Tuesday, 03 March 2009

‘Vertraagde reaksie’ oorsaak van deflasie

Die daling in huispryse is die gevolg van ’n vertraagde reaksie op ’n dalende vraag in 2007 eerder as die wêreldwye resessie, sê John Loos van ENB Huislenings.

Die huidige neiging weerspieël die stygende inflasie en rentekoerse wat tot in die middel van 2008 aan die orde van die dag was.

Die negatiewe uitwerking van die meer onlangse resessietoestande lê waarskynlik nog voor. Die huisprysdeflasiekoers sal dus verder versleg voor dit verbeter.

Huispryse daal skerper

Huispryse het in Februarie 2009 met 6.9% gedaal teenoor die hersiene koers van 4.7% in Januarie, sê Eerste Nasionale Bank (ENB).

Dit was die vierde opeenvolgende maand van gemiddelde jaar-op-jaar-huisprysdeflasie. Hierdie neiging sal waarskynlik vir die res van 2009 voortduur.

Op ’n maand-tot-maand-grondslag is 2.2% deflasie in Februarie aangeteken, teenoor die hersiene syfer van 1,9% in Januarie.

AIG SA toon groot wins

Die vierde kwartaal wins ná belasting van die American International-groep (AIG) Suid-Afrika het met 32% gegroei tot R179.6m, het die hoof-uitvoerende amptenaar Peter Flint bekend gemaak.

Hy sê hulle is in ‘n baie gunstige finansiële posisie. AIG VSA se uitdagings is gelokaliseer en sal nie ‘n uitwerking op hul bedrywighede in Suid-Afrika hê nie.

Obama, Brown bespreek ekonomie

Die Britse premier, Gordon Brown, gaan President Barack Obama vir besonderhede vra oor sy planne om die sukkelende Amerikaanse ekonomie weer op dreef te kry en veral hoe dit wêreldwyd ‘n impak kan maak.

Die twee leiers gaan ook maniere bespreek om laks finansiële inrigtings vas te vat. Daar word verwag dat dit een van die groot besprekingspunte gaan wees by ‘n vergadering van die sogenaamde Groep van 20 waar Brown op 2 April in Londen as gasheer gaan optree.

Wells neem waar by Transnet

Transnet het Chris Wells as hul waarnemende hoofbestuurder aangewys. Die aanstelling is in teenstelling met ‘n aankondiging in 2008 dat die direkteure ‘n opvolger vir Maria Ramos sal aanwys voordat sy die maatskappy verlaat. Wells was die hoof van finansiële sake voor sy bevordering.

Transnetse Fred Phaswana sê die proses om ‘n opvolger vir Ramos aan te wys vorder goed.

Verbasing oor werkloosheidsyfers

Ekonome het verbasing en ongeloof uitgespreek nadat Suid-Afrika werkloosheidsyfers vrygestel het. Hulle sê dis verbasend dat Statistiek SA nou berig dat dit gedaal het tot 21.9% in Desember 2008 van 23.2% in September en dit toe die ekonomie met 1.8% saamgetrek het.

StatsSA sê die daling kan deels toegeskryf word aan die skepping van 189 000 nuwe werkgeleenthede in die laaste kwartaal.

Monday, 02 March 2009

Satawu wil gesprek met SAL hervat

Die SA Transport and Allied Workers' Union (Satawu) het Vrydag gevra of samesprekings met Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) hervat kan word nadat hulle ’n vergadering met die regering gehad het.

Die vakbond sê in die lig van die departement van openbare ondernemings se verbintenis tot die ontlonting van die dispuut, versoek Satawu SAL se hoëvlakbestuur onvoorwaardelik om tot die onderhandelingstafel terug te keer.