaal van 2007.

Laer petrolprys kan inflasie nie stuit nie

Inflasie het verlede maand tot 8.6% gestyg en sodoende die afwaartse tendens van 13.4% in Augustus 2008 tot 8.1% in Januarie 2009 omgekeer. Dié styging is ten spyte van ’n daling van 14% in die petrolprys gedurende die 12 maande tot Februarie.

Kospryse was ’n groot bron van inflasionêre druk, sê die jongste data wat Woensdag deur Statistiek SA vrygestel is.

Die koste van verwerkte voedsel het met 18.4% gestyg. Die kommerwekkendste was die prys van brood en graankosse wat met 23.8% gestyg het.

Wednesday, 25 March 2009

Lugrederye kry swaar

Lugrederye in Afrika sal na verwagting $600 miljoen verloor hierdie jaar, ses keer meer as die $100 miljoen wat laas jaar verloor is.

Die Internasionale Lugvervoervereniging het Dinsdag gesê dat aanvraag na verwagting met 7.8% sou val.

“Die toestand van die lugvervoerbedryf vandag is sleg,” het Giovanni Bisignani van die lugvervoervereniging laat blyk.

Verwarring oor Eskom tariefverhoging

Eskom het nog steeds nie aansoek gedoen vir hoër tariewe by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika nie.

In November het Eskom gesê hy sou aansoek doen om tariewe te verhoog vir die drie jaar tot en met Maart 2012.

Laas week het Eskom laat blyk dat hy die saak heroorweeg weens die ekonomiese insinking.

Zim inflasiedata verwag

Zimbabwe sou Dinsdag nuwe inflasiedata vrystel, die eerste nuwe aankondiging in dié verband sedert Oktober, het die sentrale statistiek kantoor gesê.

Die amptelike syfer het na ‘n rekord van 231 miljoen persent gestyg.

Die land sukkel met ‘n erge ekonomiese krisis en het die gebruik van buitelandse geldeenhede toegelaat om hiperinflasie te tem. Dit is die hoogste inflasie in die wêreld vir ‘n land wat nie in oorlog gewikkel is nie.

MultiChoice domineer steeds mark

Terwyl gerugte die rondte doen dat Telkom Media op die randjie van toemaak is, lyk dit asof On Digital Media (ODM) die enigste maatskappy oor is wat die monopolie van MultiChoice kan breek.

ODM het laas jaar gesê dat hy R1 miljard nodig het om sy diens te loods en hoof-uitvoerende beampte, Vino Govender, het Dinsdag gesê dat befondsing die grootste probleem is vir nuut-gelisensieerde betaal TV maatskappye.

Die moeilike huidige ekonomiese klimaat vererger sake. Maar die maatskappy sê egter hy is reg om later vanjaar meer as 60 kanale aan te bied.

Bank raak moeilik oor huislenings

Daar word berig dat Standard Bank alle nuwe aansoeke vir huislenings wat van verbandagente af kom, afkeur.

Dit is omdat al die groot banke nou glo ooreenkomste heronderhandel met die agente en spesifiek omdat hulle die kommissie wil sny wat aan die agente betaal word.

Standard Bank se woordvoerder wou nie kommentaar lewer nie, maar Willie van Aardt van Finbond het dit bevestig.

Aandele toon effense insinking

Aandele in Suid-Afrika het ‘n effense insinking getoon nadat die repokoers met 100 basispunte gesny is.

Van die ekonome in Johannesburg het gesê daar is bietjie teleurstelling omdat die koers so min gesny is. ‘n Portfoliobestuurder, Ferdi Heyneke, het gesê: “Ons het almal gewag vir die aankondiging en die fokus verskuif nou na oorsese markte waar ons konsolidasie sien ná onlangse wins."

Toelaes dalk laat

Bykans sewe miljoen Suid-Afrikaner sal nie volgende week hul maatskaplike toelae ontvang as die SA Social Security Agency (Sassa) nie ‘n kontrakdispuut binne ure oplos nie.

Cash Paymaster Services (CPS), is onder andere daarvoor verantwoordelik om kontant toelaes van meer as R4 miljard uit te betaal,maar as die kontrak nie voor die laatste Donderdagogend onderteken word nie, sal hulpbehoewendes nie hierdie maand betyds hul toelaes ontvang nie. Daar word bereken dat altesame 8 miljoen mense elke maand toelaes soos ongeskiktheids-, kinder of ouderdomspensioen ontvang.

SA webbevolking gaan verdubbel

World Wide Worx sê Suid-Afrika se webbevolking gaan bykans verdubbel tot 9 miljoen teen 2014 in vergelyking met 4.6 miljoen verlede jaar.

Die besturende direkteur, Arthur Goldstuck, sê die groei sal onder meer aangehelp word deur die ingebruikneming van ‘n nuwe onderwater kabel aan die einde van Junie en al hoe meer mense wat na vinniger lyne oorskakel.

Vader Kersfees se tuiste verkoop

Finland se regering het besluit om hul deel van Santapark in die noordelike stad van Rovaniemi weens die wêreldwye ekonomiese krisis te verkoop.

Sowat 500 000 toeriste besoek elke jaar die Kersfees temapark, hoewel voorspellings daarop dui dat baie minder mense vanjaar die park sal besoek. ‘n Toerismemaatskappy, Santa’s Hodings, het die regering se 32% gekoop en beoog om ‘n groot bemarkingsveldtog van stapel te stuur.

Mboweni: SA kort meer as net stimulus

Die president van die Reserwebank, Tito Mboweni, sê niemand moet dink dat die kuur vir die vinnig-veranderde globale en plaaslike toestande net monetêre beleid nie. Hy het Dinsdag aangekondig dat die repokoers met 100 basispunte gesny word.

Gevra hoe gou rentekoerse moontlik kan val, het hy gesê Suid-Afrika kort meer as net monetêre en fiskale stimulus. Hy sê SA se lopende-rekening tekort het tot 5.8% van die Bruto Binnelandse Produk in die vierde kwartaal geval van ‘n hersiene 7.8% in die derde kwartaal.

Tuesday, 24 March 2009

Repokoers gesny

Die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee het Dinsdag aangekondig dat die repokoers met 100 basispunte gesny sal word.

Die repokoers staan nou op 9.5% terwyl die prima-uitleenkoers nou op 13% staan.

Die Reserwebank se Tito Mboweni het gesê dat Suid-Afrika nie die impak van die wêreldwye ekonomiese insinking kon vermy nie en dat die ekonomie reeds die gevolge daarvan sien.

Eqstra sny poste

Verhuring en kapitaalmaatskappy Eqstra beplan om sewe persent van sy werkerskorps te sny weens verminderde aanvraag na sy produkte en dienste, het die hoof-uitvoerende beampte, Walter Hill, Maandag gesê.

Ongeveer 4 500 mense werk vir Eqstra en die maatskappy het gesê hy sal nie op uitbreiding fokus vir die volgende drie jaar nie aangesien die risiko te groot is.

“Die partyjie is verby,” het Hill gesê.

Struikelblok vir Zim plan

Zimbabwe se $5 miljard (omtrent R50 miljard) korttermyn ekonomiese herstelplan wat die week bekendgemaak is, lyk asof dit vir seker gaan misluk tensy wet en orde weer herstel word, soos die internasionale skenkers vereis.

Owerhede het gesê dat Tito Mboweni, SA se reserwebankgoewerneur en Trevor Manuel, die minister van finansies, is ook huiwerig om geld aan Zimbabwe beskikbaar te maak terwyl Gideon Gono die hoof van die reserwebank daar bly.

‘n Senior IMF-beampte het aan ‘n vergadering van burgerlike organisasies gesê: “Ons kan nie net intree en help om die begroting te versterk nie. Ons wil gesonde beleidsveranderinge sien gebeur.”

Hoop op rentekoersverlaging

Die rand het goed verhandel Dinsdag nadat dit besonder sterk begin lyk het weens ‘n herstel in risiko handel en sterker aandele.

Wall Street was vol vertroue Maandag na die bekendmaking van ‘n nuwe Amerikaanse bankplan.

Suid-Afrikaners het gretig gewag op ‘n aankondiging oor plaaslike rentekoerse, wat Dinsdagmiddag verwag word. Daar word gehoop dat rentekoerse gesny sal word, wat verligting vir verskillende sektore binne die ekonomie sal bring.

Geldbase gryp na die bottel

Kenners sê dat daar meer en meer mense van die finansieswêreld is wat hulp soek vir verslawing soos die wêreldwye ekonomiese krisis sy tol eis in die bedryf.

Werksverliese, groot geldverliese en beleggings met Bernie Madoff word aangevoer as van die redes wat mense gee vir hul probleme, het Sigurd Ackerman, mediese direkteur by die Silver Hill hospitaal rehabilitasiesentrum, gesê in Connecticut.

Die mense word behandel vir depressie, ‘n toename in middelmisbruik, of beide in ‘n bedryf waar selfvertroue volop is en tekens van swakheid vermy word.

AIG base betaal bonusse terug

AIG uitvoerende amptenare het ingestem om sowat R500m in bonusse terug te betaal te midde van ontevredenheid dat die versekeraar geld van belastingbetalers gebruik het om dit te finansier.

‘n Berig uit Washington lui dat 15 van die top 20 amptenare toegestem het om hul bonusse terug te gee. Die ooreenkoms kom op ‘n dag wat Amerika se minister van finansies, Timothy Geithner, en die voorsitter van die federale reserweraad, Ben Bernanke, wetgewers toespreek.

ANC wou ander Transnethoof hê

‘n Bron sê die aanstelling van Transnet se groep uitvoerende hoof is vertraag omdat die persoon wat deur die raad aanbeveel is, nie die een was wat die ANC verkies het nie.

Die bron sê die ANC wou hê dat Transnet se vrag spoor uitvoerende amptenaar, Siyabonga Gama aangestel word, terwyl die raad die SA inkomstekommissaris Pravin Gordhan aanbeveel het.

Wêreld se goedkoopste motor bekend gestel

Indië se Tata Motors het die wêreld se goedkoopste motor, die Nano, bekend gestel en hoop om die ekonomiese krisis só die hoof te bied.

Die motor gaan sowat R19 300 vir die basiese model kos. Dit is net 3m lank en sal van Julie te koop aangebied word.

Gissings oor Telkom Media

Daar is gissings in die mark dat Telkom Media binnekort hul deure gaan sluit. Dit volg nadat Telkom bykans ‘n jaar gelede aangekondig het dat hulle hul aandeelhouding in die maatskappy drasties gaan sny.

Sowat 66% van Telkom Media behoort aan Telkom en Telkom sukkel glo om ‘n meerderheid aandeelhouding te kry. Daar was verlede jaar samesprekings met ‘n Chinese maatskappy Shenzhen Media, maar dit het blykbaar deur die mat geval.

Staking, optog in middestad

Johannesburg onderhandel met “marionette wat nie eens taxis besit nie ” oor die beoogde snelbusdiensprojek (BRT), sê die voorsitter van die United Taxi Association Forum Ralph Jones.Lede van die forum staak Dinsdag en gaan ook aan ‘n optog in die middestad deelneem.

Duisende mense in en om Johannesburg wat van taxis afhanklik is om by die werk te kom, het vroegoggend tou gestaan om treine en Putco busse te haal, maar ander het besluit om liewer tuis te bly.

Monday, 23 March 2009

Vodafone sluit groot ooreenkoms

Vodafone en Telefonica het ooreengekom om netwerk infrastruktuur in vier Europese lande te deel om aan groeiende aanvraag vir selfoon breëband te voldoen terwyl miljoene ponde se koste bespaar word.

Die ooreenkoms wat Maandag bekend gemaak is, is die grootste nog van sy soort en dui op die behoefte aan kostebesparing asook die sukses van sekere data pakkette.

Die ooreenkoms sal geldig wees in Duitsland, Spanje, Ierland en Brittanje en kan dalk uitgebrei word.

Die ooreenkoms is ook ‘n gevolg van die ekonomiese insinking, wat wêreldwyd gevoel word, maar in Europa, eerste in Ierland, Spanje en Brittanje opgemerk is.

ENB se plan vir huiseienaars

Dit is better om sukkelende klante in hul huise te hou met behulp van skuld hulpprogramme as om hulle hul huise te laat verloor, het Eerste Nasionale Bank Maandag gesê.

Die bank se behuisingshoof Sean O’Sullivan het gesê hulle beveel aan dat klante spesiale reëlings tref met die bank, wat onder andere kan behels dat betalings verminder word vir 12 maande.

O’Sullivan het gesê dit help verbruikers om vinniger op die been te kom en verminder ook regsaksies teen verbruikers en belangrikste van alles, help hulle om hul huise behou. Daar was ook “vinnige verkoopplanne” waar die klant en die bank saamwerk om die huis vinnig te verkoop op ‘n vrywillige veiling.

Hulppakket vir Zimbabwe

Leiers van Suidelike Afrika sal na verwagting volgende week ‘n ekonomiese hulppakket vir Zimbabwe goedkeur, het ‘n regeringsamptenaar Maandag gesê.

Dit sal na verwagting ‘n $2 miljard ekonomiese hulppakket wees, het regeringswoordvoerder Ronnie Mamoepa gesê.

Die ministers van finansies van 15 lande in Suidelike Afrika het op 27 Februarie ingestem om Zimbabwe te help herbou aan hul ekonomie.

Stakingsdreigemente in Nigerië

Nigerië se olievakbonde vergader met regeringsamptenare Maandag in ‘n poging om ‘n staking te voorkom oor veiligheidsaspekte in die Nigerdelta.

Die vakbonde wil hê dat die regering stappe neem om die werksomstandighede te verbeter in die onstabiele gebied.

Die vakbonde dreig om ‘n staking van drie dae te hou.

Vragskip ontsnap van seerowers

Seerowers het gevuur op ‘n Japannese vragskip wat by die kus van Somalië verbygevaar het maar die skip het weggekom, het die Japannese regering Maandag gesê. Niemand is in die voorval beseer nie.

Die seerowers het in twee klein bote aangekom en begin vuur op die Jasmine Ace, wat met motors onderweg was na Kenia. Die skip het ontwykende bewegings uitgevoer en geslaag daarin om weg te kom.

In 2008 is 12 Japannese skepe aangeval in die gebied.

Unies span saam teen werkloosheid

Die National Union of Metalworkers (Numsa) gaan saamspan om afdankings in Oos-Kaapland te beveg.

Numsa het reeds verteenwoordigers van die ANC, Cosatu, kerke en ander organisasies ontmoet.

Doeane inkomste daal skerp

Die Southern African Customs Union (Sacu) se inkomste uit doeane gaan weens die finansiële krisis sowat R6.8 miljard hierdie jaar daal.

Die adjunk buitelandse minister, Sue van der Merwe, sê lande wat staatmaak op uitvoere van slegs een kommoditeit gaan daardeur die swaarste geraak word.

Motormaatskappye dank duisende af

‘n Vakbond woordvoerder sê meer as 36 000 poste is reeds in Suid-Afrika se voertuig en verwante bedrywighede verloor.

Volkswagen Suid-Afrika het 400 werkers afgedank, General Motors SA 1 000, Toyota 800 en Nissan SA sowat 200. Herman Ntlatleng van die National Union of Metalworkers sê baie maatskappye ondersoek die moontlikheid om van nog werkers ontslae te raak.

Pamodzi Goud in hof oor Orkney myn

Die Industrial Development Corporation het by die Noord Gauteng Hooggeregshof in Pretoria aansoek gedoen om Pamodzi Goud se Orkney myn in die Noord-Wes onder geregtelike toesig te plaas.

Regter Bill Prinsloo het egter in die guns van drie krediteure uitspraak gelewer. Hulle het probeer om die myn onder tydelike likwidasie te plaas. Pamodzi het nou tot 14 April om te wys waarom die Orkney myn nie onder finale likwidasie geplaas moet word nie. Die IDC is een van Pamodzi se grootste krediteure – dit het die maatskappy R200m in Desember verlede jaar geleen.

SA spandeer al meer geld op toelaes

Die hoof van Pan African Advisory Services, Iraj Abedian, het gewaarsku dat Suid-Afrika moontlik in ‘n skuldstrik kan val waar die land geld op buitelandse markte moet leen om maatskaplike toelaes te kan uitdeel.

Suid-Afrika spandeer sowat R70 miljard ‘n jaar op maatskaplike toelaes. Daar word verwag dat 16.5 miljoen mense binne die volgende drie jaar toelaes sal ontvang, in vergelyking met die huidige syfer van 13.3 miljoen. Die belastingbetalers sal waarskynlik van 5.3 miljoen tot 6 miljoen verhoog.

Saturday, 21 March 2009

Rekenaarspeletjies nou gerekende sportsoort

Asiatiese rekenaarspelers sal hul later vanjaar by die meer konvensionele atlete aansluit in Hanoi vir die 3de Asiatiese Binneshuise Spele, het organiseerders Vrydag aangekondig.

Rekenaarspeletjies, ook genoem "E-sport", is een van die 20 sportsoorte wat deur 5000 atlete, vanuit Asië, beoefen gaan word. Die spele vind plaas vanaf 30 Oktober tot 8 November.

Die spelers sal in ses videospeletjies teen mekaar kompeteeer. E-sport vereis hoë vlakke van konsentrasie van die spelers, en uitsonderlike hand-en-oog koördinasie.

Goeie reputasie belangrik vir bevordering

Jou reputasie is jou belangrikste bate, indien jy iewers wil kom in die besigheidswêreld.

Volgens Natalie Rabson van Boston Stadskampus en Besigheidskool, is die onlangse skandale waarby Schabir Shaik en Joost van der Westhuizen onderskeidelik betrek is, tekenend hiervan.

Sy beklemtoon dat mens ten alle tye jou goeie naam moet beskerm, en seker maak dat jou gedrag eties is.

“Ons is onder die indruk dat dit slegs bekendes is wat oor hul reputasies bekommerd moet wees. Die realiteit is dat ‘n slegte reputasie ook in die werksplek jou ondergang kan beteken,” sê sy.

Facebookers hou nie van veranderinge

Die gebruikers van Facebook is nie beïndruk met nuwe ontwerp nie.

94% van die bykans 800 000 Facebook gebruikers het in ‘n meningspeiling aangedui dat hulle nie van die veranderinge hou wat die afgelope twee weke aangebring is nie.

Slegs 6% het aangetoon dat hulle van die ontwerp hou.

Spyt oor daardie epos?

Dit gebeur gereeld dat ‘n epos gestuur word, en net wanneer die "stuur" knoppie gedruk word, word ‘n spelfout raakgesien. Gewoonlik is dit dan te laat om die epos te kanselleer.

Google Gmail gee nou hul gebruikers die geleentheid om presies dit te doen. ‘n "Undo Send" opsie maak nou deel uit van Google Gmail, en dit hou die boodskap vir vyf sekondes terug voordat dit gestuur word.

Hierdie opsie stel egter nie die gebruiker instaat om ‘n boodskap wat alreeds gestuur is, te kanselleer nie.

Werkloosheid verenig New Yorkers

Hulle is blykbaar die klub in New York wat die vinnigste groei, en om aan te sluit, hoef jy net jou werk te verloor.

Die 405 Club het die naam te danke aan die $405 maksimum weeklikse uitbetaling wat ‘n werklose persoon in New York kry. Hierdie is een van die vele Internet-gebasseerde groepe wat weens die wêreldwye ekonomiese krisis ontstaan het.

Die klub beoog om ondersteuning te bied aan werkloses in New York.

Motorskoue gekanselleer

Twee internasionale motorskoue het die nuutste slagoffers geword van die wêreldwye resessie nadat sukkelende vervaardigers nie die stalletjies kon bekostig nie.

Die 2010 Britse internasionale motorskou is gekanselleer weens lae aanvraag, 'n besluit wat baie moeilik vir die organiseerders was omdat dit altyd so gewild is, het hulle bekendgemaak.

Die Britse motorbedryf probeer tans aanpas by die enorme daling in verkope en die sluiting van fabrieke en werksafleggings.

Opel-handelaars bedink plan

Duitse handelaars van Opel motors het gesê hulle gaan belê in General Motors om te keer dat hy vou.

Thomas Bieling, ‘n woordvoerder vir die assosiasie van Duitse Opel-handelaars het gesê hulle het in beginsel besluit om ‘n bedrag in ‘n fonds te betaal vir elke motor wat verkoop word vir drie jaar, waarna hulle ‘n deel van die maatskappy sou besit.

‘n Finale besluit sal in Mei geneem word.

OIieprys val in Asië

Oliepryse het geval in Asië Vrydag maar het gebly rondom $51 per vat na ‘n dramatiese aankondiging deur die VSA se sentrale bank van 'n stewige hupstoot vir die finansiële sektor.

Ru-olie het 61 sent geval vir lewering in April tot en met $51 per vat nadat dit met meer as drie dollar gestyg het Donderdag.

Die prys het op $50 gestaan vir die eerste keer in vier maande en op ‘n stadium Donderdag selfs tot op $52.25 geklim, die hoogste sedert November laas jaar.

SA aandelemark sterker

Suid-Afrikaanse aandele het gestyg in waarde vir die tweede dag in ‘n ry. Dit is te danke aan grondstowwe aandele en ‘n beter gevoel op die internasionale aandelemark.

Die rand het verbeter en die Johannesburg Top-40 indeks van keuraandele het met 1.69% hoër geëindig Vrydag.

“Die mark het goed gehou omdat Europese markte met meer as een persent af was gedurende die dag,” het een handelaar gesê.

Bedrieërs teiken skole

Mpumalanga skole word nou deur mense bedrieg wat belowe om rekenaars te skenk aan die skole in ruil vir ‘n “deposito”, het die provinsie se onderwys departement Donderdag gesê.

Woordvoerder Jasper Zwane het gesê die skole is gevra om eers ‘n deposito van tussen R1000 en R4000 te betaal as versekering vir die rekenaars.

Hy het gesê die skole moet die besonderhede van die persoon neerskryf en die insident aan die polisie en die onderwys departement rapporteer.

Friday, 20 March 2009

Sementwins buitensporig - Cashbuild

Die kleinhandelaar Cashbuild, wat boumateriaal voorsien, het groot sementvervaardigers daarvan beskuldig dat hulle buitensporige wins maak nadat hulle almal hul pryse met dieselfde bedrag vroeër hierdie jaar verhoog het.

Die Cashbuild hoof, Pat Goldrick, het nie Pretoria Portland Cement (PPC), Afrisam, Lafarge of NPC Cimpor van verkeerde praktyke beskuldig nie, maar hy sê hul klante doen dit wel.

Goudaandele effens hoër

Die Johannesburgse Effektebeurs het Vrydag in vroeë verhandelings effens negatief gereageer in pogings om die winste in Donderdag se verhandelings te konsolideer.

Goudaandele was die enigstes wat effens hoër was en dit is gerugsteun deur ‘n stewige goudprys en ‘n swakker Amerikaanse dollar. Die jongste aanwysers was R9.65 vir ‘n dollar en goud is gekwoteer teen $965.7 ‘n ons.

18 windplase in SA ontwikkel

Ierland se Mainstream Renewable Power en ‘n plaaslike ontwikkelaar Genesis Eco-energy gaan saamspan om ‘n R11 miljard projek wat 18 windplase insluit teen 2014 te ontwikkel. Dit sal sowat 500MW elektrisiteit aan die nasionale netwerk kan verskaf.

Dié projek kom te midde van groot planne om Suid-Afrika se hernieubare energie ‘n hupstoot te gee. Daar is al groter besorgdheid oor die bydrae wat steenkool-gebaseerde elektrisiteit aan klimaatsverandering het.

Sony Ericsson voorspel niks goed nie

Die selfoonvervaardiger Sony Ericsson het in Stockholm aangekondig dat verkope en inkomste kwaai deur die wêreldwye ekonomiese krisis geraak is. Die maatskappy sal op 17 April bekend maak hoe hulle die eerste kwartaal gevaar het.

Sony Ericsson het in 2008 ‘n netto verlies van sowat R952m getoon en reuse besparingsmaatreëls aangekondig.

Zim regering gaan voort met SA geldeenheid

Die Zimbabwiese regering het besluit om Suid-Afrika se rand as die land se referensie geldeenheid te gebruik, maar sal nie na die rand oorskakel nie, lui ‘n berig in The Herald.

Die berig haal die finansminister Tendai Biti aan wat gesê het die regering het die rand gekies omdat Suid-Afrika Zimbabwe se grootste handelsvennoot is en die mededingendste land is om pryse en lone te bepaal.

22 April is ’n vakansiedag

Suid-Afrika se president, Kgalema Motlanthe, het aangekondig dat 22 April ’n openbare vakansiedag sal wees sodat mense kan gaan stem.

Verkiesingsdag is gewoonlik ’n openbare vakansiedag.

Daar is alom gehoop dat dit ’n normale werksdag sou wees omdat daar reeds soveel vakansiedae in en om April is – Goeie Vrydag, Paasmaandag en Werkersdag op 1 Mei.

President Motlanthe het die aankondiging ingevolge artikel 2A van die Wet op Openbare Vakansiedae (Wet no. 36 van 1994) gedoen.

Vakbond: Dank hele SAL-direksie af

Alhoewel hulle die kabinet se ondersoek oor die skikkingspakket van die voormalige uitvoerende hoof van SAL, Khaya Ngqula, verwelkom, moet die hele SAL-direksie afgedank word, het die South African Transport and Allied Workers Union (Satawu) Donderdag gesê.

Die vakbond sê die SAL-direksie is net so aanspreeklik as Ngqula en moet afgedank word, aangesien dit hulle was wat die retensiepremie in die eerste plek goedgekeur het.

Die neiging in staatsondernemings om buitensporige pakkette en sogenaamde aansporingskemas aan te bied moet dringend hersien word, het Satawu gesê.

Fed beplan nóg ’n triljoen

Die Amerikaanse Federale Reserwebank (die Fed) het Woensdag sy pogings opgeskerp om die ekonomie te ondersteun, en aangekondig dat hy ’n ekstra $1 triljoen in die finansiële sisteem gaan inpomp as teenvoeter vir die verlammende uitwerking van slegte lenings en swak beleggings.

Nadat hy reeds die sleutelrentekoers tot amper 0% verlaag het, het die Fed toenemend na alternatiewe gekyk om meer dollars in die ekonomie in te pomp, ’n taktiek wat daarop neerkom dat groot bedrae geld uit niks geskep word. Woensdag se skuif was egter die grootste nog.

Zim soek hulp met graaninvoere

Zimbabwe soek hulp met graaninvoere as gevolg van jare se droogte en die verminderde landboukapasiteit, het 'n ekonomiese beleidsdokument van die koalisieregering wat Donderdag bekendgemaak is, gesê.

Volgens die dokument het Zimbabwe 2 miljoen ton mielies en omtrent 500 000 ton koring per jaar nodig om sy bevolking te voed.

"In die laaste paar jare het ons nie daarin geslaag om gemiddeld meer as 20% van die vereistes te produseer nie. Dus moet daar gereken word om omtrent 80% van die graan in die vorm van hulp te kan bekom."

ArcelorMittal verhoog pryse met 79%

Die koste van blikkies kan volgende maand met tussen 35 en 40% styg nadat ArcelorMittal Suid-Afrika vandeesweek aangekondig het dat hy die prys van tinplaatstaal met 79% gaan verhoog.

Graham Hayward, ’n woordvoerder van die verpakkingsmaatskappy Nampak, sê staal verteenwoordig die helfte van ’n blikkie se koste. Blikkies word meestal vir bier en koeldrank gebruik, asook vir ingemaakte vis, vrugte en groente.

Volgens ArcelorMittal SA sal hy "die pryse na ses maande heroorweeg, met ’n moontlike aanpassing in Oktober”.

Thursday, 19 March 2009

Frankryk kom tot stilstand

Franse werkers het ‘n tweede landwye staking gehou Donderdag om te betoog teen President Nicolas Sarkozy se ekonomiese planne.

Donderdag se protesaksie het lug- en spoorwegvervoer geraak en kom te midde van grootskaalse woede oor werksverliese en fabrieke wat sluit in die lig van die resessie wat oor Europa heen gevoel word.

Volgens ‘n meningsopname, het 78% die eendag-staking gesteun.

AA bekommerd oor tariefverhoging

Die Automobiel-Assosiasie (AA) het kommer uitgespreek oor ‘n beoogde tariefverhoging wat sal veroorsaak dat Gautengse motoriste 39c per liter meer betaal oor die volgende twee jaar.

Transnet doen tans aansoek vir ‘n verhoging van 82.5% op die tarief vir petroleumprodukte op die bestaande pypleiding van Durban na Gauteng.

Dit sal ‘n toename van ongeveer 10c per liter beteken vir die gebruik van die lyn tussen Durban en Gauteng.

Die toename moet nog deur die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) goedgekeur word.

Pick n Pay skep elektrisiteit

Pick n Pay het ‘n nuwe fase begin in hul pogings om energie onafhanklikheid te bewerkstellig met ‘n klein windplaas in Port Elizabeth.

Pick n Pay se Tessa Chamberlain het gesê die windplaas was deel van die maatskappy se pogings om kragverbruik met 20% te laat daal teen 2012.

Daar word gehoop die turbines sal “groen elektrisiteit” opwek vir die maatskappy se streekskantore. Sedert die projek in Desember afgeskop het, is daar reeds ‘n 3% vermindering in afhanklikheid van Eskom.

Woede oor AIG bonusse

Daar is groot woede oor die besluit van AIG om bonusse van $156 miljoen te betaal aan werknemers wat deels verantwoordelik was vir die versekeringsreus se ineenstorting – maar min gaan so ver as senator Charles Grassley, ‘n Republikein van Iowa, wat voorgestel het dat die maatskappy se uitvoerende beamptes behoort te “bedank of selfmoord moet gaan pleeg.”

Terwyl politici en meningsvormers die afgelope paar dae hulle woede helder laat opklink het oor die bonusbetaling, is die mees passievolle stemme - nie verbasend nie - op die internet.

Op “blogs” en gespreksforums teken die ontstoke publiek in ongewoon groot getalle hul weersin aan.

Ekonomie lyk steeds droewig

Werklike ekonomiese aanwysers is steeds oorwegend negatief, het die Nedbankgroep se hoof ekonoom, Dennis Dykes, Woensdag gewaarsku.

Oor die afgelope maand het die rand beter begin vertoon, maar dit was geen rede tot verligting nie, sê Dykes. Dit word meer gesien as ‘n regestellende reaksie op vroeëre skerp dalings.

Hy meen daar sal baie “vals sonsopkomste” wees totdat die kredietmarkte meer normaal gaan begin optree.

Transnet sluit reuse ooreenkomste

Transnet het leningsooreenkomste van R5.7 miljard met agt plaaslike en internasionale finansiële instellings gesluit wat tot R6.5 miljard kan styg as twee ander lenings ook goedgekeur word.

Die waarnemende hoof, Chris Wells, sê die lenings bewys dat Transnet vasbeslote is om die R80 miljard infrastruktuur op te knap, ten spyte van die ekonomiese krisis.

Virgile wil Pamodzi koop

Die hoof-uitvoerende beampte van Virgile Mining, Hettie Fourie, het bekend gemaak dat hulle Pamodzi Gold R200m aangebied het vir die President Steyn goudmyn in die Vrystaat.

Pamodzi het die myn van Thistle Mining vir R240m in Februarie 2008 gekoop. Fourie sê Virgile het reeds ‘n aanbod vir Pamodzi so vier of vyf mande gelede gemaak en die aanbod is “onderhewig aan die toestand van die myn”.

Afwagting op Reserwebank besluit

Sommige ekonome het die Reserwebank gekritiseer wat té min té laat doen. Nadat ekonome knaend vir ‘n verlaging in die bank se repokoers gevra het, het die bank president, Tito Mboweni aangekondig dat die monetêrebeleidskomittee Maandag en Dinsdag sal vergadering om oor die rentekoers te besluit. Dié vergadering sou oorspronklik op 15 en 16 April gehou word.

‘n Ekonoom van Brait, Colen Garrow, sê die stadige reaksie van die Reserwebank kon moontlik die delikate balans tussen resessie en herstel versteur het. Die meeste ekonome verwag die rentekoers gaan volgende week met minstens een persentasiepunt verlaag word.

CD verkope daal skerp

Marknavorsing in die VSA dui daarop dat bykans 17 miljoen minder mense verlede jaar CDs gekoop het in vergelyking met die vorige jaar.

Baie meer Amerikaners het verlede jaar aanlyn digitale musiek gekoop terwyl CD verkope sterk gedaal het. Die aantal mense het met agt miljoen tot 36 miljoen gestyg.

Sakeman skuldig aan bedrog

‘n Kaapstadse sakeman, Southey Grobbelaar, is met R1m beboet nadat hy skuldig bevind is aan bedrog. Hy het ‘n swart bemagtigingsmaatskappy begin wat ‘n R40m kontroversiële tender van Kaapstad gewen het om bande en binnebande vir die stad se vloot voertuie sou voorsien.

Grobbelaar, ‘n voormalige direkteur van Kilotreads in Paarl, en huidige direkteur van Hi-Zone Trader 112, wat handel dryf as Themba Tyres, het ‘n pleitooreenkoms met die Staat aangegaan.

Wednesday, 18 March 2009

Brown aanstelling nie verwelkom

Die Nedbankgroep se besluit om Mike Brown aan te stel as die volgende hoof-uitvoerende beampte wanneer Tom Boardman uittree, is nie verwelkom deur swart ekonomiese bemagtigingsgroepe nie (SEB).

Jimmy Manyi, die president van die Black Management Forum, het gesê hy was “geskok” deur die aanstelling omdat hy gedink het Nedbank sou ‘n swart persoon aanstel.

Manyi het gesê hy sou vra vir ‘n verduideliking van die besluit. Ajay Lalu, vennoot by Bravura Economic Empowerment Consulting het gesê dis ‘n teleurstellende besluit.

“Ek probeer glad nie sê dat Mike Brown onbevoeg is nie, maar die maatskappy moes probeer het om bevoegde swart ouens te vind,” het Lalu gesê.

Anglo verkoop aandeelhouding

Anglo American het sy oorblywende 11.3% aandeelhouding in AngloGold Ashanti verkoop aan beleggingsfondse wat bestuur word deur Paulson & Co vir $32 per aandeel in kontant, vir ‘n opbrengs van $1.28 miljard.

Die maatskappy het gesê die opbrengs sou vir algemene korporatiewe doeleindes gebruik word.

Anglo American besit nou geen meer aandele in AngloGold Ashanti nie.

Storm dreig oor Eskom

‘n Storm dreig oor Suid-Afrikaanse elektrisiteitsverskaffer Eskom se besluit om sy aansoek vir tariefverhogings te vertraag.

Dit kom te midde vrese dat Eskom dalk beplan om binnekort weer aansoek te doen vir 80% verhogings. Die maatskappy het Dinsdag gesê dat hy wag omdat hy eers wil meet hoeveel skade aangerig is deur die wêreldwye ekonomiese insinking.

Woordvoerder Fani Zulu het gesê die krisis het hul klante beïnvloed, asook hul vermoë om geld te leen en Eskom se vooruitsig van die groei en aanvraag na elektrisiteit.

China sê nee vir Coca-Cola

China het Woensdag gesê hy het ‘n aansoek van Coca-Cola om die land se grootste vrugtesapvervaardiger aan te koop, verwerp.

Die land se handelsministerie het gesê hy sal nie die $2.4 miljard aankoop van
Huiyuan toelaat nie omdat dit ‘n “negatiewe invloed op mededinging” sou hê.

Dit sou die grootste buitelandse oorname nog wees van ‘n Chinese maatskappy. Die besluit word gesien as ‘n terugslag vir internasionale maatskappye wat in China aankope wil maak.

Die 'reg' tot kernkrag

Elke nasie het die “reg tot toegang” tot kernkrag, het die Verenigde Nasies se premier, Gordon Brown, Dinsdag in Londen gesê.

Geen “skoon, doeltreffende” tegnologie behoort van die tafel te wees in die stryd teen klimaatsverandering nie, sê hy.

Brown het Iran genooi om saam met die Weste te werk om uraan vir siviele doeleindes te gebruik.

Tanzaniet produksie word ingekort

Tanzanite One, die wêreld se grootste produsent van die blouerige edelstene, het produksie in Tanzanië afgeskaal.

Die voorsitter, Ami Mpungwe, het in Dar es Salaam gesê hulle is in samesprekings met die vakbonde betrokke om poste te skrap weens die wêreldwye ekonomiese krisis.

Verhoogde aanvraag vir toelae

Die uitbetaling van maatskaplike toelae gaan binnekort nie meer haalbaar wees nie, sê die DA. Meer as 13 miljoen toelae ‘n maand gaan waarskynlik van April af uitbetaal word. Meer as 600 000 van die land se behoeftigste mense kan van April ook ‘n eenmalige toelae ontvang.

Meer as R600 miljoen is in die 2009/09 boekjaar vir die toelae begroot.

Heffing vir ou motorbande moontlik

‘n Heffing om die afhaal en opruiming van bande wat geskrap is op ‘n omgewingsvriendelike manier te vergemaklik, sal dalk volgende jaar ingestel word. Daar word verwag dat die heffing R15 vir ‘n motorband en R140 vir ‘n vragmotorband sal wees.

Die hoof-uitvoerende amptenaar van SA Tyre Recycling Project, (SATRP), Etienne Human, sê die bandvervaardigingsektor sal ‘n plan moet voorlê wat die regering moet goedkeur.

Skerp daling voorspel vir uitvoerinkomste

‘n Senior Nedbank ekonoom, Nicky Weimar, sê uitvoerinkomste sal skerp daal in 2009 ná groei van meer as 30% verlede jaar weens ‘n kombinasie van swakker vraag en dalende uitvoerpryse.

Sy voorspel dat plaaslike uitvoere met tot 10% kan daal. Die meeste Suid-Afrikaanse uitvoere is gemik op wêreldwye vervaardigingsnywerhede en daardie sektor het groot probleme.

Mynwerker dood in rotsstorting

Die Moab Khotsong goudmyn is tydelik gesluit nadat ‘n werker tydens ‘n rotsstorting dood is.

‘n Woordvoerder van Anglo Gold Ashanti sê dit is nie bekend hoe lank die myn gesluit sal bly nie, “maar dit sal produksie in die wiele ry – sowat 1 447 onse (45kg) ‘n dag word verloor”.

Tuesday, 17 March 2009

Nedbank stel Mike Brown aan

Mike Brown is aangestel as die aangewese Nedbank hoof-uitvoerende beampte, het die bank Dinsdag gesê.

Brown sal Tom Boardman opvolg wat uit die groep tree in Februarie 2010.

Brown is tans die groep se hoof-finansiële beampte en uitvoerende direkteur. Die bankgroep se voorsitter het gesê daar is gekyk na plaaslike asook internasionale kandidate en dat hulle baie tevrede is met hul keuse.

Die prys van misdaad

Daar is vier misdade wat Suid-Afrikaanse slagoffers rondom R110.5 miljard kos elke jaar, sê die Instituut vir Sekuriteitstudies (ISS).

Charles Goredema van die ISS, sê die vier misdade wat die meeste bydra tot misdaad, is dwelmsmokkelary, smokkelhandel, finansiële en roofmisdade.

Finansiële misdaad was die mees lonende vir misdadigers.

Noodsituasie by Pelindaba

‘n Noodsituasie het Maandagoggend by die Pelindabakernfasiliteit buite Pretoria ontstaan, het die SA kernenergiekorporasie (Necsa) gesê.

“Abnormale vlakke van gamma-bestraling geassosieerd met xenon- en kriptongas was opgetel in die gebou waar radio-isotope vervaardig word vir mediese toepassings,” het Necsa in ‘n verklaring gesê.

Necsa het gesê ‘n alarm is gemaak en al die mense op die perseel het na voorafbepaalde plekke gegaan. Kort voor elf was die vlakke van bestraling weer normaal, maar verdere ondersoeke word gedoen om te verseker dat alles in orde is.

'Vleisboek' verwar baie

Sommige Suid-Afrikaners het laas week geskrik toe hulle na Facebook gegaan het, en meteens ‘n Afrikaanse webblad gesien het.

Sommige SA gebruikers is outomaties na Afrikaans oorgeskakel tydens die webwerf se langverwagte opgradering Woensdag.

Maar baie gebruikers het nie daarvan gehou, gesê dat hulle dit nie so wou hê nie, met baie wat nie Afrikaans verstaan het nie. Een verwarde gebruiker het na die webwerf as Vleisboek verwys.

Facebook-woordvoerder Elizabeth Linder het gesê nie all Suid-Afrikaners is gedwing om die nuwe Afrikaanse weergawe te gebruik nie en dat gebruikers die taal kan kies waarin die blaaie verskyn en dit enige tyd kan verander.

Diamantmyn sluit in Namibië

‘n Afname in diamantverkope het veroorsaak dat die Namebmyn vir drie maande lank gaan sluit.

Nameb word gesamentlik bedryf deur De Beers en die Namibiese regering.

Net 260 van die firma se werkers sal nog aktief werk. Die produksie “vakansie” is deur die Nameb groepsbestuurder vir korporatiewe sake, Hilifa Mbako, bevestig.

4x4-strategie vir omgewing

Marthinus van Schalkwyk, die minsiter van omgewingsake en toerisme, het Maandag met verteenwoordigers van die 4x4-bedryf vergader, het sy woordvoerder, Sanet Krugel, gesê.

"Verteenwoordigers van die bedryf het die stragegie wat hulle voorberei het, aan die minster oorhandig. Dit handel spesifiek oor 4x4-aktiwiteite in sensitiewe natuurgebiede.”

Dié strategie is opgestel nadat Van Schalkwyk in 2005 daarop aangedring het dat die bedryf homself moet begin reguleer om sensitiewe natuurgebiede in die land te beskerm.

Kommissie se verslag skielik duurder

Die voorsitter van die kommissie vir geslagsgelykheid, Nomboniso Gasa, het aantygings van wanbestuur en onreëlmatighede ten opsigte van haar reisuitgawes ontken.

“Die gemene gerugte en beskuldigings is ongegrond,” het sy gesê.

Die Mail & Guardian het Vrydag berig dat die kommissie na bewering R4 miljoen betaal het vir ’n diagnostise verslag oor wanbestuur in die organisasie.

Volgens die koerant het die verslag oorspronklik R1 miljoen gekos.

Banke kikker wêreldmarkte op

Goeie nuus van internasionale banke het aandelemarkte Maandag ’n hupstoot gegee nadat aandele wêreldwyd ’n week terug begin herstel het.

Die gesondheid van banke is die sleutel tot enige verbetering in die wêreld se ekonomiese vooruitsigte. Totdat banke weer soos normaalweg geld uitleen, sal die wêreld se vernaamste ekonomieë in die greep van ’n resessie bly, en ontluikende markte met hulle saamsleep.

Sam Houlie van Investec Batebestuur sê banke hoef nie uitstekend te vaar nie, “hulle moet net nie so swak vaar nie”.

Reële koers styg al is repokoers laer

Retekoersverminderings in die buiteland het die geleentheid geskep vir die herstel van die aandelemarkte, maar in Suid-Afrika bly rentekoerse betreklik hoog.

Ten spyte van die feit dat die rentekoers onlangs verlaag is, het die plaaslike reële rentekoers – die nominale koers minus inflasie – sedert laat verlede jaar gestyg.

Alhoewel leners op die nominale koers fokus, word monetêre beleid en valutabewegings deur reële koerse beïnvloed. Die nominale repokoers wat die Reserwebank tans vra vir geld wat hy aan die banksektor leen is 10,5%; in Junie 2008 was dit 12%.

Likwidasie-aansoek teen Pamodzi Gold

Daar word Dinsdag ’n eis in die Pretoriase hooggeregshof ingestel vir die likwidasie van die beleërde Pamodzi Gold se Orkney-myne. Pamodzi skuld Engineering Labour Hire and Mining Supplies glo R21,8 miljoen.

Dié maatskappy sê hy het 700 werkers vir ondergrondse werk aan Pamodzi Gold beskikbaar gestel.

Bongi Radebe, ’n woordvoerder vir Pamodzi, sê hulle is bewus van die aansoek en gaan dit teenstaan.

Volgens die Solidarity-vakbond gaan nog ’n krediteur ’n eis instel vir die likwidasie van Pamodzi se myne in die Vrystaat.

Monday, 16 March 2009

Gavin O’Reilly aan stuur van INM

Na die uittrede van sy uitvoerende hoof, Anthony O'Reilly, op sy 73ste verjaarsdag, het Independent News & Media (INM) besluit om sy direksielede van 17 tot 10 te verminder, en drie nuwe direksielede aan te stel.

Gavin O'Reilly sal bevorder word van hoof bedryfsbeampte tot hoof uitvoerende beampte. Die O'Reillys hou 28.5% van INM se aandele. Die aandele se waarde het geval van ’n hoogtepunt van €2,43 (R31,35 teen Vrydag se wisselkoers) in Mei 2008 tot ’n laagtepunt van €0.10 verlede Donderdag. Na Vrydag se besluit het die aandele op €0,17 gesluit.

Independent-koerantbates nie te koop

Nie een van die Independent News & Media (INM) groep se kernkoerantbates, insluitende dié in Suid-Afrika, is te koop nie, het ’n woordvoerder vir INM Vrydagaand gesê. Die bestuur ondersoek slegs die verkoop van INM se buitelugadvertensiebates in Afrika.

Dit volg op Vrydag se aankondiging van dramatiese veranderings in die INM-direksie. Dit het aanleiding gegee tot bespiegelinge dat groter veranderinge dalk kan volg om die groep se groot skuldlas te verlig en hom beter te posisioneer vir die moeilike handelstoestande wat voorlê.

Winsneming stroop JSE-profyt

Die JSE het stewiger internasionale finansiële markte geïgnoreer en Maandag in die rooi begin. Een van die handelaars het opgemerk dat markdeelnemers besig was om wins te neem na verlede week se goeie vertonings.

Teen 9:12 Maandagoggend het die JSE se indeks van alle aandele 0,50% en hulpbronne 1,17% ingeboet. Platinum-myners het met 0,30% verswak en goudaandele met 1,35%. Banke was 0,10% laer en finansiële aandele lusteloos op 0,03% laer. Nywerheidsaandele was egter effe hoër op 0,14%.

Die rand was R9,92 teenoor die dollar nadat hy Vrydag op R9,97 gesluit het.

Kremlin: G20 moet uitgediende bestel hersien

Die Kremlin het Maandag op sy tuisblad gesê volgende maand se G20-byeenkoms in Londen moet die grondslag lê vir ’n fundamentele hersiening van die “uitgediende” ekonomiese wêreldbestel.

"By die beraad in Londen moet ons eenstemmigheid kry oor die parameters van die nuwe wêreldargitektuur.

“Die uitgediende eensydige ekonomiese bestel moet vervang word deur ’n stelsel gegrond op die interaksie van verskeie groot sentra,” lui die verklaring. Agt voorstelle om dit te bereik, word ook gegee.

Leer uit ander se foute - Mnyande

Al het Suid-Afrika tot dusver die ergste direkte gevolge van die wêreldwye finansiële krisis vrygesrping, is strenger bankregulering in Suider-Afrika nodig, het Monde Mnyande, die Reserwebank-ekonoom, Maandag in Pretoria gesê.

"Krisisgereedheid en die versterking van finansiële stabiliseringsmeganismes is hoog op die prioriteitslys van sentrale banke in die streek.

"’n Mens kan baie leer uit die gemors wat ander gemaak het,” het Mnyande gesê.

Olieprys val

Wêreld oliepryse het geval tot onder $45 ‘n vat in Asiese handel Maandag nadat die Opulkartel die naweek besluit het om nie vervaardiging te sny nie.

Sommige analiste het verwag dat Opul vervaardiging sou verminder in ‘n poging om pryse te verhoog, nadat pryse tot rekord laagtepunte geval het weens ‘n vermindering in aanvraag na aanleiding van die ekonomiese krisis.

Die kartel, wat verantwoordelik is vir 40% van die wêreld se ru-olie, het egter besluit om eers te wag met besnoeiings om die Groep van 20 ryk en ontwikkelende lande (G20) eers ‘n kans te gee om die krisis aan te spreek.

Elektrifiseringsprojek geloods

Minerale en energie minister Buyelwa Sonjica het ‘n multimiljoenrand elektrifiseringsprojek geloods by Kwanzimakwe aan die KwaZulu-Natalse suidkus, is Sondag berig.

Die elektrifiseringsprojek sal meer as ‘n 1 000 huishoudings in die area tot voordeel strek, het Sonjica gesê.

Die projek het gekom na die gemeenskap gekla het dat die regering hulle glo ignoreer het.

MTN se nuwe bankdiens

Selfoonmaatskappy MTN het Maandag gesê hy gaan ‘n bankdiens vir selfone bekendstel in 21 Afrika en Midde-Oosterse lande waar toegang tot tradisionele banke sleg is.

“Ons het hierdie diens in Suid-Afrika in 2005 bekendgestel,” het Dare Okoudjou gesê.

Dit sal bekendstaan as MTN MobileMoney en sal gebruikers in staat stel om vir aankope te betaal en balanse na te gaan.

Slegte vooruitsig vir staalvervaardiger

Highveld Steel & Vanadium het Vrydag ‘n 109% toename in inkomste per aandeel aangemeld oor ‘n volle jaar, maar meen vooruitsigte lyk nie goed nie.

Die maatskappy het nie ‘n finale dividend verklaar nie, maar het gesê hy wil kontant spaar vir belastingsbetalings.

Verkope het met 8.5% geval.

PetroSA ontken bewerings

PetroSA het Sondag bewerings ontken dat hy verantwoordelik was vir brandstoftekorte by BP takke in die Wes-Kaap.

Berigte oor die naweek het gesê dat BP die vinger na die semistaatinstelling gewys het en ook die kwaliteit van sy produkte gekritiseer het.

PetroSA woordvoerder, Thabo Mabaso, het gesê die maatskappy het sy produkverskaffingsverpligtinge nagekom.

Saturday, 14 March 2009

"G20 gaan positief wees"

Angela Merkel, die Duitse kansellier, het Saterdag gesê sy is optimisties oor die moontlikheid om ooreenkomste te bereik tydens volgende maand se G20 byeenkoms in Londen, ten spyte van moontlike probleme wat tussen Europa en die VSA kan ontstaan.

“Ek voel uiters positief oor die moontlikheid om ooreenkomste aan te gaan met die VSA, en met ontwikkelende ekonomieë soos China en Indië,” het sy na ‘n vergadering met die Briste Eerste Minister, Gordon Brown, gesê.

“Die byeenkoms moet ‘n positiewe teken wees wat aan die wêreld wys dat ons groei ondersteun,” het sy bygevoeg.

"Depressie en resessie sal kom en gaan"

Kgalema Motlanthe het by die Nasionale Unie van Metaalwerkers van Suid-Afrika se werkskonferensie in Midrand gesê die land was tot op hede nie immuun teen die globale ekonomiese krisis nie.

"Die krisis het veral beleggers en werkers swaar getref...hierdie depressie sal kom en gaan,” het hy gesê. Hy het bygevoeg dat ‘n benadering wat voorkeur gee aan vereniging en samewerking nie onderskat moet word nie.

Hy het ook gesê dat die krisis nie die weefsel van die samelewing moet aantas nie, en sy versekering gegee dat die arm en weerloses beskerm sal word.

Turkse geldeenheid verbeter

Die Turkse geldeenheid is besig om die rand verby te steek.

Turkye gaan ‘n leenooreenkoms met die Internasionale Monotêre Fonds aangaan, en die sentrale bank gaan hul rentekoerse daling ook beëindig.

Beleggers word nou aangemoedig om eerder die Turkse lier as die rand te koop.

SAA werknemers beëindig staking

Honderde werknemers van South African Airways wat drie weke gelede begin staak het weens veranderinge in werkstrukture en geskille oor betaling, het Vrydag ophou staak.

Kenneth Monnana van die Suid-Afrikaanse Vervoer en Werkersunie, het gesê: “Ons werkers sal van vandag af terug wees by die werk.”

Toyota waarsku voertuie word duurder

Toyota Suid-Afrika het sy stem gevoeg by die groep plaaslike motorvervaardigers wat waarsku dat motorpryse aansienlik gaan styg.

Dit sal veral die ingevoerde modelle wees wat aansienlik duurder sal word.

Media-magnaat tree af

Die hoof van die Independent News & Media Anthony O'Reilly gaan eersdaags aftree en die bestuur van die reuse internasionale media-maatskappy oorgee aan sy seun Gavin.

Die Ierse magnaat word binnekort 73 en het volgens Gavin uit sy eie wil besluit om af te tree, te midde van groot finansiële probleme in die maatskappy.

Maar ontleders glo dat die druk van bankiers, om ‘n geskil met ‘n groot aandeelhouer Denis O’Brien so gou as moontlik te besleg, tot die besluit bygedra het.

Die spertyd vir die terugbetaling van ‘n groot lening, lê ook om die draai.

Independent News & Media, wat O’Reilly oor ‘n tydperk van 4 dekades opgebou het en strek vanaf Nieu-Seeland en Suid-Afrika tot Ierland, se aandeelpryse het sterk geval tot 10 euro sent – wat slegs ‘n fraksie uitmaak van die prys van die koerante.

Die wêreldwye resessie het O’Reilly se maatskappy ‘n lelike knou toegedien.

Independent News & Media se skuld beloop €1.4 billion (ongeveer R18-biljoen). Die skuld het opgedam as gevolg van uitbreidingsplanne oorsee.

Die maatskappy moet ‘n lening van €200-miljoen in Mei terugbetaal.

'SABC moet TV-lisensiegeld skrap'

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Verbruikersunie (Sancu), wat Internasionale Verbruikersdag Sondag vier, het die SABC gevra om betalings vir TV-lisensies te skrap.

Sancu is van mening dat die SABC die verbruikers nog meer wil laat betaal vir hul TV-lisensies, om hulle uit hul finansiële verknorsing te help.

Volgens Sancu voel verbruikers uiters gefrustreerd, omdat hulle voel dat hul kant van die saak nie gehoor word nie.

Die SABC het verlede jaar R152-miljoen spandeer om die lisensiegeld in te samel - dit is ongeveer 20% van die totale fooie wat hul gekry het.

Friday, 13 March 2009

Groot aanvraag na goud

Daar is glo wêreldwyd ‘n groot aanvraag na goue munte weens die finansiële onstabiliteit en vrese oor inflasie.

Die goudprys is van die min kommoditeite wat in 2008 in waarde toegeneem het.

Munte dwarsoor die wêreld sê dat hulle dubbel en selfs meer aanvraag gehad het na goue munte oor die afgelope jaar.

Angola kry lening

Angola het ’n lening van een miljard dollar gekry van Sjina om te spandeer op die ontwikkeling van hul landbou, het die staatsmedia Donderdag gesê.

Die Suider-Afrikaanse land het reeds $5 miljard ontvang in lenings van Sjina om te betaal vir die opbou van die land na die oorlog, maar die Wêreldbank glo dat daar tot $8 miljard is wat nog nie verklaar is nie.

Handel tussen die twee lande het in 2008 25,3 miljard dollar beloop, en Angola is nou Sjina se grootste handelsvennoot in Afrika.

O'Reilly kondig uittrede aan

Tony O’Reilly het aangekondig dat hy gaan uittree as hoof-uitvoerende beampte van die Independent News en Media wat gesien word as ‘n bestuursomwenteling en wat moontlik twis onder groot aandeelhouers sal beeindig.

Nadat die nuus bekend gemaak is, het die aandeelprys die hoogte in geskiet.

Daar was ‘n langdurige vete tussen die magnaat Denis O’Brien, wat 25% van Independent besit het en O’Reilly, wat 28.6% besit het en dit word bespiegel dat die maatskappy se krediteure aangeraai het dat hy uittree aangesien dit die maatskappy sal help om sy finansiële probleme beter aan te spreek.

'Hulle maak ekonomie seer'

ANC-LP Jeremy Cronin het tydens ‘n debat in Kaapstad die chemiese vervaardiger Sasol en plaaslike klerevervaardigers voor stok gekry.

“Ons moet baie strenger raak met kompetisiebeleid, om ontslae te raak van die samewerking tussen die groot rolspelers in die privaatsektor – die mynhuise, die Sasols en so aan. Hulle maak ons ekonomie seer.”

“Sasol vra kleiner plastiekvervaardigers 40% meer as wat hulle vra in die buiteland vir PVC, wat die basiese komponent is van plastiek. Ons moet werklik streng raak met hierdie karakters.”

Oor die klerebedryf sê hy, “Byvoorbeeld, daar is ‘n 60% verskil tussen wat Sjina sê hulle uitvoer na Suid-Afrika en wat ons rekords by die hawens en deur die doeane toon wat van Sjina af gekom het.”

MTN boer vooruit

Die MTN groep wil ‘n “betekenisvolle” aankoop maak in 2009 om sy besigheid uit te brei, sê hoof-uitvoerende beampte, Phuthuma Nhleko.

“Ons is gretig om iets te doen wat ons kan help uitbrei en laat aanhou diversifiseer,” het Nhleko gesê.

MTN mik vir ‘n 50% markaandeel in al die lande waarin hulle operasioneel is.

Dit is ‘n “oop geheim” dat MTN belangstel in Angola indien ‘n lisensie beskikbaar word. MTN stel ook belang in Ethiopië.

Moody’s-verklaring gee rand ’n stampie

’n Verklaring Donderdag deur Moody's Beleggingsdiens oor die stand van Suid-Afrika se buite- en binnelandse skuld het die rand met 10c laat daal. Die geldeenheid het egter gou herstel.

Moody's het die positiewe vooruitsigte vir die Baa1 buitelandse valuta-beoordeling bevestig, maar die A2 plaaslike geldeenheid-beoordeling hersien. Die laer gradering sal dit duurder maak om geld in die buiteland te leen.

John Cairns van Rand Merchant Bank sê daar was ’n aanvanklike oorreaksie op die nuus.

Die rand het die dag afgesluit op R9.99 teenoor die dollar, 14.87c sterker as die vorige dag.

Einde van die pad vir tolplazas

Die netwerk van tolplazas landwyd gaan oor die volgende drie jaar afgebreek word ter voorbereiding van ’n revolusionêre nuwe stelsel – ooppad-tolgeldinvordering.

Motoriste wat by tolpunte verbyry, sal outomaties via ’n elektroniese skanderingstelsel aangeslaan word. Dié stelsel lees 'n elektroniese senders op ’n motor se voorruit.

Aan die einde van die maand kry motoriste dan ’n rekening vir hul tolgeld.

Nazir Alli, uitvoerende hoof van die South African National Roads Agency (Sanral), sê betalingsopsies sal net soos lugtyd vir selfone werk.

Die eerste loodsprojek word in November 2010 in Gauteng van stapel gestuur.

Brown ‘wou R30m-boete betaal’

Voormalige Fidentia-baas Arthur Brown was bereid om ’n boete van R30 miljoen te betaal in ruil vir sy vryheid.

Brown het aan die einde van 2007 met die Skerpioene begin onderhandel. Hy was bereid om skuldig te pleit op bedrog en wou ’n boete van R30 miljoen betaal.

Terselfdertyd was Fidentia-kurators op soek na Fidentia-geld van R1,6 miljard.

Brown het ook ’n opgeskorte vonnis van 10 jaar voorgestel wat drie jaar se korrektiewe toesig ingesluit het.

Madoff het arres verwag

Bernard Madoff, VSA-biljoenêr, voormalige fondsbestuurder en Nasdaq-voorsitter, het Donderdag skuldig gepleit op 11 aanklagte van bedrog.

Madoff se bedrieglike skema het $65 biljoen oor twee dekades ingeoes voor verlede jaar se markineenstorting. Hy kan lewenslank tronkstraf daarvoor kry.

Hy sê hy het van die begin af geweet hy is besig met kriminele dade en dat hy een of ander tyd uitgevang sal word.


Madoff het onder andere skuldig gepleit op aanklagte van effektebedrog; beleggingsadviesbedrog; oordragbedrog; geldwassery; valse verklarings; meineed; valse voorleggings; en diefstal uit ’n werknemervoordeleplan.

Hy word op 16 Junie gevonnis.

Ergste verby vir kredietkaartwanbetalings in SA

Kredietkaartwanbetalings is ’n dreigende krisis oorsee, maar die ergste is waarskynlik verby in Suid-Afrika.

Nedbank se kaartafdeling sê vlakke van slegte skuld het die afgelope ses maande afgeneem. Kaarthouers is ook besig om hoërente-skuld eerste af te betaal. Standard Bank se ondervinding stem hiermee ooreen.


In die VSA word daar byvoorbeeld verwag dat American Express se verliese weens wanbetaling sal toeneem. Kliënte word ook deur uitleners betaal om hul rekeninge te sluit.

Thursday, 12 March 2009

450 werknemers afgedank

Die maatskappy Aveng het tussen 400 en 450 werknemers ontslaan by sy hoofkantoor en myn operasionele gebiede in reaksie op die wêreldwye ekonomiese insinking.

Die groep het Woensdag bevestig dat kontrakte ter waarde van R4.2 miljard gekanselleer is gedurende die laaste ses maande van 2008.

Desnieteenstaande, het die groep groei van 13% getoon. Die hoof-uitvoerende beampte, Roger Jardine, het gesê dit was ‘n moeilike besluit om mense te laat gaan.

Onaangename einde vir R1.5m

Die R1.5 miljoen wat deur ‘n Gautengse konstruksiewerker hierdie week gevind is in ‘n koelhouer, is beskadig en kan nie weer gebruik word nie.

‘n Gautengse polisiewoordvoerder het gesê die note is besmeer met modder en glo gevlek.

Die Reserwebank sal die geld in ontvangs neem en vernietig.

New Clicks verkoop aan MTN

New Clicks het ingestem om tot 17 Musica winkels te verkoop aan MTN.

Die gelyste kleinhandelaar het Donderdag gesê hy beplan ook om spasie beskikbaar te stel aan MTN in ses ander Musica winkels.

MTN sal dan Musica se verhuringsverpligtinge oorneem, asook sommige kontrakte en personeel.

SABC werkers hou sitstaking

Omtrent 300 lede van die SABC se bemarkings-en verkope afdeling het Woensdag ‘n sitstaking gehou buite die waarnemende hoof-uitvoerende beampte se kantoor, het die Kommunikasiewerkers Unie gesê.

Die werknemers eis dat sekere bestuurders verwyder word en het klagtes van nepotisme, begunstigding en vermorsting van geld, het woordvoerder Karthi Pillay gesê.

Lugrederye kry swaar

Duitsland se Lufthansa het Woensdag gewaarsku dat sy bedryfswins gaan val hierdie jaar en Ierland se Aer Lingus het ook laat weet dat hy geen kans staan van voorbelastingwins soos lugrederye wêreldwyd regmaak vir ‘n vermindering in reisigers.

Lufthansa het in ‘n verklaring gesê dat 2009 ‘n baie uitdagende jaar gaan wees en het bygevoeg dat sake volgende jaar kan verbeter mits die mark teen die derde kwartaal van hierdie jaar herstel.

Lugrederye sukkel aangesien baie maatskappye hul reisbegrotings gesny het tydens die huidige ekonomiese krisis.

Etiese tarief vir dokters kan geskrap word

Organisasies wat dokters en onafhanklike private hospitale, wat nie deel vorm van groot hospitaalgroepe soos Netcare en Medi-Clinic, verteenwoordig het ’n voorstel deur die Raad op Gesondheidsberoepe van SA gekritiseer om die etiese tarief wat bepaal wat ’n dokter se maksimum tarief mag wees, te vervang.

Die Raad stel voor dat die pasiënt ’n dokument teken om die praktisyn se tarief te aanvaar, wat dit ook al mag wees. Die pasiënt moet instem om die verskil te betaal as die dokter meer sou vra as die nasionale gesondheidsverwysingspryslys of die tarief wat deur die mediese fonds bepaal word.

R24m herwin van huissubsidie-verneukspul

Ongeveer R24 miljoen is sedert 2007 van staatswerknemers herwin danksy ondersoeke na huissubsidiebedrog en korrupsie deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE).

Dié sterk optrede het die departement van behuising nog R16,8 miljoen gespaar, sê Faiek Davids, onderhoof van die SOE.

In die proses is 753 staatswerknemers vervolg en 634 dissiplinêre lêers voorberei.

’n Oudit in 2006 deur die destydse ouditeur-generaal, Shauket Fakie, het onder andere bevind dat 53 426 huissubsidies ter waarde van R800 miljoen wat sedert 1994 uitbetaal is, verdag was.

R7m vir navorsing oor tradisionele medisyne

Die Universiteit van KwaZulu-Natal het R7 miljoen van die Ibn Sina Institute of Tibb ontvang om navosing oor tradisionele Afrika-medisyne ’n hupstoot te gee. Die Ibn Sina Institute of Tibb is in 1997 as ’n organisasie sonder winsoogmerk gestig, wat enige wins vir welsynsprojekte aanwend.

R2 miljoen van hierdie bedrag sal gebruik word om die eerste laboratorium vir tradisionele Afrika-medisyne te bou.

Probleemtender kan Gama se kanse skaad

Onreëlmatighede ten opsigte van ’n tender van R6.5 miljard vir 212 lokomotiewe wat skeefgeloop het, kan Siyabonga Gama, uitvoerende hoof van Transnet Freight Rail, se kanse in die wiele ry om Transnet se groep uitvoerende hoof te word.

Transnet is op soek na ’n opvolger vir Maria Ramos, wat verlede maand by Absa aangesluit het.

Gama, met 15 jaar ervaring van Transnet se spoor- en maritieme ondernemings, is die gunsteling-kandidaat vir die pos.

As daar bo alle twyfel bewys word dat Gama verantwoordelik was vir die hantering van ’n ongespesifiseerde tender, is dit dalk neusie verby.

Pamodzi skarrel oorsee vir R200m

Twee uitvoerende hoofde van Pamodzi Investment Holdings is tans op besoek aan New York, Toronto en Dubai in ’n desperate poging om Pamodzi Gold te red met ’n lening van R200m.

Pamodzi kan nie sy 4 000 werkers betaal nie, en skuld verskaffers en krediteure meer as R700 miljoen. ’n R200m-lening wat in Desember 2008 deur die Nywerheidsontwikkelingskorporasie toegestaan is, het in net drie maande verdamp.

Best Rock Investments van die VSA het ook nie hul belofte in Januarie 2009 van ’n R200m-lening gestand gedoen nie.

Wednesday, 11 March 2009

Diamantbedryf verloor sy glans

Die diamantbedryf is besig om sy glans in Indië te verloor nadat talle diamantfabrieke moes toemaak weens ‘n vermindering in aanvraag.

Meer as 100 000 is sonder werk gelaat.

Die Indiese ekonomie, die derde grootste in Asië, ly tans erg onder die ekonomiese insinking. Uitvoere het dramaties geval en duisende het hul werk verloor.

Ekonomiese krisis kan vererger

Lawrence Summer, die VSA se hoof finansiële adviseur, het regerings wêreldwyd gemaan om meer geld in hul ekonomië te pomp om ‘n resessie teë te werk.

Die Europese Sentrale Bank se Axel Weber het gewaarsku dat die wêreldwye ekonomie nog verder kan versleg.

Hy het gewaarsku dat daar nog gevare voorlê tydens ‘n tyd wanneer die markte onstabiel is.

Meeste ekonome wêreldwyd glo dat die insinking nog ver van verby is en waarskynlik net nog erger gaan word.

IMF vra ekstra fondse aan

Die Europese Unie se ministers van finansies het Dinsdag ‘n oproep van die Internasionale Monetêre Fonds ondersteun om krisisbefondsing te verdubbel na $500 miljard.

Die ministers ontmoet die naweek by die Groep van 20 beraad in Londen om die ekonomiese krisis te bespreek.

Die geld sal eweredig versprei word onder lede van die IMF.

Wêreldekonomie onder oë

Die wêreld se top lande sal na alle waarskynlikheid saamstem dat alles in hul vermoë gedoen behoort te word om die wêreldekonomie te ondersteun.

Intussen het die Internasionale Monetêre Fonds gewaarsku dat ‘n “groot resessie” kom.

Die ministers van finansies van die Groep van 20 rykste lande sal die naweek vergader in Londen in ‘n poging om ekonomiese knelpunte aan te spreek.

Bank ontstel Hong Kong

Die sukkelende bankreus HSBC Holdings soek $17.7 miljard in vars kapitaal om senuweeagtige beleggers gerus te stel nadat sy aandeelprys dramaties geval het.

Die 24% val in die aandeelprys Maandag het Hong Kong geruk en gelei tot ‘n ondersoek.

“Hierdie bank maak geld, en dit maak geld vir sy aandeelhouers,” het Sandy Flockhart, van die bank gesê.

“Ons sal deur hierdie storm kom”.

Vrugtevlieg gevaar vir SA

Suid-Afrika se R12.8 miljard vrugtenywerheid is reg vir die moontlike inval van ‘n nuwe spesie vrugtevlieg wat die laaste vyf jaar suid oor die kontinent versprei het.

Die hoof-uitvoerende amptenaar van die streek se vrugtekwekersverenigning, Justin Chadwick, sê: “Ons is baie bewus van die vrugtevlieg en hou die situasie fyn dop."

Smeltery dank werkers af

Meer as 100 werkers van die Xstrata Alloy smeltery in Rustenburg in Noord-Wes is in die pad gesteek. Die werkers sê hulle het geweier om aan ‘n gesondheids projek deel te neem waar hulle glo gedwing sou word om MIV-toetse te ondergaan.

Xstrata SA het die bewerings verwerp en gesê die mense is in die pad gesteek omdat hulle gedurende werksure protes aangeteken het.

Bron verklap nuus oor Transnet

‘n Bron het blykbaar die regering ingelig van ‘n korrup verhouding tussen een van Transnet se bestuurders en die direkteur van ‘n maatskappy wat 212 lokomotiewe teen ‘n koste van R6.5 miljard sou voorsien.

Die saak dien nou in die Suid-Gauteng Hooggeregshof, waar die maatskappy wie se bod toe nie aanvaar is nie, aansoek doen vir 'n interdik teen Transnet om ‘n nuwe tender vir 100 lokomotiewe uit te reik.

Verligting vir verbruikers

‘n Ekonoom van Sanlam, Arthur Kamp, sê Suid-Afrikaanse verbruikers behoort laer voedsel inflasie die volgende paar maande te ondervind. Voedselpryse van die vervaardigings en kleinhandelaars het aangehou styg, hoewel die landbouprodukte pryse onlangs gedaal het. Kamp sê egter dat die laer pryse nou enige tyd aan verbruikers oorgedra gaan word.

Nuusagentskappe het Dinsdag berig dat kospryse in China met 1.9% in Februarie gedaal het.

SAL baas kry trekpas

SAL het Dinsdag hul hoof-uitvoerende amptenaar Khaya Ngqula die trekpas gegee. Die voorsitter van SAL, Jakes Gerwel, het gesê hulle het ‘n ooreenkoms bereik, maar geen bedrae is genoem nie.

Ngqula is deur die SA Transport and Allied Workers Union (Satawu) gekritiseer omdat 2 000 mense hul werk verloor het, terwyl die topstruktuur groot bonusse ontvang het.

Tuesday, 10 March 2009

Werkloosheid is 'n groot probleem

Terwyl alle oë op die ekonomiese insinking gerig is, meen baie kenners dat die fokus van die regering moet wees daarop om werksbehoud eerder as om werk te skep.

Mense se posisies moet bekerm word, eerstens, hoewel dit nie beteken dat nuwe werk nie geskep moet word nie.

‘n Onlangse arbeidskongres het gekyk na werkskepping, en ‘n Amerikaanse professor, Paul Romer het gesê dit is belangrik om mense werk te gee, selfs al is dit teen lae betaling, aangsien hulle dan vaardighede aanleer.

Meeste mense stem saam dat werkloosheid die grootste probleem is wat aangespreek moet word.

Suid-Afrika kry té swaar

Ekonomiese kenners meen dat Suid-Afrikaners baie swaar kry in die huidige ekonomiese klimaat.

Hulle meen die ekonomie sal ook begin ly onder die soort skuld wat Suid-Afrikaners tans het.

Mense betaal nie skoolfondse nie, het gesondheidsprobleme, raak depressief en is onproduktief by die werk. Hulle meen ook daar is ‘n groter gevaar vir bedrog en korrupsie en daar word gevra dat die regering optree deur ten minste, rentekoerse te sny.

Rentekoerse moet gesny word

Rentekoerse moet dringend gesny word met twee persent sê ‘n Suid-Afrikaanse verbruikersgroep.

Consumer Assist sê dat skuld skokkend toeneem en al meer druk op verbruikers, banke en kleinhandelaars plaas.

Verbruikers maak glo meer skuld nou as ooit en kom net nie die mas op nie.

Opul sny olie opbrengs

Opul sal olie opbrengste met ‘n addisionele 800 000 vate ‘n dag moet sny om te hou by bestaande kwota regulasies, het die groep se sekretaris-generaal, Abdalla el-Badri Maandag gesê.

Die groep sal hul geskatte aanvraag vooruitsig aanpas na ‘n vermindering van een miljoen vate ‘n dag.

Opul se Maart verslag word later vandeesweek bekend gemaak.

First Rand sukkel maar

First Rand ly toenemend onder ‘n toename in slegte skuld, veral gedurende die ses maande tydperk wat op 31 Desember 2008 geëindig het.

First Rand bestaan uit Eerste Nasionale Bank, Rand Merchant Bank, WesBank en Momentum.

Die bankgroep het hul slegte vertoning in die tweede helfte van laas jaar toegeskryf aan die swak finasiële situasie wêreldwyd.

Sementverkope daal skerp

Sementverkope in die Southern African Customs Union (Sacu) het met 18% tot 1.02 miljoen ton verlede maand gedaal, het die Cement and Concrete Institute in Johannesburg bekend gemaak.

Die unie sluit in Suid-Afrika, Botswana, Swaziland, Lesotho en Namibië.

AVI-groep ontken buitensporige winsneming

Die AVI vervaardigingsgroep se hoof-uitvoerende amptenaar Simon Critchley het ontken dat die maatskappy skuldig is aan buitensporige winsneming. Hy het kommentaar gelewer nadat die landbou minister Lulu Xingwana maatskappye in die voedselvoorsienings sektor daarvan beskuldig het dat hulle “geld maak uit honger mense”.

AVI se inkomste het met 18% tot R4 miljard gestyg, nadat die groep se eerste-helfte bedryfswins van voortgesette prosesse met 16% tot R535m verhoog het.

Sasol sny begroting

Die olie- en chemiese groep Sasol het hul kapitaal bestedingsbegroting vir die drie jaar tot Junie 2011 met 40% tot R48 miljard gesny om kontant te behou in afwagting op wispelturige mark toestande.

Die hoof-uitvoerende beampte Pat Davies het gesê die maatskappy het nog nie finaal besluit waar die inkorting gaan plaasvind nie, maar dit beplan nie om werkgeleenthede plaaslik te sny nie.

Beleggings stroom Effektebeurs binne

Syfers by die Johannesburgse Effektebeurs toon dat ten spyte van hoë vlakke van wêreldwye risiko weersin en die ongunstiger vooruitsigte van effekte, het R4.6 miljard van nie-residentiële beleggings die mark in 2009 ingestroom.

Die beleggings, wat volg op ‘n R54.4 miljard totale uitvloei in 2008, sal help om die huidige rekeningtekort te finansier, wat tot moontlik 8% van die Bruto Binnelandse Produk verteenwoordig. Dit lyk of die aantrekkingskrag die veilige hawe van goud is, wat Maandag verhandel is op $923.75 ‘n ons.

Transnet kanselleer tender

Transnet het ‘n tender van bykans R6.5 miljard om 212 lokomotiewe te koop gekanselleer omdat hulle vermoed het daar was ‘n korrup verhouding tussen een van hul werknemers en een van die direkteure van Electro-Motive Sibanye, die maatskappy wie se bod aanvaar sou word.

Transnet het in hofstukke in die Johannesburgse Hooggeregshof gesê hulle het ‘n fout gemaak toe hulle die swart ekonomiese bemagtigings status ondersoek het.

Monday, 09 March 2009

Sasol staan sterk

Sasol se wesensverdienste per aandeel het gestyg met 51% tot R21,92 vir die 6 maande wat geëindig het Desember 2008, het die petrochemiesegroep Maandag gesê toe hulle tussentydse verslae bekend gemaak is.

Dit was as gevolg van beide die hoër olieprys en ‘n swakker rand.

Werksprofyt van R31,5 miljard was 53% hoër as die vorige jaar se vergelykende periode, het Sasol gesê.

Afrikaleiers vergader oor ekonomie

Met die volle impak van die globale ekonomiese krisis wat Afrika gaan tref, het Afrikaleiers Maandag in Tanzanië vergader vir die Internasionale Monetêre Fonds se konferensie om die saak aan te spreek.

Die IMF se besturende direkteur, Dominique Strauss-Kahn, het gesê, “Nadat eers die nywerheidslande en daarna die ontluikende markte getref is, tref ‘n derde golf van die globale krisis nou die wêreld se armste en mees kwesbare lande, en dit tref hulle hard,” het hy gesê.

Strauss-Kahn het gesê die impak op lae-inkomstelande sal wees deur die vermindering in handel, maar hy het ook gesê dat ‘n 20%-verlaging in direkte buitelandse belegging kan plaasvind.

Nuwe uitvinding maak lewe maklik

‘n Japanese man het ‘n nuwe uitvinding ontwikkel waardeur mens in die toekoms deur ‘n knipoog, ‘n glimlag of ‘n opgetrekte wenkbrou, musiek op jou iPod kan verander of die wasmasjien kan aanskakel.

Die toestelletjie lyk soos kopfone maar bestaan uit infrarooi sensors wat gesigsuitdrukkings kan meet.

Dit word die Mimi Switch of Ear Switch genoem en sal selfs meer gebruike in die toekoms hê.

Besighede baat by ooreenkoms

Die Britse regering het ‘n meerderheidsaandeelhouer in die Lloyds Bankgroep geword in ruil vir die versekering van R3.9 triljoen se risiko bates.

Die ooreenkoms het die regering se belang by die groep van 43.5% na 65% laat toeneem.

Die bank het onderneem om meer lenings toe te staan oor die volgende twee jaar, veral aan besighede.

AVI kan bietjie ontspan

Die bestuur van AVI sal bietjie kan ontspan wanneer hulle die tussentydse bedryfsresultate bekendmaak nadat Tiger Brands besluit het om sy aanbod vir die maatskappy terug te trek.

Dit beteken egter nie dat daar nie meer vrae sal wees oor AVI se strategie vir die toekoms nie.

Die maatskappy sal waarskynlik moet heroorweeg of hy steeds in besit wil bly van weelderige skoenwinkels soos Spitz en Jimmy Choo.

Sappi voorsien probleme

Sappi sê sekere papierfabrieke wat in sekere soorte papier spesialiseer sal permanent gesluit moet word as die vraag nie verbeter nie. Hy sê Sappi sal moontlik die eerste stap moet neem, maar dit sal in die belang van die aandeelhouers geskied.

Die maatskappy heroorweeg die situasie weekliks.

Nationwide hoop om van SAL te eis

Die likwidateurs van Nationwide Airlines hoop dat huidige verrigtinge voor die mededingingstribunaal daartoe sal lei dat hulle skadevergoeding van SAL sal kan eis vir misbruik van gesag, sê die voormalige hoof-uitvoerende amptenaar van Nationwide, Vernon Bricknell.

Hy het kommentaar gelewer nadat hy getuienis gelewer het in die uitgerekte stryd teen SA se beweerde teen-mededingende gedrag.

Xingwana kritiseer voedselvoorsieners

Die landbou minister Lulu Xingwana, het maatskappye wat voedsel voorsien daarvan beskuldig dat hulle ‘‘geld maak uit honger mense”.

Sy het firmas wat tussen 40% en 50% wins maak gekritiseer tydens ‘n werkwinkel wat haar departement gereël het om die hoë voedselpryse te bespreek. Dit is bygewoon deur verteenwoordigers van voorsieners, kleinhandelaars en verbruikers.

Groot planne vir Coega

Die vise-president van PetroSA, Dan Marokane, sê Suid-Afrika se grootste olieraffinadery, wat van die einde van volgende jaar gebou gaan word, sal baie beleggingsmoontlikhede vir swart entrepreneurs inhou. Uitvoerbaarheidstudies word nog onderneem, maar daar word beplan om diie multi-miljard rand projek by die Coega nywerheidsgebied naby Port Elizabeth op te rig.

Die projek sal tot 2014 duur en baie geleenthede skep vir klein sakemanne.

Wenkbroue lig oor SA se klein groei

Die aankondiging dat Suid-Afrika se 5.1 miljoen internet verbruikers slegs 9% van Afrika se totale internet netwerk verteenwoordig, het weer oproepe laat opklink dat die regering dringend iets moet doen om op ‘n aggressiewe wyse meer mense toegang te laat kry in gebiede waar daar nog nie baie aansluitings is nie.

Dit het by ‘n vergadering in Indië na vore gekom dat tussen Desember 2000 en verlede jaar Suid-Afrika net sowat 2.7 miljoen nuwe verbruikers op die internet verbruikersforum bygekry het, vergeleke met 10 miljoen bykomend in Nigerië, agt miljoen in Egipte, sewe miljoen in Morokko en drie miljoen in Kenia.

Saturday, 07 March 2009

Spaanse eiendomsmark sukkel

Die verkoop van huise in Spanje het met 33% gedaal in 2008. Hierdie syfers is Donderdag in ‘n regeringsverslag aangekondig.

Die verkope van bestaande huise (teenoor nuwe huise) het die meeste gedaal. Dit het met 46% gedaal sedert 2008.

Radikales gebruik internet strategies

Radikale groepe in Suid-Oos Asië maak al meer gebruik van die internet en sosiale netwerke in ‘n poging om die jeug in hierdie streek op te sweep.

Die gebruik van die internet het aansienlik toegeneem sedert 2000, en ekstremistiese groepe het intussen ‘n gesofistikeerde aanlyn teenwoordigheid ontwikkel.

Amerikaanse kuberruimsekuriteit verdag

‘n Hooggeplaase Amerikaanse kuberruim sekuriteitsbeampte het bedank.

Rod Beckstrom, die direkteur van die Nasionale Kuberruim Sekuriteitsentrum het in sy bedankingsbrief aangevoer dat Amerikaanse kuberruim beskerming gedomineer word deur die super geheime Nasionale Sekuriteits Agentskap (NSA).

Die Departement van Binnelandse Sekuriteit het Beckstrom se bedanking erken, maar geen amptelike rede vir die bedanking is gegee nie.

Mercedes verkope daal

Die Duitse motorvervaardiger Daimler het Vrydag bekendgemaak dat die verkope van Merceder Benz Voertuie in Februarie wêreldwyd met 25% gedaal het weens die globale ekonomiese krisis.

Die maatskappy, wat in Stuttgart geleë is, het aangekondig dat verkope in Februarie tot 72 000 gedaal het, vergeleke met die 96 800 wat in Februarie 2008 verkoop is.

Naas Mercedes, sluit hierdie afdeling ook handelsname soos Smart en Maybach in.

Wall Street verbeter

Wall Street aandele het Vrydag gestyg nadat data getoon het dat werkloosheid in die VSA min of meer gestabiliseer het.

Vrydag is aandale met ywer gekoop, nadat die afgelope paar sessies meestal gekenmerk is deur verkope.

Die Dow Jones het 140.82 punte gespring (2.14 %) tot 6 735.26 in die eerste 15 minute. Die Nasdaq het met 18.86 punte (1.45 %) gestyg tot 1318.45.

Koring af, mielies op

Suid-Afrika se aktiefste koring-termynkontrakte het Vrydag vir die tweede opeenvolgende dag laer gesluit na winsneming, terwyl mielie-termynkontrakte hoër gesluit het danksy die swakker rand.

Koring vir lewering in Mei het met 1,59% gedaal tot R2 725 per ton. Die rand was swakker teenoor die dollar en het om 10:00 MGT verhandel teen 10,57 teenoor 10,3850 met marksluiting Donderdag.

Die swakker rand het die Julie-termynkontrakte vir wit- en geelmielies ’n hupstoot gegee. Witmielies was 0,38% hoër op R1 584 per ton, het geelmielies 0,26% op R1 563 per ton.

Wall Street soek onderpunt

Waar lê die onderpunt?

Dis die vraag op beleggers in Wall Street se lippe ná ’n rowwe week van verliese. Die genadelose beermark het die Dow Jones Industrial Average van prima aandele met 6.17% vir die week laat daal tot 6 626.94, net effe bo ’n 12-jaar laagtepunt.

Die Standard & Poor's 500 het die afgelope week met 7.03% tot sy 1996-vlak van 683.38 gedaal.

Sedert die begin van die jaar het die Dow en S&P reeds met 24% geval en die Nasdaq met amper
18%.

Was Shaik te duur?

Shabir Shaik, wat ’n straftermyn vir bedrog uitdien, se kontroversiële pad na vryheid het in September 2008 begin, berig die Saturday Star. Die Parlement se portefeuljekomitee vir korrektiewe dienste het toe vergader om sy gevangenskap te oorweeg.

Hulle het verskeie kwessies bespreek, insluitende die R3 miljoen wat dit sou kos as Shaik selfs die helfte van sy volle straftermyn in die hospitaal uitdien. In daardie stadium het Shaik reeds die helfte van sy termyn in die hospitaal deurgebring – teen ’n koste van R219 650.

IMF-span oppad na Zimbabwe

Die Internasional Monetêre Fonds (IMF) stuur van 9 tot 24 Maart ’n span op ’n feitesending na Zimbabwe. Die nuwe regering probeer tans finansiering kry om die land se sukkelende ekonomie weer op die been te bring.

Dié besoek sal die eerste wees sedert Desember 2006. Die nuwe eerste minister, Morgan Tsvangirai, sê dis ’n prioriteit om bande met internasionale finansiële instellings te herstel.

Die IMF-span sal Zimbabwe se ekonomiese situasie, vooruitsigte en die regering se beleid evalueer.

Friday, 06 March 2009

SA bank beklink groot transaksie

Standard Bank het ‘n vennootskap met ‘n Russiese bank aangegaan.

In ‘n verklaring uitgereik Vrydag, sê die bank dat hy hierdie strategiese vennootskap met Troika Dialog Groep Bpk aangegaan het. Dit is glo Rusland se grootste onafhanklike beleggingsbank.

Daarvolgens sal Standard Bank ‘n 33% aandeelhouer word in Troika. Die SA bank sal ook ‘n $200 miljoen lening beskikbaar stel aan die Russiese groep.

Fietsryers bring groot geld

Die jaarlikse Cape Argus Pick n Pay fietsry-wedren wat die naweek in Kaapstad gehou word, beteken ‘n ekonomiese hupstoot vir die provinsie.

Duisende mense van oor die land en selfs van oorsee word verwag en hotelle is vol bespreek.

Een van die wedren se organiseerders, David Bellairs, het gesê hy meen die geleentheid sal rondom R400m inbring vir die Wes-Kaapse koffers.

Transnet kap terug

BP Afrika se aanval op Transnet het meer te make met sy plaaslike agterstand ten opsigte van binnelandse raffinaderye soos Sasol en Total, het die maatskappy Donderdag gesê.

BP Afrika is op die kus geleë en moet sy produkte binneland toe vervoer.

In ‘n verklaring het Transnet gesê hy vind BP se uitlatings oor die pypleiding-tariefverhogings baie onverantwoordelik en misleidend.

BP het vroeër laat blyk dat Transnet ‘n 300% verhoging in die tariewe beoog, wat deur Transnet ontken word.

Engelse bank maak 'n plan

Die Bank van Engeland het nie net rentekoerse tot 0,5% gesny nie, dit beplan nou ook om tot R2-triljoen se geld te druk om in die verstopte are van die ongestelde ekonomie in te pomp.

Hierdie breedvoerige skuif – bekend as kwantitatiewe verligting en wat as “die kernenergieopsie” beskou word – sal behels dat 'n triljoen rand in die ekonomie oor die volgende drie maande gevuur sal word, hoofsaaklik deur die aankope van regeringseffekte, bekend as vergulde effekte.

Die Bank wil glo vermy dat die Britse ekonomie verder ineenstort. “Dit is 'n sprong in die duister,” het George Osborne, die skadukansellier, gesê.

Standard Bank voel sterk

Standard Bank, Afrika se grootste bank wanneer dit by bates kom, soek nou na nog aanwinste, het die hoof-uitvoerende beampte, Jacko Maree, Donderdag gesê.

Maree het gesê, “Ons dink ons is in ‘n sterk posisie om voort te gaan met ons soektog na nuwe aanwinste. Ons is nog oop vir besigheid.”

Dit maak Standard Bank die enigste bank onder die JSE-gelyste top vier banke om tydens die huidige finansiële krisis openlik te sê dat hulle nuwe aanwinste soek.

Meer hibriede-motors op mark

Die meeste van die 120 motors wat tydens die 2009 Geneve voertuigskou ten toon gestel word, bied óf brandstofbesparingsmaatreëls of laer uitlaatgasse aan.

Die motornywerheid is onder druk om uitlaatgasse te beperk en om die kleiner aanvraag te bowe te kom. VW voorsitter Martin Winterkorn sê die toekoms van voertuie is beslis groen. Hibriede-motors – wat petrol of dieselenjins met elektrisiteit kombineer - kom al hoe meer voor.

Mans wou bank via internet besteel

Vyf mans is deur ‘n Londense hof skuldig bevind ná ‘n mislukte poging om miljoene pond van ‘n Japanese bank te steel. Hulle het in 2004 probeer om sowat R2.4 miljard van rekeninge van die Sumitomo Mitsui bankkorporasie via die internet te steel.

Hulle het volgens getuienis ‘n baie slim bedink om ‘n werknemer te kry om vir hulle toegang na die Londen kantore van die bank te reël waar hulle met die rekenaars gepeuter het.

Swart konsortium moet aandele teruggee

Die swart bemagtigingskonsortium wat ‘n aandeel in Imuniti Holdings gehad het, is deur die Durbanse Hooggeregshof opdrag gegee om die aandele aan die stigterslede van die AltX-gelyste farmaseutiese en voedselfirma terug te gee.

Die regter het gelas dat die besluite, wat op ‘n stigtings aandele vergadering van die konsortium gehou op 15 Februarie 2006, onwettig was. Die aandele verteenwoordig sowat 27% van die firma en is sowat R10.2m werd.

Roux: Trae ekonomiese groei vir drie jaar

Suid-Afrika kan tot ‘n 2% inkrimping van die ekonomie hierdie jaarhê, sê Investec se Andre Roux.

Met verwysing na die wêreldwye ekonomiese krisis, het hy voorspel dat daar geen herstel sal wees totdat alle struikelblokke uit die weg geruim is en banke weer wêreldwyd geld begin voorskiet nie. Roux dink daar sal minstens drie jaar van trae of negatiewe groei wêreldwys wees.