Saturday, 07 March 2009

Wall Street verbeter

Wall Street aandele het Vrydag gestyg nadat data getoon het dat werkloosheid in die VSA min of meer gestabiliseer het.

Vrydag is aandale met ywer gekoop, nadat die afgelope paar sessies meestal gekenmerk is deur verkope.

Die Dow Jones het 140.82 punte gespring (2.14 %) tot 6 735.26 in die eerste 15 minute. Die Nasdaq het met 18.86 punte (1.45 %) gestyg tot 1318.45.

Koring af, mielies op

Suid-Afrika se aktiefste koring-termynkontrakte het Vrydag vir die tweede opeenvolgende dag laer gesluit na winsneming, terwyl mielie-termynkontrakte hoër gesluit het danksy die swakker rand.

Koring vir lewering in Mei het met 1,59% gedaal tot R2 725 per ton. Die rand was swakker teenoor die dollar en het om 10:00 MGT verhandel teen 10,57 teenoor 10,3850 met marksluiting Donderdag.

Die swakker rand het die Julie-termynkontrakte vir wit- en geelmielies ’n hupstoot gegee. Witmielies was 0,38% hoër op R1 584 per ton, het geelmielies 0,26% op R1 563 per ton.

Wall Street soek onderpunt

Waar lê die onderpunt?

Dis die vraag op beleggers in Wall Street se lippe ná ’n rowwe week van verliese. Die genadelose beermark het die Dow Jones Industrial Average van prima aandele met 6.17% vir die week laat daal tot 6 626.94, net effe bo ’n 12-jaar laagtepunt.

Die Standard & Poor's 500 het die afgelope week met 7.03% tot sy 1996-vlak van 683.38 gedaal.

Sedert die begin van die jaar het die Dow en S&P reeds met 24% geval en die Nasdaq met amper
18%.

Was Shaik te duur?

Shabir Shaik, wat ’n straftermyn vir bedrog uitdien, se kontroversiële pad na vryheid het in September 2008 begin, berig die Saturday Star. Die Parlement se portefeuljekomitee vir korrektiewe dienste het toe vergader om sy gevangenskap te oorweeg.

Hulle het verskeie kwessies bespreek, insluitende die R3 miljoen wat dit sou kos as Shaik selfs die helfte van sy volle straftermyn in die hospitaal uitdien. In daardie stadium het Shaik reeds die helfte van sy termyn in die hospitaal deurgebring – teen ’n koste van R219 650.

IMF-span oppad na Zimbabwe

Die Internasional Monetêre Fonds (IMF) stuur van 9 tot 24 Maart ’n span op ’n feitesending na Zimbabwe. Die nuwe regering probeer tans finansiering kry om die land se sukkelende ekonomie weer op die been te bring.

Dié besoek sal die eerste wees sedert Desember 2006. Die nuwe eerste minister, Morgan Tsvangirai, sê dis ’n prioriteit om bande met internasionale finansiële instellings te herstel.

Die IMF-span sal Zimbabwe se ekonomiese situasie, vooruitsigte en die regering se beleid evalueer.

Friday, 06 March 2009

SA bank beklink groot transaksie

Standard Bank het ‘n vennootskap met ‘n Russiese bank aangegaan.

In ‘n verklaring uitgereik Vrydag, sê die bank dat hy hierdie strategiese vennootskap met Troika Dialog Groep Bpk aangegaan het. Dit is glo Rusland se grootste onafhanklike beleggingsbank.

Daarvolgens sal Standard Bank ‘n 33% aandeelhouer word in Troika. Die SA bank sal ook ‘n $200 miljoen lening beskikbaar stel aan die Russiese groep.

Fietsryers bring groot geld

Die jaarlikse Cape Argus Pick n Pay fietsry-wedren wat die naweek in Kaapstad gehou word, beteken ‘n ekonomiese hupstoot vir die provinsie.

Duisende mense van oor die land en selfs van oorsee word verwag en hotelle is vol bespreek.

Een van die wedren se organiseerders, David Bellairs, het gesê hy meen die geleentheid sal rondom R400m inbring vir die Wes-Kaapse koffers.