Tuesday, 10 February 2009

Dollar-verkope versterk die rand

Dollar-verkope het 'n groot bydrae tot 'n relatiewe sterk rand sedert die einde van verlede week gelewer, het Ian Cruickshanks, die hoof van strategiese navorsing by Nedbank Capital, Maandag gesê.

"Amerikaners word basies verkopers van die dollar teen ander geldeenhede. 'n Nuwe interdaaglikse patroon is onlangs gevestig - die rand bly op sy vlak van die vorige dag totdat New York open, en versterk dan in die laatmiddag," het hy verduidelik.

Cruickshanks het gesê die rand, wat Maandagoggend 'n interdaaglikse laagtepunt van R9,78 bereik het, maar daarna weer versterk het, het skerp gestyg nadat die Amerikaanse valutamarkte omstreeks 16:00 plaslike tyd geopen het. Die rand se beste was R9,5356 teen 16:25 en het teen 17:00 teen R9,6017 teen die dollar verhandel.