’n Sweedse hof het vier mans skuldig bevind en hulle ’n jaar tronkstraf opgelê in ’n kopiereg saak waarby The Pirate Bay, een van die wêreld se grootste gratis lêerdeel-webwerwe, betrokke is.
Maar ontleders het egter gesê hulle twyfel of die uitspraak die stroom van onwettige aflaaiery oor die internet sal keer.
Maatskappye, waaronder 20th Century Fox Films, Warner Bros, MGM, Sony BMG en EMI, het in die saak vergoeding van meer as 100 miljoen Sweedse kroon gevra om verliese te dek. Die hof het die beskuldigdes beveel om meer as 30 miljoen kroon te betaal.
Die mans is verlede jaar aangekla van sameswering om kopieregwette te oortree. Hulle het skuld ontken. Volgens een van hulle se regsverteenwoordiger sal hulle appelleer.