Wednesday, 01 July 2009

Miljoene aanlyn betaal vir toerusting

‘n Vennoot in Textile Horizons, Reg Taylor, sê toerusting wat aanlyn van tekstielbedrywighede in Suid-Afrika wat tot niet gegaan het, verkoop het, het meer as R100 miljoen oorskrei.

Hy sê die toerusting is hoofsaaklik aan Indië, Bangladesh en Indonesië verkoop, wat die afgelope vier jaar aanlyn bie vir die toerusting. Textile Horizons het saamgespan met die wêreld se grootste aanlyn veilingsmaatskappy, GoIndustry DoveBid, om die tekstiel-verwante projekte in sub-Sahara Afrika te verteenwoordig.

Klein groei in vervaardigingsektor

Die aankope bestuurders indeks, (PMI), ‘n aanduiding hoe die land se vervaardigingsektor vaar, het die tweede agtereenvolgende maand ‘n klein verhoging getoon, sê die indeksborg Kagiso.

‘n Woordvoerder, Andre Coetzee, sê die indeks, wat seisoenaal aangepas word, het in Junie op 37.9 te staan gekom, vergeleke by 37.3 in Mei. Die volume vervaardigde goedere het egter steeds stadig afgeneem, maar seisoenaal aangepaste verkope het van 35.1 tot 37.9 en van 35.7 tot 38.2 gegroei.

Madoff-fortuin is weg

‘n Dag nadat die Wall Street-bedrieër Bernard Madoff 150 jaar tronktoe gestuur is, wonder ondersoekbeamptes steeds waar al die miljarde is wat hy van sy slagoffers gesteel het.

Madoff was die meesterbrein agter een van die wêreld se grootste bedrogspulle maar trustees kon tot dusver nog net $1.2 miljard terugvind.

Staatsaanklaers beweer $13 miljard is by hom “belê” en dit het vrae laat ontstaan oor waar die oorblywende geld nou is.

GM skitter in China

General Motors in China het Woensdag gesê motorverkope in dié land het skerp toegeneem in 2009, in teenstelling met die maatskappy se probleme elders in die wêreld.

Die Amerikaanse motormaatskappy het 38% meer motors verkoop in China in die eerste helfte van 2009 in vergelyking met dieselfde tyd laas jaar.

GM China se groeppresident, Kevin Wale, het in ‘n verklaring gesê dat die Chinese mark steeds beter vaar as wat verwag is.

Lloyds sny nog poste

Die Lloyds Banking Group, Brittanje se grootste verbandsbank beplan om ongeveer 2 100 poste te sny.

Dit sal beteken dat die groep sedert April laas jaar meer as 7 650 poste gesny het. Dit sal personeel in die Verenigde Koninkryk raak.

Die maatskappy se hoof-uitvoerende beampte, Eric Daniels, het belowe om kostes te sny na die aankoop van HBOS in Januarie, wat ‘n bank geskep het met meer as 3 000 takke en ‘n 28% aandeel in die land se verbandmark.

Naspers fokus op Internet

Die mediareus Naspers beplan heelwat kleiner ooreenkomste soos wat hy voortgaan om uit te brei in ontwikkelende markte. Die maatskappy wil ook meer Internet-besighede aankoop.

Hoof-uitvoerende beampte, Koos Bekker, het gesê van die ooreenkomste sal bestaande dienslewering verbeter terwyl ander op hul eie winsgewende proposisies is.

Sy huidige internet belange het R7.3 miljard gelewer in inkomste vir die jaar tot en met Maart, ‘n jaarlikse toename van 87%.

Resessie duur voort

Inligting wat Dinsdag bekend gemaak is oor kredietsyfers dui aan daarop dat die resessie voortduur in die tweede kwartaal van die jaar.

Die Reserwebank het inligting vrygestel wat wys dat kredietverlening in die privaatsektor geval het met R27 miljard in Mei – die skerpste maandelikse afname nog, het ekonoom Fanie Joubert gesê.

Nog ‘n ekonoom, Arthur Kamp, het gesê dit wys dat daar nie veel ekonomiese herstel tot aan die einde van die jaar sal wees nie.