Tuesday, 10 February 2009

SA verloor suierfabriek; 320 werkloos

Suid-Afrika het sy laaste vervaardiger van suiers vir motorenjins verloor nadat Kolbenco van die Oos-Rand sy deure gesluit en 320 mense hul werk verloor het.

Colin Eddey, die besturende direkteur van Kolbenco, wat motorvervaardigers in Suid-Afrika en Duitsland van plaaslik vervaardigde suiers voorsien het, het Maandag gesê die wêreldwye ekonomiese insinking in die motorbedryf het 'n groot rol gespeel.

Eddey het gesê Kolbenco het 'n Volkswagen-kontrak vir later vanjaar gehad, maar daar is geen mark om die maatskappy tot dan te ondersteun nie nadat die Ford-Motormaatskappy van Suider-Afrika se Rocam-enjinprogram "dramaties uitmekaar geval het".

Sy Duitse vennoot, KS Kolbenschmidt, het ook volumes onttrek wat nodig sou wees om die maatskappy aan die gang te hou totdat die VW-kontrak ingeskop het.