Monday, 01 June 2009

Petrol met nog 'n sent op

Die petrolprys vir alle grade petrol sal in Junie met 17c/liter styg, het die Departement van Minerale en Energiesake Maandag in ’n nuwe verklaring aangekondig. Dit sal egter sommige C-sones uitsluit.

Die groothandelprys van diesel met ’n swaelinhoud van 0.05% daal vandeesweek met 11.5c/liter en dié van diesel met ’n swaelinhoud van 0,005% met 12.5./liter.

Die groothandelprys van kragparafien daal met 9c/liter en die kleinhandelprys met 12c/liter.

Khaki stel toek-toeks bekend

Khaki Motor Holdings, ’n nuwe motorgroep, het ’n reeks driewiel toek-toek-voertuie plaaslik bekend gestel. Die toek-toek-voertuie word tans uit China ingevoer, maar Khaki beoog om hulle uiteindelik plaaslik te bou.

Blackie Swart, Khaki, se besturende direkteur, het Vrydag gesê hulle het reeds 50 eenhede verkoop, maar verwag om in die kort termyn tot 400 eenhede per maand te verkoop.

Khaki se modelle sluit o.a. ’n oopdeur-motor (R45 000), ’n 1-ton bakkie (R53 000) en ’n elektriese fiets (R5 999) in. Die voertuie word deur ’n petrolenjin aangedryf en het ’n topspoed van 70km/h.

'Te veel' huise op die mark

Huispryse daal steeds, hoofsaaklik weens ‘n taamlike groot hoeveelheid huise wat opgebou het in die residensiële mark, het FNB Maandag gesê.

Die jongste huisprysindeks het nog laer geval in Mei tot -11.3% in vergelyking met dieselfde tyd laas jaar, het die bank in ‘n verklaring gesê.

Die meeste mense verkoop tans huise weens finansiële druk.

SA voer meer uit

Handelsstatistieke vir April wys dat invoere met 14.4% geval het tot dusver vanjaar, waar uitvoere slegs 10.6% geval het.

Dit blyk dat Asië nou Suid-Afrika se grootste uitvoermark is en die Asiese ekonomie sal hopelik help om Suid-Afrika aan die gang te hou gedurende die wêreldwye resessie.

China het na bewering groot kontantreserwes wat in infrastruktuur eerder as in onstabiele Eerste Wêreld-bates belê word.

Einde in sig vir GM

General Motors sal na verwagting Maandag bankrot verklaar word.

Senior Amerikaanse beamptes het Sondag gesê dat hulle hoop dat GM ongeveer tussen 60 en 90 dae later as ‘n nuwe en meer produktiewe maatskappy na vore sal kan tree.

Die proses is soortgelyk aan wat Chrysler tans deurmaak.

President Barack Obama sal na verwagting Maandag ‘n perskonferensie hou om oor die motorbedryf te praat.

Groot maatskappye raak ekonomie

Ekonome het Vrydag die Reserwebankhoof, Tito Mboweni, se uitlatings ondersteun dat swakhede in die ekonomie inflasie hoog hou.

Hulle het gesê monopolië in die private en openbare sektore was deel van die probleem maar het ‘n reeks ander faktore identifiseer wat ook inflasie hoog hou.

Mike Schussler, ‘n ekonoom by Economists.co.za het gesê, “Baie sektore binne die ekonomie is baie gekonsentreerd. Daarmee bedoel ek dat ‘n handjievol maatskappye meer as 50% van die markaandeel beslaan en hulle het die vermoë om die mark te beïnvloed.

Imperial wil aandeel verkoop

Imperial Holdings het Vrydag aangekondig dat hy in samesprekings is om sy 49.9% aandeel in Imperial Bank te verkoop aan gemeenskaplike eienaar, Nedbank Group.

Imperial en Nedbank besit elk ongeveer die helfte van Imperial Bank, wat ‘n net rente inkomste gehad het van R1.7 miljard in die jaar wat in Desember laas jaar geëindig het. Imperial se aandele het omtrent met 4% gestyg na die aankondiging.