Wednesday, 18 February 2009

Allen Stanford se bates in bedrogondersoek bevries

Reguleerders van die Amerikaanse geldmark het die krieketmagnaat Allen Stanford van 'n sekuriteitebedrogspul van nagenoeg R9,2 miljard beskuldig.

Stanford kan van bedrog aangekla word vir "beloftes om onwaarskynlike en onbevestigbare hoë rentekoerse (te betaal)", het die Amerikaanse sekuriteite- en verhandelingskommissie (SEC) gesê.

'n Amerikaanse distrikshofregter het die bates van Stanford, 'n groot promotor van krieket, bevries nadat die SEC sy klagte ingedien het.

"Stanford en die klein sirkel familie en vriende saam met wie hy sy ondernemings bestuur, het massiewe bedrog gepleeg gegrond op vals beloftes en versinde geskiedkundige opbrengsdata om beleggers 'n rat voor die oë te draai," het Linda Thomsen, die direkteur van die SEC se vervolgingsafdeling, gesê. "Ons beweer hiermee bedrog van skrikwekkende afmetings, wat regdeur die wêreld gestrek het."