Die Suid-Afrikaanse lugdiens SAA het Chris Smyth Vrydag as waarnemende uitvoerende hoof aangewys ná 'n direksiebesluit om Khaya Ngqula op spesiale verlof te stuur ten einde 'n dringende ondersoek te hou.
Die lugdiens het Woensdag aangekondig dat Ngqula vrywillig spesiale verlof geneem het, maar het nie verdere besonderhede gegee nie.
SAA het gesê sy direksie sal 'n onafhanklike, eksterne agentskap aanstel om 'n ondersoek na sekere bestuurskwessies te doen.
Smyth is die bedryfshoofbestuurder by SAA.