Die hoof van die Independent News & Media Anthony O'Reilly gaan eersdaags aftree en die bestuur van die reuse internasionale media-maatskappy oorgee aan sy seun Gavin.
Die Ierse magnaat word binnekort 73 en het volgens Gavin uit sy eie wil besluit om af te tree, te midde van groot finansiële probleme in die maatskappy.
Maar ontleders glo dat die druk van bankiers, om ‘n geskil met ‘n groot aandeelhouer Denis O’Brien so gou as moontlik te besleg, tot die besluit bygedra het.
Die spertyd vir die terugbetaling van ‘n groot lening, lê ook om die draai.
Independent News & Media, wat O’Reilly oor ‘n tydperk van 4 dekades opgebou het en strek vanaf Nieu-Seeland en Suid-Afrika tot Ierland, se aandeelpryse het sterk geval tot 10 euro sent – wat slegs ‘n fraksie uitmaak van die prys van die koerante.
Die wêreldwye resessie het O’Reilly se maatskappy ‘n lelike knou toegedien.
Independent News & Media se skuld beloop €1.4 billion (ongeveer R18-biljoen). Die skuld het opgedam as gevolg van uitbreidingsplanne oorsee.
Die maatskappy moet ‘n lening van €200-miljoen in Mei terugbetaal.