Wednesday, 01 April 2009

Obama: Lande moet pas versnel

President Barack Obama sê lande moet die pas versnel om die wêreld se ekonomie ‘n hupstoot te gee. Hy het in Londen, waar ‘n vergadering van die G20 Donderdag begin, gesê hy dink die meeste lande stem saam met dié stelling.

Hy sê die VSA moet ekonomiese probleme ook self uitsorteer en alle lande sal moet saamstaan om die wêreldwye probleme aan te spreek.

Oliepryse daal skerp

Oliepryse het Woensdag tot onder $49 ‘n vat gedaal terwyl wêreldleiers vir die G20 ekonomiese vergadering in Londen byeenkom om maniere te soek om die ekonomie ‘n hupstoot te gee.

Die resessie het ‘n reuse invloed op die vraag na energie en het oliepryse skerp afgedwing ná ‘n rekord hoogtepunt van $147 ‘n vat in Julie verlede jaar.

Handelsyfers weerspieël onbestendigheid

‘n Skerp afname in die handelsbalans van R17.4 miljard in Januarie tot R571 miljoen in Februarie het die onbestendigheid van die maandelikse handelsyfers weerspieël.

Volgens die data, wat deur SARS verskaf is, het die vooruitsigte vir die lopende rekeningtekort van 7.8% in die derde kwartaal tot 5.8% van die Bruto Binnelandse Produk in die vierde kwartaal gekrimp.

Dorp dagvaar Madoff

‘n Dorpie in Connecticut dagvaar Bernard Madoff, sy familie en beleggingsmaatskappye omdat sy pensioenraad na bewering miljoene verloor het in die Madoff Ponziskema.

Die hofgeding van ongeveer R720 miljoen is Maandag aanhanging gemaak namens die dorpie Fairfield en sy pensioenraad.

Daar word beweer in die hofsaak dat daar wel mense was wat geweet het dat Madoff met kriminele sake besig was en hom gehelp het om mense te bedrieg.

Die dorpie se pensioenraad voorsien ongeveer 1 500 afgetrede werkers van toelae. Madoff, 70, is in Maart tronk toe gestuur vir bedrog.

ArcelorMittal lê werkers af

ArcelorMittal, die wêreld se grootste staalvervaardiger het Dinsdag gesê hy sal meer as 1 500 werkers tydelik moet aflê by sy staalfabriek in Bosnië weens die wêreldwye finansiële krisis.

“Ten minste 40% van ons 3 800 werkers sal tydelik afgelê moet word op 1 April,” het ‘n fabrieksbeampte gesê.

Na ‘n maand sal die maatskappy ‘n besluit neem oor die toekoms van personeel, het die beampte gesê.

Oud-Broederbond-voorsitter sterf

Voormalige Afrikaner Broederbond voorsitter Gerrit Viljoen het Sondag gesterf, het die Afrikanerbond gesê.

Voorsitter van die Afrikanerbond, Pierre Theron het gesê Viljoen, wat voorsitter was van die Afrikaner Broederbond van 1974 tot 1980 is Sondagmiddag oorlede.

Hy was 82 jaar oud.

Theron het gesê Viljoen was die stigter visekanselier van Rau, die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit wat nou die universiteit van Johannesburg is.

Firmas brei uit in Afrika

Twee Suid-Afrikaanse maatskappye het planne bekend gemaak om uit te brei in Afrika.

Dit was die beste tyd vir sulke uitbreiding, het Zen Negatu, ‘n besturende vennoot by Ernst & Young Ethiopië Dinsdag gesê.

Adcock Ingram, die tweede grootste farmaseutiese maatskappy in Suid Afrika, het ‘n kantoor oopgemaak in Oos-Afrika. Liberty het ingestem om 35% van Total Health Trust in Nigerië te koop.

Negatu het gesê dit was die regte tyd om uit te brei in Afrika vir maatskappye wat kontant het, aangesien meeste van die maatskappye hier in waarde geval het weens die wêreldwye ekonomiese insinking.