Monday, 09 February 2009

Onwettige staking duur voort

Johannesburgse metropolisiebeamptes het belowe om Maandag voort te gaan met hulle staking, ten spyte daarvan dat die arbeidshof die staking onwettig verklaar het.

"Sover dit ons betref is die staking nog nie verby nie," het Samwu-woordvoerder Dumisani Langa gesê.

Hy het gesê die metropolisie sal by Beyers Naudeplein in sentraal-Johannesburg vergader om hulle eise bekend te maak.

Die staking het verlede week Maandag begin en die sluiting van lisensiekantore en toetsstasies veroorsaak in en om Johannesburg. 'n Hof het Vrydag beveel dat die staking beëindig moet word maar Langa hou vol dat geen ooreenkoms nog bereik is nie.

Eskom beplan prysverhogings

Bestraffende elektrisiteitsprysverhogings kan Suid-Afrikaners binnekort dwing om minder krag te gebruik.

Suid-Afrika moet 10% minder elektrisiteit gebruik as twee jaar gelede of prysverhogings in die gesig staar.

Statistieke toon dat ten spyte van kragonderbrekings laas jaar, Suid-Afrikaners nie minder elektrisiteit gebruik nie.

Die minister van minerale en energie, Buyelwa Sonjica, het nou reëlings getref dat die Nasionale Energie Reguleerder (Nersa) verhogings mag instel as besparingsteikens nie gehaal word nie. Dit is hoofsaaklik op Eskom se groot kliënte in besigheid van toepassing.

Private belegging in infrastruktuur die kernplan

Belegging deur die private sektor in Suid-Afrika se infrastruktuurplan het na vore gekom as die kern van president Kgalema Motlanthe se plan om Suid-Afrika uit die kloue van 'n dreigende resessie te red.

Motlanthe het 'n beroep op ontwikkeling-finansieringsinstellings - waaronder die nywerheidsontwikkelingsraad en die departement van handel en nywerheid wat steun aan ondernemings bied - gedoen om te fokus op maatskappye in die private sektor wat tekens van probleme toon (of reeds in finansiële moeilikheid is) om te verhinder dat hulle sluit of personeel in groot getalle verminder.

Nog 'n Amerikaanse bank vou

Amerikaanse reguleerders het Vrydag 'n klein streeksbank in Georgia gesluit.

Dit is die sewende federale bank wat gesluit word.

Die Federal Deposit Insurance Corporation (FDIC) het gesê FirstBank Financial Services se depositos is aan Regions Bank oorgegee. Firstbank se takke sou Maandagoggend as Regions Bank open.

COPE moet betaal of hof toe

Die Congress of the People (COPE) het sewe dae tyd om 'n verskaffer R3,4 miljoen te betaal, of hy sal hof toe gesleep word.

Mpoyana Ledwaba, 'n prokureur wat die Johannesburgse verskaffer Black Sheep verteenwoordig, het Sondag gesê COPE sou sy aanmaningsbrief Maandag ontvang.

"Ons sal COPE sewe dae gee om my kliënt te betaal of regstappe begin instel," het Ledwaba gesê.

Black Sheep sê die geld is vir plakkate, T-hemde en ander materiaal wat hy vir COPE se manifesaankondiging verlede maand in Port Elizabeth verskaf het.

Northam verwag verlies

Northam Platinum het gesê hy verwag dat sy wins vir die tweede helfte van 2008 sal daal namate die wêreldvraag na platinum daal.

Die maatskappy, wat die wêreld se diepste platinummyne bedryf, het Vrydag aangekondig hy verwag dat sy verdienste ooreenkomstig met die daling in die eerste helfte sal wees. Die prys van platinum, wat hoofsaaklik in juweliersware en motors se katalitiese uitlaatstelsels gebruik word, het verlede jaar met 39 persent gedaal.

Die maatskappy het gesê die netto inkomste vir die ses maande tot Desember was R371 miljoen teenoor R472,6 miljoen die vorige jaar.

Ysland se bankbaas weier om te loop

Die hoof van Ysland se reserwebank, David Oddsson, het Sondag geweier om sy pos te laat vaar ten spyte van 'n beroep deur die eerste minister en die publiek dat hy weens die land se finansiële ineenstorting moet bedank.

Die eerste minister, Johanna Sigurdardottir, het Oddson in 'n brief gevra om sy goedjies te vat en te loop, maar Oddsson het in 'n brief op die reserwebank se webblad geweier.

Daarin skryf hy hy het persoonlik herhaaldelik oor 'n onafwendbare krisis in die bankstelsel gewaarsku. "Dit is lagwekkend dat 'n minister wat self nie 'n vinger gelig het om te probeer keer wat nou aan die gebeur is nie, so optree," het hy geskryf. "Ek het nog nooit weggehardloop van my verantwoordelikhede af nie, en sal dit nou ook nie doen nie."