Wednesday, 03 June 2009

Voedselpryse kan moontlik val

Verbruikers wat swaarkry met hoë voedselpryse kan binne die volgende twee maande verligting kry, meen die ekonoom Andre Jooste.

Jooste het Dinsdag gesê die supermarkte begin nou reflekteer dat produsente se pryse laer is en het voorspel dat verbruikers binnekort die verskil sou sien.

Voedselpryse styg egter skerp, hoewel boere minder betaal word vir hul produkte as ‘n jaar gelede.

Voedselinflasie hou pryse onaanvaarbaar hoog – op 8.4% in April, hoër as die Reserwebank se voorgestelde 6%.

Tuesday, 02 June 2009

"The Sims" kry persoonlikheid

Die Amerikaanse videospeletjie reus, Electronic Arts, het hierdie week hulle derde episode in die lewe van die multi-miljard dolar franchise, “The Sims” vrygestel.

En hierdie keer het die rekenaarspeletjie ‘n sielkundige dimensie. Dit is deur die rekenaar-genie Will Wright geskep.

“The Sims” speletjie stel die speler instaat om deel te neem aan dinge soos werk, die grootmaak van kinders, en uitgaan op romantiese afsprake.

GM gaan Hummer verkoop

General Motors het Dinsdag aangekondig dat die maatskappy ‘n ooreenkoms met ‘n onbekende koper geteken het, en dat die Hummer handelsnaam voor die einde van die derde kwartaal verkoop sal wees.

Volgens GM sal dit beteken dat 3000 poste in Amerika gered word van ondergang.

Hummer-verkope het verlede jaar met 51 persent gedaal, die grootste daling in die Amerikaanse voertuigindustrie tot nog toe.

Werkers in staalbedryf afgelê

Suid-Afrika se tweede grootste staalvervaardiger, Highveld Steel and Vanadium, het ‘n proses waarin 300 van hul werknemers afgelê gaan word, begin.

Die vakbond Solidariteit het dit Maandag bevestig.

Die vakbond het die beplande afleggings veroordeel en gesê die tydsberekening is swak, aangesien aankondigings van herstel in die staalbedryf pas gemaak is.

Verkope van nuwe voertuie daal verder

Die verkope van nuwe voertuie het in Mei drasties gedaal. Hierdie daling bevestig dat die algemene kommer oor werksekerheid en kommer oor lenings nie verniet is nie.

Volgens die Motorvervaardigers van Suid-Afrika het verkope in al die segmente van die Suid-Afrikaanse nuwe voertuig mark, sowel as uitvoerverkope, aansienlik gedaal gedurende Mei.

Gedurende Mei 2009 is 25 819 eenhede verkoop, 13 697 eenhede of 34.7 persent laer as die 39 516 eenhede wat gedurende Mei 2008 verkoop is.

VW aandele styg danksy Porsche

Volkswagen aandele het Dinsdagoggend met meer as 10 persent gestyg nadat Porsche, VW se grootste aandeelhouer, aangekondig het dat hulle steeds geïnteresseerd is in ‘n vennoot.

VW aandele het met 10.58 persent geklim, en het op €254 te staan gekom.

“Ons is oortuig daarvan dat integrasie die beste oplossing is vir al die betrokke partye,” het Porsche in ‘n verklaring gesê.

VW is tans die grootste Europese motorvervaardiger.

Sterk rand is nie goed vir SA

Die sterk rand is nie goeie nuus vir die land se sukkelende ekonomie nie, meen die hoof van die Reserwebank, Tito Mboweni.

‘n Sterk rand maak dit moeilik vir fabrieke om uitvoere op te stoot terwyl ‘n ekonomiese herstel ook wêreldwyd aan die gang probeer kom.

Teen 09:15 Dinsdag, het die rand verhandel teen R8.07 teenoor die dollar.