Nie een van die Independent News & Media (INM) groep se kernkoerantbates, insluitende dié in Suid-Afrika, is te koop nie, het ’n woordvoerder vir INM Vrydagaand gesê. Die bestuur ondersoek slegs die verkoop van INM se buitelugadvertensiebates in Afrika.
Dit volg op Vrydag se aankondiging van dramatiese veranderings in die INM-direksie. Dit het aanleiding gegee tot bespiegelinge dat groter veranderinge dalk kan volg om die groep se groot skuldlas te verlig en hom beter te posisioneer vir die moeilike handelstoestande wat voorlê.